Bou jou burger met regte maalvleis, niks anders nie

  • 0

Min dinge kan meeding met ’n regte, egte hamburger. Dis ’n hele maaltyd wat jy in een hand kan vashou en happie vir happie kan geniet. Maar, die einste kitskoskultuur wat jare gelede vir ons die hamburger gebring het, het ons oor die jare met soveel verskillende weergawes gebombardeer dat ons lankal vergeet het hoe ’n regte hamburger moet smaak.

Ek was sewe jaar oud, ’n klein ou dingetjie met spierwit boksterte wat kaalvoet op die Karoovlaktes gespeel het, toe Big Mac daar ver anderkant die waters gebore is. Op Volmoed het ons van niks geweet nie – hamburger was ’n hamburger en kleintyd was ’n hotdog daar in die Xenia-kafee op Oudtshoorn vir my ’n groter bederf. Dit het my meer as vyftig jaar geneem voordat ek my eerste Big Mac sou proe. Die eerste McDonald’s het maar eers aan die einde van 1995 in Suid-Afrika geopen. En die kere wat ek in Amerika was, het ek geleef van groot bederf en nie van hot dogs en hamburgers nie.

Jim Delligatti. Foto: Wikipedia

Volgens Wikipedia was dit glo ’n Jim Delligatti van Pittsburgh,  Pennsylvania, wat met dié ding begin het. Die eerste twee name wat hy die bielie-van-’n-burger gegee het, het nie gewerk nie. “Aristocrat” het die Amerikaners koud gelaat. “Blue Ribbon” ook. Dit was die slimme Esther Glickstein Rose, wat as sekretaresse by ’n advertensie-agentskap gewerk het, wat Big Mac sy naam gegee het. Dis hoe die malligheid begin het.

Vir baie mense is die Big Mac die simbool van die groot Amerikaanse droom, van rykdom en dekadensie. The Economist het selfs ’n Big Mac Index waaraan dié koerant die lewensstandaarde in verskillende lande vergelyk. Hulle praat ook ligweg van “Burgernomics”. Daar is selfs ’n Big Mac-museum in North Huntingdon, Pennsylvania.

Michael S Lasky vertel in The Complete Junk Food Book van die negentienjarige Reenie Palmiere en Tom Kavano (20) wat ’n kitshuwelik gereël het, vinnig genoeg om in die Guinness Book of World Records opgeneem te word. Hulle het die onthaal net daar onder die goudgeel boog van die M van McDonald’s gehou, opgetooi in ’n trourok van kant en satyn en ’n spoggerige aandpak, maar met Big Macs en daardie vuurhoutjie-tjips van McDonald’s as kos vir die bruilofgaste. Die paartjie het ’n McDonald’s-horlosie as trougeskenk gekry.

Lasky skryf ook van die keer toe Koning Tāufaʻāhau Tupou, heerser van Tonga, op besoek in Los Angeles was. Die sjefs van die beroemde restaurant Chasen’s in die Wilshire Hotel het gereed gestaan om die koninklike smaakkliere te laat rieldans van genot. En wat maak hy toe? Hy bestel 30 Big Macs as versnapering na sy luukse hotelsuite!

Maar daar in die hart van die Karoo het ons van al hierdie dinge niks geweet nie. Ek het eers later in flieks, TV-programme en in boeke van dié Big Mac te wete gekom. En gewonder …

My uiteindelike kennismaking met die Big Mac laat my dink aan die wonderlike buurman wat ek in Loaderstraat daar in die Bo-Kaap gehad het. Hy was ’n altvioolspeler van St Cloud in Minnesota en het in simfonie-orkeste regoor die wêreld gespeel. Toe ek hom leer ken het, het hy in die ou Kruik-orkes gespeel. Toe hy die eerste keer in die Kaap aangekom het, het hy vertel, het hy nog so ’n paar dae blaaskans gehad voordat hy in alle erns saam met die orkes begin oefen het. Hy en ’n paar van die nuwelinge wou toe die kans gebruik om die Groot Vyf te sien. Hulle is eers op na Etosha in Namibië. Niks gesien nie. En toe is hulle Kruger-wildtuin toe. Die tyd was te kort en hulle het ook niks gesien nie. Hy is teleurgesteld terug Kaap toe. Die volgende dag, op pad werk toe, moes hy eers by die verkeerslig wag sodat die sirkus-optog kon verbygaan. In daardie dae (mag die Aarde ons vergewe!) was diere nog deel van die sirkus. En net daar, by ’n rooi lig in Adderleystraat, sien hy toe sy leeu, olifant, luiperd …

Ek is in 1994 vir die eerste keer oorsee, op my eentjie New York toe vir die bekendstelling van die eerste rolprentweergawe van The Lion King. Die eerste drie dae het ek op Disney se rekening in die Hilton Towers op Rockefeller Square gebly, ’n hanetreetjie van die beroemde Radio City Music Hall waar die bekendstelling gehou sou word. Daarna, het my redakteur gesê, moet ek goedkoper verblyf gaan soek. Huisgenoot, waar ek toe as vermaakredakteur gewerk het, betaal nie in Disney-dollars vir reis-en-verblyf nie.

Ek was min gepla. Ek het ’n wonderlike hotelletjie opgespoor, reg op Times Square en oorkant die Ethel Barrymore-teater. Buitendien het ek uitgesien daarna om vir die res van die week van hot dogs en hamburgers te leef. En om uiteindelik my Big Mac-ervaring te beleef.

Maar, daardie eerste dag op my eie, toe ek laatmiddag in die klein kroegie onderkant my hotelletjie met ’n glas rooiwyn sit en kyk hoe die limousines na die middagvertoning by die teater oorkant die pad in die sneeu stop om die vroue in hul pelsjasse op te laai, het ek bevriend geraak met die eienaar van die kroegie. Hy het ingegryp toe ’n vreemde skepsel hom aan my probeer opdring het waarna hy die man net daar by die deur uitgehelp het. Hy en sy vriende het my elke aand na ’n ander restaurant geneem en ek het nooit ’n hot dog of ’n hamburger gesien nie!

Dit was eers nou die dag, meer as vyftig jaar ná die geboorte van Big Mac, dat ek uiteindelik my eerste happie ervaar het. Ons was vroegoggend op pad na ’n Kuier-funksie in Worcester, deel van die tydskrif se verjaardagvieringe. Toe ons in die dorp aankom, het die span eers by die groot geel M gestop vir ontbyt. En daar kry ek toe my Big Mac. Dit was koud en ek was honger en dié burger het heel goed afgegaan. Maar ek het ook besef ek sal nie huil as ek nog vyftig jaar vir die volgende een moet wag nie. Ek maak eerder my eie.

Jy maak jou burger-patty van regte steak-maalvleis, niks anders nie. Die ideaal is om jou eie te maal van die steak-snit van jou keuse. Lendeskyf (sirloin) werk die beste, maar ek self kies kruisskyf (rump). Maar dis ook nie doodsake as jy jou slagter se hulp inroep of ’n pakkie steak-maalvleis uit die supermark se koelkas haal nie. En jy kan hoogstens ’n bietjie gerasperde uie, dalk ’n knoffeltoontjie en ’n bietjie speserye by jou patty sit. Enigiets meer maak van jou patty ’n frikkadel.

Ek het lank gelede ’n hamburger-pers gekoop en dis nogal die één kombuis-fieterjasie wat ek gereeld gebruik om die perfekte patty te vorm. Maar jy kan net so goed jou hande gebruik om ’n groterig bol te rol en dit dan plat te druk. Onthou net, die patty moet min of meer die grootte van die hamburger-rolletjie wees wat jy gebruik en jy moet in berekening bring dat die vleis effe gaan krimp wanneer jy dit gaarmaak. Bros rolletjies is lekker, maar hou dit vir ’n ander keer. Jy soek ’n sagte rolletjie, ligweg gerooster, om die eet van jou burger makliker te maak. En as jy ’n sous by jou burger soek, is dit op jou eie gewete.

Karen se regte, egte hamburger

Genoeg vir vier

Vir die patties

500 g steak van jou keuse (of klaargemaalde steak-maalvleis)
1 kleinerige ui, gerasper
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
1 eetlepel Worcestershiresous
1 eier

Vir die samestelling

4 hamburger-rolletjies, gebotter en ligweg in die oond gerooster
blaarslaai van jou keuse
1 groot ui, in ringe gesny en in ’n bietjie olie in die pan gebraai (of jy kan rou uieringe gebruik)
2 tamaties, in skywe
sout en varsgemaalde swartpeper

Maal jou vleis in ’n vleismeul (of gebruik die kitsklaar maalvleis van jou slagter of die supermark) en plaas dit in ’n mengbak saam met die ander bestanddele vir die patties. Meng dit goed met jou hande en vorm vier patties, met jou hande of met ’n hamburger-pers. Die beste is om die patties eers op ’n bakplaat, wat met bakpapier gevoer is, vir ’n halfuur in die vrieskas te sit. Smeer die patties alkant met ’n bietjie olie. Verhit ’n riffelpan en gee die patties alkant net ’n kleurtjie voordat jy dit op die bakplaat in ’n voorverhitte oond van 200ºC vir 20 minute gaarmaak. Bou nou jou hamburgers met die geroosterde rolletjies, blaarslaai, uie en tamatieskywe. En moenie die sout en peper vergeet nie.

Lees ook

Lamsboud – die heel lekkerste is die onthou

Pophuise en pampoenkoekies vir die onthou

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top