Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu

  • 8

Die liefdesverhaal van die digter Ingrid Jonker en die skrywer André P Brink lees soos iets tussen ’n Griekse tragedie en ’n Afrikaanse Romeo en Juliet. Soos Eugène Marais het Ingrid Jonker ’n soort van kultusstatus onder oud en jonk verwerf. Met die onlangse verskyning van Vlam in die sneeu meer as 50 jaar na haar dood, waarin Jonker en Brink se liefdesbriewe aan mekaar gepubliseer word, val die kollig opnuut op hierdie enigmatiese digter. Jean Oosthuizen het met Ingrid, wat deur Breyten Breytenbach as ’n Marilyn Monroe-karakter beskryf is, se dogter Simone gesels. In hierdie openhartige onderhoud vertel sy hoe die boek haar geraak het en wat sy van haar ma kan onthou.

Die liefdesbriewe van André Brink en jou ma in Vlam in die sneeu het die boekwêreld behoorlik soos ’n vlam in die sneeu getref. Al wat boekliefhebber is, praat geesdriftig daaroor. As mens dit eers begin lees, kan jy die boek nie neersit nie. Hierdie boek moes vir jou, as Ingrid se dogter, op ’n besondere manier geraak het?

Hierdie gesogte liefdesbriewe tussen my ma en haar geliefde van die tyd wou almal lees, en baie mense het daarna gesoek. Ek het haar briewe baie geniet en ek vind die boek boeiend en waardevol vir die Afrikaanse letterkunde. Ryk in beeldspraak, en dit verwoord die tydsperiode baie mooi in die styl van die sestigerjare.

SimoneWat het van die oorspronklike briewe geword wat André aan jou ma geskryf het?

My tannie Anna Jonker het die briewe – bedroef en in ’n vlaag van woede – opgeskeur wat my ma tussen haar besittings gehad het die oggend van 20 Julie 1965. Almal wou weet wat gebeur het, so almal het hierdie briewe gesoek. Daar was die storie van ’n klomp briewe wat in ’n kussingsloop geprop en êrens heen geneem is. Die skokkende nuus van haar dood was oorweldigend. Almal was stom. Die literati het oor haar geskryf, maar stemme was weg ...

En het jy geweet André het afskrifte van sy briewe aan jou ma gehou?

Ek het altyd gehoor dat André die briewe het. Anna Jonker wou hierdie briewe gehad het, want sy het ook ’n hunkering gehad na die oorsaak van Ingrid se dood, soos ons almal wat ’n bietjie van die skuld gedra het.

Wanneer het jy dit die eerste keer gelees en hoe het jy gevoel toe jy dit lees?

Toe Karina met briewe vorendag gekom het om gepubliseer te word, het ek die briewe gelees. Soos gewoonlik was ek hartseer oor my ma, spesifiek oor haar haarlok wat in Rook en oker was, wat Ingrid aan André gegee het. Ek het dit nie gesien nie, maar dit was gepubliseer in die media. Karina was later so gaaf om vir my ’n stukkie daarvan te gee, ook ’n afdruk van ’n pragtige foto waar my ma naak poseer. Ek is steeds hartseer oor haar, en ek voel altyd so ’n bietjie verwerp, maar daardie is sommer my eie pyn.

Haarlok

Jy was maar skaars ses jaar oud toe jou ma die see by Drieankerbaai ingestap het. Hoe onthou jy haar?

Wat ek van haar onthou is die liefde wat ek in haar oë gesien het toe ek as jong kind met haar op Clifton se strande gewandel en in die water gespeel het – ek het dit geneem en in my eie oë gesit sodat ek haar in my sou dra.

Simone en Ingrid

Daar is baie oor haar geskryf en in haar gedigte hoor mens ook haar stem. Maar in Vlam in die sneeu leer mens haar op ’n besonderse manier ken. Wat het dit vir jou beteken om haar op dié manier te leer ken?

Toe ek die briewe lees, het ek nie meer so skuldig gevoel nie, en dit is asof ’n gewig van my skouers af is. Ek het besef dít is waarvoor ek gewag het, hierdie is die bevestiging van ’n moeder se liefde. Dit het my soos weerlig getref. En my hart was verlig.

Simone met Vlam in die sneeu

Het dit jou enigsins gepla dat sulke persoonlike briewe openbare besit word, veral omdat buitestanders tot in hulle intieme liefdeslewe toegelaat word?

Ek dink wanneer daar ’n goeie ding is, verskyn ’n slegte ding ... en ek het gedink dat hierdie briewe miskien ’n inbreuk op haar liefdeslewe sou wees, maar ek het geweet dat sy ’n besonderse skrywer was, en ek het aangevoel dat dit goed sal wees, van haar kant af in elke geval.

Van die vrae wat mens altyd ná iemand se selfdood vra, is: Hoekom? En wat sou gebeur het as dit anders was? Het jy ook met daardie vrae geworstel in jou grootwordjare?

Hoekom het sy haarself verdrink? Ek is vol emosie as jy daardie vraag vir my vra. Dit bly vir my ’n misterie, en dit gaan diep. Iewers moet daar seker ’n antwoord wees ... Iets glo ... iets antwoord ... iets weet. Madeliefies in Namakwaland.

Bonne Esperance waar Ingrid en Simone gewoon het voordat sy dood is.

Mense dink dikwels kinders kan nie onthou nie. Maar dit is nie altyd so nie. Wat onthou jy nog van jou ma en julle twee se verhouding?

Ingrid en Simone, ons was soos sussies, ons was soos geliefdes, ons was natuurlike sielsgenote, ons was soos spieëlbeelde vir mekaar. Sy het my gelukkig gemaak, en partykeer ook hartseer, want sy was ’n weerlose roos en ek het verantwoordelik vir haar gevoel.

Simone en Ingrid

En die nag nadat sy die see ingeloop het – kan jy nog onthou wie die nuus vir jou vertel het?

Die oggend van 20 Julie was sy geheimsinniglik nie daar toe ek wakker word in ons woonstel nie. Almal het eienaardig opgetree. Niemand het ’n woord gesê nie, net dat my ma werk toe is. Ek is waarskynlik na my oupa Abraham Jonker in St James geneem. Ek het later per vliegtuig Johannesburg toe gereis, na my pappa. Hy het vir my die storie vertel. Ek het vir die engele gevra om te waak.

Was jy ooit kwaad vir haar daarna omdat jy alleen moes agterbly?

Ek was partykeer kwaad gewees, want ek het na haar verlang en het nie liefde in my pa se vrou gevind vir my nie.

Lees ook:
Liefde, seks, Vlam in die sneeu en Tristia
Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe
US Woordfees 2016-onderhoud: Plant vir my 'n boom, André

En dan was daar André Brink, haar groot liefde. Jy het hóm seker ook op ’n manier beter leer ken nadat jy die boek gelees het?

Oor André, ja, hulle was verlief, en ek dink hy het goeie voornemens gehad. Hy was lief vir my ook, en ek het gehoop ... dat ons uiteindelik geluk saam met hom sal vind ... .

Het hy ooit van hom laat hoor na jou ma se dood?

Ons het een keer met mekaar gekorrespondeer na my ma se dood, en hy was baie gaaf teenoor my. Hy het uitdruklik gesê as ek enigiets nodig het moet ek hom laat weet.

Toe sien jy hom vir die eerste keer na jou ma se dood weer in 2013 by die Breytenbach-sentrum in Wellington tydens ’n herdenking van jou ma se 80ste verjaarsdag. Hoe het daardie ontmoeting verloop?

Ja, ek het hom onverwags by die Breytenbach-sentrum ontmoet vir die eerste keer sedert my ma se dood. Ek glo om mense goed te behandel, en ek het dadelik sy hand geneem en hom ’n drukkie gegee. Ek het vir hom gesê dat hy nie skuldig moet voel nie en dat ek niks teen hom het nie. Ons het lekker tee gedrink en hy het vir my gesê dat die liefdesbriewe gepubliseer gaan word.

Simone en André P Brink in September 2013

In jou grootwordjare na jou ma se dood het jy self deur moeilike tye van diep donkerte gegaan, maar tog heel anderkant uitgekom, nie waar nie? Hoe het jy dit reggekry?

Ek was in die donker en toe het die Heelal vir my ’n kans gegee. Ek was ’n verlore siel, ’n verslaafde, op pad na die dood, maar my ma Ingrid, Mandela en my leermeester Li Hongzhi het my gevind waar ek gelê het en my na die lig gebring.

Watter gedig van Ingrid is jou gunsteling? Is dit dalk “Toemaar die donker man” wat sy aan jou opgedra het?

Ja, my gunstelinggedig is “Toemaar die donker man” en ek dra dit voor op ons plaat Die kind is nog jonger. Dit is ’n huldeblyk aan Ingrid Jonker wat deur Permanent Records vrygestel gaan word. Ons het ook ’n CD met welbekende musikante daarop, soos Anton Goosen en Francois Blom van KOBUS, dit is van alle genres – ons het ook ’n klassieke stuk daarop. Hierdie gedig, “Toemaar”, is kosmies. Sy wys my hier om te "sien". Ook in “Die kind” wys sy my hoe om te wees ... kinderlik, opreg ....

Simone by Ingrid Jonker se graf

En toe lees Nelson Mandela daardie gedig van jou ma voor tydens sy eerste toespraak in die parlement. Waar was jy daardie dag en hoe het jy gevoel?

Ek was in die stad toe ek ’n oproep kry: “Mnr Mandela lees jou ma se gedig in die parlement voor.” My hart het gebars van trots op haar ... want nou was haar dood nie meer verniet gewees nie. Sy het ’n pad vir ons oopgemaak ... ’n pad na regstelling. Hoe grootmoedig ... dit is ewig ...

Jy het baie van jou ma se eienskappe geërf. Jy is lief vir woorde en het, net soos sy, ’n ingebore gevoel vir geregtigheid. Jy voel veral sterk oor die Chinese gemeenskap in ons land, hulle kultuur en die politieke onregte in China. Waar kom hierdie Oosterse band vandaan?

Ek sal alles in my mag doen om die Chinese regering soos die apartheidsregering bloot te stel vir hulle miskenning van menseregte. Waar teen mense gediskrimineer word en mense selfs vermoor word vir hulle geestelikheid of die kleur van hulle vel. Dit is onaanvaarbaar.

Simone is 'n kampvegter vir menseregte in China.

Jou ma is veel meer as ’n legende. Sy het net soos Eugène Marais ’n soort kultusstatus verwerf. Dit is lekker om te sien dat jy haar nalatenskap ook lewend hou met ’n Facebookblad Windows-Of-My-Heart-The-Simone-and-Ingrid-Jonker-Story.

Ek hoop dat ek deur Windows of my heart met mense my pyn en geluk kan deel.

Een van die sewe brue oor die Nelson Mandela Boulevard in Kaapstad is na Ingrid Jonker vernoem.

As jy vandag een vraag elk vir André Brink en Ingrid Jonker kon vra, wat sou dit wees?

André en Ingrid, julle kom een-een aangestap uit die verlede. Ek vra aan albei: Soos wat lyk die liefde?

Dankie vir die openhartige gesprek, Simone. Ingrid is nie dood nie. Nóg in Parys, nóg by Drieankerbaai. Sy reis deur die hele wêreld. Sonder ’n paspoort.

Dankie vir die geleentheid om met jou te praat, Jean, en dankie aan LitNet. Alles wat mooi is vir die toekoms.

 

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Johann H Claassen

    Dankbaar vir die skatkis van woorde en versies wat Ingrid agtergelaat het.
    Dankbaar vir André wat die briewe so mooi bly bewaar het.
    Dankbaar dat Simone haarself weer kon vind en daaroor kon praat.

  • Avatar
    Marie van Graan Westonaria

    Wat ’n insiggewende gesprek met Simone wat met groot liefde getuig van haar ma Ingrid se ongelooflike talent. Vir Simoné ... (pragtige naam) wens ek die heel beste toe. Sy het ook oorwinnings in haar lewe beleef.

  • Wat ’n wonderlike openbaring is dié onderhoud met Simone. Pragtig en sensitief hanteer. Ek was ook ses jaar oud toe Ingrid oorlede is en kan die oproer in ons huis onthou. Ek het al baie gewonder hoe die lewe Simone behandel het. Ek is tans besig met "Vlam" en van vooraf geïnspireerd om al Ingrid Jonker se werke te lees.

  • Avatar
    Nico de Klerk

    Die intensiteit van gebeure, emosies en liefde bly aangrypend. Maar dan veral in die artikel die verwerking daarvan deur Simone is 'n voorbeeld vir elkeen. Ek het respek vir Simone se integrering en hoe sy uitstyg bokant tragiese gebeure sodat net die positiewe voortvloei.

  • Baie dankie vir die insiggewende bydrae Simone. Jou moedertjie so so trots op jou gewees het en onthou Ingrid is almal se erfenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top