Geloofsgedigte deur Cas Vos: ’n lesersindruk

  • 4

Geloofsgedigte deur Pieter Verster (Naledi, 2024); foto van Cas Vos: verskaf

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Geloofsgedigte
Skrywer: Cas Vos
Uitgewer: Naledi (2024)
ISBN: 9781067234201

In hierdie deeglike en diepsinnige werk van Cas Vos kom die Psalms aan die bod. Hy het vantevore reeds oor die Psalms geskryf. Sy omvangryke boek, Theopoetry of the Psalms, is in 2005 deur T&T Clark in Londen en New York uitgegee. In 2016 het hy ook oor Psalms geskryf in God die groot Digter. Geloofsgedigte gee nuwe perspektiewe, veral oor die prediking van die Psalms. Hy bespreek verskeie Psalms indringend en gee aandag aan die poëtiese krag daarvan. Soms kom ook van sy eie gedigte voor, asook van ander digters, soos NP van Wyk Louw, TT Cloete, Sheila Cussons en Breyten Breytenbach, om met die Psalms in gesprek te gaan. Vos (2024:v) dui aan dat die Psalmbundel dikwels tot verwondering aanleiding gee. Vrolike musiek word met dodelike stiltes afgewissel, vertroue soms met protes en lofsange met klaagsange. Dit is God se stem wat deur mense weergegee word: “Hy is by ons teenwoordig, reddend, beskermend, troostend en vermanend” (3).

........
Vos gee ’n oorsig oor die ontstaangeskiedenis, die indeling en die eiesoortigheid van die Hebreeuse poësie. Hy bespreek die digterlike kenmerke van die Psalms volledig. Enkeles kan genoem word, soos parallelismus membrorum, aaneenskakeling, inclusio, alliterasie, paranomasias, interkontekstualiteit, en so meer.
........

Twee Ou Testamentici wat ’n besondere bydrae gelewer het, word deur Vos aangewend, naamlik Gunkel en Mowinckel. Gunkel het die Psalms se verskeidenheid van soorte aangedui (Gattungen) en Mowinckel hulle kultiese betekenis. Vos gee ’n oorsig oor die ontstaangeskiedenis, die indeling en die eiesoortigheid van die Hebreeuse poësie. Hy bespreek die digterlike kenmerke van die Psalms volledig. Enkeles kan genoem word, soos parallelismus membrorum, aaneenskakeling, inclusio, alliterasie, paranomasias, interkontekstualiteit, en so meer.

Vos (63) lewer ’n besondere bydrae deur die betekenis van die Psalms in die liturgie deur te gee. Hy skryf:

Al die poëtiese strategieë het ten doel om die Psalms as geloofsgedigte te ervaar. Daarmee word die toegang na God geopen. Hy laat ons deur die Psalms wandel. In tye van droefheid, ellende, siekte, kommer is Hy ons toevlug. By Hom kan ons skuil. Ons kan tot Hom bid. Hy is die God wat hoor en verhoor. Vir Hom kan ons lofliedere sing. Ja, almal wat asem het, word opgeroep om op Hom die groot Hallelujas te sing.

Dit het veral vir die prediking betekenis. Die Woord van God speel ’n sentrale rol in die prediking. Die Psalms sal daarin ’n uiters belangrike plek moet inneem. God moet aan die woord kom en daarom moet die prediker steeds ook die Psalms ontgin en deurgee. Vos (73) wys daarop dat daar in die kommunikasie van die Woord juis ook alle menslike emosies hanteer moet word, maar altyd vanuit die perspektief van God wat spreek. Soms staan die mens onmagtig en onrein voor God, maar dan kom God hom of haar tegemoet in sy verskyning. Juis in die krisissituasie van die hoorder van die Woord kom God om die mens te ontmoet. Die Psalms is ook nie net antwoorde nie, maar daar kom ook stryd (Psalm 22), verlange (Psalms 42 en 43), klagte (Psalm 13) voor.

Wanneer Vos die individuele Psalms oorweeg, dui hy aan hoe betekenisvol hulle is. Onheil en oordeel word afgewissel met vertroue in God. Die vraag wat is die mens, word in Psalm 8 deeglik oorweeg, maar die lof aan God beteken dat God se heerlikheid bevestig word. Dié Psalm kan ook intertekstueel met die boek Job gelees word en die vrae van Job kan dan aan Psalm 8 gestel word waar die Here se heerlikheid bevestig word. God is groter as al die gode en die chaosmagte en sy heerlikheid word in die skepping openbaar.

Die mens is egter ook ’n verganklike wese. Verskeie Psalms dui daarop dat die mens maar soos gras (Psalms 90:5 en 103:15) en stof (Psalms 30:10, 90:3 en 104:29) is, maar God triomfeer selfs oor die dood (Psalm 56:14). Die werklikheid is verder ’n poreuse werklikheid. Vos (101) bied een van sy eie gedigte aan om dié werklikheid ook te beskryf. Transendensie en immanensie word soms aangewend om God se verhouding tot die wêreld toe te lig, maar Vos kies eerder vir die begrip poreuse werklikheid, omdat dit nie so uitsluitend is nie en God Hom nie aan die wêreld onttrek het nie.

Vos (102–3) skryf: “Binne die poreuse werklikheid bely ek dat ek in ’n persoonlike God glo. Ons kan God nie omvat nie. Daarom bly Hy vir ons begrensde mense ’n geheimenis. God is die misterie by wie ons harte tot rus kom (Augustinus).”

Breedvoerig bepreek hy ook Psalm 23 om die begrip dat die Here ons herder is tuis te bring. Hy dui aan hoe die Psalm in die liturgie ’n besondere rol kan speel.

.......
Die Psalms speel en behoort so ’n belangrike rol te speel in die kerk en die Christelike gemeenskap dat die volledige en betekenisvolle bydrae van Cas Vos tydig en waardevol is.
.......

Verskeie ander aspekte word deur Vos hanteer. Hy verwys na die afwesige God in Psalm 88 (145), maar ook na God se onvervreembare teenwoordigheid in Psalm 73 (151), en dat alles boos is sonder God (Psalm 14; 154). Psalm 11 (164) hanteer hy om God se geregtigheid te beklemtoon en Psalm 102 (170) om verganklikheid en God se ontferming aan te dui. Ander sake wat deur Vos benader word, is die Almagtige se skaduwee (in Psalms 90 en 91; 179), dat slegs God Koning is (Psalm 93; 186), dat God ’n God van liefde en trou is (Psalm 103; 194), dat die Here geloof moet word (Psalm 104; 203) en verskeie ander sake, veral lof sonder maat aan God (Psalms 145 en 150; 249). Met sy eie indrukwekkende gedig “Bestemming” sluit Vos af.

Uit bogenoemde gedig net die slotreëls:

’n Hand sal vir ons wink,
’n stem sal in ons ore klink:
“Kom na My toe,
na die stad met pêrelpoorte.”
Daar sal ons engelsange hoor.
Dan sal ons jubel in ’n koor
en op Hom die groot hallelujas sing
en aan ons Here vir ewig hulde bring. (258–9)

Die Psalms speel en behoort so ’n belangrike rol te speel in die kerk en die Christelike gemeenskap dat die volledige en betekenisvolle bydrae van Cas Vos tydig en waardevol is. Daar kom deeglike oorweging met dikwels nuwe, eie insigte van die Psalms voor. Hy oorweeg die agtergrond deeglik en wys op die betekenis van die bundel as kunstig verweefde gedigte. Teologiese vraagstukke word deur hom op ’n bevatlike manier benader. Die eksegese is deeglik, maar ook verstaanbaar. Hy betrek ook eietydse gedigte op ’n werklik unieke wyse. Die werk vorm ’n besondere geheel en word sterk aanbeveel.

Lees ook:

Die landskap van die psalms

Tweelingpsalms baan weg na gebed vir Afrika

Ligloop op jou lewenspad deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Wisselende stemminge deur Cas Vos: ’n resensie

Wisselende stemminge deur Cas Vos: ’n lesersindruk

"Solank ek leef, sal ek Hom aanroep": ’n Ondersoek na die teologiese bedoeling van Psalm 116

Bybel in Kaaps: Psalm 1

Die Pesalms vi ôse mense: ’n onderhoud met Willa Boezak

 

  • 4

Kommentaar

  • Susan Vorster

    Ek beskou myself as 'n leek in soverre ek die Psalms al bestudeer het. Vele male al almal gelees, maar om dit as't ware te dissekteer het nog nooit gerealiseer nie. Dankie Cas vir hierdie boek wat sonder twyfel diepte navorsing geverg het. Ek vind dit veral nuttig om die Psalms byderhand te hou. Die gedigte wat ingevoeg is, is beslis vir my 'n bonus. Nog 'n dankie.

  • Pieter Verster: jy bring hierdie magnum opus van Cas Vos onder lesers se aandag. Cas noem die psalms "geloofsgedigte". Hy haal Karl Barth aan: Die psalms is een van die gestaltes van God se Woord.

  • Die titel Geloofsgedigte is in begrip deels persoonlik en literêr. Die digter is oor etlike jare aan my bekend in beide kontekste. As skrywer/digter is Cas kundig en bron-delwend deeglik. Dit kon ek ervaar in verskeie publikasies waarvan 'God die groot digter' en 'Met my hand op my hart' voorbeelde is.

    Hierdie publikasie het 'n vernuwende insig en 'n hernuwende geloofservaring gebring.

    Pieter Verster se lesersindruk gee weer wat ek beleef het. Geluk aan die digter en uitgewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top