Die verantwoordelikheid lê by my en jou

  • 0
“Daar is ’n verantwoordelikheidsgaping, want De Klerk en sy garde het ons generasie gefaal … Maar vir hoe lank kan ons ons ouers se generasie kwalik neem voordat ons sake in eie hande begin neem?”

“Ek het dan niks te doen gehad met apartheid nie. Ek het geen herinnering daarvan nie, ek was baie jonk in 1994. En ek sukkel boonop om ’n werk te kry, want ek’s wit. Ek is só oor hierdie hele apartheid ding. Kan ons nie net aanbeweeg nie? Regtig. Ek meen, dit is nou al 26 jaar later.”

Dit klink bekend.

Kom ons dink gou hieroor. Het wit Afrikaanssprekendes al die nodige kollektiewe introspeksie gedoen oor die feit dat apartheid Afrikaner-nasionalisme op sy plek gehou en aktief beskerm het? Het ons al gedink oor die feit dat ons lewens nie regtig verander het na 1994 nie en dat ons bloot net kon aangaan? Ek weet, die BEE-kaart sal party mense weerhou om hieroor te dink, want “dis nie meer maklik vir wit mense om werk te kry in hierdie land nie”. Ek erken dat werkloosheid ’n Suid-Afrikaanse probleem is, maar die statistieke wys steeds dat werkloosheid onder wit Suid-Afrikaners aansienlik laer is as onder ander Suid-Afrikaners en dat wit Suid-Afrikaners disproporsioneel meer verdien as ander Suid-Afrikaners. Volgens Stats SA was die gemiddelde inkomste tussen 2011 en 2015 onder swart Suid-Afrikaners R6 899 per maand. Vir bruin en Indiër-Suid-Afrikaners was die inkomste onderskeidelik R9 339 en R14 235 per maand. Onder wit Suid-Afrikaners was dit R24 646 per maand. Dit is meer as drie keer so hoog as onder swart Suid-Afrikaners.

Suid-Afrika is ongelyk, en hierdie ongelykheid is doodeenvoudig primêr op grond van ras. Minder as 9% van die Suid-Afrikaanse bevolking is wit, maar besit meer as 80% van die grond en ekonomie, sowel as 90% van die maatskappye wat op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer is (Milazzo 2017). Hierdie statistieke dien as bewys dat ekonomiese welvaart steeds meestal vir wit Suid-Afrikaners gereserveer is en dat swart armoede nie voldoende aangespreek word nie. Dit is dus nog steeds heelwat makliker en geriefliker om wit te wees in Suid-Afrika. Ons moet as ’n beginpunt hieroor met onsself kan eerlik wees.

Ek wil dit graag een stap verder voer. Die gebrek aan kollektiewe introspeksie word duidelik deur die verantwoordelikheidsgaping wat tans bestaan in Suid-Afrika.

“Wat bedoel jy verantwoordelikheidsgaping? Ek het mos reeds gesê ek het niks verkeerd gedoen nie. Waarvoor moet ek verantwoordelikheid aanvaar?”

Die naaste wat Suid-Afrikaners van kleur gekom het aan ’n verskoning vir die 46 jaar van apartheid was FW de klerk se voorlegging aan die Waarheid-en-versoeningskommissie. Sy gedeeltelike en versigtige verskoning was egter nie aanvaarbaar vir die slagoffers van apartheid nie. En as ’n 31-jarige wit Afrikaanse vrou dink ek ook nie dit was hoegenaamd goed genoeg nie.

“Niemand het die Afrikaner gekry om te verstaan dat die blote feit dat ons binne ons ‘borrels’ kon voortgaan ná 1994, baie moeilik moes gewees het, en steeds moet wees, vir die slagoffers van apartheid nie.”

Ons sien steeds vandag die effek van De Klerk se gebrek aan empatie, introspeksie en belydenis. Die FW de Klerk-stigting het nog verlede maand publiek verklaar dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. In die jaar 2020? Hulle het wel dae later daarvoor jammer gesê en die stelling onttrek. Ek kan nie anders as om aan te neem dat die publieke skok en woede wat deur Suid-Afrikaners uitgedruk is in reaksie op sy uitspraak, die nodige druk op die laaste apartheid-president geplaas het om uiteindelik sy woorde terug te trek nie. ’n Mens kan seker net wonder. Wat vir my regtig hartseer is, is die diep wonde wat ek net kan aanneem oopgekrap word vir die slagoffers van apartheid wanneer so ’n openbare opmerking gemaak word. En ongelukkig maak die toestande waarbinne hy “verskoning” gevra het, dit duidelik dat dit geensins opreg kan wees nie. En dit laat my met ’n diep teleurstelling. Nie net in De Klerk nie, maar in ons almal.

Daar is ’n verantwoordelikheidsgaping, want De Klerk en sy garde het ons generasie gefaal. Niemand het die leiding geneem en die Afrikaner gekry om te verstaan dat soveel seer, soveel verdeling en soveel ongelykheid in Suid-Afrika ’n direkte uitvloeisel van Afrikaner nasionalisme was en tot ’n groot mate steeds is nie. Niemand het die Afrikaner gekry om te verstaan dat die blote feit dat ons binne ons “borrels” kon voortgaan ná 1994, baie moeilik moes gewees het, en steeds moet wees, vir die slagoffers van apartheid nie. Dat dit eintlik nie regverdig is nie en dat ons dit onomwonde moet erken. Die slagoffers van apartheid het nodig om dit uit ons monde te hoor. Niemand het hiervoor verantwoordelikheid geneem nie en daarom is ons vasgevang. Om bloot op publieke figure te vertrou om hierdie proses te fasiliteer sou nooit genoeg kon wees nie. Niemand het ons aangemoedig om ons rol te speel om ware versoening mee te bring in ons daaglikse lewens en hoe ons met mekaar omgaan nie. En daarom is ons steeds so ver van ware transformasie af.

Maar vir hoe lank kan ons ons ouers se generasie kwalik neem voordat ons sake in eie hande begin neem? Kan ons verantwoordelikheid neem vir die aksies van die generasie voor ons en wat hulle verteenwoordig het en steeds verteenwoordig in Suid-Afrika vandag? Is die neem van verantwoordelikheid ’n skuldbelydenis? Ek dink nie so nie. Ek dink dis die neem van verantwoordelikheid. Dit ontbreek in ons samelewing en ons het die geleentheid om in te tree.

“As ons kan besef dat die neem van verantwoordelikheid nie beteken ons neem ’n posisie van selfhaat en skuld in nie, maar eerder een van versoening, hoe sal ons daaglikse lewe dan lyk?”

Ek gebruik graag die analogie van ’n vriend wie se ouer gesterf het. Die mees natuurlike ding om te doen is om te empatiseer, om saam te voel met hom of haar en om te erken dat dit seer en onregverdig is. Die vriend voel nie skielik of die seer verdwyn het nie, maar voel wel gehoor en waardeer. Hoekom voel hierdie aksie vir ons so onmoontlik oor rasselyne en rakende ons onderdrukkende geskiedenis? Hoekom is dit so moeilik vir ons om openlik te erken dat ons geskiedenis belaai is met misdade teen die mensdom en dat dit nie oukei was nie?

Hoekom sukkel ons om te erken dat ons ouers se ondersteuning van die apartheidregering beteken dat hulle steeds tot ’n mate onderdrukking in Suid-Afrika verteenwoordig vandag? Juis omdat hulle die apartheidregering aan bewind gehou het en nie die vermoë gehad het om verantwoordelikheid te neem vir die verandering wat nodig was nie. As ons kan besef dat die neem van verantwoordelikheid nie beteken ons neem ’n posisie van selfhaat en skuld in nie, maar eerder een van versoening, hoe sal ons daaglikse lewe dan lyk?

As ons werklik hieroor begin dink, en daarmee saam aktiewe burgerskap beoefen, kan ons nie net die verantwoordelikheidsgaping vul nie, maar het ons aksies die potensiaal om uit te vloei in versoening in Suid-Afrika en om ’n betekenisvolle invloed op transformasie te hê. Wat ek daarmee bedoel, is nie die tick-box-transformasie waaraan ons gewoond geraak het nie, maar transformasie van ons denke oor onsself en mekaar. Slegs dan kan ons as Suid-Afrikaners vorentoe beweeg.

Lees meer oor witwees

Assemblage-teorie, affek en witwees. ’n Alternatiewe blik op die werking van witwees

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

La politique Boer: Die sirkels van Afrikaner-introspeksie

Die mentaliteit van die verslaandes

The volksmoeder, ordentlikheid and whiteness

Sitting pretty: ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

Video: Stellenbosch-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee

LitNet Akademies Weerdink: Skottelbraai in Ghoema-land: die grense van Steve Hofmeyr se identiteitspolitiek

Lees ook

Kom ons hou kommissie met FW

Hoe Ramaphosa se 2020-staatsrede in ’n "strafrede" ontaard het

Is djy vesin in djou kop, FW?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top