Die allerlekkerste roomys

  • 0

Kleintyd was ek nooit baie lief vir roomys nie, maar noudat ek ouer word, het dit deel geword van ’n ryke tapisserie van smake en teksture van onthou.

My pa kon so lekker roomys eet. Nie gereeld nie. Sondae na ete of op spesiale uitgaandae. Ek het nou die dag afgekom op ’n ou video wat opgeneem is tydens een van ons laaste familie-etes saam. Terwyl die aandag elders gefokus was, het my pa rustig met een van sy kleinseuns op die skoot gesit en saam het hulle die roomysbak blinkskoon geëet. Met elke happie het die grootmensmasker gesak en die klein seuntjie van Springbok het aan sy tiekie se roomys gesmul. Wanneer ek so na my pa gekyk het, het ek gewens ek kon dit ook so geniet. Maar ek kon nooit heeltemal daardie passie deel nie.

Miskien was dit omdat ek nie baie van melk gehou het, en nie nóg ’n variasie van die melksmaak in my mond gesoek het nie. My ma het my kleintyd gedwing om elke aand ’n glas melk te drink. Langtand. Totdat ek ’n bietjie verstand gekry het en besef het ek het ook ’n sê in die saak. Dis waar ons paaie geskei het – tot vandag toe nog drink ek net ’n katspoegie melk in my koffie en tee. Roomys en melkskommels het ek met so ’n bietjie agterdog bejeën, geglo dis maar net ’n ander manier om my daai gewraakte glas melk te laat inkry.

Maar met die jare en met die onthou, dink ek nou effens anders …

Met die groot trek uit Woodstock na my popspeel-plaashuisie (sonder die plaas) hier in Plumstead, woon ek nou skaars ’n paar blokke van die Three Arts-teater. Van die eertydse glorie is daar min te sien. Die groot naambord op die gebou is met wit verf bedek, maar as jy mooi kyk, kan jy nog hier en daar ’n krul van die swierige letters sien en die naam vaagweg uitmaak. ’n Groot bord met ’n eiendomsmakelaar se naam daarop spog met nuwe eienaarskap. Maar ek kry die gevoel die arme teater staan en wag soos ’n uitgediende ou tjorretjie op ’n skrootwerf om uitgedelg te word.

My pa het ons nog na die Three Arts gebring om Ivan Rebroff, die groot Rus met die wonderlike stem, te sien optree. Vandag weet ek die man wat my daardie aand so met sy stem betower het, is eintlik op ’n treinperron in Berlyn gebore en daar hang ’n groot vraagteken oor sy kamstige Russiese afkoms. Maar dit maak die onthou nie minder lekker nie.

En so met die uitpak van die honderde bokse in my nuwe blyplek hier digby die Three Arts, dink ek aan al die ander konsertreise waarop my pa ons kleintyd geneem het. Hy was baie lief vir musiek, het self as jong man trompet gespeel in die Vrystaatse jeugorkes en hy het ’n oor gehad wat tussen akkoorde kon hoor. Party aande, wanneer ons kinders almal in die bed is en die huis begin stil word, het my pa agter die klavier gaan sit en die dag se spanning weggespeel. Lekker ou bekende treffers … op die “syncopation” manier, want dis hoe hy leer klavier speel het.

Vir ’n spesiale bederf het hy my en my broer op ’n Sondagaand na die stadsorkes in die stadsaal geneem. (My sussie was toe nog te klein.) Hulle het destyds Sondagaande ’n uurlange program aangebied – ek dink dit was een keer ’n maand. Dit was lank terug en die onthou raak ’n bietjie vaag. Jy kon nie bespreek nie en moes in ’n lang tou wat soos ’n slang al om die gebou gekronkel het, gaan staan en wag om jou kaartjies te kry. Ons het baiekeer agter die orkes op die sitplekke agter die verhoog beland, maar dit was deel van die groot opwinding en betowering.

De Bakke

Agterna het my pa ons na die promenade in Seepunt geneem en daar het ek, nog aan die sweef van die musiek, saam met my pa en my broer draairoomys in die aandskemer langs die see geëet. Baie spesiaal en baie lekker. Ek vermoed my pa se liefde vir roomys het juis ook so by die see begin. Die dae toe hulle vakansietye van Springbok af Mosselbaai toe gery het om by De Bakke vakansie te hou.

My pa het altyd vertel hoe hulle, die Bothas, konvooi gery het saam met die Van Niekerks. (Die ou dokter Van Niekerk was ’n legende in sy tyd in Namakwaland se wêreld.) Saans het hulle ’n seiltjie tuseen die twee ou karre gespan en dan het almal sommer daar in die veld geslaap. Hy het met groot smaak vertel hoe die van Niekerks se dogter in die nag per ongeluk met kaalvoet in die skottel vars plaasbotter, wat moes saam see toe, getrap het.

See toe

Maar die opgewondenheid oor die see-toe-ganery het al daardie dinge na kleinighede laat lyk. Ons was al opgeskote tieners toe my pa nog elke Desember ons so kort duskant Albertina al stip voor ons in die pad laat kyk het om te sien wie eerste die see kan sien. Ek sal nooit vergeet nie – dis so ’n effense bultjie op ’n draai en dan skielik sien jy die blou van Mosselbaai met Robeiland so half onvanpas in die middel van die groot uitgestrekte waters.

My pa het lank op komitee na komitee baklei om die ou De Bakke met sy opslaanstrandhuisies te behou. Vandag is dit ’n siellose plek met net die strand en die see wat jou nog so effens wil-wil laat onthou. Hy het ook jare lank, tot kort voor sy dood, aangedring dat ons oor Desember saam met die Van Niekerks gaan piekniek hou. Alles vir die onthou van daardie konvooirit van Springbok na die see – al het nie een van ons of die Van Niekerk-kinders iets gemeen gehad nie.

En nou, met die uitpak van al die ou herinneringe ’n klipgooi weg van die ou Three Arts, maak ek hierdie roomys vir die onthou, die naaste smaak aan die ou draairoomyse wat jy daar by die ou Pavillion in Seepunt gekry het. Romerig en lekker . . .

Karen se allerlekkerste roomys

(Jy het nie ’n roomysmaker nodig nie.)

1 liter room
1 blikkie kondensmelk
1 teelepel vanielje-ekstrak
3 eierwitte

Klits die room styf. Voeg die kondensmelk en vanielje by terwyl jy aanhoudend klits. Klits die eierwitte styf in ’n kleiner bakkie en vou by die roommengsel in. Skep die mengsel in ’n plastiekbak met ’n deksel en plaas oornag in die vrieskas. So maklik soos dit. Onthou net om die roomys so twintig minute voordat jy wil opskep, uit die vrieskas te haal. Dit maak die inskep net soveel makliker.

 

Lees ook

Mango met hoogsomer in die lyf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top