Beskut teen vrese: ’n onderhoud met Cas Vos

  • 3

Beskut teen vrese
Cas Vos
Naledi

Cas Vos praat met Naomi Meyer oor Cas se Beskut teen vrese.

Cas, ek sien jou naam elke paar maande opduik; dan is daar weer ’n digbundel. Waar het jou liefde vir gedigte ontstaan? En van wanneer af skryf jy?

Naomi, ek het reeds ’n ander digbundel voltooi, toe Beskut teen vrese aan my deur kom klop. Dit was nagdonker en ek moes die deur oopmaak. En wie staan daar? Corona met ’n opdrag: skryf oor my en my bondgenote. Mense is wêreldwyd oorval met vrese. En die rede? Mense is nie opgewasse teen my nie. Onder die omstandighede moes ek net gedigte oor al die vrese wat mense snags wakker maak, skryf. Ek skryf al gedigte van my hoërskooldae af. En glo my, dit is lank gelede. Ek was altyd lief vir die woord en die beelde wat woorde oproep. Onderwysers het my van kleintyd af aangemoedig om gedigte te skryf.  

Voorin jou jongste bundel, Beskut teen vrese, staan: “Corona dra die kroon. Wie kan hom onttroon?” In 2020 maak mens nogal maklik afleidings as mens die woord “korona” sien, maar wil jy dalk hierop uitbrei? 

Ek weet die Taalkommissie het dit goedgekeur dat Korona met ’n K gespel moet word. Maar ek het die C verkies omdat dit verband hou met Latyn. Hiermee word Corona ook ’n wêreldverskynsel. Ons ganse wêreld gaan mank aan Corona. Corona maak mense vreesbevange, onseker, magteloos, wanhopig en eensaam. Ek moet in gedigte teen Corona skryf, want die verse beoog om die lesers teen vrese af te skerm. Mozart se Towerfluit word aangewend om mense teen Corona te beskerm. Ek keer die rolle van Papageno en Tamino om. Ons is tans in die kou waar Corona ons benoud gevange hou. Daarom word Papageno versoek om hom na ons kou te haas en ons te bevry.

Tamino, mag jou towerfluit se soet melodieë
Corona verskrik en hom spoedig verpletter.           

Gedigte kan immers uit die chaos tot stand kom. Dit is sprankies lig “totdat ons die sterre weer sien”. Corona dwing ons om te vra: “Waar is God in dié tyd?” Dít is die vraag waarmee gedigte in die bundel worstel. Die heel laaste gedig laat die lig deurskemer.

            Maar wees bedag: daar wag ’n her-skepping.

“Die bruid van Beiroet” (32) help ons ook om in die Corona-tyd te sien en te leer wat regtig saak maak. Op haar troudag word Beiroet deur ’n ontploffing geskud. Wat doen die bruid? Vlug sy saam met haar beminde? Nee, sy buk en help, as dokter, die verminktes en lydendes. Is daar vir haar ’n uitsig? Ja!

Sy sal opstaan en na haar beminde gaan
en na elders reis waar liefde nooit sal taan.

Jou eerste gedig in Beskut teen vrese is “Die verse is my herder”. Deur al die jare weet ek ook van jou boek oor Job, jou skryfwerk wat vervleg is met Bybelse verwysings. Vertel my van jou teologiese agtergrond, asseblief.

Naomi, dit is ’n sinvolle vraag (nie dat jou ander vrae nie sinvol is nie!). In my elf digbundels kom die intertekstualiteit met Psalm 23 vier keer voor. Elke keer word dit egter op ’n ander wyse aan my gedigte verbind. Dit kry dan ’n ander en nuwe betekenis. In hier die bundel is die verse die beskerming teen die Corona-vrese. My opleiding as teoloog het my met die taalkleed omhang. Ek moes Hebreeus, Grieks en Latyn studeer. En mag ek byvoeg: Dit was vir my heerlik. Op hierdie manier het ek met die antieke en Bybelse wêrelde in aanraking gekom. Dit is vir my ’n ryk bron om te ontgin. Die Griekse skrikgodinne, Magaera, Alecto en Tisifone, het my tot die insig gebring dat Corona ’n moderne skrikgodin is.  

Die pes is van antieke tye af al aan die mens bekend. Ek sien dadelik in die tweede afdeling, Verse teen vrese, jou verwysings na die Tien Plae. Het jy vanjaar inspirasie geput uit wat ons in die wêreld beleef het? Het jy vrees ervaar? Dink jy pyn en vrees is juis belangrik om nuut te kan skep?

Naomi, ek moet net eers iets oor die Tien Plae in die tweede afdeling skryf. Sommige lesers het die plae as die tien Egiptiese plae gelees en verstaan. O, nee! Dit handel in dié afdeling nie oor God se straf soos in die Eksodus-vertelling nie. Dit gaan in dié afdeling oor die bedreigdes. Mense van ons dag wat deur Corona en sy meelopers bedreig word. Die bedreiginge word dus eietyds verstaan. Dit is deel van die oerchaos. En dit laat ons sug:

As die dae en nagte van lewe sonder hoop
tog maar wil sterf en ons weer vry kan loop.

Naomi, ek het ook vrees ervaar. Wie skrik nie vir Corona nie? Pyn en vrees laat my een met alle mense voel. Deur die gedigte soek ek na die sin en die onsin van pyn en vrees. Wie met pyn leef, het deernis met ander se pyn. En dit is wat ons as mense nodig het: deernis met en omgee vir ander mense. Theodore Roethke het geskryf: “Love is not love until love’s vulnerable.” Dit is wat vrees en pyn aan ons doen. Uit vrese en pyn kom daar deernis vir ander.

Ek sien ook vir Job en vir Habakuk – “al sou die vyeboom nie bot nie”. Daar was baie rampe en ellendes waarvan in die Bybel geskryf word. Watter van hierdie stories gryp jou verbeelding die meeste aan en waarom?

Naomi, jy het fyn gelees. Daar is inderdaad talryke vertellings van rampe en ellende in die Bybel. Hierdie droewe geskiedenis kan nie anders as om my verbeelding aan te gryp nie. Hiervan is Job ’n voortreflike voorbeeld. Job op die ashoop van ellende en ontnugtering. Die mens se geskiedenis is dwarsdeur die eeue een van rampe en ellende. En dit het nie opgehou nie. Oorloë, terrorisme, korrupsie en orkane duur voort – om net ’n paar ellendes te noem. Dit alles vind neerslag in gedigte. En die rede hiervoor? Om ’n sprankie lig te laat deurskemer. Nie net digters nie, maar ook skrywers skryf oor al die ellendes. Ek dink aan Albert Camus se La Peste en Karl Schoeman se Hierdie lewe.  

Daar is ook haikoes, tankas en ander, langer gedigte. Hoe werk jou inspirasie? Skryf jy neer wanneer jy geïnspireerd voel? Baie gedigte op een slag? Of werk jy gedissiplineerd en skryf jy totdat die inspirasie opdaag – laat jy dit dus opgedaag?

Die skeppingsproses kan nie in formules vasgevang word nie. Woorde stryk op papier neer en dan vra hulle om georden en gerangskik te word. Om gedigte te skryf, is doodgewoon toegewyde en harde werk. Soms daag ’n gedig uit die bloute op, maar ander kere moet ek maar wag en waag.

Jy skryf gedigte oor die liefde, oor kuns en oor die Griekse en Romeinse  mitologie. Waar kom al jou belangstellings vandaan?

Liefde is die een groot wonder van menswees. Maar die liefde kan ’n mens ook ontglip. As jy dit nie troetel en versorg nie. Liefde gee sin aan die lewe. Liefde is ’n geskenk en daarom moet ons dit ook aan ander mense skenk. Kuns het my nog altyd bekoor. Michelangelo, Van Gogh, Rembrandt, Marlene Dumas en vele ander. Om die verbeelding deur ’n skildery op doek te skep, lei my op verbeeldingstogte en gedigmaak. Deur my opleiding is ek blootgestel aan die Griekse en Romeinse mitologie. Die handelinge van gode het my verbeelding geprikkel. En dan is daar die wonderlike Griekse digters: Homerus, Sappho en  Simonides.  

Jy het ’n gedig in Kaapse Afrikaans geskryf, het ek gesien, op versoek van Melt Myburgh en Danie Marais. Die gedig is deur Anastasia de Vries versorg. Wil jy praat oor die skryf hiervan, hoe mens te werk gaan as Kaaps nie die variëteit van Afrikaans is wat mens se huistaal is nie?

Die Adam Small-gedig is deel van ’n huldiging aan hom. Dit was heerlik om Small se wonnelike reis hystoe digterlik in Kaapse Afrikaans te beskryf. Anastasia de Vries het die gedig uitmuntend in Kaapse Afrikaans versorg.

Waaraan skryf jy nou?

’n Digbundel, Onder die vlerke van jou liefde, is tans by die uitgewer, Naledi. Hierin het ek Hooglied as eietydse gedigte vertaal. Ek gee ook aantekeninge om Hooglied te verklaar en te verstaan. Daarby is ’n hele aantal van my eie liefdesgedigte. Ek is ook besig om Dante se magistrale Inferno te vertaal.

Hoe het vanjaar se virus en die inperking jou lewe op praktiese vlak beïnvloed? Dit kan tog nie alles inspirasie wees nie; daar is tog velerlei uitdagings. Sal jy asseblief hierop uitbrei?

Naomi, dit is gepas dat jy jou vrae met ’n tiende vraag afsluit. Tien het mos ’n simboliese betekenis. Dit dui onder andere op volheid, voltooidheid. Gelukkig was daar inspirasie. En talryke uitdagings. Soms het ek behoefte om met familie en vriende te praat. Maar dit was nie moontlik nie. Die grootste uitdaging is om in ’n eensame wêreld jou weg te vind. Lees en nogmaals lees, het my verryk. Gelukkig het ek en my vrou, Lida, die eensame pad saam geloop. Téén die donker in.

 

  • 3

Kommentaar

  • Klink baie goed en gepas vir hierdie tyd waarin ons nou leef. Sal dit moet lees en herkou. Baie geluk, Cas.

  • Cas en Naomi: dankie vir 'n sinvolle gesprek waar mens leer hoe Cas sy inspirasie laat woorde word. Dit is stimulerend en insiggewend.

  • Fanie Swanepoel

    Om Cas se bundels te volg was oor die jare ’n groot voorreg. Geluk en dankie vir hierdie broodnodige, tydige gedigte in ’n moeilike tyd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top