Antoinette Louw het met Dap Louw, buitengewone professor in Sielkunde en haar pa, ’n onderhoud oor die sielkunde en COVID-19 gevoer.
Waarom het dit so lank geneem voordat die sielkundige impak van die COVID-19 besef is en word dit nie maar oordryf nie?
Daar is verskeie redes. Eerstens, en ter versagting: Dit is ’n nuwe ramp wat ons in die gesig staar, ’n pandemie waarvan die aard, gevolge en duur aan ons grootliks onbekend was en steeds is. Tweedens word sigbare en meetbare gevolge van ’n pandemie (bv die sterftesyfer) altyd as belangriker beskou as die meer “verborge” effek soos psigiese versteurings. Derdens is daar, al is dit moeilik verstaanbaar, steeds vir sommige persone ’n stigma wat aan geestesgesondheid kleef. Die gevolg is dat emosionele probleme en psigiese versteurings nie so maklik gerapporteer word nie en die voorkomssyfer daarvan gewoonlik onderskat word.
..........
En nee, die sielkundige gevolge word beslis nie oordryf nie.
..........
En nee, die sielkundige gevolge word beslis nie oordryf nie. Die bewyse en oorsake is daar vir almal om te sien: Feitlik die hele wêreld is in ’n grendelstaat vasgevang, duisende mense sterf daagliks aan die virus, die werkloosheidsyfer styg dramaties, die ekonomie is op sy knieë – terwyl bevrediging van een van die mens se belangrikste funksioneringsbehoeftes, naamlik dié aan sosiale interaksie en gepaardgaande emosionele veiligheidsnette, grootliks geneutraliseer is. Dít teen die agtergrond dat ons nie weet wat nog op ons wag nie; die vrees vir die onbekende word immers deur baie sielkundiges as die mees fundamentele vrees van die mens beskou. Hierdie volgehoue vrees vir onbekende gevare kan ons op so ’n wyse, en selfs subtiel, beïnvloed dat ons eie optrede vir ons vreemd en onvoorspelbaar raak.
..........
Die sielkundige gevare van COVID-19 word onder andere deur onlangse navorsing deur die bekende Kaiser Family Foundation geïllustreer wat bevind het dat meer as 50% van volwassenes gerapporteer het dat hul geestesgesondheid beïnvloed is (en wat van diegene wat nie wou rapporteer nie?).
..........
Die sielkundige gevare van COVID-19 word onder andere deur onlangse navorsing deur die bekende Kaiser Family Foundation geïllustreer wat bevind het dat meer as 50% van volwassenes gerapporteer het dat hul geestesgesondheid beïnvloed is (en wat van diegene wat nie wou rapporteer nie?). Simptome sluit in stres, angs, depressie, irritasie, aggressie, geheueversteurings, konsentrasieprobleme, asook slaap- en eetversteurings. Ewe sorgwekkend is die bevinding dat hospitaalwerkers wat in die verlede onder kwarantyn was, tot drie jaar daarna aan posttraumatiese stresversteuring (bv onaangename terugflitse, nagmerries, angs en depressie) gely het. ’n Faktor wat dikwels geïgnoreer word, is die feit dat stres die liggaam se biologiese immuunstelsel verswak, wat die persoon meer kwesbaar maak vir die koronavirus en ander siektes.
Eintlik behoort die vraag dus te wees: Is die voorkomssyfer van psigiese versteurings weens COVID-19 nie dalk heelwat hoër as wat gerapporteer word nie?
Het die regering nie nagelaat om van meet af aandag aan die sielkundige effek van die inperking aandag te skenk nie?
Beslis. Ek en my vrou (ook ’n sielkundige) het vanaf dag een opgemerk dat daar nie geestesgesondheidswerkers op die verskeie panele van kenners dien nie. Dit was vir ons onverklaarbaar én onverskoonbaar. In die lig van foute wat al in die verlede deur die regering op (geestes-) gesondheidsvlak gemaak is, is ek is geneig om die woorde van ’n Brit te eggo: “It is very hard to provide scientific advice to a government which doesn't want to listen to science.” Daarby dra die regering se verwarrende en selfs onlogiese optrede rakende die pandemie ook nie daartoe by om as sekerheidsnet te dien nie. Hierdie spesifieke onsekerheid en wantroue in die owerhede kan slegs tot nadeel van geestesgesondheid strek.
..........
Eie politieke belang en ondeurdagtheid hoort – des te meer in tye van nood – nie in die vertrek nie. Een olifant is genoeg.
..........
Ek kon dit nog altyd moeilik begryp dat die regering en ander owerheidsliggame nie baie meer gebruik maak van die kennis van uitstaande wetenskaplikes in ons land nie. Daar kom ’n tyd in enige land dat politieke denkrigtings des te meer op die agtergrond geskuif moet word ter wille van die welsyn van die totale bevolking. Eie politieke belang en ondeurdagtheid hoort – des te meer in tye van nood – nie in die vertrek nie. Een olifant is genoeg.
Hoe moeilik kan dit wees om ’n paneel saam te stel van die land se voorste geestesgesondheidswerkers en navorsers? Ek is bewus van kundiges wat hul dienste gratis sal aanbied. Die sielkundige gevolge van die virus kan optimaal bestry word slegs indien ons pogings gegrond is op harde wetenskaplike navorsingsfeite, nie op bespiegelings en onbewese hipoteses soos tans aan die orde van die dag is nie. Dit moet gepaard gaan met gereelde (minstens weeklikse) eerlik-deursigtige terugvoer aan die bevolking – tydens welke geleentheid enige lid van die bevolking die geleentheid gegun moet word om kwelvrae te vra. Eensydige kommunikasie, veral wanneer verskafte inligting gewantrou word, help geensins die situasie nie. Inteendeel.
Waarom is daar soveel mense wat te midde van hierdie pandemie steeds hul eie belange bo dié van die gemeenskap stel? ’n Mens sou verwag dat dit juis ’n tyd van saamstaan sal wees.
Ten eerste, ’n bietjie perspektief. COVID-19 het nie meteens ’n klomp mense geskep wat nie wette en reëls gehoorsaam nie. Hulle was nog maar altyd in die gemeenskap. Hierdie “minimisdadigers” verontagsaam verkeerswette (wat derduisende mense jaarliks laat sterf); hulle ontduik belasting (en blameer regeringsamptenare wat ook mense se geld steel); hulle parkeer op gestremdes se parkeerplekke (en raak woedend as jy hulle aanspreek); hulle kom nie besigheidsooreenkomste na nie (en verdedig dit); en duisende ander voorbeelde. Oortredings rakende COVID-19 is net baie meer opvallend en die geleenthede vir oortredings baie meer. En onthou, soos die spreekwoord lui: “Goeie mense” het nie wette nodig om hulle verantwoordelik te laat optree nie; wette is vir “slegte mense” wat gereeld die wet oortree en dan altyd ’n rede sal aanbied in ’n poging om hul gedrag “aanvaarbaar” te maak
Ek het reeds verwys na bespiegelings en onbewese hipoteses wat lei tot die instelling van onlogiese en selfs lagwekkende wetgewing. Wanneer ’n groot deel, en selfs die meerderheid, van die bevolking wetgewing in hierdie lig sien, ignoreer mense nie slegs die spesifieke onlogiese wette nie, maar gebruik dit as ’n nuttige rasionalisasie om ook ander wette waarvan hulle nie hou nie – maar wat wel gronde het – te ignoreer. Teenstrydige uitsprake van kenners versterk ook die houding dat die spreekwoordelike baba maar met die badwater uitgegooi kan word.
Optimisme-vooroordeel speel ook ’n belangrike rol. Dit verwys na mense wat glo dat hulle baie meer gepantser is as ander mense (en selfs volkome gepantser is) teen gevare en negatiewe gebeure soos die pandemie. Ek kan maar die snelheidsgrens oorskry, want dis net ander mense wat in ongelukke betrokke is. ’n Goeie doktersvriend van my wat elke dag die gevolge van rook by sy pasiënte sien, rook nietemin soos ’n skoorsteen. Sy antwoord toe ek hom daaroor aanspreek: "Ek glo vas my longe lyk nie so nie"!
Die rol van bevestigingvooroordeel moet ook nie onderskat word nie. Hierdie vooroordeel behels dat mense net dit lees, kyk, hoor en glo wat by hul voorafopgestelde sienings inpas. Kyk maar hoe verskil die kommentare van ondersteuners van die Stormers en Blou Bulle voor en na ’n wedstryd tussen die twee spanne. Of die uiteenlopende interpretasie van ’n enkele vers uit die Bybel (wat selfs van tyd tot tyd kan verskil). Net so gryp mense na “bewyse” dat hulle maar die COVID-19-regulasies kan oortree.
..........
’n Interessante beginsel in die sielkunde, naamlik reaktansie, kan ook bydra tot die ignorering van COVID-19-wette. Reaktansie verwys na die feit dat baie mense negatiewe gedrag toon rakende regulasies, wette of voorskrifte wat hulle as ’n bedreiging van hul persoonlike vryheid beskou.
.........
’n Interessante beginsel in die sielkunde, naamlik reaktansie, kan ook bydra tot die ignorering van COVID-19-wette. Reaktansie verwys na die feit dat baie mense negatiewe gedrag toon rakende regulasies, wette of voorskrifte wat hulle as ’n bedreiging van hul persoonlike vryheid beskou. In effek gaan dit ook oor die verlies van beheer oor jou lewensituasie waaroor jy nog altyd beheer gehad het – beheer wat jy eintlik as gegewe aanvaar het, maar waarvan jy eers die ware intense impak besef as jy dit nie meer het nie. Reaktansie kan dus floreer in die huidige situasie. Niemand ontken die noodsaaklikheid van individuele vryheid nie – maar dit moet uiteraard en onvoorwaardelik aan verantwoordelikheid gekoppel word. Gevolglik dink oortreders van byvoorbeeld die maskerregulasies nie daaraan dat “Ek het die reg om nie ’n masker te dra nie” eintlik impliseer dat hulle terselfdertyd sê: “Ek het die reg om jou en jou gesin siek te maak.”
Is daar sekere persoonlikheidstipes wat meer geneig sal wees om COVID-19-wette te oortree?
Laat ek sommer dadelik sê dat ek (en ek hoop die meeste sielkundiges) nie daaraan glo om altyd mense in hokkies te plaas nie. Die goue beginsel in die sielkunde is immers dat elke persoon uniek is. Daarom dat dit nie, soos byvoorbeeld in die natuurwetenskappe, moontlik is om ’n formule op te stel waarvolgens gedrag voorspel en verklaar kan word nie.
Aan die ander kant is dit wel soms nodig – veral waar ’n psigiese versteuring ter sprake is – om ’n diagnose te maak ten einde veral die oorsake en ’n behandelingstrategie te bepaal. Maar elke gedragsvorm, ook ’n psigiese versteuring, lê op ’n kontinuum wat meebring dat die betrokke gedrag van “lig” na “baie ernstig” geklassifiseer kan word. Die eienskap wat dikwels met die oortreding van COVID-19-wette verbind word, is narsisme (egoïsme). Hoewel ons almal soms (’n mate van) narsistiese gedrag openbaar, maak dit nie van ons narsiste nie. Mense kan ook geneig wees tot narsistiese optrede in sekere situasies, maar nie in ander nie. ’n Growwe gemiddeld van die narsistiese persoonlikheidsversteuring (die ekstreme vorm van narsisme) is maar ongeveer 5%. Narsisme kan daarom slegs ’n betreklik klein persentasie van COVID-19-oortredings verklaar. Veel eerder lê die verklaring – soos gewoonlik – in die unieke interaksie tussen genetiese en omgewingsfaktore. Weens ’n gebrek aan ruimte wil ek graag net een van hierdie faktore uitlig: modellering, dws die feit dat kinders geneig is om die voorbeeld wat ouers en ander belangrike figure stel, na te volg. Dit help nie jy waarsku jou kinders teen rommelstrooiing nie, maar gooi dan self sigaretstompies en papiere by die motor se venster uit. En ek wonder wat die gevolge (bv op skool) gaan wees van die huidige situasie waar ouers die voorbeeld stel van “As jy nie saamstem met ’n wet of regulasie nie, ignoreer dit net.” Daarby word die probleem vererger deur die feit dat die verskillende ouers verskillende sienings het oor watter wette sin maak en watter nie.
Miskien is die spreekwoord tog waar: “As jy mense wil verander, moes jy by hulle grootouers begin het.”
Kommentaar
Dankie. Puik artikel.
Insiggewende artikel. Baie dankie!
Baie insiggewend, en beslis van toepasing.
Pragtig geskryf met soveel insig. Dankie vir die perspektief en diepte.
Een olifant in die vertrek is genoeg, is ’n raaksê sê!