Eeufees na haar dood: Waarom Bloemfontein weer ’n staatsbegrafnis vir Emily Hobhouse laat herleef

  • 0

Emily Hobhouse ca 1901/2 (Foto: The Story of Emily-versameling)

...
“For Liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex.” – Emily Hobhouse, 1913
...

Die aanhaling hierbo, woorde van Emily Hobhouse, som die onbreekbare band op tussen die Engelse pasifis en ’n volk wat te midde van die Anglo-Boereoorlog in sak en as gesit het. Presies 100 jaar ná haar merkwaardige staatsbegrafnis – die eerste vir ’n vrou in Suid-Afrika, en die enigste vir ’n buitelander – berei Bloemfontein voor op ’n surrealistiese tydreis om hierdie dinamiese “fluitjieblaser” van die 20ste eeu te gedenk.

Op 31 Oktober 2026 herskep The Story of Emily Hobhouse Museum by die Vrouemonument die historiese herdenkingsdiens van 1926 so na as moontlik aan ’n eeu gelede. Die geleentheid beloof om nie net ’n nostalgiese terugblik te wees nie, maar ’n herinnering aan die krag van ’n enkele stem wat ’n ryk laat steier het.

Vir teatergangers is daar ook ’n landswye hoogtepunt: Deon Opperman se nuwe musiekteaterdrama, The story of Emily, met musiek deur Janine Neethling en regie deur Nico Scheepers. Die drama is van 28 tot 31 Oktober in die Sand du Plessis-teater te sien, met ’n bekroonde rolverdeling wat Kate Normington (as Emily Hobhouse), David Minnaar (Lord Milner), Greg Viljoen (Lord Kitchener) en Amanda Strydom (verteller) insluit.

’n Eeu gelede het duisende mense in stilte gestaan toe Hobhouse se as by die Vrouemonument geplaas is. Vanjaar sal sowat 670 deelnemers – almal geklee in die drag van die 1920’s – die historiese optog herhaal.

Kinders wat na Emily vernoem is, en ’n Emile, lei die stoet. Die 200 meisies – 100 van Eunice High School en 100 van Meisieskool Oranje volg ná die draagbaar. Die twee skole sal, soos in 1926, weer deelneem. (Foto: The Story of Emily-versameling)

Voor in die stoet sal 200 meisies van die Eunice High School en Meisieskool Oranje stap, begelei deur die Vrystaatse Jeugblaasensemble onder leiding van Dingaan Chabalala. Soos in 1926 sal Händel se meesleurende Largo en Hollandse Psalms by die monument weerklink, terwyl ’n perdekommando, antieke motors, ’n loslaat van duiwe en ’n treursaluut die plegtigheid sal meemaak.

Jan Smuts lewer sy toespraak in 1926. (Foto: The Story of Emily-versameling)

Een van die hoogtepunte is die herlewering van Jan Smuts se beroemde huldeblyk, waarin hy opgemerk het:

The first impression is one of the power and profound influence of women in the affairs of the world ... Here was a great war, in which hundreds of thousands of men were engaged, in which the greatest Empire on earth was exerting all its strength and force. And an unknown woman appears from nowhere and presses the right button, and the course of our own history in South Africa is permanently altered.

Hoewel Hobhouse in Suid-Afrika meestal onthou word vir haar verslag oor die haglike toestande in die Britse konsentrasiekampe – waar meer as 34 000 wit vroue en kinders (van wie 80% onder 16 jaar oud was) en minstens 25 000 swart vroue, mans en kinders gesterf het – strek haar nalatenskap veel verder.

Ná die oorlog het Hobhouse nie net gekritiseer nie, maar daadwerklik begin herbou. Sy het besef dat ekonomiese selfstandigheid vir die verwoeste Vrystaatse en Transvaalse gemeenskappe noodsaaklik was. Met geld wat sy in Brittanje en Europa ingesamel het, het sy spin-en-weef-skole regoor die land gestig om vroue van vaardighede en ’n inkomste te voorsien.

Boonop was Hobhouse ’n uitgesproke ondersteuner van die wêreldwye stemregbeweging vir vroue (suffragettes) en ’n teëstander van die Eerste Wêreldoorlog. Haar meedoënlose standpunt teen oorlog en menslike lyding het haar in Brittanje as ’n “verraaier” gebrandmerk, waar sy deur die owerhede sowel as die pers vervolg en geïgnoreer is. Nietemin het sy tot haar dood in Londen in 1926 onvermoeid gepreek vir vrede en menseregte.

Vrae aan Deon Opperman, die teksskrywer, Karen Meiring, bestuurder van Emily100, en Elsabé Brits, projekleier van Emily 100:

Vrae vir Deon:

Emily Hobhouse word dikwels as ’n bykans mitiese figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gesien. Hoe het jy te werk gegaan om haar menslikheid te ontgin en haar as ’n kompleks-driedimensionele karakter uit te beeld sonder om in hagiografie te verval?

Feitlik die hele stuk – elke woord wat daarin gepraat word en alles wat gebeur – is Emily se eie woorde soos in haar briewe vervat. Ek het wel tonele waar sy met iemand soos Milner ’n vergadering gehad het, tot dialoog verwerk, maar selfs daardie dialoog is so na as moontlik aan hoe Emily self die inhoud van die vergadering beskryf het. Haar menslikheid wat uitgebeeld word, is dus die menslikheid wat uit haar eie woorde straal.

Die rolverdeling teenoor Emily (Kate Normington) sluit swaargewigte in. Watter dinamika of dramatiese spanning tussen hierdie teenoorgestelde wêrelde en ideologieë het vir jou as dramaturg die boeiendste geblyk om vir die verhoog te ontgin?

Die kragtigste dramatiese spanning wat deur die stuk loop, asook deur al haar briewe, is die ongenaakbare brutaliteit van die realpolitik van die Britse Ryk teenoor Emily se diep menslikheid en meegevoel wat alle verskille tussen nasies transendeer. Milner, wat die oorlog gesoek het en doelbewus gestook het, het in ’n brief geskryf: “I suppose it is a deplorable thing to precipitate a war for gold, but there it is.” Teenoor Emily wat gefokus het op die impak van daardie oorlog op mense.

Emily Hobhouse word in die volksgeheue dikwels eng herlei na haar uitsprake oor die konsentrasiekampe, maar sy was ook ’n visionêre hervormer wat ná die oorlog projekte gestig het om vroue ekonomies te bemagtig. Hoe balanseer jy hierdie “oorlog-Hobhouse” met die sosiale hervormer en pasifis in jou teks?

Ons tyd was beperk – 80 minute. Haar lewe en werk voor en ná die oorlog word kortliks genoem, maar die fokus is op haar werk gedurende die oorlog. Hoekom? Want dit is uiters ontroerend en dramaties, en relevant tot wat juis vandag gebeur – die genocide in Gaza. Die Boereoorlog was die Afrikaner se Gaza – huise en plase verwoes, en die massa-afsterwe van die vrouens en kinders onder haaglike omstandighede.

Vrae vir Karen:

Om ’n omvattende lewe en ’n historiese tydvak in ’n enkele teaterproduksie saam te vat is ’n enorme taak. Wat was vir jou die belangrikste tema of kernboodskap wat deur die hele stuk moes loop?

Ek self het nie ’n boodskap nie. My werk was om Emily se boodskap met soveel integriteit as moontlik te laat hoor. Wat is die oorkoepelende boodskap? Dat een persoon teen ’n magtige ryk kan staan en ’n verskil kan maak.

Met soveel deelnemers, ’n berede kommando, skole, blaasensembles en antieke motors wat ’n gebeurtenis herskep, is hierdie ’n reusagtige onderneming. Wat is die grootste logistieke én kreatiewe uitdagings?

Logisties is dit die skaal: 670 deelnemers, perde, antieke voertuie, blaasorkes en honderde skoolkinders moet op ’n 600-meter-roete op een tydlyn saam beweeg, en dit alles regstreeks op televisie. Elke groep het sy eie behoeftes – kostuums, vervoer, toesig oor kinders, welsyn van die perde, gekoördineerde repetisietye, en uiteindelik een vertrek- en eindpunt.

Kreatief is die uitdaging om getrou te bly aan 1926, sonder om ’n museumstuk te maak. Ons wil hê mense moet voel wat die skare toe gevoel het: die erns, die rou en die dankbaarheid. Dit beteken historiese navorsing oor kostuums, musiek en die volgorde van die oorspronklike plegtigheid, maar ook dramaturgiese keuses sodat ’n hedendaagse gehoor, en ’n televisiekyker, die gewig van die oomblik ervaar.

Die kostuums is ’n buitengewone uitdaging. Al die deelnemers se mates moet verkry word en elke kostuum moet gepas word, en indien dit nie reg pas nie, verstel word.

Sylvia van Heerden is ’n briljante kostuumontwerper en -vervaardiger. Sy en haar span het die enorme taak om die stoet aan te trek, dat die viering van hierdie besonderse mens se lewe en die tydperk waarin dit plaasgevind het, ’n emosionele belewenis vir almal teenwoordig is om so ’n omvattende heropvoering te koördineer.

In ’n era van digitale media en vlugtige aanlyn inhoud kies julle ’n massiewe, histories getroue herskepping. Wat bied hierdie fisiese, kreatiewe ervaring aan ’n hedendaagse gehoor wat ’n dokumentêr of skerm nie kan bied nie?

’n Dokumentêr vertel jou wat gebeur het. Hier is jy in die film. Jy hoor en sien die perdehoewe en die koperblasers, kinders van jou eie dorp in die stoet stap, en jy is op die einste plek waar Emily se as in 1926 aan die voet van die Vrouemonument bygevoeg is. Daar is iets wat net gebeur as mense bymekaar kom vir so ’n geleentheid – gedeelde stilte en gedeelde emosie. In ’n tyd waarin ons alles deur ’n skerm verbruik, is dit ’n kans om weer as gemeenskap saam te herdenk. En omdat dit ook regstreeks uitgesaai word, kry ons die beste van beide wêrelde.

Behalwe die musiekteater en die optog is daar uitstallings en historiese kos. Hoe verseker julle dat hierdie ’n meesleurende, multisensoriese ervaring vir besoekers van alle geslagte is?

Ons beplan die dag sodat elke besoeker op ’n interessante manier toegang tot Emily se verhaal kry. Die optog is die groot gedeelde oomblik. Die uitstalling oor haar lewe gee die historiese konteks. Die historiese kos laat mense letterlik proe aan die tyd. Daar gaan heerlik geëet word van ’n spyskaart wat van roosterkoek en appelkooskonfyt, spitbraai, krummelpap en kaiings tot van die lekkerste Vrystaatse melktert insluit.

En die musiekteaterproduksie, The story of Emily, vertel haar lewe emosioneel en persoonlik – ’n belewenis met van die beste akteurs in ons land.

Vir ouer besoekers gaan dit dikwels oor herinnering en erfenis; vir jonger mense oor ontdekking. Deur skole direk by die stoet te betrek, word kinders deelnemers, nie net toeskouers nie. Die TV-uitsending op kykNET maak seker dat ook dié wat nie in Bloemfontein kan wees nie, deel daaraan kan hê.

Hobhouse was ’n pasifis, feminis en humanis. Wat hoop julle neem die jonger generasie saam huis toe ná hierdie gedenknaweek?

Ons hoop hulle besef dat een mens ’n verskil kan maak. Emily was ’n Engelse vrou wat teen haar eie regering opgestaan het omdat sy onreg gesien het. Sy het vir die lydendes gepraat wat baie ongewild was, en ná die oorlog het sy nie net gepraat nie, maar opgebou – met haar spin-en-weef-skole het sy vroue gehelp om weer ’n bestaan te maak.

Daardie waardes, deernis oor grense heen, moed om die waarheid te praat, en die keuse vir versoening bo wraak, is vandag kritiek. As ’n kind wat in die stoet geloop het, eendag in sy of haar eie lewe vir geregtigheid opstaan, dan het ons ons werk gedoen.

Vrae aan Elsabé:

As biograaf wat jare lank deur Emily Hobhouse se persoonlike briewe, dagboeke en argiefmateriaal gewerk het: Hoe voel dit om te sien dat ’n gebeurtenis soos haar staatsbegrafnis van 1926 nou, 100 jaar later, weer lewend gemaak word? Wat sou Emily self gedink het van hierdie grootskaalse herdenking en teaterproduksie?

Dit is moeilik om te dink wat sy hiervan sou dink. In haar lewe het sy ’n paar duisend briewe geskryf, en ek dink ek het byna alles gelees. Sy was ’n komplekse, intelligente vrou met vele kante aan haar karakter.

Soms wonder ek wat sy van haar 1926-begrafnis sou gedink het.

Verlede jaar was dit 165 jaar sedert haar geboorte, en ons het by The Story of Emily ’n besonderse dag vir haar gehou. Ek het toe besef ons het vanjaar ’n eeuviering, en dat ons iets groot en besonders moet doen, en dit is waar die planne begin het.

In biografiese werk ontdek ’n mens dikwels die mens agter die openbare ikoon. Waarin lê die grootste wanbegrip wat die publiek vandag steeds oor Emily Hobhouse koester, en watter aspek van haar persoonlikheid hoop jy bring hierdie 100-jaar-herdenking na vore?

Die grootste wanbegrip oor haar strek oor kontinente heen. In haar eie land is sy vergete, maar dit is besig om te verander met die museum.

Hier by ons dalk ook tot ’n mate vir die nuwe geslag.

Maar ook later in haar lewe en na veral na haar dood. Emily Hobhouse was ’n pasifis, ’n fluitjieblaser en liberalis. ’n Humanis. Sy het wat sy gedoen het, nie vir persoonlike agendas en om politieke redes gedoen nie – sy was nie aan “die Boere se kant” nie, sy was teen oorlog, alle oorlog.

En een van die beste bewyse is die feit dat daar sowat 50 jaar na haar dood ’n duikboot – ’n instrument van oorlog – na haar vernoem is in Suid-Afrika. ’n Duikboot na ’n pasifis ...? Sy sou dit met minagting verwerp het. Dis tragies.

Emily Hobhouse se nalatenskap is in die verlede dikwels deur verskillende polities-kulturele agendas toegeëien of vernou. Hoe kan ons haar kernwaardes – as onafhanklike humanis, pasifis en feminis – in ’n moderne, inklusiewe Suid-Afrika herinterpreteer sonder om die historiese konteks van haar werk te verwater?

’n Mens kan net haar 1913-toespraak by die onthulling van die Vrouemonument lees en besef dat wat sy probeer sê het oor vergifnis, vroueregte, gelyke regte en die misbruik vandag, toe waar was en steeds is.

Sy was werklik iemand wat morele moed gehad het, en dit strek oor generasies heen.

Kitsfeite
  • Vir die historiese gebeure op 31 Oktober, open die hekke om 08:30. Alle gaste moet teen 10:30 hul sitplekke neem weens ’n regstreekse TV-uitsending wat om 11:00 begin. Toegang is R15 per persoon (beskikbaar via Webtickets). Gratis parkering by die monument – volg net die aanwysings. Bring ’n breërandhoed en sonbeskutting saam vir die Vrystaatse son.
  • Daar is ook ’n nuwe uitstalling oor die lewe van Emily Hobhouse en demonstrasie van hoe kant gemaak word, plus spin-en-weef-demonstrasies (dit kom uit pogings om werk te skep vir oorlewendes uit die kampe); ’n “Blokkies vir Emily”-gemeenskapsprojek; ’n herskepte seksie van ’n konsentrasiekamp soos dit gelyk het; en interessante gedenkwaardighede en boeke te koop. Kos in die styl van 100 jaar gelede sal ook te koop wees.
  • Lees al die besonderhede op ’n nuwe webtuiste: Emily100.com.
  • Kaartjies vir The story of Emily is by Webtickets te koop.
Lees ook:

Om Hobhouse te onthou – 100 jaar later

Emily Hobhouse en Olive Schreiner: Twee koppiges in die Karoo

Op dees aarde: Emily Hobhouse is nou by haar mense

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top