Beskut teen vrese deur Cas Vos: ’n lesersindruk

  • 1

Beskut teen vrese
Cas Vos
Naledi

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Cas Vos is ’n bekwame digter wat reeds verskeie bundels publiseer het. Hy is ook ’n  vertaler, en sy vertaling van Il Paradiso van Dante is ’n absolute hoogtepunt. Hy is egter ook meer as digter en vertaler. Sy akademiese werk as teoloog is van hoogstaande gehalte. Sy kennis van die Klassieke dra ook by tot sy indrukwekkende oeuvre. Sy jongste bundel, Beskut teen vrese, lewer besondere getuienis van sy belesenheid en van sy digterlike vermoëns. Die taalgebruik is vars en die beelding besonders.

Die bundel is teen die agtergrond van COVID-19 geskryf. Dit word intensief literêr en teologies ontleed. Daarmee saam is daar heelwat gedigte wat na die Klassieke verwys. Dante kom ook hier in verse voor.

Verse word as beskutting teen die vrese aangewend. Die eerste deel is dan ook "Verse teen vrese", en sy verse word as herder te midde van die groot bedreiging aangedui. Die verse dien self as beskutting teen die vrese.

In die gedig "Woordsmid" dig hy ten slotte soos volg:

Die digter se woordskeppings beland
op ’n strook papier sag en deurmekaar.
Hy rangskik rondings volgens ’n patroon
koel haar hete lyf met versuitsig af.
Behendig en driftig kleur hy elke segging
met metafore, vergelykings en ironieë,
oorbodige woorde word versigtig veras,
hy versier die gedig met strofes en ’n koeplet,
nou kan die gedig verder reis, sonder verset.

Die tweede groot tema is "Die bedreigdes".

Van groot belang is gedigte oor die plae wat Israel geteister het. Die plae en die hedendaagse interpretasie daarvan word egter op ʼn nuwe wyse aangewend en toegepas. Dit gaan dus nie in die eerste plek om God se oordeel oor die mens nie, maar om die chaosmagte wat losgelaat word, ook deur die COVID-19-virus. Dit is juis teen hierdie chaosmagte dat Vos sy poësie rig. Die gedigte na Dante se inferno is ’n versinnebeelding van die bedreiging, maar daar is ook hier by Vos nuwe interpretasies. Die reistema, wat ook elders in die bundel voorkom, sluit dié gedeelte indrukwekkend af in die slotstrofes van die gedig "Elke dag se reis":

Wat beleef en sien ons elke dag en elke nag?
Die son flikker flou, die sterre tuimel in ’n donker gat.
Ons word deur Corona hokgeslaan, stikkend en stukkend.
Ons sien die merktekens van geweld op elke hoek en draai:
Mense word gewetenloos en brutaal versmoor en vermoor,
klippe laat ruite kletter, vuur stook geboue aan die brand.
In krotstrate en onder sinkdakke snik ’n kind vol honger.

As die dae en nagte van lewe sonder hoop
tog maar wil sterf en ons weer vry kan loop.

Die poëtiese gehalte van die gedig is duidelik sigbaar in beelding, taal en tema.

Die derde afdeling, "In Job se skoene", lewer ewe-eens gedigte van hoogstaande gehalte op. Hierdie afdeling word afgesluit met die diep teologiese verwysing na die Bondgenoot wat langs hom kom staan, en hy sal op engelvlerke na die ander lewe reis om sy lewe en lof aan die Bondgenoot te wy.

Deel vier is "Kwatryne", waar daar tog met God geworstel word omdat daar die aanvoeling is dat Hy hom in die steek gelaat het. Nogtans is daar steeds afwagting op sy roering.

Dan volg "Haikoes" (deel vyf)  met die aangrypende

Die sterrekoor juig,
nagstemme vul die hemel
oor u blye koms

"Tankas" volg as deel ses met die slotreëls

Pyn laat ons nie met rus nie,
die rus is eendag elders.

’n Uiters belangrike deel is deel sewe: "Omweë van die liefde".

Hier word die reistema en die liefdestema voortgesit. Daar word ook na die Klassieke verwys. Hierdie gedeeltes gee aan die bundel ’n hegte binding. Verbode en mislukte liefde word aangedui.

Humor ontbreek nie in die gedig "Gode het die vrou gemaak" nie.

Die gedig "Nalatenskap" sluit dié deel op ’n hoogtepunt af:

My hartsbeminde, ek is deur die berig ontstig;
ek het gehuil, en gedink hoe dikwels ek en jy
die son met ons gedigte na sy bed begelei het.
Nou is jy ’n lyk, iewers, ondergronds, my geliefde.
Jy leef in my hart, al het jy na die oorkant oorgestap,
jou verse, jou liedere is jou lewende nalatenskap.
Weer eens is die verse die beskutting teen die vrese.

In deel agt, "Rondom elegieë", word die Klassieke aangewend om die bedreiging van oorlog en die dood aan te dui. Die teenwoordigheid van wraak te midde van die plaag word uit die Ilias van Homeros hanteer. Verlange na rus bly dus groot.

Deel nege, "Slot van ’n reis", sluit die bundel af. Die gedig "Waagstuk" is deeglike verantwoording van die bundel, met hoop wat deurskemer. Michelangelo se klassieke skildery oor die skeppingsdaad in die Sistynse Kapel dien as agtergrond.

Dit eindig so:

Hoe treurig die verdriet ná die goddelike vonk:
God se eksperiment het momenteel misluk.
Maar wees bedag: daar wag ’n her-skepping.

Die mens moet beskut word teen die bedreiging om hom of haar heen. Dikwels is hierdie bedreigings deur die mens self veroorsaak. Verse help egter om teen die vrese beskut te word. 

In geheel gesien is die bundel inderdaad ’n bundel wat tot nadenke stem in die krisistyd waarin die mensdom hom tans bevind. Talle verse getuig van groot vakmanskap. Beelding, taal en tema word ’n hegte eenheid. Daar kan vrae gestel word oor die wyse waarop Psalm 23 in die aanvangsgedig aangewend word, en daar is gedigte wat soms na prosa neig, byvoorbeeld "Ontnugtering", maar in geheel gesien, is dit ’n broodnodige en hoogs relevante bundel van hoogstaande gehalte.

Lees ook:

Beskut teen vrese: ’n onderhoud met Cas Vos

  • 1

Kommentaar

  • Louis Pienaar

    Pieter Verster se lesersindruk getuig van skerpsinnigheid en insig in die
    komposisie van poësie. Dit is ’n voortreflike teks. Ek sou tog wou byvoeg dat
    prosagedigte, waarna Pieter Verster verwys, by talle digters voorkom. Ek
    verwys net na ’n paar: Arthur Rimbaud, Henri Michaux, Jacques Prévert, Ted
    Hughes, Gary Snyder, Wislawa Szymborska, Seamus Heaney, Anne Carson en
    Antjie Krog.

    Dit strek LitNet tot eer om sulke insigryke tekste te publiseer.

    Louis Pienaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top