Natuurlik is ek bang

  • 4

Natuurlik is ek bang. En onseker. Nes al die ander mense in ons land ... in die wêreld. Ek weet nie of ek dalk self die virus gaan kry of my 81-jarige ma aan die siekte gaan verloor nie. My hart is seer wanneer ek sien hoe die musiek stilgemaak word vir my broer se talentvolle kinders, hoe hul lewens tot stilstand gedwing word. My lewe, as ek nou baie eerlik moet wees, lyk nie veel anders nie. Ek was nog altyd te veel van ’n introvert. Maar selfs ek hunker nou na die bietjie aanraking, die bietjie uitreik na vriende.

Tog kan ek nie help om te dink hierdie virus is tegelyk ’n vloek en ’n seën vir gesinne nie – vir die tot stilstand kom en die saamwees. Ek weet in baie huise moet die oorlog eers uitwoed voor wapenstilstand en, hopelik, vrede volg. Ons kan nie anders nie. Nou is die tyd om weer saam aan tafel te gaan sit en ’n gesellige skottel te deel, net die intieme binnekring van die gesin met niemand van buite wat die aandag verdeel en die balans versteur nie.

Dit laat my onwillekeurig terugdink aan my kinderdae toe ons so ingehok is met kindersiektes – masels, pampoentjies, waterpokkies ... Ek onthou min van siek wees, die ongemak en die wegbly van my maats. Ek dink met heimwee terug aan die wonderlike stories wat my pa vir ons in hierdie tyd vertel het. Dit was nie eintlik ongewoon nie. Hy het vir ons die wonderlikste karaktertjies geskep en in hul avonture laat deel. Maar kindersiektes was ’n seker manier om hom emosioneel af te pers en meer tyd aan stories vertel af te staan.

Ons het ’n hele klomp boeke gehad wat ons self kon lees. Ek was effens ouer en het vir my boetie voorgelees toe hy nog nie kon nie. Maar dit was nie lank voor hy self losgetrek het nie. Hy en sy maatjie, Bartel, het vir mekaar oor die plaaslyn stories gelees wanneer hulle elk in hul eie huis ingehok was met ’n kindersiekte. Ek soek nou nog na die wonderlike boeke van ons kindertyd. Helena JF Lochner se Dorie-agterste-vorie, die pratende pot en haar Kersvader wat sy warm rooi wolpak vir ’n oranje safaripak verruil wanneer hy in Desember hier by ons aanland. Ek het al Verna Vels se Liewe Heksie-boeke gehad. Bundels vol sprokies, verseboeke. Ek onthou nou nog die vrolike inleiding van die Huppelkind-plaat wat ons voos geluister het. My ma het later pluisies in haar ore gedruk wanneer Dawie Couzyn en Doris Brasch se kinderliedjies deur die huis weergalm het.

Niks daarvan het gekom by die stories wat my pa vir ons voorgelees het nie. Langenhoven se Brolloks en Bittergal. Van die dapper polisiehonde Roman en Robyn. Ek glo nie HS van Blerk of my niksvermoedende pa was voorbereid op my en my boetie se reaksie op die honde se heldedood nie. Ons was vir dae lank ontroosbaar. En gedigte ... Sondagaande om die kombuistafel was dit Groot verseboek, toe nog maar dun van lyf teen vandag se stewige kêrel.

Maar die groot lekkerte was die stories wat my pa sommer so in die vertel opgemaak het. Sy Rooi Jan, ’n soort Tarzan-karakter, was losweg gegrond op Casper H Marais se Rooi Jan-reeks wat hy seker uit sy eie kinderdae onthou het. Maar ek glo nie die oorspronklike Rooi Jan het naastenby sulke wonderlike avonture gehad soos die een waarop my pa voortgeborduur het nie. Sý Klein Duimpie was ’n miniatuur 007, met wapens en fieterjasies waarvan die slimme Q nooit kon droom nie. En met die miniatuur-arsenaal het die piepklein held groot manne laat sneuwel.

Een van die ander karakters uit my pa se storiebrein was ’n skoolseun wat homself onsigbaar kon maak en groot konsternasie onder sy maats en die onderwysers veroorsaak het. Maar ook hy het nie net sy gawe vir die grap aangewend nie – hy het mense gehelp waar hy kon. Dit was die slegte ouens wat in die slag gebly het. En dan was daar Piet Potlood, die seun wat met sy potlood iets kon teken en dit het werklik geword. Enige kind se droom ...

My ma het ook stories vertel, meestal van weeskinders wat eindelik ’n huis van hul eie gekry het of kinders wat van die huis weggeloop het wanneer dinge te veel geraak het. Ek het eers later, toe die legkaart van my ma se eie liefdelose kinderjare vir my in plek geval het, verstaan waaroor dit eintlik gegaan het. Natuurlik het die gedwonge saamwees ook ’n donker kant, soos in huise waar niemand nou van die geweld kan ontsnap nie. My hart gaan uit na hulle.

Vir my mense maak ek skottels vir die saamwees. Ons het miskien die stories ontgroei, maar die gesels hou nie op nie en die stiltes praat ook.

Karen se hoender-en-groenteskottel

Genoeg vir 6

Vir die groentelaag
1 groot ui, gehalveer en in skywe gesny
1 groot rooi ui, gehalveer en in skywe gesny
6–8 patats (kan ’n mengsel van gewone en borriepatats wees), geskil en in skywe gesny
3 knoffeltoontjies, gekneus en grofweg gekap
1 groot rooi soetrissie (of twee kleineres), wit gedeeltes en pitjies verwyder en in repe gesny
3 takkies roosmaryn
1 koppie hoenderaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Vir die hoendermarinade
¼ koppie olie
sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en in stukkies gekap
3 knoffeltoontjies
3 roosmaryntakkies, blaartjies van die stammetjies gestroop
10–12 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Voer ’n oondroosterpan met foelie uit (dis opsioneel, maar dis net soveel makliker vir die skoonmaak agterna). Rangskik die uie, patatskywe, knoffeltoontjies en soetrissierepe onderin die pan. Plaas die roosmaryntakkies bo-op en giet die hoenderaftreksel oor. Geur met sout en peper. Bedek die pan met foelie en bak vir 30 minute in ’n voorverhitte oond teen 200ºC. Plaas intussen die bestanddele vir die hoendermarinade (behalwe die hoenderstukke en die sout en peper, natuurlik!) in die bekermenger van ’n voedselverwerker en verpulp dit tot ’n lekker dik sous. Plaas die hoenderstukke in ’n plastiekbak met ’n deksel wat dig toemaak en giet die marinade bo-oor. Maak dig toe en draai die bak ’n paar keer onderstebo. Haal die roosterpan uit die oond nadat die 30 minute verstreke is. Verwyder die foelie en pak die hoenderstukke bo-op. Geur met sout en peper. Plaas onbedek terug in die oond en bak vir nog 50 tot 60 minute of totdat die hoender deurgaar is. Op dié manier kry jy ’n sappige stukkie hoender wat van onder af deur die heerlike groete en pansappe gegeur is en van bo af ’n heerlike bros velletjie gebraai het. Nou kan elkeen vir hom ’n stukkie hoender skep en die groente onder uit die sous uit haal vir ’n heerlike, gesellige bord kos.

  • 4

Kommentaar

  • Dankie vir die mooi skrywe, laat my weereens besef hoe bevoorreg ons is om goeie gerinneringe te hé. Ek Bid vir die hordes wat dit nie het nie. Gaan vanaand die dis maak in die Dover en om ons 'kinderdae' se eettafel eet. Bly veilig en gesond.

  • Avatar
    Christine Barkhuizen-Le Roux

    Hallo Karen
    Ek het so lekker gelees aan jou skrywe, die stories, daardie boeke wat jy opgenoem het, my gunstelinge! En die opgemaakte stories – hulle het ek aan my kinders vertel – daar was altyd bome betrokke, hoekom sal ek nie weet nie, behalwe dat ek absoluut mal is oor bome. Ek is nie goed met kosmaak nie ... maar ek gaan jou hoenderdis probeer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top