
Foto: Игорь | Pixabay
"The troops said they were ready to die. This is a war of survival, they said, not just for them but for their nation." (Santora 2023)
...
Om voortdurend in chroniese onsekerheid te leef kom volgens Anjum, Aziz en Hamid op sielkundige marteling neer.
...
- Inleiding
In ’n onlangse uitgawe van die bekende mediese joernaal The Lancet (2023) word in die redakteursbrief verwys na die vernietigende effek van die oorlog in Oekraïne op dié land se gesondheidstelsel. Benewens die derduisende sterftes onder die Oekraïense burgerlikes asook soldate (aan beide kante) word geraam dat minstens ses miljoen Oekraïners verplaas is, terwyl meer as agt miljoen na Europa gevlug het. Hospitale en klinieke word gereeld gebombardeer terwyl aanvalle op apteke, bloedbanke, ambulanse, tandheelkundige klinieke en mediese personeel sporadies uitgevoer word.
Die gevolg van hierdie vernietiging van lewensnoodsaaklike infrastruktuur en lewens is ’n geweldige afname in die kwaliteit van gesondheidsorg en -dienslewering vir diegene wat in die besette gebiede of aan die oorlogsfront (tans Bachmoet) woonagtig is. Die elektrisiteit- en watertoevoer van baie fasiliteite is afgesny sonder die vooruitsig van herstel. Pasiënte moet tans groter afstande as voorheen aflê om mediese dienste te bekom, of andersins kan hulle geensins van hierdie dienste gebruik maak nie. Die gevolg is dat die verspreiding van aansteeklike siektes soos masels, polio en witseerkeel onder kinders, asook cholera, aan die toeneem is. Die moontlikheid van ’n uitbraak van grootskaalse epidemies in Oekraïne en die omliggende lande moet rekening mee gehou word. Verder word die kontinuïteit van mediese sorg aan pasiënte met chroniese siektetoestande ontwrig, soos MIV, tuberkulose, kanker, diabetes en kardiovaskulêre siektes (Spiegel 2023).
Dit is vanselfsprekend dat fisiese skade wat in tye van oorlog aangerig word, ook ’n uitkringende impak sal hê op die algemene geestesgesondheid van alle betrokkenes. Tydens oorlogvoering is sielkundige trauma beide die publiek en gevegsmagte se voorland. Wat sou hierdie sielkundige skade presies behels, hoe wydverspreid kom dit voor, watter soort navorsing word tans oor die onderwerp gedoen, hoe word sielkundige skade bepaal en wat presies word met “geestesgesondheid” bedoel?
Liebrenz, Buadze, Smith en Schleifer (2023) beklemtoon die ernstige geestesgesondheidsrisiko’s wat met sekere situasies verband hou: die marteling van krygsgevangenis; veroordeelde misdadigers in gevangenisse wat vir militêre diens opgeroep word (Russiese wetgewing is onlangs verander om dit moontlik te maak); die vernietiging van binnepasiëntsorgfasiliteite vir psigiatriese pasiënte, wat dit onmoontlik maak om gewonde en getraumatiseerde soldate te hospitaliseer vir toepaslike psigiatriese, sielkundige en mediese sorg.
Om voortdurend in chroniese onsekerheid te leef kom volgens Anjum, Aziz en Hamid (2023) op sielkundige marteling neer. Diegene wat hulle in die oorlogsone bevind, ervaar belewenisse soos ’n gebrek aan waardigheid, vernietiging van ideale (byvoorbeeld loopbane, huwelike, eiendomme, besighede), hulpeloosheid, hopeloosheid, gedwonge inperking op vele terreine en magteloosheid. Daar is ook die ontstellende moontlikheid (selfs ’n globale vrees) dat die huidige situasie tot ’n kernoorlog kan eskaleer. Dit skep geweldige uitdagings wat die handhawing van ’n gesonde balans met betrekking tot geestesgesondheid betref.
Die aanhaling van Santora (2023) hier bo verwys na die uitsonderlike moreel van die Oekraïense soldate en beklemtoon dat daar sin, betekenis en patriotisme by baie soldate aanwesig is deur hul land aktief teen invallers en aggressors te verdedig. Hierdie houdings kan egter ook gesien word as verdedigingsmeganismes om angs, stres en skuldgevoelens te onderdruk (Pavlova, Graf-Vlachy, Petrytsa, Wang en Zhang 2022).
Die faktore wat ’n invloed uitoefen op die geestesgesondheid van diegene wat deur oorlogvoering geraak word, is uiters kompleks en dit behoort in aanmerking geneem te word tydens die lees van literatuur oor die impak van oorlogvoering op geestesgesondheid.
Die teoretiese redes waarom Rusland Oekraïne op 24 Februarie 2022 binnegeval het, val buite die bestek van hierdie studie. Die belangstellende leser kan die volgende bronne raadpleeg vir bondige teoretiese uiteensettings: Kleinschmidt (2019); Kurnyshova en Makarychev (2022) asook Lossovskyi en Prykhodko (2022).
- Terminologie
Alhoewel geestesgesondheid en psigopatologiese versteurings teenoorgestelde begrippe is, is eersgenoemde ’n meer omvattende konsep as bloot die afwesigheid van psigopatologiese simptome. Geestesgesondheid dui op ’n relatief konstante of voortdurende geestestoestand (mental condition) waartydens ’n persoon in staat is om relatief hoë vlakke van funksionering wat kognitiewe denke, affektiewe beheer en doelgerigte gedrag betref, te handhaaf en wat terselfdertyd tot selfaktualisering aanleiding gee (Reber en Reber 2001).
Wat geestesgesondheid betref, onderskei die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) (2022:8) tussen drie aanverwante konsepte. Geestesgesondheid word eerstens omskryf as: “A state of mental well-being that enables people to cope with the stresses of life, to realize their abilities, to learn well and work well, and to contribute to their communities. Mental health is an integral component of health and well-being.”
Geestesversteuring (mental health disorder), daarenteen, verwys spesifiek na die diagnosties kategorieë vir psigopatologie soos amptelik in die DSM-5-TR of die ICD-11 aangetref word.
Geestesgesondheidstoestand (mental health condition) word deur die WGO as ’n sambreelterm gebruik waarin die net wyd gespan word en benewens die erkende spektrum geestesverteurings, ook voorsiening gemaak word vir spesifieke psigososiale beperkings (psychosocial disability) soos diskriminasie, vooroordeel, rassisme, uitsluiting en stigmatisering.
...
Verdere faktore (behalwe bogenoemde) wat in navorsing oor geestesgesondheid gekontroleer behoort te word, is die geneigdheid tot selfdood en middelmisbruik, ouderdom, geslag, tydsverloop sedert die blootstelling aan oorlogstrauma, aanwesigheid van risikofaktore vir die vatbaarheid van psigopatologie in die algemeen, geneigdheid tot veerkragtigheid, beskikbaarheid van sosiale en gemeenskapsondersteuningsbronne.
...
- Oorlog en geestesgesondheid
Dit was veral gedurende die tydperk van die twee wêreldoorloë dat die impak van trauma op die geestesgesondheid van soldate en die publiek wat direk daardeur geraak word, meer en meer in die kollig geplaas is (Smith 2020). Gedurende hierdie periode het toestande soos “bomskok”, “oorlogsneurose” en “gevegstres” op die toneel verskyn. Sedertdien het meer betroubare en geldige inligting oor hierdie toestande bekend geword wat gebaseer is op deeglik gekontroleerde navorsingbevindings. Hierdie terminologie is gevolglik stelselmatig vervang met die diagnostiese entiteit wat as posttraumatiese stresversteuring (PTSV) (posttraumatic stress disorder, of PTSD) bekend staan.
Die invloed wat oorlog uitoefen op die geestesgesondheid van dié wat daarby betrokke is, is ’n besonder komplekse aangeleentheid. Santavirta, Santavirta, Betancourt en Gilman (2015) het ondersoek ingestel na die ontruiming van Finse kinders gedurende die Tweede Wêreldoorlog en daarna in pleegsorg geplaas is by Sweedse gesinne. Die deelnemers aan die studie was persone wat tussen 1933 en 1944 in Finland gebore is en gedurende die oorlog ontruim is. Die ontruimde kinders is geïdentifiseer op grond van regeringsdokumente wat beskikbaar gestel is gedurende die 1997 Finse sensusopname. Die steekproef het uit 45 463 mans en vroue bestaan. Inligting soos verkry uit die Finse psigiatriese ontslagregister is nagegaan om die voorkoms van hospitalisasie vir psigiatriese behandeling vir die ontruimde en nie-ontruimde sibbe (tussen die ouderdomme 38 en 78 jaar) in die steekproef te bepaal. Die resultate dui verrassend genoeg aan dat ontruimde en nie-ontruimde sibbe nie beduidende verskil het wat die risiko vir psigiatriese hospitalisering betref nie (die gevaar-risiko-indeks was 0,89, met ’n 95%-vertrouensinterval).
Op grond van die resultate van hierdie studie kan verder gespekuleer word dat die langtermyninvloed van oorlog op geestesgesondheid onder sekere omstandighede minder traumaties en skouspelagtig as die korttermynimpak is. Die resultate sou waarskynlik anders daar uitsien indien die studie net na afloop van die vredesluiting in 1945 uitgevoer was.
Binne die konteks van oorlogsvoering voldoen geestesgesondheid beslis aan die vereistes van ’n multifaktorkonsep. Verdere faktore (behalwe bogenoemde) wat in navorsing oor geestesgesondheid gekontroleer behoort te word, is die geneigdheid tot selfdood en middelmisbruik, ouderdom, geslag, tydsverloop sedert die blootstelling aan oorlogstrauma, aanwesigheid van risikofaktore vir die vatbaarheid van psigopatologie in die algemeen, geneigdheid tot veerkragtigheid, beskikbaarheid van sosiale en gemeenskapsondersteuningsbronne. Hierdie faktore speel sonder twyfel ’n deurslaggewende rol in die wyse waarop geestesgesondheid in die individuele persoonlikheid presenteer.
- Enkele portuurgeëvalueerde studies
’n Beperkte getal navorsingstudies wat handel oor die impak van die Russiese inval in Oekraïne is vir die doeleindes van hierdie bespreking deur middel van die databasis EbscoHost geïdentifiseer en geselekteer. Die trefwoorde “mental health and Ukrainian war” is gebruik en die filters “portuurgeëvalueerd”, “Engelstalig”, “oop toegang”, “volteks aanlyn” en “sedert 2022 gepubliseer” was deurgaans van toepassing.
Deur die toepassing van hierdie kriteria is 38 artikels geïdentifiseer, waarvan vyf spesifiek vir die doeleindes van hierdie bondige bespreking geselekteer is, met die doel om te illustreer hoe belangrik, maar terselfdertyd ook hoe uiteenlopend en problematies, navorsing oor geestesgesondheid in oorloggeteisterde omgewings werklik is.
- Persone wat in Oekraïne gebly het
Kurapov, Pavlenko, Drozdov, Bezliudna, Reznik en Isralowitz (2023) beweer dat hulle navorsingsgroep die heel eerste studie (uitgevoer tussen 5 en 17 Mei 2022) oor die onmiddellike impak van die Oekraïense oorlog op die geestesgesondheid van die plaaslike bevolking uitgevoer het. Die sneeubalmetode van steekproefsamestelling en die Qualtics sagtewareprogram is vir die doel van die studie gebruik. 598 universiteitstudente en -personeel wat in Oekraïne agtergebly het na die uitbreek van die oorlog, is as respondente in die aanlyn opname gebruik. Die geestesgesondheidsvlakke van die respondente is deur middel van vier psigometriese instrumente geassesseer.
Die meeste respondente (97,8%) het ’n beduidende agteruitgang in hul psigo-emosionele status gerapporteer. Die voorkoms van depressiewe gemoed, uitputting, eensaamheid, stres en woede, asook die gebruik van afhanklikheidsvormende middels het beduidend toegeneem sedert die Russiese inval. Die studie bevestig dus die negatiewe korttermyneffekte wat die oorlogvoering in Oekraïne op die geestesgesondheid van studente en akademiese personeel in die steekproef uitoefen.
Opmerking: Benewens studente en akademiese personeel sou dit ook waardevol wees om die response van die algemene publiek – volwassenes, kinders en bejaardes – in hierdie verband te bestudeer.
- Frontlinie
Die Russiese inval in Oekraïne gee aanleiding daartoe dat duisende Oekraïners vir hul land moet veg, hetsy as burgerlike vrywilligers of as soldate in die weermag (Pavlova ea 2022). Gedurende die eerste fase van die inval (19 tot 31 Maart 2022) is ’n gerieflikheidsteekproef bestaande uit 178 Oekraïense soldate vir ontledingsdoeleindes vir hierdie studie gewerf. ’n Groep beroepsoldate (N=104) verbonde aan die Oekraïense weermag en 74 burgerlike vrywilligers het deelgeneem aan ’n opname waartydens gestandaardiseerde psigometriese vraelyste voltooi moes word. Altesaam het 43,4% van die deelnemers die kritieke afsnypunte vir verhoogde disfunksionele angs bereik en 43,3% vir die aanwesigheid van kliniese depressie en 12,4% vir slaaploosheid. Die vlak van geestesgesondheid vir Oekraïense soldate het gewissel ten opsigte van die volgende veranderlikes: beroepsoldate of vrywilligers; geslag; getroude status; frontliniediensplig; deelname aan aktiewe veldslae.
Die resultate van hierdie studie beklemtoon die dringende behoefte aan professionele geestesgesondheidsondersteuning gedurende hierdie voortslepende oorlog. Militêre owerhede behoort die ontstaan van sielkundige kwesbaarhede onder hul gevegsmagte te antisipeer en die proses doeltreffend en voorkomend bestuur om sodoende te voorkom dat intense en dramatiese geestesgesondheidskwessies met verloop van tyd ontwikkel. So ’n vertrekpunt is veral relevant omdat baie soldate minder geneig sal wees om aktief hulp en ondersteuning te soek, weens die risiko’s van stigmatisering.
- Vlugtelingvraagstuk
Die inval in Oekraïne veroorsaak die grootste vlugtelingkrisis in die moderne geskiedenis van Europa (Javanbakht 2022). ’n Groot uitdaging om te oorkom vir dié lande wat vlugtelinge ontvang, is die vlugtelinge se onbekendheid met die wyse waarop gesondheidsorgdienste in die gasheerlande funksioneer. Dit kom voor asof baie Oekraïense vlugtelinge terughoudend is om van geestesgesondheidsondersteuningsdienste gebruik te maak, weens faktore soos stigmatisering, onkunde, gebrek aan vertroue en begrip oor wat hulpverlening ten opsigte van oorlogstrauma presies behels.
Javanbakht stel die volgende benadering voor: dat psigoterapeutiese prosedures soos kognitiewe terapie en blootstellingterapie (exposure therapy) op ’n verkorte basis en sonder enige onderbreking tussen sessies aangebied word; dat primêresorgwerkers op die frontlinie deeglik opgelei moet word in kliniese evaluering en diagnosering van PTSV, algemene angsversteuring en depressie; dat psigiaters versoek word om op ’n konsultasiebasis beskikbaar te wees; dat ’n netwerk van psigiaters, primêresorgwerkers en terapeute wat Russies en Oekraïens kan praat, in die Europese Unie ontplooi word; die benutting van internetgebaseerde dienslewering (soos Telehealth en Telepsychiatry); die ontwerp van kreatiewe groepgebaseerde ingrepe vir vlugtelinge met subliminale psigopatologiese simptome.
- Terapeutiese ingreep
Kim, Lee en Choi (2023) verbonde aan die Cha Universiteit in Seongnam, Republiek van Korea, doen navorsing oor die effektiwiteit van kunsterapie om die geestesgesondheid van die Korio-saram-vlugtelinge vanuit Oekraïne te bevorder. Die Korio-saram-gemeenskap is Suid-Koreane wat in die Oekraïne woonagtig is, maar na Suid-Korea moes vlug vir hulle eie veiligheid, beskerming en ondersteuning weens die noodtoestand wat die Russiese inval in Oekraïne meebring.
In kunsterapie word van nieverbale sielkundige-ondersteuningsmetodologie gebruik gemaak. Binne hierdie sielkundige atmosfeer is ’n persoon in staat om sy bekommernisse te eksternaliseer deur kalmte en rustigheid wat bevorder word. Nieverbale kunsterapie is veral effektief met individue wat spontane verbalisering van kognisies en emosies problematies vind.
’n Gerieflikheidsteekproef bestaande uit 54 deelnemers tussen die ouderdomme 13 en 68 jaar is op ’n ewekansige wyse uit ’n totaal van 962 Korio-saram vlugtelinge saamgestel. ’n Enkele steekproef, voor- en natoets-kwasi-eksperimentele ontwerp is vir die doeleindes van hierdie studie gebruik. Die deelnemers was dus slegs aan ’n enkele kunsterapiesessie (90 minute lank) vir eksperimentele doeleindes blootgestel. Die kunsterapiesessie is as die onafhanklike veranderlike en angs en stressimptome as die afhanklike veranderlikes geïdentifiseer. Erkende psigometriese vraelyste is gebruik om die afhanklike veranderlikes te assesseer. Die resultate dui aan dat die aanwesigheid van angssimptome en die subjektiewe belewenis van angs en stres beduidend afgeneem het tydens en na afloop van kunsterapie.
Opmerking: Hierdie voorbeeld van hulpverlening dien as ’n goeie illustrasie van Javanbakht se verwysing hier bo na kreatiewe groepsgebaseerde ingrepe vir vlugtelinge. Hoewel opvallende tekortkominge (bv ’n gebrek aan ’n kontrolegroep) in die navorsingsontwerp van Kim ea (2023) duidelik blyk, dui die resultate steeds op die potensiaal van kunsterapie om die geestesgesondheid van spesifieke groepe vlugtelinge te ondersteun. ’n Multiprofessionelespan-benadering, insluitende kunsterapie (wat oor meer as een sessie strek), asook groep- en individuele psigoterapie, dieetkundige voorligting en fiksheidsbevordering, behoort ’n meer ideale navorsingsontwerp te verteenwoordig.
- Komplekse traumatiese stresversteuring
Karatzias ea (2023) en sy span navorsers wat aan verskillende internasionale universiteite en navorsinginstitute verbonde is, stel ondersoek in na die effek van die Russiese inval in Oekraïne op 2 004 ouers van kinders jonger as 18 jaar en wat uit verskille provinsies in Oekraïne afkomstig is. Die hoofdoel van die studie was om te bepaal op watter wyse die voorkoms van PTSV en Komplekse PTSV in die steekproef verskil, deur gebruikmaking van die International Classification of Diseases (ICD), ’n Europese psigiatriese klassifikasiestelsel. Die ondersoek is ses maande nadat die inval begin het, van stapel gestuur en die gemiddelde ouderdom van die steekproef was 37 jaar.
PTSV is ’n versteuring wat sterk geassosieer word met gemeenskappe wat deur aktiewe oorlog benadeel word. ’n Opname gedurende 2016, toe Rusland die suidelike en oostelike gebiede van Oekraïne binnegeval het, het daarop gedui dat 21% van die bevolking op daardie stadium reeds aan die kriteria vir PTSV voldoen het.
Die resultate van Karatzias ea (2023) dui aan dat 40,5% van die steekproef aan die vereistes vir beide PTSV en Komplekse PTSV voldoen het. ’n Beduidend groter persentasie van die deelnemers (25,9%) is met PTSV gediagnoseer in vergelyking met Komplekse PTSV (14,6%). Komplekse PTSV word as ’n wyer versteuring (broader disorder) omskryf as PTSV. Komplekse PTSV het ’n langer tydsduur as PTSV en meer herhalende episodes van trauma kom voor. Bykomende simptome, soos gedragsprobleme (impulsiwiteit, aggressie); emosionele probleme (labiliteit, paniekaanvalle); kognitiewe probleme (identiteitskrisisse); verhoudingsprobleme en somatisasie (wat tot herhalende doktersbesoeke lei), vorm deel van die diagnostiese kriteria van Komplekse PTSV .
Die navorsers wys daarop dat die getal deelnemers wat met Komplekse PTSV gediagnoseer is, nie onderskat moet word nie. Alhoewel die gewone behandelingsprogramme vir PTSV ook op Komplekse PTSV van toepassing is, is aanbeveel dat hulpverleningsprogramme soos Skills training in affective and interpersonal regulation wat spesiaal vir persone wat aan oorlogsgeweld blootgestel was, ontwikkel word.
...
Die Oekraïense vlugtelingvraagstuk is uiters kompleks. In sekere Europese lande is duidelike weerstand deur vlugtelingroepe teen goedbedoelde geestesgesondheidsontwikkelingsprogramme waarneembaar. In ander lande, waarvan Suid-Korea ’n goeie voorbeeld is, word vernuwende hulpverleningsprogramme met sukses geïmplementeer.
...
- Gevolgtrekkings
Menige waarnemer sal waarskynlik saamstem met die stelling deur Kurnyshova en Makarychev (2022) dat die Russiese inval in Oekraïne gepaardgaan met irrasionaliteit, brutaliteit en sonder dat duidelikheid bestaan oor presies wat die spesifieke doelstellings van die oorlog is. Dit is bykans asof ons persepsie van die werklikheid deur hierdie gebeure aangetas word. Dit word verder betwyfel of enige teorie bestaan wat hierdie offensief sinvol kan verklaar.
Die ander kant van die munt, wat te make het met die mate van irrasionaliteit/rasionaliteit wat deur die aggressor in hierdie oorlog (en oorloë in die algemeen) openbaar word, is natuurlik ’n kwessie wat debatteerbaar is ten opsigte van die verskillende perspektiewe wat daaroor bestaan.
Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat die algemene gesondheid, insluitende die geestesgesondheid van alle betrokkenes, deur die huidige konflik in Oekraïne erg benadeel word.
Soos verwag, is redelik min studies oor die impak van die oorlog op die geestesgesondheid van die Oekraïense burgerlikes en militêre magte oor die afgelope 12 maande (sedert die aanvang van die inval) in erkende akademiese joernale gepubliseer. Die rede is eenvoudig dat portuurevaluering, redigering en publikasie van manuskripte normaalweg relatief baie tyd in beslag neem. Geen inligting wat in populêre digitale media gepubliseer is, is vir die doel van hierdie artikel in die teks ingesluit nie.
Wat die burgerlikes betref wat in Oekraïne agtergebly het, is, soos verwag, ’n uitermate hoë voorkoms van PTSV (90%+) onder respondente waargeneem. Daarteenoor blyk uit ’n opname onder Oekraïense beroepsoldate en vrywilligers dat die voorkoms van disfunksionele angs, kliniese depressie en slaaploosheid ongeveer 40% is.
Die Oekraïense vlugtelingvraagstuk is uiters kompleks. In sekere Europese lande is duidelike weerstand deur vlugtelingroepe teen goedbedoelde geestesgesondheidsontwikkelingsprogramme waarneembaar. In ander lande, waarvan Suid-Korea ’n goeie voorbeeld is, word vernuwende hulpverleningsprogramme met sukses geïmplementeer.
Dit blyk duidelik dat diagnostiese onderskeid tussen ICD-gediagnoseerde PTSV en Komplekse PTSV wenslik is, omdat die behoefte aan hulpverlening tussen die twee entiteite verskillend is.
Oorlog sal daar altyd wees, maar om die impak van oorlog op die geestesgesondheid van diegene aan die ontvangkant in toepaslike woorde uit te druk, is gewis nie ’n eenvoudige taak nie.
Bibliografie
Anjum, G, M Aziz en HK Hamid. 2023. Life and mental health in limbo of the Ukraine war: How can helpers assist civilians, asylum seekers and refugees affected by the war? Frontiers in Psychology, 14:1129299. doi: 10.3389/fpsyg.2023.1129299.
Javanbakht, A. 2022. Addressing war trauma in Ukrainian refugees before it is too late. European Journal of Psychotraumatology,13(2):2104009. doi: 10.1080/20008066.2022.2104009. PMID: 35959204; PMCID: PMC9359191.
Karatzias, T, M Shevlin, M Ben-Ezra, E McElroy, E Redican, ML Vang, M Cloitre, GWK Ho, B Lorberg, D Martsenkovskyi en P Hyland. 2023. War exposure, posttraumatic stress disorder, and complex posttraumatic stress disorder among parents living in Ukraine during the Russian war. Acta Psychiatrica Scandinavica, 147:276–85.
Kim, S-Y, JS Lee en H Choi. 2023. The effects of art therapy on anxiety and distress for Korean-Ukrainian refugee: quasi-experimental design study. Healthcare, 11:466. https:// doi.org/10.3390/healthcare11040466.
Kleinschmidt, J. 2019. Offensive realism, differentiation theory, and the war in Ukraine. International Politics, 56:427–43. https://doi.org/10.1057/s41311-018-0150-4.
Kurapov, A, V Pavlenko, A Drozdov, V Bezliudna, A Reznik, en R Isralowitz. 2023. Toward an understanding of the Russian-Ukrainian war impact on university students and personnel. Journal of Loss and Trauma, 28 (2):167–74. https://www.tandfonline.com/doi/epdf/10.1080/15325024.2022.2084838?needAccess=true&role=button.
Kurnyshova, Y en A Makarychev. 2022. Explaining Russia’s war against Ukraine: How can foreign policy analysis and political theory be helpful? Studies in East European Thought, 74: 507 – 519. https://doi.org/10.1007/s11212-022-09494-x.
Liebrenz, M, A Buadze, A Smith en R Schleifer. 2023. The Russo-Ukrainian War in 2023: Towards a renewed emphasis on the mental health of at-risk groups and forensic-psychiatric considerations. Forensic Science International: Mind and Law, 4:100115. https://doi.org/10.1016/j.fsiml.2023.100115.
Lossovskyi, I en I Prykhodko .2022. Epistemological aspects of the Russia-Ukraine modern war. Strategic Panorama. Special Issue, 25–34. https://doi.org/10.53679/2616-9460.specialissue.2022.03.
Pavlova, I, L Graf-Vlachy, P Petrytsa, S Wang en SX Zhang. 2022. Early evidence on the mental health of Ukrainian civilian and professional combatants during the Russian invasion. European Psychiatry, 65 (1), e79:1–6. https://doi.org/10.1192/j.eurpsy.2022.2335.
Reber, AS en ES Reber. 2001. The Penguin dictionary of psychology. Londen: Penguin Books.
Redaksioneel. 2023. Russia’s invasion of Ukraine: an attack on health. The Lancet, 401, 25 Februarie, bl 617.
Santavirta, T, N Santavirta, TS Betancourt en SE Gilman. 2015. Long term mental health outcomes of Finnish children evacuated to Swedish families during the second world war and their non-evacuated siblings: cohort study. British Medical Journal, 350:1–9. URL: https://www.jstor.org/stable/10.2307/26517765.
Santora, M. 2023. This is what trench warfare on the frontline is like. The New York Times, 5 Maart. What Trench Warfare on Ukraine’s Front Line Looks Like - The New York Times (nytimes.com).
Smith, M. 2020. World War II and mental health. How the Second World War triggered concerns about mental illness in America. Psychology Today, November 27.
Spiegel, PB. 2023. Comment. The war in Ukraine 1 year on: the need to strategise for the long-term health of Ukrainians. The Lancet, 401:622–5.
World mental health report: transforming mental health for all. 2022. Genève: World Health Organization. Licence: CC BY-NC-SA 3.0 IGO.
Eindnota
Tydens die skryf van hierdie artikel is in geen opsig gebruik gemaak van die kletsbot ChatGPT of enige ander taalverbeteringsmodel wat op kunsmatige intelligensie berus nie.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith
Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n ondersoek deur Izak de Vries


Kommentaar
1. 'n Baie aktuele onderwerp, want "sielkundige marteling" is "vanselfsprekend", soos genoem in die artikel.
2. Die artikel beklemtoon egter ook die feit dat dit, om verskeie redes, "'n besonder komplekse aangeleentheid" is.
3. Die interessante rol wat kunsterapie kan speel is ook iets wat verdere navorsing regverdig.
Dankie vir hierdie deeglik nagevorsde artikel. Wat jy skryf is vir ons baie aktueel. Ek is midde-in daardie situasie en sien daagliks die effek van die oorlog in mense se gedrag en geestestoestand. Dit manifesteer veral in aggressie, en depressie. Oekraïners is nou wêreldwyd voor wat die gebruik van anti-depressante betref. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dat sowat 25% van Oekraïners geestesgesondheidsprobleme in die gesig staar. Oekraïne het nie genoeg sielkundiges wat opgelei is om hierdie soort omstandighede te kan hanteer nie. Ek het onlangs gesien dat ’n groep in Japan opleiding ontvang.
Die stad waar ek woon, Dnipro, is nie so erg geraak soos ander stede nie. Tog laat die sporadiese missielaanvalle hulle merk. Met die aanval in Februarie, toe ’n seston missiel doelbewus in ’n woonstelblok in die middestad vasgeskiet is, het die situasie ook hier ’n onmiddellike en nog meer senutergende werklikheid geword. Vriende en kennisse vertel almal van gesondheidsprobleme wat verband hou met senuspanning. Ons ervaar dit self ook.
Dit was vanaf die uitbreek van die oorlog vir my ’n sielkundige reddingsboei om met mense in SA te kon gesels, vir sover hulle sou belangstel in wat hier gebeur, asook wat betref die geskiedenis, ensomeer. Onwillekeurig soek mens vir begrip en ondersteuning. In dié verband was my artikels en onderhoude op LitNet, ten minste dan vir my, van groot waarde. Helaas het ek daar geteister begin raak deur ’n Suid-Afrikaanse, Afrikaanssprekende poetin-ondersteuner, wat ten einde laaste geskree het, soos skrif kan skree, dat hy ‘nie ’n flenter omgee vir my gevoelens nie’, asof ek gevra het dat iemand daarvoor sou omgee. Onder normale omstandighede sou mens so iets kon aflag en ignoreer, maar hierdie is ongelukkig nie normale omstandighede nie, soos jou artikel illustreer. Wantroue en agterdog vier ook hoogty, en dis maklik om in die steek gelaat te voel.
Behalwe vir die agtergrondtrauma van die gebeure op die front, is daar die supertrauma’s wat gereeld daarop gesuperponeer word. Hierdie week was dit die grusame onthoofding van ’n Oekraïense soldaat deur wagner-huursoldate. Hierdie soort goed het ’n geweldige neerdrukkende uitwerking op mense. En terwyl ek hier skryf: nuus van ’n missielaanval op die dorp Slovyansk, 130 km noord van die stad Donetsk, 50 km vanaf Bakhmoet. ’n Woonstelblok getref met S-300 missiele, ontwikkel in die sowjetunie as grond-tot-lugmissiele vir lugafweer teen kruisermissiele. Nou gebruik teen burgerlikes, vieruur op ’n Vrydagmiddag. Geen militêre teiken in sig nie. Tot dusver ses dood, een kind. Sien die nuus in ons plaaslike koerant hier:
https://nashemisto.dp.ua/2023/04/14/okupanti-zavdali-nishhivnogo-raketnogo-udaru-po-slovjansku-sered-zagiblih-diti/
Laastens, net ’n regstelling: die front loop reg van Kharkiv in die noorde, deur die Donbasstreek, waar Bakhmoet is, suid tot by Zaporizhzhia, en vandaar langs die Dnieper-rivier af, deur die Cherson-provinsie, tot onder by die Swartsee. Dis ’n afstand van ongeveer 1000 km. Daar is duisende groter en kleiner dorpe weerskante van die frontlyn. Van hulle word elke nag deur die russe gebombardeer; Nikopol, Marganets en Mykolajef is voorbeelde. En tog is daar mense wat daar aanbly.