Van rotstekeninge tot joernaalterapie

  • 6

Saamgestel, joernaalfoto: Ylanite Koppens | Pixabay

Dit het begin met rotstekeninge.

Reeds tot so ver as 30 000 jaar gelede teken die prehistoriese mens sy lewenservaringe teen rotswande.

Later was daar die Egiptiese hiërogliewe wat in elke uitgekerfde karakter ’n storie van sy eie vertel.

Nog later skryf koning Dawid talle gedigte oor sy vrese, die onverstaanbaarheid van sy omstandighede, maar ook sy hoop en vreugde. Volgens die artikel “David’s undeserved suffering” deur Tom McMullen (Georgia Southern University) het die Heilige Gees koning Dawid toegelaat om homself ten volle in sy gedigte uit te druk.

Die afleiding kan gemaak word dat die versugting van mense om hul belewenisse en gedagtes op iets konkreets neer te pen, as’t ware ingekerf is in die mens se DNS. ’n Instinktiewe wete dat wanneer jy iets kan “lees”, dit die lewe meer verstaanbaar sal maak.

“Journaling is like whispering to one’s self and listening at the same time,” skryf Mina Murray.

Ons maak steeds “rotsekeninge”.

Dit word net enigiets van joernaalskryf tot skryf- of joernaalterapie genoem.

Reeds in die vroeë sestigs het dr Ira Progoff dit as ’n vorm van terapie beskryf.

Daar is egter ’n verskil tussen joernaalskryf (waar ons ons daaglikse gebeure en gedagtes in ’n dagboek neerpen), joernaalterapie, die outobiografie en die biografie.

Joernaalterapie is nie net vir woorde nie

Joernaalterapie is ’n baie suksesvolle alleenstaande vorm van terapie. Meer nog, joernaalterapie is nie net beperk tot die neerpen van ons gedagtes in woorde nie. Dit sluit in tekenterapie, musiekterapie, skeppingsterapie en die nuutste toevoeging, fototerapie, aldus dr Hermann Liebenberg, ‘n sielkundige wat onder meer in joernaalterapie spesialiseer en voorkeur aan dié ingreep gee.

Dit word baie suksesvol aangewend in veral gevalle wat met trauma geassosieer word, soos posttraumatiese stresversteuring (PTSV); eetversteurings, soos bulimie; dwelm- en drankmisbruik; angs; depressie; rou en die dood van ’n geliefde; obsessiewe-kompulsiewe gedrag; persoonlike verhoudings en lae selfbeeld.

Dis ook nuttig vir beide ‘n enkele trauma (soos ’n kaping of die dood van ’n geliefde) of gekompliseerde trauma (soos jare lange mishandeling of oorlogtrauma).

Volgens Liebenberg veroorsaak trauma chaos in die brein. Die brein is daartoe in staat om daaraan struktuur te gee wanneer hierdie chaos op papier neergepen word. Dus kan die brein kan nou betekenis aan ’n voorval of voorvalle gee. Verder dra dit ook daartoe by om kronologiese tydlyne te help skep wat weens trauma onduidelik vir ’n persoon kan wees.

Volgens Liebenberg kan joernaalterapie, hoewel dit ’n losstaande terapievorm is, met baie sukses in kombinasie met ander intervensies, byvoorbeeld BWRT (brain working recursive therapy) gebruik word om die totale intervensie net sterker te maak.

Hy beveel sterk aan dat joernaalskryf met die hand gedoen word, eerder as om op ’n rekenaar te tik. Volgens hom gebruik die brein die hand om gedagtes motories neer te pen. Daardeur word konteks geformuleer wat die brein verstaan.

Somtyds is joernaalskrywes nie heilsaam nie

Daar is wel omstandighede waar joernaalskryf ’n negatiewe effek op ’n persoon kan hê. Dis gewoonlik in gevalle waar persone ernstige trauma ervaar het. Om daaroor te skryf kan hertraumatisering veroorsaak. Mense skryf hulself letterlik in ’n toestand van angs en depressie in.

Ek het met Amanda de Meillon gesels oor die traumatiese gebeure in haar lewe oor ’n tydperk van 29 jaar. Sy het onder andere sonder ondersteuning geworstel deur die stilgeboortes van twee van haar babas, geweldige armoede en vrees vir haar en haar kinders se lewens.

Amanda vertel sy het elke traumatiese gebeurtenis oor die jare heen neergeskryf, selfs op servette. En vandag getuig sy van die negatiewe effek wat hierdie skrywes op ’n stadium in haar lewe gehad het. Sy noem dat elke keer wanneer sy daardeur gelees het, sy van voor af was ontsteld was en verskriklik gehuil het. Jare daarna het sy steeds nagmerries oor die gebeure gekry.

Beide Liebenberg en Kathleen Adams, direkteur van die Writing Institute and Centre for Journal Therapy, verwys na bogenoemde as ’n algemene probleem onder persone wat deur trauma gaan. Die rede is dat hierdie individue in baie gevalle nie oor veilige ontsnappingsmeganismes beskik om uit hul hertraumatisering, depressie of angs te kom nie.

Volgens Adams is die probleem dat mense “vry” skryf en daar nie volkome beskermende strukture in hul joernaalskrywes is nie. Struktuur kan geskep word deur sinne met spesifieke woorde te begin, soos die volgende:

  • Tans moet ek …
  • Ek voel …
  • Ek wens ek het geweet …
  • Ek voel depressief omdat …

Liebenberg voel egter dat wanneer joernaalskryf as terapie gebruik word, daar nie reëls oor struktuur behoort te wees nie. Dis volgens hom ’n baie persoonlike proses en die persoon in terapie is reeds in ’n veilige omgewing.

Hy het net een reël wat joernaalskrywing betref en dis om die voorkant van die joernaal vir positiewe gedagtes of gebeure te gebruik en die agterkant vir negatiewe gedagtes of gebeure. Vir elke negatiewe inskrywing moet daar ook ’n positiewe inskrywing gemaak word. Die brein word dan geleer om weer die positiewe raak te sien.

Wanneer werk joernaalterapie nie?

Volgens Liebenberg het dit ongelukkig geen impak op sekere psigiese afwykings nie, soos wanneer mense aan een of ander graad van outisme ly of antisosiale gedrag manifesteer.

Die outobiografie

Amanda verduidelik dat deel van haar helingsproses was om al haar aggressie en pyn “op papier uit te woed”, soos in haar gedig hier onder gelees kan word:

Seer

Swart satyn en silwer blom
die Here weet - sy’s lief vir hom!
Met galgegrap
haar hart vertrap
die silwerblom se steel is krom

silwerblom en gekraakte vaas
die lewe is soos venstergaas
dowwe oë wat aanhou glo

die gekraakte vaas sê sy is dwaas
dowwe satyn en gedroogte blom
DIE HERE WEET – Hoe haat sy hom!
Hart verhard
’n vrou verward
die gedroogte blom se siel is stom.

                 – Amanda de Meillon in haar boek Seisoene

Sy noem ook dat die skryf van gedigte aan haar sin en betekenis ten opsigte van haar traumatiese verlede gegee het. “Wanneer ek dit nou lees, is dit asof ek vanuit iemand anders se perspektief daarna kan kyk,” vertel Amanda.

Deesdae dig, skryf en skets Amanda steeds. Haar tweede bundel, Volsirkel, het pas verskyn.

Sy sê haar beker loop nou oor van vreugde en dankbaarheid. Sy en haar hoërskoolliefde het mekaar weer gevind. Hulle is alreeds vier jaar gelukkig getroud en deel saam in die vreugde van hul kinders en kleinkinders. Hulle het intussen ook begin om uit te reik na vroue wat deur dieselfde trauma as Amanda gegaan het.

Die biografie

Somtyds wil mense wat deur trauma gegaan het, hul lewensverhale laat vertel met die hulp van ’n beroepskrywer. Liebenberg voel dat mense wat dit oorweeg, hulself die volgende vrae moet afvra: Wat is die doel daarmee? Vir wie word dit nagelaat? Wie moet dit lees?

Volgens hom kan ’n individu se doel wees om simpatie te wek of wraak te neem, soos in die geval verbrokkelde huwelik. “Dit grens aan manipulasie,” sê hy, en ongelukkig bied dit nie die heling waarna so ’n persoon smag nie.

In ander gevalle is daar mense wie se lewensverhaal van so ’n aard is dat dit ander kan help of inspireer of om die waarheid na vore te bring.

Dit is presies wat Joey Haarhoff se dogter, Amor van der Westhuyzen, gedoen het. Amor verduidelik die volgende in haar boek Mishandel, misbruik, misken wat sy in samewerking met die skrywer Carla van der Spuy geskryf het: “Ek gaan nie ’n boek skryf as daar nie ’n positiewe boodskap is nie – anders is dit sinneloos. Die boek moet gaan oor hoe ek uit die gemors gekom het.” Later noem sy: “Daar is mense wat hoop moet kry.”

As agtergrond kan kortliks vertel word dat Amor uit ’n liefdelose huis kom. Haar ma, het haar reeds as baba fisiek en verbaal mishandel en haar pa, asook later ander familielede, het haar seksueel gemolesteer. Dit het ’n diepe letsel gelaat ten opsigte van haar opvoeding en selfbeeld.

Na haar pa se dood raak Amor se ma bevriend met die berugte Gert van Rooyen wat tussen 1988 en 1989 van die ontvoering en verdwyning van ses meisies verdink word. Die meisies kon tot op hede nie opgespoor word nie. Wat werklik met hulle gebeur het, het saam met Joey en Gert graf toe gegaan.

Amor en haar man is in daardie jare self daarvan verdink dat hulle aandadig was in die meisies se verdwyning. Alhoewel hulle onskuldig was, is hulle is dae lank deur die polisie ondervra en van hul kinders weggeneem.

Haar man het sy werk verloor nadat die gebeure aan die lig gekom het, omdat dit kwansuis sleg was vir die beeld van die onderneming waarvoor hy in daardie stadium gewerk het.

Hierdie stigma wat haar ma en Van Rooyen nagelaat het, het veroorsaak dat Amor en haar gesin heelwat rondgetrek het om ’n tuiste te vind waar hulle gelukkig kon wees. Hulle is talle kere stief behandel deur die gemeenskap. Uiteindelik het Amor en haar gesin wel ’n tuiste gevind waarin hulle kan woon en werk en ’n liefdevolle vriendekring het.

Die positiewe van ’n biografie

Amor se lewe was ’n wipplank van pynlike, onverstaanbare emosies wat haar jare lank onder haar eie woede en ingeprente lae selfbeeld laat ly het. Tog noem sy dat haar boek ’n boek oor die liefde is.

Die vraag is hoe sy dit ’n boek oor die liefde kan noem terwyl sy met soveel eerlikheid haar traumatiese ervarings daarin beskryf, want die skryf van die boek was deel van haar helingsproses. Sy het geleer om te vergewe, wat liefde waarlik is en om liefde te kan gee. Tesame met hierdie biografie en ander leerprosesse waarin sy haarself geplaas het, het sy insig en aanvaarding gekry en van liefde geleer.

Amor voel dat om die waarheid te kon neerpen haar bevry het. Nie net van haar verlede nie, maar ook van buitestanders se oordeel.

Dit is haar wens om ander in soortgelyke omstandighede te help.

Die geskenk van skryf as terapie

Amor en Amanda het hul helingsprosesse op verskillende wyses aangepak. Die neerskryf van hul lewenservaringe en omstandighede was ’n integrale deel daarvan.

Ons “rotskuns” word deesdae by ander name genoem, maar dit het na eeue steeds dieselfde doel. Dis ’n geskenk aan die brein en psige om sin te maak van dinge wat voorheen net ’n warboel gebeure, vrese en gedagtes was.

Tans wanneer Amanda terugkyk oor haar verlede, getuig haar gedigte van insig en blydskap.

My lief

 Vandag speel die herinneringe
weer soos uitgelate kleuters
rondomtalie in my kop.

Vervloë dae se kindwees
kom krap hier aan my hartsnaar
en laat dit warm klop.

Onthou dae, vergeet dae,
hê my bietjie lief dae,
dae van vreugde en hoop.

Dae van hartseer, dae van wanhoop,
as die trane van herinnering
spoortjies teen my wange afloop.

Sommer net onthou dae
want gister is verby,

Vandag is God gegewe want

Jy is weer by my.

                           – Amanda de Meillon in Seisoene

Bykomende bronne

Mieliestronk.com se artikel in verband met rotskuns

Mishandel, misken, misbruik – Joey Haarhoff was my ma, soos vertel deur Amor van der Westhuyzen en geskryf deur Carla van der Spuy

Seisoene deur Amanda de Meillon

The journal ladder. A developmental continuum of journal therapy deur Kathleen Adams LPC, Center for Journal Therapy

Met dank aan

Dr Liebenberg vir sy tyd, bereidwilligheid, geduld en inligting aan my.

Amanda de Meillon en Amor van der Westhuyzen vir hulle tyd en bereidwilligheidheid om hulle harte en lewensverhale met my te deel. Elke oomblik saam met hierdie vroue was spesiaal en ek is met groot respek gevul vir hul eerlikheid, behulpsaamheid en die liefde waarmee hulle met my gesels het. Julle is baie spesiale vroue.

Carla van der Spuy vir haar raad, insig en geduld teenoor my tydens die skryf van die artikel. Jy is ’n fantastiese mentor.

Lees ook

Om tot verhaal te kom – Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie deur Lizette Rabe: ’n resensie

Om tot verhaal te kom: ’n videogesprek met Lizette Rabe rondom skryfterapie

  • 6

Kommentaar

  • Weldeurdagte en insiggewende artikel. Baie interessante lekkerlees ervaring.Ek sien uit om meer van Petra te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top