Die COVID-19 pandemie se invloed op sielkundige trauma

  • 5

Louis Awerbuck (foto: Liné Loff - https://www.litnet.co.za/toyota-us-woordfees-2020-nog-feesfotos/)

“Alles kan enige oomblik verander, skielik en vir altyd.” – Paul Auster

.........

’n Suid-Afrikaanse vrou word in Nieu-Seeland aangekla dat sy haar kinders om die lewe gebring het. Nuusberigte wat oor hierdie grugebeurtenis verslag doen, verwys na emigrasie, grendelinperkings, isolasie en medikasie wat nie gebruik kon word nie. Mens kry die idee dat die omstandighede wat met die Covid-pandemie gepaard gaan, ’n moontlike rolspeler in die tragedie kon gewees het.

..........

’n Suid-Afrikaanse vrou word in Nieu-Seeland aangekla dat sy haar kinders om die lewe gebring het. Nuusberigte wat oor hierdie grugebeurtenis verslag doen, verwys na emigrasie, grendelinperkings, isolasie en medikasie wat nie gebruik kon word nie. Mens kry die idee dat die omstandighede wat met die Covid-pandemie gepaard gaan, ’n moontlike rolspeler in die tragedie kon gewees het. Soos wat die pandemie ’n vernietigende rolspeler in soveel mense se lewe geword het, en steeds vir vele die lewe onhanteerbaar moeilik maak.

........

Daar het ’n kollektiewe apokaliptiese bries oor die mensdom kom hang sedert Maart 2020. Die virale pandemie het ’n voor die hand liggende en kwantifiseerbare traumatiese impak op die samelewing in sy geheel veroorsaak.

...........

Daar het ’n kollektiewe apokaliptiese bries oor die mensdom kom hang sedert Maart 2020. Die virale pandemie het ’n voor die hand liggende en kwantifiseerbare traumatiese impak op die samelewing in sy geheel veroorsaak. Mense word siek. Geliefdes word aan die dood afgestaan. Miljoene ekstroverte se lewensenergie word maand vir maand gedreineer weens die gebrek aan interaksie met kollegas, familie en vriende. Kinders en jongmense se matriekafskeide, sosiale rituele en byeenkomste vind nie plaas nie. Huwelike en verhoudings wankel onder die volgehoue druk van die grendeltyd, kinders wat vasgekeer is en almal wat van die huis af werk. Die ekonomie is aan die verbloei en derduisende mense verloor hulle werk. Drank- en dwelmgebruik word meer. Die druk op geestesgesondheid, uitbranding en die toename in gevalle van selfdood bou daagliks op. Verskeie meningsopnames en nuwe navorsing toon hoe statistiek van depressiegevalle daagliks toeneem, en inbelsyfers na organisasies soos Sadag (South African Depression and Anxiety Group) die hoogte in geskiet het. Die pandemie het ’n duidelik waarneembare krisis veroorsaak wat mens onder andere ook in rand en sent kan meet.

Dit is ongelukkig egter nie die einde van die rampspoedige verhaal nie. Afgesien van die meetbare impak van die pandemie veroorsaak die algemene verandering in mense se lewensuitkyk wat deur COVID-19 teweeg gebring is, ’n verdere prys om te betaal. Navorsing dui daarop dat groot lewensveranderinge vir die meeste mense intens stresvol is. Om te moet verhuis, of selfs net nie meer met kollegas by die werk te kan tee drink, of in persoon ’n gunstelingsportwedstryd te kan kyk nie, het veroorsaak dat massas mense ’n verlies in beheer van hulle omstandighede ervaar.  As mens nie in beheer voel van die verandering wat om jou gebeur nie, het dit omtrent altyd ’n negatiewe sielkundige effek – bloot omdat die verandering nie jou keuse was nie. Om hierdie rede kan selfs positiewe veranderinge ons soms ongemaklik maak! Vanuit ’n evolusionêre vertrekpunt het ons ’n baie groter kans op oorlewing as ons ons omgewing kan beheer. Ons wil in beheer voel van die lewe rondom ons, voel ons weet hoe die wêreld werk, en ’n gevoel van sekerheid hê dat ons min of meer kan voorspel wat gaan gebeur. Die skielike oorspoeling van COVID-19 was ’n aaklige herinnering dat ons eintlik glad nie in beheer van ons omgewing is nie, en dat onverwagse dinge enige oomblik kan gebeur.   

........

As mens nie in beheer voel van die verandering wat om jou gebeur nie, het dit omtrent altyd ’n negatiewe sielkundige effek – bloot omdat die verandering nie jou keuse was nie. Om hierdie rede kan selfs positiewe veranderinge ons soms ongemaklik maak!

.........

As mense is ons amper “geneties geprogrammeer” om ’n negatiewe vooroordeel teen opsigte van verandering te hê. Hierdie programmering is ’n neweproduk van evolusionêre ontwikkeling, en kom basies daarop neer dat ons neurologies uiters bedag is op enige iets wat anders as die gewone voorkom. Dit impliseer dat ons oor die algemeen ’n irrasionele, geneties-gelaaide oortuiging koester dat verandering (oor die algemeen en in die meeste omstandighede) negatiewe gevolge sal hê eerder as positiewe gevolge. Massiewe veranderinge, soos die tipe verandering wat deur COVID-19 teweeg gebring is, verhoog dus ons oortuiging dat ons oor die algemeen permanent “slegter” af gaan wees. 

Die negatiewe sielkundige reaksies wat die gevolg is van die groot, en veral onverwagse verandering soos deur COVID-19 teweeg gebring, behels oor die algemeen twee tipes reaksies: Eerstens roep dit bekende emosies, soos woede, frustrasie, angs, wanhoop en hartseer, op. Tweedens behels die sielkundige reaksies op verandering ook gewoonlik innerlike ervarings soos ’n verlies aan selfvertroue, onsekerheid oor eie rolle (byvoorbeeld as eggenoot of kollega), en in ekstreme gevalle, die bevraagtekening van die sin van die lewe self.

.........

Sielkundige trauma word veroorsaak deur ’n bogemiddelde aanslag op wat die psige kan hanteer, en doen skade (soms permanent) aan hoe ons dink, voel en optree. Die impak van die sielkundige trauma kom lê egter in die liggaam.

..........

Sielkundige trauma word veroorsaak deur ’n bogemiddelde aanslag op wat die psige kan hanteer, en doen skade (soms permanent) aan hoe ons dink, voel en optree. Die impak van die sielkundige trauma kom lê egter in die liggaam. Ons liggame reageer intensief en kompleks op die waargenome stressore en onsekerhede rondom ons, en gevolglik het Covid veroorsaak dat miljoene mense tans gebuk gaan onder ’n akute en intense veg-of-vlug-reaksie wat maand in en maand uit voortduur. Hierdie stremming hou noodlottige fisieke gevolge in. Statistiek wys dat, selfs voor die koms van COVID-19, hierdie veg-of-vlug-reaksie (ook genoem stres, antisipering, algemene angstigheid, of oormatige bekommernis) vinnig besig was om die siekte van ons tyd te word. Covid het net hierdie proses op steroïede geplaas. Die impak van ’n konstante veg-of-vlug-reaksie is vernietigend deurdat dit die liggaam aftakel, onder andere as gevolg van die oormatige afskeiding van bloedsuiker, kortisol en adrenalien. Hierdie proses verteenwoordig ’n enjin wat op konstante hoë revolusies loop, en lei gewoonlik tot ’n vorm van uitbranding of depressie. Die kombinasie van stres en depressie was selfs voor die koms van COVID-19 die grootste oorsaak van mediese ongeskiktheid ter wêreld. Hierdie kombinasie verhoog “gewone mense” se risiko om buite hulle normale gedragspatroon op te tree, soos om selfdood te oorweeg of te beplan, of om net tou op te gooi. Of, in rare gevalle, om jou gesin uit te wis.

As mensdom het ons verandering nodig vir ontwikkeling op vele gebiede, maar ideaal gesproke in verteerbare en meer “voorspelbare” formaat. Dit was Mary Shelley wat gesê het dat niks so pynlik vir die menslike begrip is as ’n groot en skielike verandering nie. Die pyn van COVID-19 gaan vir baie lank nadat die virus tot bedaring gekom het, nog gevoel word. Daar gaan nog dekades van ekonomiese pyn wees, asook persoonlike pyn in die vorm van verlies van geliefdes, vryheid en gesondheid. Maar ook pyn in die vorm van fisiologiese trauma wat in miljoene mense se liggame genestel het en die wêreldwye voorkoms van angsverwante toestande en gevolglike depressie nog meer die hoogte in laat skiet het.

.......

Maar ook pyn in die vorm van fisiologiese trauma wat in miljoene mense se liggame genestel het en die wêreldwye voorkoms van angsverwante toestande en gevolglike depressie nog meer die hoogte in laat skiet het.

........

Ongelukkig het COVID-19 die kritieke massa van die reeds wankelende geestesgesondheidepidemie ’n hupstoot gegee in die rigting van die volgende reusepandemie wat reeds vir ons om die hoek lê en loer, naamlik die Volledige Geestesgesondheidpandemie.

Lees ook:

Die sielkundige impak van COVID-19: ’n onderhoud

My COVID-19 experience: conversations with people who have recovered from the virus

COVID-19-narratiewe: Is dit amper verby?

COVID-19: waarom die kinders nou ons aandag nodig het

COVID-19: Eensaamheid in die tyd van ’n pandemie

COVID-19: Ons lewens | Our lives

COVID-19: Die jongste | The latest

  • 5

Kommentaar

  • Uitstekend! As die verlies eers net "'n naam" kry, soos in die artikel, bring dit reeds verligting.

  • GOD IS MY ROCK

    ’n Uitstekende artikel. Ek was ernstig siek van COVID-19 Junie/Julie en ons het verhuis vanaf Gauteng na PE einde Julie. Ek was so depressief en my coping skills was non-existent. Selfs nou met rukke kom ek agter dat my emosies baie wipplank; ek is geweldig emosioneel en fyngevoelig en dit is nie wie ek is nie. Ek het jare in ICU en ongevalle-afdelings gewerk, maar dit voel asof my hoop en dryfkrag verdwyn het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top