
Bespreek by Webtickets
Pasifis. Humanis. Feminis. Fluitjieblaser. Hardekop. Kanniedood. Dít is Emily Hobhouse.
Vanjaar, ’n 100 jaar ná haar dood, het The Story Of Emily-museum besluit om haar nagedagtenis te herdenk hier in Suid-Afrika, waar sy soveel gedoen het. Dié museum is ook die borg van die geleentheid.
Op 31 Oktober herskep ons, Emily100, die staatsbegrafnis – die eerste vir ’n vrou en buitelander – wat sy destyds op 27 Oktober 1926 in Bloemfontein gehad het, so getrou as wat dit vir ons moontlik is.
Destyds het 20 000 mense dié staatsbegrafnis bygewoon – die roubeklaers het in die blakende son op die koppie neffens die monument gestaan.
Die byna 650 mense in die stoet sal onder orkesbegeleiding die 600 meter in Monumentweg te voet aflê, met 200 meisies in wit rokkies, vroue in swart en studente. Hierna word die begrafnis herleef met “Jan Smuts”, die dominee, duiwe, ’n koor, berede kommando en treursaluut.
Gaste sit gemaklik en hoef nie soos destyds langs die pad te staan nie. Selfs as jy nie lief is vir geskiedenis nie, sal dié ervaring aangrypend wees.
Die geleentheid het destyds begin met ’n diens in die Tweetoringkerk. Die stoet het die “paar myl” gestap, tot by die Vrouemonument. Ander begrafnisgangers het met busse of die trein gery vir “een sjieling per hoof”.
Hoe weet ons wat het in 1926 gebeur?
As projekleier van Ons Onthou Emily Hobhouse is ek innig dankbaar vir die historiese stilfilm van 1 minuut en 30 sekondes wat behoue gebly het. Dit gee nie alles van die begrafnis weer nie, maar wel baie. Ons gebruik dit ook by The Story of Emily.
En die sowat 30 foto’s wat geneem is van die dag, het soveel gehelp om die kostuums onder leiding van Sylvia van Heerden en Emma Gilpin korrek te kry, asook ander klein besonderhede.
Koerantknipsels, die begrafnisprogram van destyds en beskrywings van Emily se vriendinne, onder meer ’n verslag van nege bladsye van Caroline Murray (née Molteno, 1853–1937) en ander, was waardevol.
Maynie Fleck – die sekretaresse van die destydse herbegrafniskomitee, soos dit bekend gestaan het, omdat Emily ’n diens in Londen gehad het – se notas, briewe en notules van die vergaderings wat sy aan die Vrystaatse Argief geskenk het, was ’n skat. Maynie was ook een van Emily se helpers in die konsentrasiekamp in Bloemfontein en met die spin-en-weefskole.
So kon ons sien elke groep in die stoet het ’n klein roset gedra, en dié kon ons maak. En ook die vraag oplos: Was die meisies se rokkies ligpers of wit?
Eunice en Oranje
In dié versameling is die briewe wat destyds gerig is aan Eunice-hoërskool en Meisieskool Oranje, gevind. Die 200 meisies in hulle wit rokkies en sluier met ’n silwer band het in 1926 aan die begrafnis deelgeneem.
Die komitee van toentertyd het briewe gestuur aan die skoolhoofde, Du Bruyn en Meiring, om te vra dat die meisies deelneem. En dit is met dié argiefbriewe dat ons die skole weer genader het. Hulle het dadelik ingestem om weer deel te neem en ’n tweede keer geskiedenis te maak.
Koor en orkes
Voorheen is ’n vrouekoor saamgestel deur Bosman, en die musiek is uitgesoek deur PK de Villiers. The South African Railways and Harbours Band het die pas aangegee vir die stoet en die begeleiding gedoen.
Hulle het vergoeding van £10 verlang “plus the lost time from work”, wat £6 was.
Vandag het Janine Neethling, musiekwonderwerker, die Nederlandse musiek versorg. Die Vitae Cantamus-koor van Eunice-hoërskool en die Eunice- junior koor staan onder leiding van Retha Visser en die Vrystaatse Jeugblaas-ensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala.
Wat is daar nog?

- ’n Splinternuwe musiekteaterproduksie The story of Emily van 29 Oktober tot 31 Oktober in die Sand du Plessis.
- ’n Nuwe film oor die lewe van Emily, deur Cato Bekker, op 25 Oktober om 20:30.
- ’n Regstreekse uitsending op kykNET op 31 Oktober om 11:00.
- ’n Samevatting van die 31ste se gebeure op 1 November om 20:30 op kykNET.
- ’n Nuwe uitstalling oor die lewe van Emily Hobhouse in ’n tent langs die Oorlogsmuseum.
- ’n Demo van hoe kant gemaak word, plus spin- en weefdemonstrasies.
- Ook ’n Blokkies vir Emily-gemeenskapsprojek, amfiteater by die Oorlogsmuseum.
- ’n Herskepte seksie van ’n konsentrasiekamp soos dit gelyk het, langs die Oorlogsmuseum.
- Daar sal interessante gedenkwaardighede en boeke te koop wees.
- Plus heerlike kos op die styl van die tyd.
Kaartjies is baie goedkoop en kan hier of by Webtickets gekoop word: https://emily100.com/
Hoekom onthou ons Emily Hobhouse?
Emily Hobhouse beskryf eintlik haarself. Nie net in haar soepel Victoriaanse Engels nie, maar ook in wat sy vermag het.
Vandag, ’n eeu ná haar dood en 166 jaar sedert haar geboorte in ’n klein dorpie in Cornwall, moet ’n mens in jou geestesoog haar wêreld sien en haar lewenswyse verstaan om te begryp wat sy moes deurstaan.
’n 40-jarige vrou wat volgens die norme van haar leefwêreld nie in haar lewenstaak geslaag het nie: ongetroud en kinderloos, met ’n opvoeding deur ’n goewernante tuis wat haar, in haar eie woorde, verveel het en onvoldoende was.
Aan die begin van 1901 kom sy vrou-alleen te staan teen die magtige Britse Ryk. Sy hou as’t ware vir haar landgenote en die wêreld ’n spieël op waarin sy die vergrype van haar eie regering blootlê. Dít tydens ’n oorlog, wanneer ’n fluitjieblaser se mededelings dikwels met minagting en agterdog bejeën word.
Die inhoud van haar verslag van die South African Women and Children Distress Fund en die artikels wat sy in die pers gepubliseer het, is onder meer gekritiseer, omdat sy ’n “ongekwalifiseerde” en “histeriese oujongnooi” was. Omdat sy was wie sy was, is die feite wat sy voorgehou het, betwyfel.
Met haar terugkeer na Suid-Afrika aan die einde van 1901 het Joseph Chamberlain, toenmalige minister van kolonies, in die koloniale korrespondensie geskryf:
The Empire is not threatened by a hysterical spinster of mature age. She would need a permit to visit the camps anyway. It was foolish to take any note of her.
Chamberlain kon sê wat hy wou, hulle kon haar nie stilkry nie.
Dit was haar verslag met praktiese aanbevelings vir die verbeterings wat gedoen kan word om die konsentrasiekampe leefbaar te maak, aan die minister van oorlog, St John Brodrick, wat regstreeks gelei het tot die totstandkoming van die Vrouekommissie.
Uiteindelik het Emily Hobhouse wel in die politiek – waaraan sy as sosiale liberalis en pasifis geen sin gehad het nie – verstrengel geraak, beide in haar leeftyd en ná haar dood. Wie sy was en wat haar beweegredes was – gegrond in humanisme, feminisme en pasifisme – is misverstaan en soms misbruik.
In 1913 in haar toespraak by die onthulling van die Nasionale Vrouemonument het sy dit duidelik gestel. Sy het nie na Suid-Afrika gekom oor politieke simpatie van enige aard nie:
I came – quite simply – in obedience to the solidarity of our womanhood and to those nobler traditions of English life in which I was nurtured, and which by long inheritance are mine.
Ek sluit af met een van Emily se treffende aanhalings van 1913 toe die Vrouemonument ingewy is:
Many nations have foundered on this rock. We in England are ourselves still but dunces in the great world-school, our leaders still struggling with the unlearned lesson, that liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex. A community that lacks the courage to found its citizenship on this broad base, becomes “a city divided against itself, which cannot stand”.

