
Foto: Nur Yilmaz via Pexels
Die skokkende nuus. Die Deense posdiens se besluit om van volgende jaar af nie meer pos af te lewer nie. Die syfers praat harder as sentiment. Sedert die jaar 2000 is daar ’n afname van 90% wat betref die aantal items wat gepos word. Straks ’n artefak eersdaags. Ink op papier. ’n Koevert met ’n seël daarop. Afstand en tyd. Per adres of Post restante. Deesdae in jou inboks. Efemeries en vervlietend.
Die letterkunde sal ons egter altyd herinner aan die rol van briewe in ons lewens.
Die brief as genre kan moontlik herlei word na koningin Atossa van Persië circa 500 vC. ’n Kort nota wat sy geskryf het, word as die eerste handgeskrewe brief beskou. ’n Deurbraak in 1849. Gleuwe in huise se deure. Dit is met genoegdoening dat die Posmeester-Generaal van Engeland hierdie nuwe ontwikkeling teen ’n minimale koste om pos vinniger by huishoudings af te lewer aangekondig het.
........
Epistolografie. Skrywers en briewe. Die verband voor die hand liggend. As Hennie Aucamp die byhou van ’n dagboek gelykstel aan ’n sketsboek wat die skilder gebruik om tegnieke met oefenlopies te bemeester, kan die skryf van ’n brief as ’n meestersklas beskou word.
........
Epistolografie. Skrywers en briewe. Die verband voor die hand liggend. As Hennie Aucamp die byhou van ’n dagboek gelykstel aan ’n sketsboek wat die skilder gebruik om tegnieke met oefenlopies te bemeester, kan die skryf van ’n brief as ’n meestersklas beskou word. Om gedagtes te orden en sinvol onder woorde te bring. Komposisie en beplanning. Om ’n brief te skryf is om ’n storie te vertel. Aanloop, mededeling. Koda. Met as oogmerk om die leser van die brief te betrek by dit wat vertel word. Die ooreenkoms met verhalende tekste kan nie ontken word nie. Veral die handgeskrewe brief, ’n magiese wisselwerking tussen hand, brein en die hart.
Die letterkundige waarde van briewe word veral bevestig met die publisering van skrywers se briewe en die bestudering van briewe om byvoorbeeld ’n biografie te skryf. Briewe het ook al dikwels as inspirasie vir rolprente gedien.
Een van die aangrypendste oorlogsrolprente was Dear America: Letters home from Vietnam. Met die lees van die briewe, wat dan die basis van die narratief van die rolprent vorm, word die soldate mense met wie ons as kykers kan identifiseer. Ons beleef hul versugtings, vrese en bekommernisse deur die briewe wat hulle vir vriende, familie en geliefdes geskryf het.

Die omvangryke briefwisseling tussen CJ Langenhoven en Sarah Goldblatt was van onskatbare waarde vir die biograaf JC Kannemeyer. Langenhoven se testament het bepaal dat die briewe nie aan enige iemand, behalwe in “buitengewone omstandighede”, beskikbaar gestel mag word nie. GLC Brümmer, Langenhoven se kleinseun, het in 1989 toegegee dat daar met ’n nuwe Afrikaanse epog op loer wel sulke omstandighede bestaan. Die toegang wat Kannemeyer tot een van die uitgebreidste briefversamelings in Afrikaans gekry het, het sonder twyfel gehelp dat die monumentale biografie, Langehoven – ’n lewe (Tafelberg, 1995) deur Kannemeyer, die lig gesien het.
.......
Wat as ’n briefroman beskou kan word, is die gepubliseerde briewe tussen André P Brink en Ingrid Jonker in een band bymekaar gebring met die titel Vlam en sneeu (Umuzi, 2015). Myns insiens is dit een van die aangrypendste ware liefdesverhale in Afrikaans.
.......
Wat as ’n briefroman beskou kan word, is die gepubliseerde briewe tussen André P Brink en Ingrid Jonker in een band bymekaar gebring met die titel Vlam en sneeu (Umuzi, 2015). Myns insiens is dit een van die aangrypendste ware liefdesverhale in Afrikaans. Intellektuele minnaars wat teen die kleinburgerlike lewe ingeleef het. Die intieme blik wat hierdie gebundelde briewe op Brink en Jonker se verhouding aan die leser bied, is iets wat die Afrikaanse letterkunde mateloos verruim. En tog die frustrasie wanneer briewe nie die behoefte aan nabyheid kan vervang nie. Daarom sluit Jonker een van haar briewe aan Brink so af: “Ek wil jou nog baie, baie meer vertel, wanneer ons alleen is en sonder die veroordelende woorde op papier tussen ons – hul lyk so banaal, so kras, so onverantwoord.”
’n Verrykende letterkundige ervaring is Gespreksgenoot – ’n brieweboek (Litera, 2017). Net die dramatis personae, hulle met wie die gerespekteerde letterkundige Elize Botha gekorrespondeer het, getuig van ’n lewe wat gewy was aan die lettere. Botha en haar gesprekgenote manifesteer as eksponente van letterkunde. Meer nog, as lesers van hierdie briewe ongeveer ’n halfeeu later kry ons insae in die tyd en agtergrond waarteen hul loopbane en lewens uitgespeel het. As karakters ruik hulle, om Hennie Aucamp by te haal, soos mense. Mense met die uitdagings en terugslae waarmee iedere elk van ons te make het. Daar is ook iets spesiaals aan die adres boaan ’n brief. Amosstraat 34, Colbyn (Pretoria) 0083. Haar plekkie in die wêreld wat Elize Botha huis genoem het.
Daar is iets musikaals, selfs poëties, aan die bundel Sulke vriende is skaars – Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981 (Protea, 2020) Esteties een van die mooiste boeke wat ek al onder oë gehad het. Die een skrywer ’n musikant wat in Stellenbosch gewoon het. Die ander ’n musikale administrateur wat by die SAUK in Johannesburg gewerk het. Op die oppervlak ’n professionele verhouding. Met die lees van die briewe kom ’n mens diep onder die indruk van die feit dat hulle hegte geesgenote was wat nie alleen musiek gekoester het nie, maar ook baie omgegee het vir mekaar as mense. Om vir drie dekades ’n briefwisseling in stand te kon hou, is niks minder as merkwaardig nie.
Hennie Aucamp, as aristokraat van die gees, se ensiklopediese kennis van die lettere en kunste vind neerslag in sy gebundelde briewe, Mits dese wil ek vir jou sê (hemel & see boeke, 2013). Die flapteks stel dit so: “Die reikwydte van sy belangstelling word weerspieël deur die onderwerpe wat boeiend in sy briewe verken word: van rotskuns tot kabaret, letterkunde tot gay-wees, Spaanse dans tot moedertaalverontregting.”
“My vroegste bewussyn van ’n buitewêreld is omgeef met die reuk van treinrook en stoom, die knars van lokomotiewe – en dít wat die trein kom aflewer het: briewe.” Hierdie lieflike herinnering in Etienne van Heerden se Die stilte na die boek (Tafelberg, 2004). “Briewe had ’n geur, en was tasbaar soos mensevel onder die vingertoppe; hulle vra vir oor en oor lees en lê agterna soos duifeiers in hul nessies in die studeerkamerlaai,” voeg van Heerden by.
Die brief van ouds is egter nie meer in die pos nie. Kan die e-pos menslike belewenisse ondervang? Sal ons dit iewers in ’n digitale wolk vind? Menslikheid straks gereduseer tot ’n vinjet. Ontasbaar en reukloos.
Lees ook:
Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu

