Wisselende stemminge deur Cas Vos: ’n resensie

  • 8

Titel: Wisselende stemminge
Skrywer:
Cas Vos
Uitgewer:
Naledi, 2024
ISBN:
9781991256690

I

Wisselende stemminge is Cas Vos se twaalfde digbundel sedert 1999. Die bundel is netjies en keurig deur Naledi uitgegee met ’n voorbladontwerp deur Karen Cronjé na aanleiding van ’n kunswerk deur Christelle Cronjé waarop bome en hulle spieëlbeeld in water uitgebeeld word. Behalwe selfbeskouing, die konkrete en spirituele werklikheid en die wyse waarop ons ons leefwêreld interpreteer, simboliseer spieëls en spieëling in die wêreldletterkunde ook dikwels die dualiteite goed – sleg, lig – donker, dood – lewe. Hierdeur verkry die sentrale tematiek van die digbundel op visuele wyse gestalte.

Die bundel word oorhoofs verdeel in 10 afdelings waarin “wisselende stemminge” op uiteenlopende wyse ondersoek word.

Gedigte is meestal formeel gestruktureer, en dikwels kom rymlose verse voor waarin ’n vaste metriese patroon as bindmiddel dien. Afdeling VIII bestaan byvoorbeeld uit 16 genommerde kwatryne wat ’n verskeidenheid vorme demonstreer waarin dié strofes kan voorkom, soos in die volgende voorbeeld met sy abba-rymskema:

Ek het voor Emmanuel Levinas
se oë gaan sit en hom hoor sing:
liefkosing is ’n beeld van aanraking
waarin bemindes mekaar verras.

In die “Begeleidende notas” (ble 153–60) beskryf Vos die poëtiese tegniek van Ovidius en sê onder andere dat die digter by voorkeur gebruik maak van die kombinasie van heksameter en pentameter “om ’n kragtige geheel” te vorm en prys hy die epiese vers wat Ovidius in die Metamorphoses gebruik, asook sy beheer van die elegiese vers. Die gedig “Hoe en waar vind jy ’n geliefde?” (101–3) is blykbaar ’n vertaling van Ovidius se “Ars Amatoria” (reëls 41–100), hoewel die woorde “vertaling” of “herskrywing” of “naskrywing” nie hier óf in die begeleidende notas voorkom nie en geen bronverwysing na die oorspronklike gedig verskaf word nie. Wanneer hy in die styl van die antieke digters skryf, voel die digter hom blykbaar tuis en is hy op sy vaardigste.

Oor die algemeen word die verse in hierdie bundel gekenmerk deur die skrywer se voorliefde vir “vertel” eerder as “laat sien”. Ek dink byvoorbeeld aan ’n gedig soos “iv Getuies van onheil” (16–9) waaruit ek drie strofes aanhaal:

(...)

Daagliks krepeer werkloses en smeek
vir ’n happie brood langs die bedelpad.
Mens sien die alleenskap van slagvelde
en moorde op straat en agterhokkies, 
familietragedies eindig meestal stormverslae
met leweloses wat getou aan balke hang.

Op 13 Julie 2021 het die hel oopgeswaai.
Ares, die oorlogsgod, het bloeddorstiges
na die slagveld opgeroep; die begeestering
van sy susters, Eris, Fobos en Deinos het
woede by die geweldenaars laat oorkook.

Winkels is geplunder, van byna alles beroof.
Daar is nie pret gemaak nie, die noodlot
is getart, mense is roekeloos afgemaai.
Bloedbelope strate is met flenterlyke besaai.
Smeekroepe dwarrel soos rook, galm tot God.

(...)

In “Geskenk van die see” (4) staan:

Sy [Die see?] bevry gedigte van oortollige bywoorde,
rammelende byvoeglike naamwoorde
wat sêkrag verduister; sy ontbloot die lelle
van skynheiligheid vir alle siendes.

Blykbaar is hierdie raad egter vir ander digters bedoel, want Vos self gee nie blyke dat hy dit ter harte neem of ekonomies en strategies met woorde omgaan nie:

In ’n alleengelate straat sien hy die vrou
krampagtig en hartstogtelik vasgewortel
in die aarde en tog verslae deur teistering.
Sy buig hopeloos in die tempel van smart
waar haar heilige lamp nog steeds vonkel. (54)

Van Elize Botha het die outeur self blykbaar die raad ontvang “om clichés te vermy en die oorvloed / byvoeglike naamwoorde te verdoem” (86).

II

Soos die bundeltitel aandui, is die vernaamste tema dié van “wisselende stemminge”. Naledi bemark die bundel soos volg:

Wisselende stemminge nooi die leser uit om die verskeidenheid lewens-stemminge (sic) op die pad van gedigte te ervaar. Op die reis is daar die wisslende (sic) stemminge van onder andere digters, skilders, komponiste, liefde, onreg, lyding, seisoene en die lewenseinde. Wisselende stemminge is ’n spieël waarin die reisiger sien hoe alles om hom/haar verander, hoe hy/sy al meer die afdrukke van die jare dra en ervaar. (https://naledi.co.za/product/wisselende-stemminge)

Die eerste afdeling van die bundel heet “Wisselende stemminge van gedigte”. In die eerste gedig, “Die see se geheime stemminge” (3) word die see se donker stemminge verwoord aan die hand van oorlogsmetafore:

Sy is daarin gesout om oorlogsskepe (sic!),
voorsien van missiele, vir ’n lokval
na weerloses te stuur en in haar
dieptes tot ondergang te doem;
sy bewaar die wanhoop en doodsgerugte
van blinde matrose en gedienstige slawe.
Daar is geheime wat sy nie uitlap nie.

Daarteenoor staan die tweede gedig, “Geskenk van die see” (4), waarin die see metafoor word vir die skryfproses en waarin ’n stemming van verwondering die botoon voer:

(...)

Sy nooi die digter om in haar dieptes af te daal
na die koraalriwwe en rotse op haar bodem
om ’n skulp waarin ’n perlemoenpêrel skuil
te ontvang en dit as ’n gedig van onskatbare
waarde aan woordvertroosters te skenk.

Aan mense wys sy haar genoegdoening
en verlustig haar in die woord se bevryding.

Die volgende afdeling, “Getuies van wisselende stemminge”, beeld hoofsaaklik donker tye in die menslike lewe uit, onder andere in gedigte soos “ii Die mens se donker tye” (12), “iv Getuies van onheil” (17–9), “v In die wurggreep” (21), “vi Menswording” (21) (“Die verblyf in die moederskoot / is vir die denke vol duister”), “vii Die nag sak uit” (22–3) (“Jy was soos die doodgangers betraan / en jou hart was aan stukke geskeur”) en ander.

In die derde afdeling, “Seisoene se wisselende stemminge” staan die gedig “Karoo-sterrehemel” (43–4) uit as ’n sterk gedig:

(...)

Kyk na en verkyk jou aan die jagter Orion in die buite-
wyke wat soos ’n reusewiel deur die byna leë ruimte sweef;
die helder Carina-newel; die donker Kolesak, draer van koue
gas langs die Suiderkruis; die sterswerm Omega Centauri
en die sterbondel Suidelike Pleiades; die manjifieke versameling –
’n sterreparadys.

(...)

Afdelings IV, V en VI word onderskeidelik gewy aan die wisselende stemminge van skilders, komponiste en woordkunstenaars. ’n Belangrike kenmerk van die bundel is die gesprek met ander kunstenaars – intertekstualiteit en ekfrasme. Die doel van dié kunsgrepe is gewoonlik om ’n nuwe betekenislaag tot ’n bestaande kunswerk toe te voeg, om bestaande kunswerke binne ’n nuwe filosofiese raamwerk te betrag, of om ’n eie kunswerk binne ’n wyer verwysingsraamwerk te plaas. Dit is logies dat intertekstualiteit in ’n gedig ’n funksie moet hê en dat dit nie blote naskrywing van groter digters se werk kan wees of die leen van reeds bestaande materiaal nie. Die resultaat behoort ’n kunswerk uit eie reg te wees. In die betrokke afdelings maak Vos ryklik gebruik van die stof van ander kunstenaars, soos Leonardo da Vinci, Rembrandt van Rijn, Vincent van Gogh, JS Bach, WA Mozart, Ovidius, William Shakespeare, NP Van Wyk Louw, Alfred lord Tennyson (’n vertaling van sy “Ulysses” wat nie as vertaling vermeld word nie en waarvan die bronverwysing na die oorspronklike nêrens verskyn nie), en heelwat ander. Gedigte in hierdie afdelings is minder suksesvol en dikwels het dit vir my gevoel asof intertekstualiteit slegs ter wille van intertekstualiteit gebruik word en soms selfs afbreuk doen aan bestaande kunswerke.

Hans du Plessis het lank gelede oor iets wat ek voorgelê het, gesê hy plaas dit mits ek die woord “liefde” uithaal. Onder woorde wat hulle betekenisfunksie weens oorgebruik en misbruik verloor het, is die woord “liefde” sekerlik Nommer Een. Gedigte in afdeling VII, “Liefde se wisselende stemminge” (en heelwat ander gedigte in die bundel) sou kon baat vind by Hans du Plessis se raad; kyk byvoorbeeld “By jou leer ek”, bl 93):

Ek en my ego so groot,
naaste op wal stippeltjieklein.
Liefde kan oral wees
soos ’n sonstraal in die siel.

In afdeling IX word die lyding van Sokrates, Maria en Josef, Herodes, Perpetua en Septimus Serverus beskryf – telkens as iets wat ons in hedendaagse tye steeds beleef.

Die slotafdeling handel oor ouderdom en die naderende dood. Hier, soos in die res van die bundel, kom spiritueel besinnende gedigte voor. Dit is die langste afdeling in die bundel, met 22 gedigte. Vir my was die eenvoudige “Byna verby” (149) een van die bestes in die bundel. Ek haal dit in sy geheel aan:

Byna verby

Pyne kom in my liggaam loseer
en ek is sonder enige verweer.

Nadat die son gloeiend ontwaak,
is die dag voor my leeg en naak.

As ek in die dowwe spieël kyk,
gewaar ek hoe rimpels my bestryk,
sien ek hoe ek ná vele jare lyk.

My woorde is besig om te verrot,
die einde is my gedigte se lewenslot

Mag ek net duskant my vertrek
vra dat stilte se sluier my bedek.

III

Hoewel daar in die bundel ’n handvol goeie gedigte voorkom wat deeglik afgewerk en deurdink is, het die geheel by my die indruk van oordaad gelaat: te veel gedigte, te woordryk en blomryk, te veel getokkel op dieselfde snaar, te veel “vertel”, te min “gewys”, en te min tematiese afwisseling: 10 afdelings; 110 gedigte; 160 bladsye oor dieselfde tema. Ek blameer eerstens die keurder dat hy/sy nie iewers halt geroep het nie. Daar moes indringend gesnoei gewees het totdat ongeveer 40–50 gedigte oorgebly het. Tweedens: Indien daar wel ’n keurder betrokke was en die outeur nie ag geslaan het op die aanbevelings nie, moet die uitgewer wat die bundel gepubliseer het sonde

r om daarop aan te dring dat alle voorstelle van die keurder bygewerk word, die blaam dra. Ten slotte: ’n Professioneel gekwalifiseerde anonieme keurder met ’n onverbiddelike skalpel is ’n uitgewer se beste vriend; ’n streng uitgewer wat sy/haar (eie) keurder vertrou, is ’n skrywer se beste vriend.

Lees ook:

Ligloop op jou lewenspad deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Onder die vlerke van jou liefde deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Beskut teen vrese deur Cas Vos: ’n lesersindruk

Die landskap van die psalms

  • 8

Kommentaar

  • Resensie. Marlies Taljard
    Vir die welwillende leser

    Resensent Marlies Taljard
    is haar wysie kwyt en verward.
    Sy wil stof oor die bundel strooi.

    'n Digbundel mag maar vertel,
    maar dan geklee met gedigte
    wat die leser laat deel aan die woordspel.

    'n Digter kan met sy gedigte
    die ligflikkeringe die weg baan
    na die toekoms vol hoopvolle sugte.

    Die skilder leen aan die digter sy
    skildery en bemagtig hom
    om lesers met sy gedigte te verbly.

    Die komponis vul die digter se hart en wink
    hom nader sodat hy op die maat van die komposisie
    in 'n gedig woorde aan die komponis skink.

    Die resensent noem die liefde 'n cliché
    wat liewer karig gebruik moet word.
    Ek en Breyten verskil: sonder liefde is alles verby.

    In William Shakespeare se liefdessonnet lyk
    die liefde na 'n ster waarop 'n skip hom rig,
    sy waarde onpeilbaar, sy hoogte omvangryk.

    Die reeks woorddelwers is nie 'n herdig
    van hulle merkwaardige gedigte nie,
    maar eie gedigte wat die grotes se werk verlig.

    Om oor die Latynse digters kommentaar
    te lewer, moet die resensent Latyn magtig wees.
    Anders vloei die sinne soos modder deurmekaar.

    Ovidius se gedig in sy Ars amatoria laat ore tuit
    omdat skoonhede sy keuse dikwels vertraag.
    Alles is in orde sonder gewaande kuisheid.

    Catullus se Gedig 65 oor sy vriend hyg:
    nooit weer sal sy oë oor hom wei nie,
    maar hy sal aanhou praat, al bly hy hom doodswyg.

    Die resensent wil 'n oordeel oor die redigeerder fel,
    maar die redigeerder is 'n ster
    wat al die digwoorde noukeurig regstel.

    Aan haar en nog ander lof en dank.
    Sonder die span sou die woordhuis
    ineengestort en vergaan het in stof en stank.

    'n Slotwoord.
    Lees asseblief die gedig Inkarnasie op bladsy 122.

  • Petra Pienaar-Nel

    Ek hoop van harte Crito skryf hieroor. Ek sal regtig graag wil weet wat haar mening oor die resensie sowel as die reaksie daarop is.

  • Gerben Heitink

    Ik heb de hele bundel "Wisselende stemminge" de afgelopen maanden doorgenomen en wil je nogmaals complimenteren met deze rijke bundel, toch wel een hoogtepunt in jouw dichtkunst. De bundel toon een groot meesterschap. Voor mijn besef gaat het om een nieuwe vormgewing van het dichtwerk, waarin het narratiewe aspect een belangrijker plaats krijgt. Het rijm is ondergeschicht. Elk gedicht is tevens een verhaal en prikkel de lezer om dat verder te vertellen. Daarbij beheers hijj het metrum van de klassieke dichters als Homerus en in deze bundel vooral Ovidius.De klassieke oudheid blijkt een bron van inspiratie die je verbind met de wortels van het christendom. Sommige gedichten klinken als een geloofsgetuigenis. Maar er zijn ook moderne gedichten die klinken als een "rap".
    De bundel is veelzijdiig, wat blijkt uit de verschillende rubrieke waarin jij alle kleuren en facetten van wisselende stemmingen een plaats weet te geven. Filosofen, dichters, schilders, musici trekken voorbij. Ook jouw liefde voor de grote Afrikaanse dichters als Van Wyk Louw en Breytenbach klink mee. Die bundel bereik een climax in wisselende stemminge op de lewenspad, de gedichten rond de dood (Thanatos) zijn indrukwekkend. De lezer die jou niet kent zou kunnen denken dat het je "Verzamelde Werk" gaat, terwijl het een bundel is in een lange reeks sinds Vuurtong. So lever je een naar mijn mening een voor deze tijd unieke bydrage aan die Afrikaanse digkuns.

  • Marlies Taljard

    Cas Vos, baie dankie dat jy toe die moeite doen om die stellings wat ek in my resensie gemaak het, prakties toe te lig. Ofskoon ek, soos dit hoort, bewysmateriaal uit die digbundel self aangehaal het, verskaf jy hier deur jou gedig addisionele bewyse van die kwaliteit van jou digkuns vir almal om te sien.
    Daarbenewens gee jy as teoloog ook vir lesers deur jou gedig 'n goeie insig in hoe verdraagsaamheid prakties uitgeleef word in 'n werksomgewing en kultuur wat zero kritiek kan verduur.
    Jou vriend wat jou karakter, kennis en godsgeleerdheid as 'n nagedagte vergoeilik, is 'n teoloog. Ek besef dat as ons die bundel deur 'n teologiese bril lees en as getuienis van kennis van oa die Bybel en die Antieke, sou die resensie dalk anders gelyk het as wanneer mens die literêre waarde daarvan probeer inskat. Terloops, herinner tog jou vriend daaraan dat dit in die akademie gebruiklik is om jou belange vooraf te verklaar en indien jou vriende of kollegas se werk op 'n openbare forum bespreek word, is die etiese ding om jou aan die bespreking te onttrek, veral as jy nie 'n spesialis op die bepaalde vakgebied is nie.
    (Jy het dalk jou hand oorspeel toe jy beweer het ek is my wysie kwyt en verward. Dit is lasterlike bewerings wat op 'n openbare forum gemaak word, wat jy nie kan bewys nie, wat doelbewus daarop gemik is om my te diskrediteer en wat my professionele integriteit in gedrang bring. Ek kan my werk en inkomste kwyt wees as iemand jou glo. Ek is siek daarvoor dat beroepsresensente 'n oop teiken is vir stoelpote, vrot eiers en tamaties en dat dit deur lesers blykbaar as aanvaarbare gedrag beskou word as trolle vir die persoon van die resensent gaan in plaas van (as deel van 'n oop, beskaafde debat) vir die resensie. Dis tyd dat diesulkes verantwoordbaar gehou word.)
    Met respek.

  • Een van my stokperdjies, benewens boomklim en wynvat, is boeklees. My grootste vrees nog ooit is die pleeg van ‘n solesisme in die skaapkraal. Eenkeer het ek losweg in die regte gepraktiseer en onthou selfs ‘n bietjie Latyn waarmee ek graag te koop loop tussen die digters; poësie op die ou ore: De minimis non curat lex en die ander aquila non capit muscas.

    Ek raak skoon liries en sluit daarom graag af met Dozi se: Maybe my baby … you are barking up the wrong tree.

  • Sjoe! Ek dog ek was in 'n herrie betrokke oor 'n onlangse resensie van my. Dit lyk my ons leef in 'n era waarin digters die reg opeis om direk of indirek weerwraak te neem en die inskatting deur die resensent uit te daag. En dit na aanleiding van 'n resensie deur een van ons toonaangewende poësiekenners.

    'n Mens wonder wat geword het van die beginsel dat resensering 'n leerervaring aan beide die publiek, maar ook die digter bied. Daar is immers belangrike punte ter verbetering genoem.

  • 'n Slot versoek: Lees asb Pieter Verster, 'n teoloog met 'n MA in kreatiewe skryfkuns en 'n knap skrywer, se insigryke lesersmening op 23.4.23. Sy beoordeling van Wisselende stemminge is so helder soos die son ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top