Boere-souttert sonder grêndgeit

  • 9

Sielkundiges meen ’n trekkery is derde op die lysie van die mees spanningsvolle dinge in jou lewe. Heel eerste is die dood van ’n geliefde. Daarmee stry ek nie. Ek het dit al aan eie lyf ervaar. Mense wat ek liefhet, my hond Karoolsie, my katte Trompie, Klawertjie, Thomas, Cleo en Sagrys. Sielsvernietigende smart. Tweede op die geleerdes se lysie is egskeiding. En dis nou hier waar ek so ’n bietjie van die geleerde manne verskil – ’n trekkery is vir my meer spanningsvol as al drie my egskeidings saam. En, glo my, dít sê baie.

Ek dink dis die vrees vir die onbekende, vir verandering. Ek is nou al meer as dertig jaar by dieselfde apteek, dieselfde taxibestuurders … die handjievol vriende wat ek het, kom ook ’n lang pad met my saam. Wanneer ek kook en bak, is ek meer avontuurlustig en eksperimenteer met nuwe resepte, nuwe dinge. Maar ek het ’n hele arsenaal van geliefde ou bekendes waarop ek telkens terugval wanneer die lewe begin druk. Soos die ou, ou resep vir hierdie regte boere-souttert. Oor die jare het ek dit al so ’n bietjie aangepas, maar nou nie so dat dit vreemd begin word nie. Die tert weet nog steeds waar hy vandaan kom en giggel so in sy binneste oor die aanstellerigheid van sy grênder niggies, die quiches.

Toe ek nou moes afskeid neem van my huisie daar teen die berg, het ek my so stadigaan begin voorberei vir ’n lewe sonder die betowering wat ek daar ervaar het. Dit was nie ’n skielike “uitsettingsbevel” nie – die eienaar het my al drie jaar gelede begin waarsku dat hy beplan om te herbou en self daar te kom bly. Ek het elke oggend met die gang af geloop, my verwonder aan die spel van lig deur die blaregordyn voor my kombuisvenster tot hier diep in die binneste. En ek het gewonder waar die nuwe, vreemde pad my sou lei.

Ek het dit so lank as moontlik probeer uitstel, maar met ’n spertyd van twee maande, het ek begin soek na ’n plekkie waar my vreemde gesinnetjie gelukkig sou wees – min trappe vir my tagtigjarige ma, blyplek vir Maswazi, veilige speelplek vir my kat Bliksem en staanplek vir my stoof. Ek het meestal op die internet gesoek en my deur die foto’s laat lei om ’n paar plekke te gaan verken. Ek is elke keer bedruk en moedeloos terug huis toe. Klein, benoude plekkies, vuil plekke … by die een huis is ek deur iets gebyt en het dae lank met ’n pers karbonkel op my arm geloop.

Dit was toe dat dié foto my aandag getrek het – ’n tafeltjie en ’n stoeltjie in ’n agterplaas. Ek wou eers verbyblaai, maar die wit wolkies teen die blou lug in die agtergrond van die foto het my laat verder kyk. Toe ek die ander foto’s oopmaak, het ek gewéét. En toe ek die eerste keer by die tuinhekkie van Rusthof staan, kom lê daar ’n diepe vrede in my hart, ’n vrede wat jy vir geen mens kan beskryf nie.

Die pakkery was nie ’n grap nie, die uitpakkery nog minder. En ek het nagte wakker gelê oor hoe Bliksem in sy nuwe omgewing sou aanpas. Jy moet die kat minstens twee weke lank opgesluit hou, het mense my gewaarsku. Ek en Bliksem het albei geweet hy vaar nie goed met huisgebondenheid nie. Ons is al ’n vorige keer ná sy operasie deur vier dae van huisarres en dit het nie baie goed gegaan nie.

Ek het daaraan gedink om hom die dag met die trekkery by my veearts te laat en agterna te gaan haal wanneer alles rustig is, maar toe ek weer sien, is die treklorrie daar en ek het nooit daarby uitgekom nie. Ek het hom in sy mandjie gelaai en in die nuwe huis in die kamer verste van al die geroesemoes van die trekkery saam met sy sandbak en kos toegemaak. Teen half-nege die aand, toe die laaste kartonbokse vol boeke ingedra is, het ek al die deure en vensters na buite toegemaak en hom uitgelaat.

Wat volgende gebeur het, was byna bonatuurlik. Hy het deur die deurmekaar huis geloop, tussen al die meubels en bokse wat rondgestaan het en aanhoudend gespin. Hy het sy kos geëet en hom langs my op die rusbank tuisgemaak. So asof dit is hoe dit hoort. Die volgende dag het ek nog geloop en dink of ek die kans moet waag om hom te laat uitgaan tuin toe, toe kom hy doodluiters deur die bure se tuin aangeloop huis toe. Die klein Bliksem het iewers ’n gaatjie gekry waardeur hy kon uitkom!

Vir my voel dit asof ek en Bliksem iewers in ’n ander leeftyd al hier kon gebly het. Die huis is soos ’n ou tannie wat jou teen haar ruim boesem vasdruk. Ek het huis toe gekom. Vir die eerste keer het ek ’n kombuis waar ek by ’n tafel kan sit, waar ek en Maswazi saam kan werk sonder om mekaar in die wasbak te stamp in ’n poging om by die stoof uit te kom. Ek loop my nou dood om die soutpot by die pot op die stoof te kry. Maar dis ook goed. Ek verstom my aan die vernuftige ou kombuiskaste met hul versteekte hoekies, geheime kompartemente en klein draaitafeltjies aan die binnekant. Ek het my goed so uitgepak sodat dit soos ’n regte ou plaaskombuis lyk.

Vroegoggend maak ek die mooi houtvoordeur oop en gaan sit met my koppie koffie op die voorstoep, effe verskuil agter die lilapers bougainvilla en die bosse verbleikblom. Soggens, hier teen teetyd se kant, is daar ’n saamtrek van voëls in die groot ou boom in die bure se agterplaas. Ek vermoed hulle behoort aan die een of ander charismatiese kerkgroep – hulle sing net te uitbundig. Hier is ’n janfrederik-paartjie wat soggens besluit of hulle in die voortuin of in die agterplaas wil speel. Die groot hibiskus met sy dubbellaag pienk blomme in die agterplaas wen gewoonlik en ek kan hulle ure lank deur my kombuisvenster dophou. Ek het nou die oggend verstom staan en kyk hoe ’n veldmuis hoog in die boom met ’n takkie langs loop en ’n blom pluk.

Aanvanklik het die duiwe my vreesik geïrriteer omdat hulle weier om Afrikaans te praat. “Everything is perfect,” het hulle aanhoudend gekoer. Totdat ek besef het, hulle sing eintlik “Alles is so mooi hier.”

En dit is. Van die breë gange met sy mooi houtvloere, die sierlike boog in die ingangsportaal, die loodglasvensters en die ou, ou teëls in die badkamer. Die huis behoort aan ’n emeritus-professor. Hy het jare lank Engels gedoseer aan Universiteit Kaapstad en het ook ’n hele paar digbundels gepubliseer. Sy ma en pa het in die huis gebly en hy as jong student. Hy het my vertel hoe sy pa self die kombuiskassies vir sy ma gemaak het. Ja, sê sy vrou, “it has always been such a happy house.”

Een van die eerste geregte wat ek in hierdie “happy house” gemaak het, was my ou bekende souttert. En in hierdie ou kombuis is dit asof hy nog meer op sy stukke is en sommer vir sy Franse familie koggel en tong uitsteek.

Karen se boere-souttert

Genoeg vir 6

4 snye witbrood, in blokkies gesny
2 koppies melk
2 eetlepels botter
1 eetlepel olie
1 pakkie swoerdlose strepiespek, in stukkies gesny
1 ui, fyngekap
2 koppies gerasperde cheddarkaas
1 koppie ham, in klein blokkies of repies gesny
4 gaar Frankfurters (die regte menere, asseblief), in klein stukkies opgekap
4 eiers, geklits
1 eetlepel gekapte vars pietersielie
1 teelepel mosterdpoeier
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
paprika vir bo-oor sprinkel

Plaas die broodblokkies, melk en botter saam in ’n kastrol en verhit oor lae hitte. Laat staan om af te koel. Verhit die olie in ’n pan en braai die spek daarin tot lekker bros en gaar. Skep dit met ’n gaatjieslepel uit op handdoekpapier en braai die ui in dieselfde pan in die spekvet. Roer die spek en ui saam met al die ander bestanddele by die brood-en-melkmengsel. Giet die mengsel in ’n gesmeerde oondbak of tertbord, sprinkel ’n bietjie paprika oor en bak vir 35 – 40 minute in ’n voorverhitte oond van 180°C.

WENK: Hierdie tert is ewe lekker warm of koud. Jy kan dit ook as ligte middagete saam met ’n lekker slaai voorsit of in kleiner blokkies sny en as southappies by ’n teepartytjie of saam met jou drankies bedien.

Lees ook

’n Tertjie teen die seer

Die eenvoud van dinge

  • 9

Kommentaar

  • Jou nuwe tuiste klink betowerend en die tert.. Iets wat ek seker kan en gaan maak.
    Ek wil tee en n gemmerkoekie by jou kombuistafel eet.
    'n Plan GAAN ek maak xxxx

  • Dit is vir my wonderlik om saam met jou deur jou nuwe huis te stap en dit te beleef. Ek glo ook ń mens moet tuis wees in jou huis, anders kan dit net nooit lekker bly nie. So bly jy het ń lekker plek gekry!! Groetnis

  • Baie dankie vir die mooi woorde, Ansie. Ja, die huis koester my en gee my 'n diepe vrede in my hart.

  • Avatar
    Izelle Pretorius

    Karen, ek geniet jou skrywes terdeë. Die sonder grêndgeit souttert lyk watertand lekker. Help tog, ek lees en lees, maar sien nie waar en wanneer kom die eiers by nie?

  • Izelle, dis wonderlik om van jou te hoor. Baie dankie. Ja, ek voel ook so oor eiers - hulle verdien spesiale vermelding. Maar in hierdie resep het ek hulle sommer so saam met al die ander bestanddele ingeboender. " Roer die spek en ui saam met al die ander bestanddele by die brood-en-melkmengsel." Geniet die tert!

  • Avatar
    Izelle Pretorius

    Dankie 😃. Eiers word altyd geskei, of geroom saam die en daai, of een vir een bygevoeg, die spesiale behandeling, soos jy sê. Wou net seker maak ek doen hierdie eiers nie n onreg aan nie! Mooi bly

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top