COVID-19-traumanalatenskap dalk nog vir geslagte met ons

  • 0

Illustrasie: Arek Socha| Pixabay

Your genes play an important role in your health, but so do your behaviors and environment, such as what you eat and how physically active you are.
Epigenetics is the study of how your behaviors and environment can cause changes that affect the way your genes work. Unlike genetic changes, epigenetic changes are reversible and do not change your DNA sequence, but they can change how your body reads a DNA sequence.
- What is Epigenetics? | CDC
Die aardbol op sy kop

COVID-19 het sonder twyfel die aardbol op sy kop gekeer. Met ’n wêreld wat steeds by ’n nuwe normaal moet aanpas en trauma verwerk, is dit ongetwyfeld die teelaarde vir ’n stressituasie wat nageslagte kan en sal beïnvloed. Só sê etlike wetenskaplikes en terapeute.

Min mense is nie op een of ander wyse geraak deur die pandemie nie. Almal moes klemverskuiwings maak om aan te pas en te oorleef. Talle gesinne is ontwortel deur versteurde geestesgesondheid, dood en grootskaalse ekonomiese tekorte. Oral het sosiale strukture ook indringend verander en hier het veral jongmense die spit afgebyt.

Koms van entstowwe bring verligting

Hoewel die koms van entstowwe ongetwyfeld ’n stap in die regte rigting is en emosionele impak deels kon ontlont, plaas die onvoorspelbaarheid van COVID-19 steeds druk op Jan Alleman. Niemand kan op dié stadium voorspel wanneer die pandemie sal eindig en wanneer die lewe weer kan terugkeer na wat dit voor die eerste inperking was nie.

...
Trauma wat uit mense se emosionele belewenisse tydens die pandemie spruit, kan aan nageslagte oorgedra word, sê kundiges.
...
Trauma kan oorgedra word na volgende geslag

Trauma wat uit mense se emosionele belewenisse tydens die pandemie spruit, kan aan nageslagte oorgedra word, sê kundiges. Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) word dikwels as ’n uitsluitlik persoonlike ervaring bestempel. Dog navorsing toon dat PTSV ook aan epigenetiese oorerwing toegeskryf kan word. Volgens die teorie laat trauma ’n chemiese merker op ’n persoon se gene wat van geslag tot geslag kan oorspoel. Hoewel daadwerklike genetiese mutasie nie plaasvind nie, verander die meganisme waardeur spesifieke gene uitdrukking gee.

Veral vrees en depressie oordraagbaar

Charl Davids, adjunkdirekteur, Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch, sê epigenetiese oorerwing kan verantwoordelik wees vir menige onbewustelike gedragsneller wat ons ervaar.

“Al het ons nie self trauma beleef nie, kan ons sekere merkers erf van ons ouers wat ons meer vatbaar maak vir sekere aspekte wat kan wissel van vrees tot depressie en PTSV,” sê Davids.

Swanger vroue veral in die spervuur

Volgens Erika Basson, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, is daar heelwat navorsing wat bewys lewer van die impak van moeders se natuurlike fisieke en emosionele welstand gedurende swangerskap op die ongebore baba.

“André Venter, ’n neuro-ontwikkelingspediater, het die term toksiese uterus geskep wat dit eintlik so goed opsom. Die term beskryf die impak van trauma op die eerste 1 000 dae van lewe. In sy navorsing praat hy ook van die impak van die toksiese uterus op die ontwikkeling van die fetus se brein,” sê Basson.

Venter self beklemtoon dat kinders aangetas kan word indien hul ma’s baie spanning verduur het tydens swangerskap.

“Moontlik het hulle Covid gehad gedurende dié tyd of geliefdes aan die dood afgestaan weens die pandemie. Dit kan natuurlik die baba se emosionele, gedrag- en kognitiewe ontwikkeling verander, net soos oorloë,” sê hy.

Wêreldwye voorbeelde bevestig siening

Wêreldwyd ondersteun voorbeelde epigenetiese trauma oorerwing. Daar is gevind dat kinders wat gebore is uit moeders wat trauma tydens die Rwanda-volksmoord ervaar het, meer geneig is tot PTSV. Dieselfde geld vir spruite wie se moeders getraumatiseerd was tydens die Khmer Rouge in Kambodja. Daar is bevind dat dié kinders meer tot angs en depressie geneig was.

Rachel Yehuda aan die woord

Die nasleep van die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog is ’n sprekende voorbeeld van trauma-oorerwing, sê Rachel Yehuda, ’n navorser by New York se Mount Sinai-hospitaal.

“Genetiese verandering wat spruit uit oorlewendes se Holocaust-trauma kan aan nasate oorgedra word. Een persoon se emosionele lewenservaring kan oorloop tot die volgende geslag,” sê sy.

Genetiese studie betrek 32 Joodse gesinne

Dié feitelike gevolgtrekking is gemaak na aanleiding van ’n genetiese studie waarby 32 Joodse mans en vroue betrek is. Gesinne se kinders is ook ontleed en na afloop van die projek vergelyk met Joodse huishoudings wat die volksmoord vrygespring het. Daar was ’n hoër mate van stresversteuring by kinders van konsentrasiekampoorlewendes. Yehuda sê die genetiese verandering by laasgenoemde se kinders kan slegs aan trauma wat hul ouers tydens die konsentrasiekampslagting ervaar het, toegeskyf word.

Navorsing oor Israeli soldate

Navorsing oor Israeli-soldate wie se voorouers in die Tweede Wêreldoorlog se konsentrasiekampe was, toon oor die algemeen veel meer kwesbaarheid vir PTSV. Nigel Hunt beskryf in sy Memory, war and trauma hoe die trauma van oorlog ’n gemeenskap se gedrag en persepsies van hulself beïnvloed.

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) se nalatenskap

In die Suid-Afrikaanse geskiedenis het trauma-oorerwing ook sy voetspore agtergelaat. Hoewel geen amptelike navorsing gedoen is oor die epigenetiese impak van die oorlog nie, is die nasleep selfs in die 20ste eeu waargeneem, sê André Wessels, senior professor in die Departement Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.

...
Die Anglo-Boereoorlog was die mees uitgebreide stryd in die land se geskiedenis. Die gevolge hiervan was verreikend vir al die bevolkingsgroepe.
...
Wessels aan die woord

‘Die Anglo-Boereoorlog was die mees uitgebreide stryd in die land se geskiedenis. Die gevolge hiervan was verreikend vir al die bevolkingsgroepe. Dis veral die Britse verskroeide-aarde-beleid en die konsentrasiekampstelsel wat die Afrikaners diep geraak het,” sê Wessels.

“Ná die oorlog het menige Afrikaner gepoog om hul republikeinse onafhanklikheid te herwin, maar was vir dekades onsuksesvol. Met die verloop van tyd het vrees vir Britse dominansie plek gemaak vir vrees vir swart oorheersing.”

Vrees en onsekerheid lei tot apartheidsbeleid

Die Afrikaner se vrees en onsekerheid het tot die totstandkoming van die Nasionale Party se apartheidsbeleid in die 1940’s gelei.

“Die onderdrukte het nou die onderdrukker geword en ’n proses aan die gang gesit wat uitgeloop het op veel trauma en uiteindelik ook geweld in die land,” sê Wessels.

Diere by trauma-oorerwing ingesluit

Navorsers het reeds geruime tyd bewys gelewer dat vrees by diere met oorerwing oorgedra kan word. Wetenskaplikes by die Emory-universiteit in Atlanta het ’n aantal rotte met elektriese skok gekondisioneer om beangs te raak vir die reuk van kersiebloeisels. Na ’n ruk het die proefkonyne vrees getoon met slegs die bloeiselreuk as sneller. Só ook dié van hul nasate sonder vorige blootstelling aan die geur self.

Wentzel Coetzer oor gemeenskapstrauma

Wentzel Coetzer, pastorale begeleiding en opleiding, Noordwes-Universiteit, sê trauma kan ook in ’n gemeenskap se “geheue” vasgevang word en van geslag tot geslag oorgedra word.

“Die siening dat trauma alleenlik op individuele vlak plaasvind, het verskuif om ook plek te maak vir kollektiewe trauma op gemeenskapsvlak. Al die stres en trauma gekoppel aan Covid sou beslis ook epigenetiese verandering tot gevolg kan hê,” sê hy.

Die impak van trauma strek verder as slegs individue wat direk getuies was of self geweld beleef het. Gemeenskappe word ook getraumatiseer deur pynlike insidente en verliese soos dood. Coetzer beskryf in sy Generasiebagasie hoe die onverwerkte pyn en trauma wat nie hanteer word nie, van geslag na geslag oorgedra word.

Daar is positiewe nuus ...

Die goeie nuus is dat die impak van trauma-oorerwing met berading en terapie versag of omgekeer kan word.

Volgens Davids bestaan daar etlike behandelingroetes wat groot sukses en verbetering van die toestand kan meebring.

Basson sê sy dink in die geval van swanger mammas wat deur trauma was gedurende die pandemie, is die kans goed dat daardie babatjies reeds met ’n genetiese vatbaarheid vir angstigheid en depressie kan presenteer. Terapie kan egter beslis die impak hiervan versag, sê sy.

Bronne

 1 https://www.mountsinai.org
2 https://www.psycom.net
3 https://www.labroots.com
4 https://www.cdc.gov
5 https://afriforum.co.za
6 International Handbook of Multigenerational Legacies of Trauma

Lees ook:

Die COVID-19 pandemie se invloed op sielkundige trauma

My COVID-19 experience: conversations with people who have recovered from the virus

Die sielkundige impak van COVID-19: ’n onderhoud

COVID-19-narratiewe: Is dit amper verby?

COVID-19: waarom die kinders nou ons aandag nodig het

COVID-19: Eensaamheid in die tyd van ’n pandemie

COVID-19: Ons lewens | Our lives

COVID-19: Die jongste | The latest

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top