Hart-kos: Karen Hart oor kos en COVID-19

  • 0

Karen Hart (Foto: verskaf)

Karen Hart praat met Naomi Meyer oor kos en COVID-19, die vreugdes en verdriet.

Karen, jy is kosredakteur by Kuier. Hoe het die afgelope tyd se gebeure rondom COVID-19 en die inperking jou wêreld beïnvloed?

Kosmaak is my werk en as kosredakteur van Kuier ag ek myself gelukkig dat ek daarvoor betaal word. Want eintlik is kook en bak vir my soos asemhaal – ek kan nie daarsonder nie. Dis my lewe en ek lewe daarvoor. En as ek daaroor kan skryf, is ek op my heel gelukkigste. Maar ek moet erken, die skryfgedeelte was nog altyd vir my die moeilikste. Met die kokery gee jy reeds so baie van jouself, en met die skryf daaroor laat jy mense toe om nog dieper in jou siel te kyk.

Ek is ’n introvert, en met die inperking het ek besef dat my wêreld nie eintlik baie verander het nie. Daardie besef het my nog dieper laat kyk. Ek weet ek gaan nie méér na buite toe leef wanneer die inperking verby is nie, maar dit het my beslis gehelp om myself beter te verstaan. En groter waardering te hê vir die dinge daar buite wat ek nou met die inperking ontneem is. Die belangrikste bly maar die mense in jou lewe – vriende, familie, kollegas ... My kombuis by die huis was nog altyd, voor inperking al, my werkkombuis en ateljee. Ek het maar af en toe kantoor toe gegaan, vir ’n vergadering of sommer net ’n flou verskoning om vinnig in te loer en vir almal hallo te sê. Dis nou een van die dinge wat ek die meeste mis.

Die grootbase van Media24 het nog vinniger as die regering opgetree. Ons het al ’n week of twee vóór die amptelike grendeltyd opdrag gekry om alle fotosessies, ook die kosgedeelte, te staak. Trouens, ek het die oggend van my laaste kooksessie ’n oproep van die assistentredakteur gekry om te hoor of dit moontlik is om die sessie van daardie dag te kanselleer. Gelukkig was ek reeds besig met die voorbereidings en ons het toe maar deurgedruk.

Wat my die meeste ontstel het van die hele storie, was die koorsagtigheid waarmee die mense voor inperking op die winkels toegesak en die rakke leeg gekoop het. Toe ek gaan inkopies doen het vir die laaste kooksessie, het ek gesukkel om al die bestanddele te kry. Soos die geluk (ongeluk!) dit wou gehad het, was die tema maalvleis. Daar was een pakkie op die supermark se koelrakke oor. Gelukkig het die slagter my gehelp. Met die res moes ek maar kreatief dink en het hier en daar die resep wat ek in gedagte gehad het, so ’n bietjie aangepas en verander.

Dit was eintlik baie snaaks. Toe ek eindelik by die kassiere kom, kyk ek so af na my trollie – dit lyk vir my toe nie veel anders as dié van die koorskopers nie. Die ergste is dat ek sommer so met die verbyloop ook ’n groot pak toiletpapier vir persoonlike gebruik in die trollie gepak het. En twee groot pakke manspapiersakdoeke vir my ma. Ek lag toe en verduidelik aan die kassiere dat ek nie voorraad opkoop nie, maar gereed maak vir ’n fotosessie. Sy het my moeg en meewarig aangekyk, skaars ’n sweempie van ’n glimlag, so asof sy wou sê dié ou storie het sy ook al gehoor.

Net ’n week later het ek vir die laaste keer supermark toe gegaan vir my gewone inkopies vir die huis. My trollie het nie baie anders daar uitgesien as ander tye nie, net hier en daar ’n paar ekstra goedjies, want ek sou mos weer kom – die supermarkte bly tog oop. My begroting het in elk geval nie koorskoop toegelaat nie – ek weet nie hoe ander mense dit reggekry het nie. Ek was geskok om te sien hoe leeg die rakke is. En ek het gewonder of die hele nasie nou in broodbakkers ontaard het. Ek het nog altyd af en toe gesorg vir ’n varsgebakte brood op die tafel, maar ek kon daardie dag nie ’n enkele sakkie broodmeel, steengemaal of nie, in my trollie pak nie.

Maar toe die erns van inperking my eers later tref, het ek my inkopies aanlyn begin doen en een of twee keer ’n week na die klein superette om die hoek gestap om vars brood en melk, en room vir my koffie, te koop. Die eienaar van die winkel het gelukkig besef hy moet in hierdie tyd die beste van ’n slegte saak maak en het begin om die wonderlikste vars groente en allerhande ekstras aan te hou, selfs tuisgemaakte maskers. Elke keer met die terugstap huis toe het ek myself verwens wanneer die swaar sakke my arms afrem.

Ek verstom my elke dag aan die vindingrykheid van mense. Dis nie net die eienaar van die winkeltjie om die hoek wat besef het hy moet vinnig leer om dinge anders te doen nie. Toe ek eers aanlyn begin inkopies doen, het ek gesien hoe mense vinnig leer opstaan en aanpas het. Ek het die wonderlikste afleweringsdienste ontdek. Vars groente en vrugte, geroosterde koffiebone, kruideniersware ... noem maar op. Maar ek het ook gou besef aanlyn inkopies kan baie vinnig in ’n verslawing ontaard, veral omdat ’n mens emosioneel so weerloos in hierdie tyd is. En selfs die basiese dinge het skielik soveel duurder geword.

Ek het dié week vir die eerste keer in twee maande weer in ’n supermark gekom toe ons kosfotosessies vir Kuier hervat is. Dis maklik om vir die huis aanlyn inkopies te doen en vir aflewering te wag, maar dit werk nie met die beplanning van ’n fotosessie nie. Dit was wonderlik om ’n slag self tussen die rakke deur te loop en te kies wat ek wil hê en dinge waarvan ek al vergeet het, weer raak te sien. Die enigste probleem was die ellendige masker wat kort-kort my bril so laat opwasem het dat ek skaars kon sien.

Wat die res betref ... Ek het reg aan die begin van inperking besef ek moet by my roetine hou as ek enigsins sin van die lewe wil maak. Dit het vir my belangriker as ooit vantevore geword om steeds vroeg op te staan. Eintlik nou meer as tevore. Net voor inperking is my ma toegegrendel in ’n wêreld van haar eie met die demensie wat eindelik in al sy felle wreedheid toegeslaan het. Die paar uur in die oggend is al wat ek werklik vir myself het voordat sy wakker word en ek haar  moet versorg.

Die roetine is nie net vir my nie, maar ook vir my ma – ’n klein bietjie reëlmaat in haar verwarrende wêreld. En vir my gemmerkat, Bliksem, wat baie daarop gesteld is dat dinge, soos altyd, op die regte tyd moet gebeur en dat elke ding op sy plek is.

Ek word vanself vroeg wakker. Dan staan ek en Bliksem op. Ek gee hom kos, maak my mengsel van kookwater met rou heuning en appelasyn wat ek nou al vir jare elke oggend drink. Dan eers mag ek my moka met die varsgemaalde koffiebone op die stoofplaat sit en wag vir daardie eerste slukkie koffie. Terwyl ek wag, steek ek sewe kerse aan – ’n dankbaarheidsritueel vir elke faset van my lewe. En ek steek ’n agtste kers aan – een vir hoop. Dis nou al jare lank my gewoonte. En wanneer ek daardie eerste slukkie koffie neem, soek ek vir my ’n mooi aanhaling om my deur die dag te dra en te help om die betowering in die lewe raak te sien.

Want die een ding wat die inperking en die nuwe eise van my ma se grendeltyd my geleer het, is dat jy net kan oorleef as jy leer om die klein wonderwerkies raak te sien en te waardeer. Wanneer ek emosioneel op ’n laagtepunt kom (en jy kry daardie dae – dis menslik), hoor ek hoe skel die eekhorinkie in my tuin. Of ek sien die volmaan, wanneer ek dit die minste verwag, deur my badkamervenster. Ek put eindelose genot uit die bloupers blommetjies by my voorhekkie en die gezoem van die bye in die bloeisels van my lukwartbome. Ek woon ook in ’n straat waar my bure opgewonde raak oor verskietende sterre en die seldsame roofvoëls wat nou hul verskyning maak. En ek lag vir die volronde pensies van die twee janfrederikkies wat in die boomtoppe speel.

Jy het onlangs vir LitNet ’n rubriek geskryf waarin jy wys op hoe mense terapeuties kos maak en bak in die inperkingstyd. Maar daardie vrolike koservarings voel of dit ’n bietjie vervaag soos wat die inperking voortduur. Watter soort tendense bespeur jy nou - as jy so in mense se virtuele kombuise inkyk? 

Kook en bak was nog altyd vir my terapeuties, en nou nog meer as tevore. Ek het jare gelede die hartseer van my sielemaat se dood só verwerk – van vroegoggend tot laataand voor die stoof gestaan en kook. Gelukkig was daar baie bure wat bakhand gestaan en gewag het met die uitdeelslag. Met elke geliefde kat se dood was dit dieselfde storie – Trompie, Klawerkat, Thomas, Cleo en Sagrys. Toe ek destyds redakteur van Tv-plus! was, op ’n plek in my lewe waar die vermaakwêreld sy bekoring verloor het, het ek saans by die huis gekom en gekook en gekook om van al die frustrasie ontslae te raak.

Vier jaar gelede, toe ek Maswazi by my in die huis geneem het, het ons nog so tussendeur alles Saterdae vir die mark gebak, en deur die week vir ’n paar winkels wat van ons koekies en ander soetgoed op hul rakke aangehou het. Die mark het lankal sy deure gesluit, maar die gebak vir die winkels het Maswazi lekker besig gehou. Vir my is die beste bestanddele baie belangrik, en ek duld nie plaasvervangers nie. Dis regte botter en baie goeie sjokolade, vars neute en regte vanielje-ekstrak. My winsgrens is dus baie klein. Boonop was ek nog nooit ’n baie goeie sakevrou nie. As ek nou regtig eerlik moet wees, was die bak nog altyd maar vir die genot wat ek en Maswazi daaruit put en die verkoop daarvan bloot om te kan bekostig om daarmee voort te gaan.

Met hierdie grendeltyd het ek besef ek en Maswazi moet aanhou bak, bloot vir die genot daarvan en die wonderlike terapie. Die bure wou koop, maar ek het besluit in die grendeltyd gee ons – deel die genot met ander sonder om iets daarvoor om te vra. Ook met die kook het ek dinge anders benader – waar ek voorheen miskien ’n foto sou geneem en op sosiale media geplaas het, het die stille aanklag van die honger mense daar buite my daarvan weerhou.

Moenie my verkeerd verstaan nie – daarmee veroordeel ek nie mense wat die genot van kook en bak in hierdie tyd ontdek het en die wonder daarvan wou deel nie. Ook nie die mense wat al jare gewoond is om dit te doen nie. Ek kon net nie. En dit was nogal lekker om vir die eerste keer in ’n lang tyd net te kook vir die genot daarvan en, natuurlik, sodat my huismense dit saam met my kan geniet.

Die een ding wat my gevang het, is dat dit ongelooflik moeilik geword het om te skryf. Net die gedagte daaraan het my in ’n koue sweet laat uitslaan en uitasem van angs gelaat. Ek dink dis omdat ’n mens so hard moet werk om in jou kop ’n nuwe normaal te skep en maniere te vind om geestelik te oorleef. En jy is so bang jy skryf dalk ’n senuwee raak.

Ek dink die groot fout wat ek gemaak het (en ek lees dit ook so tussen die lyne deur in die inskrywings op sosiale media), is dat ek gemeen het hierdie inperkingstyd gaan my nou die kans gee om meer te skryf, dinge te doen waarvoor ek nooit tyd kry nie – kaste en rakke reg te pak en te organiseer. Nuwe vaardighede aan te leer. Maar daar het nie veel van gekom nie. Ek het wel geleer om in die herfsonnetjie op die stoep te sit en die stilte in te drink, om myself minder te kasty en ook toegewings te maak vir die tye wanneer die donkerte my oorval.

Ek het ook geleer om met minder irritasie en met meer deernis te kyk na die histerie op sosiale media, of dit nou die verbete plasing van kookfoto’s en -video’s is, of ’n gekerm oor die inperking en soms onverstaanbare reëls en regulasies. Ek het ook geleer om minder tyd en aandag daaraan te gee en te sorg dat my kop skoon bly. Ek het tyd gemaak om boeke te lees waarvoor ek nooit tyd kry nie, boeke wat niks met kos of kosmaak te doen het nie. En vreemd genoeg het juis dit my opnuut geïnspireer met my kokery en my eindelik weer laat skryf.

Kosmaak is terapeuties slegs as mens kos in die huis hét. In ons land is daar baie mense wat nie juis iets te ete het nie, en in hierdie dae nog minder, soos jy reeds hier bo na verwys het. Het jy voorstelle of idees vir mense om in hierdie tyd met minder reg te kom? Wat is staatmakers in die kombuis vir lesers uit alle inkomstegroepe? 

My hart bloei vir die mense wat honger ly en my hart word baie seer dat mense nog ten aanskoue van soveel ellende die raskwessie wil bysleep. Die virus het baie lelike dinge in mense na vore gebring, maar ook ongelooflike mooi. Daar is soveel mense wat uitreik en ander probeer help. ’n Mens lees elke dag van die mooiste verhale op sosiale media. Dit gee ’n mens nuwe moed en ook die aansporing om ’n beter mens te probeer wees en op ’n beskeie manier ook ’n verskil aan die harde werklikheid te probeer maak. En gee ’n goeie balans aan die kleinlikheid en galbrakery wat jy ook op dieselfde blaaie raaklees.

Met die inperking het die honger van ander en ook die skielike styging in kospryse my baie meer bewus gemaak van die gevaar van vermorsing. Voor die virus al was daar baie stemme in die koswêreld wat opgegaan het en ’n punt daarvan gemaak het om disse op te tower uit bestanddele wat andersins in die vullisdrom sou beland het. Daar was selfs ’n hele episode van een van die Masterchef-seisoene wat dié uitdaging as tema gehad het.

Ek probeer deesdae om alles wat ek kan te gebruik – ek hou die stingels wat ek van spinasieblare afsny en die stronke van kool en blomkool om later in sop te gebruik. Ek gebruik ou brood in die wonderlikste nuwe geregte en uit oorskietkos tower ek opwindende nuwe geregte op. Uit die oorblyfsels van Paasfees se paasbolletjies en kerrievis is die wonderlikste viskoekies gebore. My huismense kyk met nuwe oë na my.

Ek het ook skielik besef dat ek tot nou toe eintlik nagelaat het om Maswazi se gunstelingkos vir hom te maak. Nou kook ek gereed krummelpap en sorg dat daar ’n bottel Amasi in die yskas is vir sy “Afrika-slaai”. En vir middagete maak ek ’n lekker groentemengsel en wors om saam met die pap te eet. Ek kook ook meer gereeld met pasta en rys, lensies en boontjies. En sop is die vinnigste manier om baie groente en heilsaamheid in jou lyf te kry.

Baie supermarkte wat goeie slagters op die perseel het, verkoop hoenderkarkasse en sopbene wat nog so baie om die lyf het dat jy dit nie noodwendig net vir sop hoef te gebruik nie. Ek het al die heerlikste hoenderdisse en vleisbredies hiervan gekook.

Ek wil terugkeer na my tweede vraag – kosmaak hoef dalk nie terapeuties te wees nie, maar dit hoef ook nie troosteloos te raak nie. Wil jy ’n vrolike resep deel wat lesers kan opbeur?

Ek het nou die dag winkel toe gestap om brood te koop. Toe oorval die lus vir pynappel my – ’n lekker pynappelslaai saam met ons middagkos, het ek gereken. Maar dit was midde-in die histerie oor pynappelbier en daar was nie een pynappel, nie eens ’n verlepte enetjie, op die rak oor nie. En toe ek verby die blikke ingemaakte pynappel stap, toe dog ek: miskien nie pynappelslaai nie, maar wat van ’n lekker outydse pynappelyskastert. En toe maak ek een uit ’n ou resepteboeke van my ouma. Ek het al vergeet hoe lekker so ’n ou kommin tert kan wees.

Ek bak ook gereeld vir ons kolwyntjies. Niemand kan vir die wêreld kwaad bly of stres oor inperking as jy ’n kolwyntjie kan versier nie. En die eet daarvan neem jou terug na verjaardae lank gelede, uit jou kindertyd, toe grootmensgoed nog ver en onwerklik was. Wanneer dit reën, bak ek pannekoek. Of, sommer net vir die lekker, plaatkoekies vir ontbyt. En ek maak die flesse vol malvalekkers van alle kleure en geure, nougat van rou heuning en varsgeroosterde neute.

Dis die een ding wat inperking ook by my kom inskerp het: Wees goed vir jouself, wees goed vir ander. Soek die betowering, selfs al moet jy dit ver gaan haal in die onthou uit jou kindertyd.

Kos en Covid het my die afgelope tyd laat nadink oor hoe iets soos hierdie virus mense se keuses van beroepe mag beïnvloed. Tog is kosmaak ’n kuns, en om vir ander mense kos te maak wat lekker is, ’n unieke lekkerte. Kyk in jou kristalbal en skryf ’n bietjie hoe jy dink die restaurantbedryf dalk kan krimp, maar dit nog kan maak te midde van COVID-19, al bly dit dalk nog jare lank met ons?

My hart gaan uit na die mense in die kosmaakbedryf, dié wat hul werk verloor het oor tydskrifte wat sluit, en advertensiemaatskappye wat nou nie meer kosstilleerders kan gebruik nie. Ek treur oor die klein restaurantjies wat nie heelhuids anderkant gaan uitkom nie, bekende kosplekke wat die deure moet sluit of lankal reeds tou opgegooi het. Maar dan sien ek ook hoe baie van die kosmense vinnig leer om aan te pas en op allerhande slim maniere die inperking tot hul voordeel benut. Ek sien ook hoe kosmense die nuwe werklikheid op sosiale media gebruik om hulleself en hul unieke produk te bemark. Ek sien ook op die internet restaurante van oorsee wat sonderlinge maniere vind om sosiale distansiëring te verseker – wonderlike “tentagtige” afskortings in allerhande vorme wat elke tafel isoleer. Die groot nadeel is natuurlik dat dit ’n duur storie kan wees.

Vir my is die een groot voordeel van die virus dat higiëne nou so ’n groot en baie belangrike rol speel en nie net iets is wat die gesondheidsinspekteur tevrede moet stel nie. En dis waarskynlik ook ’n broodnodige inspuiting en aansporing tot groter kreatiwiteit – net die mense wat daarin kan slaag om die situasie tot hul voordeel te benut en nuwe maniere gaan vind om die bedryf aan die lewe te hou, gaan dit maak. ’n Vriendin wat ’n burgerstalletjie by die Earth Fair-mark in Tokai bedryf het, het nou in vlak 4 ’n Vrydagmark begin wat net op aflewerings staat maak. Jy bestel deur die loop van die week, en Vrydae het sy ’n afleweringsdiens wat van die stalletjies se produkte aflewer – alles streng volgens regulasies, maar met die heerlike gevoel van ’n Vrydagmarkstemming.

  • Foto's is deur Karen Hart verskaf.

Lees ook:

Die allerlekkerste roomys

Regte outydse suurlemoenstroop

Boere-souttert sonder grêndgeit

Bou jou burger met regte maalvleis, niks anders nie

Natuurlik is ek bang

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top