.......
“Dan is daar die kwessie van sy eie aandadigheid.”
.......
As jy twyfel of apartheid ’n misdaad teen die mensheid is, gaan kyk na ’n video van die EFF se ontwrigting van die presidensiële staatsrede op 13 Februarie. Daarop lyk FW de Klerk en sy vrou Elita so skuldig as wat kan kom, asof hulle op heterdaad betrap is met iets (wat kan dit tog wees?), die lewende cliché van die haas verlam in die polisiebakkie se kopligte.
Ek is nie ’n aanhanger van kritiese rasteorie nie, maar FW en Elita lyk soos “called out” slagoffers van die rassismewagters. En jou wraggies, daar volg die white fragility en die white tears ’n paar dae later toe die FW de Klerk-stigting kla omdat die EFF vir De Klerk-hulle geboelie het. Siestog, waarom het FW nie opgestaan en uitgestap toe dit so erg raak nie?

FW de Klerk in 1990 (Foto: Walter Rutishauser [CC BY-SA], via Wikimedia Commons)
’n Rapport-opskrif die naweek het gevra of Malema uiteindelik genoeg tou gekry het om homself op te hang. Dis eerder FW wat nog net die troontjie onder homself moet uitskop. Sy stigting se verklaring oor apartheid was patetiese spin, ’n klassieke geval van jouself van die wal in die sloot help. Verbeel jou, Sowjet-Rusland was verantwoordelik vir die mosie by die VN om apartheid tot ’n misdaad te verklaar. Was die totale aanslag nie PW Botha se trom om te slaan nie?
Ek reken FW se stigting het hiermee ’n paar duisend stemme vir die rooi barette gewerf en sommer ook die veldtog teen onteiening sonder vergoeding ’n jaar of wat teruggesit.
Ek het elders geskryf apartheid is ’n portmanteauwoord wat so dikwels al gebruik is om enigiets van plaaslike tale tot aardverwarming sleg te sê dat dit betekenis begin verloor. As ’n geskiedkundige verskynsel, veral as jy jou etiket om die laaste 400 jaar wil hang, moet jy dit in tydvakke verdeel wat eindig met die tuislande, wat iets gans anders is as xenofobiese maatreëls teen Khoisan-mense in 18de-eeuse Kaapse dorpe.
In Foucauldiaanse terme: Apartheid is ’n dispositif, ’n lenshoek om na ’n toneel te kyk en alle feite van ’n saak hiertoe te reduseer. FW se stigting is reg dat een van die gebruike van die woord is om hedendaagse blankes weer as ’n ras te probeer groepeer vir wie spesiale beleide moet geld.
.......
“Dit is ook waar dat De Klerk sy Nobelprys verdien het, maar met sy stigting se ontkenningsindroom plaas hy homself in dieselfde kategorie as Aung San Suu Kyi, die Nobelpryswenner en Birmaanse president wat haar magte se optrede in die etniese suiwering van die Rohinga probeer goedpraat.”
.......
Dit is veel meer korrek, en nuttiger, om apartheid as ’n uitloper van kolonialisme te sien, en spesifiek as ’n postkolonie, om die term van Achille Mbembe te gebruik. Dit verklaar die post-1948 oorwinning deur die Nasionale Party as die eerste geval van uhuru, gepaardgaande met die tipiese vergrype van die postkolonie. Net soos in Ghana of Zimbabwe is onafhanklikheid 13 jaar later gebruik om ’n tegnies onwettige regering in die kussings te hou, met drakoniese maatreëls soos die verbanning van teenstanders, carte blanche aan die polisie en die weermag wanneer dit nodig geag is om te moor en te martel. Alles is net beter aangeteken en opgeskryf en ’n bietjie doeltreffender toegepas.
Soos elders in Afrika, was dit die Boere se tyd om te eet, en het die volk nie lekker vet geword nie. Vergeet van die Zuptas – hulle was amateurs wat hulle laat vang het; die korrupsie van die tuislande was veel erger en het moguls en gebruike geskep waarop die Zuptas en die oorblywende warlords met hul tuislandbasisse kon bou.
Dit is ook waar dat De Klerk sy Nobelprys verdien het, maar met sy stigting se ontkenningsindroom plaas hy homself in dieselfde kategorie as Aung San Suu Kyi, die Nobelpryswenner en Birmaanse president wat haar magte se optrede in die etniese suiwering van die Rohinga probeer goedpraat. FW het “Damaskuservaring” ’n huishoudelike woord gemaak, maar met sy stigting se optrede skaal hy duisende Afrikaanse mense se wroeging met hul eie moontlike aandadigheid en met hul gebrekkige insig in swart mense se lyding af tot skynheiligheid. En hy vervals daarmee sy eie nalatenskap tot dié van ’n blote agterplaaspolitikus en nie die staatsman wat hy kon gewees het nie.
Dan is daar die kwessie van sy eie aandadigheid. Ook die EFF se voorstel dat FW se betrokkenheid by die vergrype van apartheidsregerings ondersoek word, is nuttig, en een wat De Klerk en sy stigting self behoort te verwelkom. De Klerk het hom tot die howe gewend om sekere bevindings van die Waarheidskommissie uit sy finale verslag te skrap. Dit beteken die saak is nog onopgelos – en kan ’n kommissie mos dan uitsluitsel vir ons gee.
Ek sou byvoorbeeld wou weet wat presies gebeur het met ’n voorval waarby ek so half persoonlik betrokke was, en wat een van die fondamente van my roman Chaos (Of op soek na Superman) geword het.
Deel van die boek is ’n onderhoud wat ek met my broer, Francois Pienaar, gevoer het in 1990 rond. Hy was toe ’n misdaadverslaggewer by Beeld en is elke dag die brandende townships ingestuur omdat die redaksie die opstande as misdaad en nie politiek gesien het nie (die politieke redakteur was Tim du Plessis). Francois was ’n ooggetuie toe ’n eenheid van die polisie op hul Casspirs sit en sonder om ’n vinger te lig toekyk hoe Inkatha-vegters Phola Park binnegaan en ’n stuk of vyf mense doodskiet.
Francois het ’n verklaring gaan aflê by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wat ’n lywige verslag oor die magte se aandadigheid aan die sogenaamde swart-op-swart geweld aan FW oorhandig het. De Klerk se manne het laasweek gesê hierdie geweld het meer slagoffers geëis as die gehele duur van apartheid. Daar was groot ontsteltenis in die regering oor Francois se verklaring en die storie wat hy gehoor het, is dat Adriaan Vlok, die minister van polisie, op Ton Vosloo gespring het, wat weer op die redaksie gespring het.
Francois was op daardie stadium ’n soort held onder die joernalistekorps van Johannesburg. Hy en ’n Sapa-fotograaf het aanskou hoe ’n groep comrades ’n halssnoermoord probeer pleeg. Hulle het uit hul motor gespring en die vlamme probeer doodslaan, terwyl die jongelinge om hulle staan en jil. ’n Ambulans het die man hospitaal toe geneem, waar hy later dood is.
Beeld het die maksimum uit Francois se heldhaftigheid gepers en stories gedra oor sy reddingsdaadpoging. Dit het die voorblad van die Telegraph in Brittanje gehaal. Vosloo, toe Nasionale Media se hoof, het hom persoonlik geprys en nuusredakteur Philip de Bruyn het ewe veel oorgeloop van lof. Daar is aan hom vertel hy gaan vir die Wolraad Woltemadeprys genomineer word, die destydse toekenning vir dapperheid.
Maar na die ingrype deur Vlok via Vosloo – so het die riemtelegram dit gehad, volgens Francois – was dit handomkeer. Francois is aangesê om saam met assistentredakteur Piet Gouws die polisie te gaan spreek. Dié het hom vrae gevra soos nou hoe het ’n Boerseun soos hy in so ’n situasie beland? Almal se houding, ook by die meeste redakteurs van Beeld, was dat hy dit aan die redakteur, Salie de Swardt, moes rapporteer het, waarna die saak agter die skerms opgeneem kon word. Francois is toe ook nooit vir die Woltemadetoekenning genomineer nie.
Francois moes ’n tweede verslag en uiteindelik ’n derde verslag opstel vir die polisie, maar hul vrae en die feit dat die finale verslag aan hom gedikteer is, het hom laat besluit hulle wil die saak probeer toesmeer en hy het daarom geweier om dit te laat beëdig.
Uiteindelik het Vlok verklaar dat al die sake ondersoek is – Francois s’n het nie verder gevorder nie en die fotograaf saam met hom daardie dag is nie eens ondervra nie – maar dat daar nie enige bewyse van aandadigheid deur die magte was nie. Dit het gelei tot een van die seminale oomblikke van die Kodesa-onderhandlinge, toe Nelson Mandela in woede uitgebars en die ANC aan die proses onttrek het.
Dit is net een klein voorval, en my boek, synde ’n kreatiewe werk, bevat nie enige weerwoord deur enige van die mense hier bo genoem nie. In ’n poging om die klimaat van sensuur en De Klerk se redigerings in die finale verslag te satiriseer, het ek al die name in die onderhoud met ritse simbooltjies vervang. Heel waarskynlik sal die mense hier bo genoem met ander perspektiewe op die saak kom.
.......
“Ek reken FW se stigting het hiermee ’n paar duisend stemme vir die rooi barette gewerf en sommer ook die veldtog teen onteiening sonder vergoeding ’n jaar of wat teruggesit.”
......
Ten slotte, enkele paragrawe uit ’n ander satiriese stuk uit Chaos, met die titel “Die Engel”.
Een oggend, pas nadat die middernagtelike sekondes hulself onderstebo getik het, skrik Frederik Willem de Klerk met ’n ruk wakker. Daar is iets verkeerd met sy rug, hy kan nie meer behoorlik lê nie. Deur die slaap steek hy sy hand uit om sy vrou se kussing nader te trek en onder sy kop te sit, maar haar arm is daarom geklem.
Hy sit regop. Ondraaglike pyne skiet deur sy lyf. Wat gebeur, dink hy verwilderd. Ek sterf. Hy steier uit sy bed. Marike ... tog nie nou, nie op hierdie oomblik nie? Sy hand klem aan sy bors, sy hart ...
Maar dis nie sy hart nie. Nou wawyd wakker besef hy skielik dat die pyne in sy skouers sit. Longontsteking? Vervloekte Kaapse weer. Maar dis meer in sy beendere, dis binne-in. Hy voel-voel na sy rug. Skrik wanneer hy sien daar’s bloed aan sy vingers.
Hy strompel na die badkamer. Die lig verblind hom, en wanneer hy sy oë oopmaak om na die spieël te kyk, deins hy onwillekeurig terug. Vere ... die reuk van duiwe meng met die suurlemoengeur uit die badkassie. Hy swaai om, hy kan die vere teen die plastiekgordyne van die storthokkie hoor woeeeisj.
Ek moet droom, dink hy. Hy tas agter hom rond. Dis onmiskenbaar, sy vingers teen die gladde vlerke af. Daar is geen gevoel daarin nie. Sidderend kyk hy weer na die spieël. Marike!!! gil hy. Nee, nee. Hy maak die badkamerdeur toe, sluit dit. Dis beter dat sy nie sien nie.
.......
“Met sy stigting se optrede skaal hy duisende Afrikaanse mense se wroeging met hul eie moontlike aandadigheid en met hul gebrekkige insig in swart mense se lyding af tot skynheiligheid. En hy vervals daarmee sy eie nalatenskap tot dié van ’n blote agterplaaspolitikus en nie die staatsman wat hy kon gewees het nie.”
.......
Kol Van Wyk ... nee, hy is die laaste persoon om te roep.
Die kans is goed dat hy summier sy pistool sal uitpluk.
Maar dis te laat. Die handvatsel begin reeds wikkel soos Marike daaraan druk en draai. Hy kan hoor hoe sy na sekuriteit roep. Amper onwillekeurig maak hy die venster oop, gaan staan op die vensterlys. ’n Mens het nie eens tyd om te dink nie, gaan dit deur sy kop.
Agter hom begin iemand teen die deur stamp. Hy gaan sit paniekerig op die vensterbank, wil afspring, maar dan onthou hy van die wagte. Wat sal hulle doen as hulle hom sien? Sal hulle nie ook sommer skiet nie? Sal dit werk as hy roep: Stop, stop, dis julle Staatspresident, julle departementshoof. Hoe sê ’n mens, presenteer geweer!
Die deur spring oop. Oor sy skouer sien hy hoe kol Van Wyk pistool in die hand oor sy eie voete val en op die badkamermatjie teen die wasbak se voetstuk vasgly. Hy sien die skok in sy oë. Op daardie oomblik voel hy hoe hy homself skuins die lug inwerp. Ewe refleksiewelik laat sy menslike deel hom ’n hand uitsteek en na die geutpyp langs die venster gryp.
Hy gly af, terwyl sy vlerke soos ’n bakleiende eend s’n in die dammetjie in Westbrooke se tuin fladder. Hy trap-trap in die blombedding, vaagweg bewus van klappende voetstappe en skreeue. Dan voel hy homself die lug in opstyg. Sy vlerke maak ’n helse geraas ...
Hy verdwyn oor die geut van die dak net wanneer ’n paar troepe om die hoek gehardloop kom. Hy is nie eens uitasem nie, maar sy hart klop woes. Hy moet eers rus, netnou kry hy regtig ’n hartaanval. Hy lê plat teen die teëldak en luister hoe kol Van Wyk instruksies gee aan die troepe wat onder rondhardloop.
“Los die dak. Hy is dié kant toe,” skree die kolonel. Verbeel hy hom of skreeu hy ekstra hard, sodat iemand wat wel op die dak is, kan hoor? Indien wel, waarom? Dat ’n mens nou in hierdie tye aan sulke mense uitgelewer moet wees.
Hy kyk op na die sterre. Nou kan hy tot verhaal kom. Lank, vyftien, twintig minute lê hy so. Hy is te bang om te roer, te bang hy foeter af. Hy voel alreeds topswaar. Hy luister hoe troepe rondhardloop, offisiere bevele skree. Hy hoor Marike se stem onder by die venster.
.......
“Ek is nie ’n aanhanger van kritiese rasteorie nie, maar FW en Elita lyk soos ‘called out’ slagoffers van die rassismewagters. En jou wraggies, daar volg die white fragility en die white tears ’n paar dae later toe die FW de Klerk-stigting kla omdat die EFF vir De Klerk-hulle geboelie het.”
.......
Maar dan, nadat al die voetstappe bedaar het, en die troepe in ’n paar vragmotors gespring het, nadat hy gewoond geraak het aan die ligte wat die lowerryke tuin in ’n mistige waas omtower, tref dit hom skielik weer. Dis net te veel vir een mens om te vat. Dis eintlik bomenslik.
Pas ’n paar uur tevore het hy die ontperking van die ANC en die kommuniste aangekondig, en Oom Nelson vrygelaat, wat tog al verstommend genoeg is, en hier het hy skielik met die wispelturighede van sy eie liggaam te doene.
Hy sien iets beweeg. Dis ’n satelliet. Hoe klein is dit nie. ’n Vreemde gloed styg in hom op, en daarby ’n hunkering na die swart lug daarbo, ’n ... nostalgie, kom die woord by hom op. Dit voel of hy in harmonie met die satelliete is. Na alles is dit staatsmanne soos hy wat die nuus-satelliete aan die gang hou, hulle gelukkig maak.
Hy kon hom verbeel hy hoor sy woorde oor die aarde sing, deur die ondersese en ondergrondse kabels, bonsend van satellietskottels af, woorde wat die TV-spanne in die vroegmôre-ateljees betower, wat mense oor die rande van hul koppies koffie na die TV laat loer, en sê: O, Oh, A, Fmm, mmm, in tientalle, nee honderde tale.
Satelliete duiselig van my woorde.
.......
“Sy stigting se verklaring oor apartheid was patetiese spin, ’n klassieke geval van jouself van die wal in die sloot help. Verbeel jou, Sowjet-Rusland was verantwoordelik vir die mosie by die VN om apartheid tot ’n misdaad te verklaar.”
.......
Dit was vreemd, maar naderhand het daar ’n diepe vredigheid oor hom gedaal terwyl hy na die sterre lê en staar. Hy kon net met moeite sy aandag weer bepaal by die praktiese detail van die krisis wat onder hom woed.
Hy het oor die dak gekruip en met lomp fladderende vlerke by sy studeerkamer se venster ingeklim. Hy het eers agter die gordyn gestaan en gewonder wat om te doen, toe hy skielik iets ervaar soos wanneer ’n vliegtuig ’n lugleegte tref, ’n half stygende gevoel. Hy het onwillekeurig na agter getas, en ... ontdek dat sy vlerke weer weg was.
En so het FW de Klerk, die dag nadat hy die vrylating van Nelson Mandela en die ontbanning van die ANC en die SA Kommunistiese Party aangekondig het, ’n engel geword.
Niemand het natuurlik daarvan geweet nie, maar al het hulle, sou dit onmiddellik hul goedkeuring weggedra het.
Kommentaar
Hoe kon hy dit sê? Ek was so skaam en teleurgesteld. Sy uitspraak het baie van ons wit slagoffers van apartheid se eerlike pogings om anders teenoor die slagoffers van apartheid op te tree, vernietig.
Tot op hede is slegs enkele individue aangekla weens oortreding van ‘misdade teen die mensdom’. (The ICC is the "court of last resort," and came into force on July 1, 2002. The court tries four types of crimes: genocide, crimes against humanity, crimes of aggression and war crimes.)
Meer oor misdade teen die mensdom:
1. Crimes against humanity have not yet been codified in a dedicated treaty of international law, unlike genocide and war crimes.
2. The Rome Statute is the document that reflects the latest consensus among the international community on this matter. It is also the treaty that offers the most extensive list of specific acts that may constitute the crime.
3. Crimes against humanity do not need to be linked to an armed conflict and can also occur in peacetime.
4. Article 7(2)(a) of the Rome Statute determines that crimes against humanity must be committed in furtherance of a State or organizational policy to commit an attack. The plan or policy does not need to be explicitly stipulated or formally adopted and can, therefore, be inferred from the totality of the circumstances.
(Is daar nie reeds ʼn prima facie saak teen Julias Malema en die EFF nie?)
5. In contrast with genocide, crimes against humanity do not need to target a specific group.
6. Another important distinction is that in the case of crimes against humanity, it is not necessary to prove that there is an overall specific intent.
Article 7 ‒ Crimes Against Humanity
1. For the purpose of this Statute, ‘crime against humanity’ means any of the following acts when committed as part of a widespread or systematic attack directed against any civilian population, with knowledge of the attack:
a. Murder;
b. Extermination;
c. Enslavement;
d. Deportation or forcible transfer of population;
e. Imprisonment or other severe deprivation of physical liberty in violation of fundamental rules of international law;
f. Torture;
g. Rape, sexual slavery, enforced prostitution, forced pregnancy, enforced sterilization, or any other form of sexual violence of comparable gravity;
h. Persecution against any identifiable group or collectivity on political, racial, national, ethnic, cultural, religious, gender as defined in paragraph 3, or other grounds that are universally recognized as impermissible under international law, in connection with any act referred to in this paragraph or any crime within the jurisdiction of the Court;
i. Enforced disappearance of persons;
j. The crime of apartheid;
k. Other inhumane acts of a similar character intentionally causing great suffering, or serious injury to body or to mental or physical health.
2. For the purpose of paragraph 1:
a. ‘Attack directed against any civilian population’ means a course of conduct involving the multiple commission of acts referred to in paragraph 1 against any civilian population, pursuant to or in furtherance of a State or organizational policy to commit such attack.
(https://www.un.org/en/genocideprevention/crimes-against-humanity.shtml)
Die mossie onder die arende is duidelik: “The crime of apartheid”. Só onherkenbaar staan hy tussen die ander vanselfsprekende oortredings dat “crime” die woord byna moet voorafgaan. My HAT definieer apartheid as: “1. toestand van afgeskei/afgesonder wees 2. amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering waarvolgens Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei is.” Dit sou daarom ʼn redelike sprong wees na 3. “misdryf teen die mensdom”. Rassisme (HAT): “veronderstelling/oortuiging dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras/velkleur; denkrigting wat aanneem dat ʼn besondere ras/bevolkingsgroep meerderwaardig is en die reg het om ander rasse/groepe te oorheers.”
Rassisme, net soos seksisme (dink North Country met Charlize Theron), ís verkeerd, maar hoe apartheid die sprong gemaak het tot in die VN se wetboeke laat my kopkrap.
Litnet-lojaliste sal weet ek lees steeds aan Christopher Wylie se Mindf*ck (p. 124): “While ‘typical Democrats’ talk a good game when it comes to supporting racial minorities, Bannon detected an underlying paternalism that betrayed their professed wokeness. The party, he felt, was full of ‘limousine liberals’ ‒ a term coined in the New York mayoral race of 1969 and instantly seized on by populists to denigrate do-gooder Democrats. These were the white Democrats who supported school busing but sent their own kids to majority-white private schools, or who professed to care about the white inner city but lived in gated communities. ‘The Dems always treat blacks like children,’ Bannon said on one call. ‘They put them in projects … give them welfare … affirmative action … send white kids to hand out food in Africa. But Dems are always afraid to ask the question: Why do these people need so much babysitting?’
…
“In our research, we saw that white fragility prevented people from confronting their latent prejudices. This cognitive dissonance also meant that subjects would often amplify their responses expressing positive statements towards minorities in an effort to satiate their self-concept of ‘not being racist’.”
As kinders op die plaas het twee broers, ek en my ouer broer se ouderdom, eendag kom kuier. Ek en my vriend is die veld in om ʼn hoogs geheime skuiling op te rig ‒ ʼn konstruksie wat niemand ooit sou kon opspoor nie. Ons was nie lank besig nie toe my broer en sy vriend opdaag en ons uitlag. Ek het hom enkele woorde toegesnou en hy moes noodgedwonge ʼn waarskuwingskoot afvuur om my onder bedwang te bring. Met ʼn windbuks. In die voet. Deur daai skoen se tong wat destyds k-tekkies gedoop is. Tydens die blitsige noodoperasie kon ek die paniek in sy oë sien. Ek het voorgestel dat hy voortaan al die plaashekke oop-en-toemaak, indien hy ʼn helse loesing wil vryspring. Die reëling het ʼn rukkie lank vrugte afgewerp, tot hy besef het ek gaan sy skuldgevoel (en vrees) tot in ewigheid bloots ry. Hy het halsstarrig geraak en ek het gedreig om die storie op die lappe te bring as hy nie langer die hekke beman nie, maar ons albei het geweet hy het sy tyd uitgedien ‒ van hier af word albei van ons gemoer.
Die eintlike vraag is: Wanneer sak die son oor hierdie apartheidkruk?