US Woordfees 2018: Gespreksgenoot: ’n brieweboek

  • 0

 

Haar aanvanklike opdrag was om ’n biografie te skryf oor die lewe van die legendariese letterkundige en akademikus, Elize Botha maar toe word dit ’n lywige brieweboek waarin Botha in haar eie woorde self haar storie vertel.

So het die Potchefstroomse akademikus Heilna du Plooy tydens ’n gesprek by die Woordfees vertel hoe dit gekom het dat lesers in haar boek toegelaat word om in Elize Botha se eie woorde oor dekades heen te deel in die gesprekke wat sy met verskeie kleurvolle Suid-Afrikaners gehad het.

Du Plooy het die verhoog gedeel met een van Elize Botha se dogters Liesbeth. Nadat Du Plooy reeds sowat drie jaar navorsing gedoen het met die oog daarop om Botha se biografie te skryf, het sy besef dit sal beter wees om Botha self deur middel van haar ryke versameling briewe aan die woord te stel.

Die resultaat is ’n lywige bundel van sowat 700 bladsye wat bestaan uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het oor die jare met Botha gekorrespondeer.

Liesbeth Botha
Foto: Naomi Bruwer

Al die briewe wat in die boek verskyn is ongesensor en ongeredigeer. Du Plooy sê daar is doelbewus besluit om die briewe net so te plaas omdat dit nie meer Botha se eie stem sou wees as sy enigsins daaraan verander het nie.

Sommige van die briewe handel oor resensies en rubrieke waarin skrywers hulle misnoeë oor die resensies van hul werk in geen onduidelike taal teenoor Botha uitgespreek het nie.

Die agting wat Botha by oud en jonk afgedwing het en haar toeganklikheid blyk uit die wye verskeidenheid mense met wie sy deur haar lewe gekorrespondeer het; van mense soos NP van Wyk Louw tot Koos Kombuis.

Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag.

Botha se dogter sê haar ma se lewe het oor boeke gegaan en na haar dood was daar 115 meter boekrakspasie vol boeke in hulle huis. Sy het ook verskeie trommels met briewe nagelaat omdat sy baie sentimenteel was en dit nooit wou wegmaak nie.

Volgens die digter Lina Spies was die herlees van die korrespondensie tussen haar en Botha ’n nuwe kennismaking met haar eie jong self.

Liesbeth sê haar ma was ’n baie emosionele mens en het ’n lewe van dankbaarheid gelei. Haar groot vreugde in die lewe was boeke en mense. Soms het sy ook neerslagtig geraak maar sy het die vermoë gehad om haarself uit ’n depressie te skryf wanneer sy met haar vriende gekorrespondeer het. Sy het elke mens met wie sy te doen gekry het spesiaal laat voel. Daarom het selfs jonger skrywers so groot aanklank by haar gevind. 

Liesbeth het vertel hoe sommige van die jonger en soms omstrede mense voor die tyd by haar ma gaan bieg het “dat hulle gaan kak aanjaag” omdat hulle haar volkome kon vertrou en as klankbord kon gebruik.

Heilna du Plooy lees voor uit Gespreksgenoot
Foto: Naomi Bruwer

Botha was professor, redakteur van die Tydskrif vir Letterkunde en boonop die eerste vroulike bekleër van die voorsitterskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns én die kanselierskap van die Universiteit Stellenbosch.

In die eerste deel van die boek Gespreksgenoot: ’n brieweboek wat deur Litera Publikasies uitgegee is verskyn briewe aan en van gewyde name soos NP van Wyk Louw (onder wie Botha haar doktorale studie in Amsterdam voltooi het), Elisabeth Eybers, die Oppermans, Audrey Blignault, Elise Muller en Alba Bouwer. In deel twee kom die daaropvolgende geslag, onder wie Hennie Aucamp en Lina Spies, aan die bod. In deel drie en vier is dit die jong Turke soos Joan Hambidge en Koos Prinsloo wat met Botha in gesprek tree.

 

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Gespreksgenoot: ’n brieweboek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top