Om tot verhaal te kom – Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie deur Lizette Rabe: ’n resensie

  • 6

Om tot verhaal te kom – Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie
Skrywer: Lizette Rabe
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799393248

Egskeiding, werksverlies, misdaad, die dood. Almal ervaar die een of ander tyd trauma. Dit laat ’n mens met die vraag: Hoe sit ek my lewe voort? Skryfterapie is ’n groot hulpmiddel.

Volgens Lizette Rabe, die skrywer van hierdie boek, hoef jy nie eens besonder goed te kan skryf of publikasie te oorweeg nie. Jy kan bloot jou emosies en gedagtes vir jouself neerpen, of deur middel van e-posse, dagboekhou, briewe, ’n blog, Facebook, of selfs ’n gekrabbel aan jou gevoelens uiting gee.

Om tot verhaal te kom is ’n praktiese skryfgids, ook vir diegene wat wel publikasie in gedagte het. Dis egter nie maklik om jou verhaal van verdriet te vertel nie. Jy is waarskynlik bang vir die donkerte wat dié ervaring kan bring. Terry Pratchett, die bekende Britse skrywer, meen egter: “As jy nie jou lewe in ’n storie verander nie, word jy net deel van iemand anders se storie.”

Hierdie skryfgids beantwoord vrae soos: Hoekom skryf? Kan jy jouself “gesond” skryf? Die 21 hoofstukke bevat basiese skryfwenke (soos “vermy byvoeglike naamwoorde en clichés”). Jy lees ook hoe belangrik dit is om net te begin.

Waar jy sit en skryf, die ruimte rondom jou, moet sorgvuldig gekies word. Dit kan trouens “die verskil [beteken] tussen gedagtes wat hul eie loop neem of gedagtes wat stol”. Daar is ook raad oor hoe om die regte “plek” in jou kop te vind voor jy tot skryf kan kom.  

Dalk wil jy jouself tot dagboekskryf (journalling is die moderne woord) wend. “Dis ’n uitlaatklep vir elke emosie en gedagte; amper soos ’n letterlike stoom-afblaas om te verhinder dat die stoom opbou en jy op ’n dag alle beheer verloor,” skryf Rabe.

Om ’n blog te begin, is ook nie so moeilik soos jy dalk gedink het nie. Die boek bied ’n paar blog-webwerwe waar jy gratis template vir jou eie nuwe blog kan kry.

E-pos-skryf kan eweneens terapeuties wees. Só kan jy boonop na ander getraumatiseerde mense uitreik. Rabe, wat in 2009 ’n seun aan depressie afgestaan het, vertel dat sy met haar gesin se “onbeskryflike verdriet” e-posse gekry het selfs van mense wat aan haar onbekend is. Elke boodskap was “’n hele tenk suurstof”. Hierdie handleiding bied voorbeelde van soortgelyke boodskappe.            

Wat van ’n brief vol emosie aan jou oorlede geliefde skryf? Of as jy afgedank is, dalk een (wat jy nie pos nie) aan byvoorbeeld die hoof van menslike hulpbronne van die maatskappy wat jou afgelê het, skryf Rabe. Sê dit wat jy nie toe kon sê nie.

Met Facebook word jy maklik deel van ’n skrywende gemeenskap, maar benader dié uitlaatklep versigtig, maan die skrywer. So nie, kan jou gedagtes in die kategorie “onbedoelde gevolge” beland. Maak ook seker dat jou Facebook-stellings jou privaatheid beskerm.

Gedigte skryf kan eweneens terapeuties wees, selfs al is jy nie ’n Breyten Breytenbach of Antjie Krog nie. Dit kan as ’n soort meditasie gesien word, “want jou gedagtes vloei letterlik op die eb en vloed van woorde en emosies”. Jy kan selfs andere se werk vertaal. Om die regte woorde, ritme, nuanses en gevoel vir die oorspronklike gedig tydens die vertaling daarvan te kry, is op sigself ’n uitdaging en dié kreatiewe proses kan net so terapeuties wees. Rabe se vertaling van Hermann Hesse se “Stufen” uit Duits dien as voorbeeld.          

Een van die insiggewendste hoofstukke handel oor memoires-skryf. Volgens die skrywer is dit “seker die moeder van alle skryfwerk”. Of jy jou lewensverhaal as herinneringe net oor jou trauma of verlies wil doen, en of jy dit meer omvattend en dalk selfs outobiografies wil doen, hang van jou af. Die psigoanalis Sigmund Freud rig egter ’n belangrike waarskuwing, wys Rabe uit: Moenie jou behoefte om die seer uit jou uit te skryf, laat ontaard in banale ekshibisionisme nie.

Die lewe ís bitter, maar onthou tog ook die klontjies suiker (humor) in jou memoires, voeg sy by.

Krabbels, daardie geskribbel in jou aantekeningboek gedurende ’n vergadering, telefoongesprek, of terwyl jy bloot in die niet staar, het ook waarde. “Want onwillekeurig teken jou hand vorms en lyne waardeur emosies kan ontsnap.” “Krabbels” is ’n fassinerende hoofstuk.

Verskillende maniere om jou skryfsels te omvorm tot ’n voorwerp wat jy in jou hand kan vashou, en/of aan ander kan gee, word uitgestippel. En dis nie net boekmaak nie.

Die moontlikhede van ’n uitgewer nader of (keurige) selfpublikasie word wel ook bespreek.

In die hoofstuk “Lees as inspirasie vir skryf” verskaf skrywers soos Stephen King en Margaret Atwood wyshede oor die skryfproses. Die Chileens-Amerikaanse skrywer Isabel Allende deel dié raad: “Daag op, daag op, daag op, en ná ’n rukkie sal die muse ook opdaag.”

“Om te lees”, die slothoofstuk, bevat ’n onontbeerlike lys boeke wat as skryfinspirasie of -hulpmiddel kan dien.   

Dit verg moed om jou trauma te herbesoek. Dink egter só daaraan: Indien jy eerder sou vasval in onverwerkte verdriet, kan dit tot psigologiese komplikasies lei. Om tot verhaal te kom gee jou die moed om déúr die oog van die storm te beweeg. Daar is eenvoudig nie ’n ompad nie.

Maar jy sal dapper moet wees.  

  • Alle opbrengste van Om tot verhaal te kom gaan aan die Ithemba-stigting wat twee doelstellings het: die bewusmaking van depressie as biologiese siekte en om navorsing oor depressie te ondersteun.
  • Lizette Rabe, professor en hoof van joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting, bied op Saterdag 4 Mei van 11:00 tot 12:30 ’n slypskool in skryfterapie aan. Dit word in die Adam Small-teaterkompleks op Stellenbosch gehou. Registrasie begin om 10:30. Bespreek by https://www.quicket.co.za/events/70250-kom-skryf-j-storie. Koste: R225.
  • 6

Kommentaar

  • Julian Müller

    Ek maak egter beswaar daarteen dat die titel van die boek gesteel is! My boek: Müller, JC. Om tot verhaal te kom. Pastorale gesinsterapie, is in 1996 deur die RGN gepubliseer.

  • Izak de Vries

    Hallo Julian, ons sou nou "snap" kon sê of "great minds think alike", maar in alle eerlikheid: 'n Mens kan nie titels "steel" volgens die Suid-Afrikaanse reg nie. Ek hoop van harte dat hierdie mooi boek sommer nuwe lig sal werp op jou boek ook.

  • Julian Müller

    Ek is eintlik opgewonde daaroor dat ek en Lizette Rabe die mooi uitdrukking van "om tot verhaal te kom" vir beide terreine wat vir my albei kosbaar is, skryfkuns en terapie, kon gebruik. Beide doen dieselfde, naamlik om die lewe met al sy kinkels en kabels te storie. En so kom ons tot verhaal!

  • Ek is oortuig daarvan dat dit ’n eerlike en ongelukkige fout is. Lizette Rabe se integriteit is onaantasbaar, daarvan kan ek getuig.

  • Pingback: Omtrent skryf , skryf skole,dagboek skryf - Amanda Spies du Plessis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top