Regte outydse suurlemoenstroop

  • 5

Vandag pleeg ek hoogverraad, sommer in duplikaat. Ek verheerlik ’n ou vruggie wat nie nou “in seisoen” is nie en die suikerbeheptes sal sekerlik die heuwels inhol as hulle sien hoeveel van die “wit gif” ek in my resep gebruik. As een van hierdie doodsondes – of albei – jou grief, blaai sommer nou al verby. Maar ek betaal my boetegeld sonder skroom – ek kan nie nog twee seisoene wag nie. Ek oorleef die hoogsomer met ’n glasie suurlemoenstroop in die hand. En ek voel skatryk as ek ’n bak vol suurlemoene op my tafel het – heeljaar, elke dag. Dis net vir hand uitsteek en ’n blertsie sap of ’n skraapsel skil in ’n geurige pruttende pot. Of ’n troostee wanneer die lewe druk.

As ek moet kook sonder ’n bak suurlemoene op die kombuistafel, sal dit wees asof jy my een hand agter my rug vasmaak. En nou praat ek nie van my suurlemoen-en-roosmaryn-amandelkoek nie. Nee, ek gebruik suurlemoen byna elke keer wanneer ek voor die stoof staan – bredies, soppe, braaihoeder, slaaie … noem maar op. ’n Dag sonder suurlemoen is vir my soos ’n dag sonder son.

Ek was ’n tweedejaar op universiteit toe ’n klasmaat vir my Rosa Nepgen se vertaling van Eugenio Montale se Italiaanse gedigte vir my verjaardag gegee het. Die Geel van Suurlemoene wat Skyn het al verskeie trekke saam met my oorleef. Tot doer ver in Graaff-Reinet, terug Kaap toe en kruis en dwars oor die stadskom en aanliggende gebiede – Vredehoek, Bokaap, Constantia, Leeukop, Woodstock en nou weer Plumstead. Die vreemdste is dat ek by nie een van my blyplekke ’n suurlemoenboom gehad het nie. En ek moet erken ek het byna geswig voor die versoeking toe ek ’n huurhuisie geadverteer sien met ’n suurlemoenboom in die binnehof. Gelukkig het my gesonde verstand my baie vinnig laat besef dat die boom waarskynlik groter is as die meeste van die kamertjies in die gehuggie.

En toe ek nou met die trek my boeke begin uitpak en ek ’n ereplekkie vir Die Geel van Suurlemoene op my rak soek, het ek eers weer gaan sit en die titelgedig gelees:

Luister na my, julle bekroonde poëte,
julle wat alleen beweeg tussen plante
met minder gewone name: ligusterbosse of akante;
ek, ék verkies om te dwaal in die lang gras op paaie
diep tussen halfdroë spruite,
in modderpoele opgedam langs die paaie,
waar seuns soms ’n skraal paling vang;
paadjies wat sak van bo by die randsome
tot onder waar die rietbos se pluimsaad staan,
en in die groentetuin uitloop by die suurlemoenbome.

Dis beter dat die voëls se astrante lawaai
in die asuur verswelg word en daar uitwaai;
dan hoor ’n mens weer die sagte gesug
van vriendelike takke in ’n luggie wat hulle skaars laat swaai,
en die sinne word van ’n geur bewus
wat nie van die aarde kan loskom nie.
Dis ’n wonder wat die hartstog keer,
die woede van oorloë kan afweer,
en ook ons wat behoeftig is, laat deel aan die rykdom
van die geur van suurlemoenbome.

Want in stiltes soos dié word alles verklaar,
begin dit beweeg na ’n oorgawe toe
waarin dinge hul diepste geheime gaan openbaar,
en ’n mens verwag jy gaan ontdek
hoe die natuur fouteer, waar die dooiepunt
van die wêreld lê, die skakel sit wat nie hou nie,
en hoe om die knoop te ontwar en eind’lik die draad te vind
wat na die hart van die waarheid lei.

Die oog ondersoek en beskou,
die gees wat vors, verbind en skei
in ’n geur wat ver versprei
wanneer die lig van die dag verflou.
dis in hierdie stiltes dat aan ons,
met elke menslike skim wat afskeid neem,
die een of ander verstoorde godheid verskyn.

Maar illusies verdwyn en die tyd voer ons terug
na die stadsrumoer; dáár wys die blou van die hemel
soos klein lappies kleur tussen skoorsteen en gewel.
Die aarde word tam van die reën; die koue verveling
van die winter drup die huise vol; waar die lig –
nou ook ’n bitter gees – ál suiniger binnedring.
Dan, op ’n dag, hang daar ’n vergete tuindeur oop,
en op die bome in die binneplaas
sien ’n mens die geel van suurlemoene skyn;
oorrompel, ontdooi die hart
en die gemoed loop vol
van dié helder getuit
en die son se goue trompetgeskal.

En so met die lees besluit ek – by hierdie huis gaan ek ’n suurlemoenboom plant, hier in die agterplaas tussen die twee lukwartbome en die koejawelboom. As ek gelukkig is, bly ek lank genoeg om die Geel van Suurlemoene wat Skyn in my eie agterplaas te ervaar voor die tyd van verhuising aanbreek. En as ek baie gelukkig is, dra die boompie genoeg suurlemoene om stroop te kan maak.

Hierdie resep vir die goeie outydse suurlemoenstroop het ek op ’n handgeskrewe briefie tussen my ouma se resepte ontdek. Ek maak dit nou al jare, want dis deedae die drankie wat ek kies. Ek het ook eens op ’n tyd soos ’n wafferse Floyd glas-in-die-hand gekook. Maar ek het gou besef, die kospotte duld nie onverdeelde aandag nie. Ek dink die keerpunt het gekom toe ek, reeds goed ge-Floyd, Coq au Vin gevlam en byna al my wenkbroue afgeskroei het.

Ek laat die suurlemoene eers goed oud word voor ek sap maak. Wanneer die vel taai en verrimpeld is, smaak daardie suurlemoenstroop op sy beste. En dan moet jy sorg dat jy melkdoek in die huis het. Jy kan dit by enige materiaalwinkel kry. Jy voer jou sif daarmee om te sorg dat jy van al daardie lastige veseltjies ontslae raak. Gebruik so ’n bietjie geduld wanneer die sap deur die doek syg – dis al wat tydrowend is aan die hele proses.

Karen se outydse suurlemoenstroop

4 koppies vars-uitgedrukte suurlemoensap (dis nou die hoeveelheid wat jy moet hê nadat jy dit deur die melkdoek gesyg het)
6 koppies suiker

Giet die suiker en suurlemoensap in ’n dikboomkastrol en roer oor matige hitte totdat die suiker opgelos is. Wanneer die stroop net-net begin kook, is dit gereed en moet jy dit van die stoof afhaal. Laat afkoel en giet dit in gesteriliseerde bottels met skroefproppe. Wanneer jy dit opdien, gebruik jy ongeveer 1 eetlepel van die stroop (afhangende van jou smaak) in ’n glas yskoue water met baie ys. Garneer met mentblaartjies en ’n skyfie vars suurlemoen.

Lees ook

Mango met hoogsomer in die lyf

Die eenvoud van dinge

  • 5

Kommentaar

  • Amanda le Roux
    Amanda le Roux

    Dankie Karen. Ek deel jou liefde vir suurlemoene en suurlemoenbome. Mooi geskryf ook. Ek gaan jou resep prober. Ek maak steeds 'n resep wat my koshuistannie, Mammie Loots, in die 60'er jare vir ons in Heemstede gegee het - 1:1:6. Maklik om te onthou - 1 koppie suurlemoensap, 1 koppie suiker, 6 koppies water.
    Joune is seker lekkerderder, maar die een is so maklik. Verdun dit eenvoudig verder na gelang van smaak en dis soooo maklik.

  • Baie dankie vir jou mooi woorde. Ek gaan beslis ook Mammie Loots se resep probeer. Dankie vir die deel.

  • Karen en Amanda baie dankie julle is tops. Sowaar 'n hele nuwe wêreld vir my ontbloot. Nooit geweet suurlemoene is so veelsydig ni. Deesdae maak ek my eie dry lemon. Amanda dis jou 1Karen die stroop geniet my man alte graag in sy tee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top