La politique Boer: Die sirkels van Afrikaner-introspeksie

  • 4

.......

“Die hedendaagse ‘Boerepolitiek’ het dalk groter variasie, maar dit draai hoofsaaklik om die spil van introspeksie en eiebelang, eerder as ’n uitwaartse fokus op hoe ons met ander Suid-Afrikaners op grondvlak kan saamwerk en saam bou.”

.......

So ’n week of wat gelede bied die SAAWK ’n simposium aan met die tema “Die Afrikaner onder druk, 1902–2020”. Die tema het verskeie vername sprekers gehad, onder andere Waldemar Pelser van Rapport en Johan du Toit, getuienisleier vir die destydse Goldstone-kommissie.

Soos gewoonlik, wanneer daar oor Afrikaners en hul onlangse geskiedenis in die openbaar gepraat word, sit mense met gespitste ore en wag vir daardie gewraakte woorde oor Afrikaners en hul apartheid-skuldlas.

Ek het fyn gelees oor wanneer dieselfde verskynsel nou ook by die SAAWK se simposium gaan opduik: Die oomblik wanneer ’n welsprekende kommentator of geleerde Afrikaner die kwessie van skuld, genoegdoening en verantwoordelikheid vir apartheid durf opper, spring Afrikaners uit die blokke om aan te dring dat daar tog nou oor dié ontsteekte gesprekspunt aanbeweeg moet word. ’n Ander bekende refrein is die persoonlike verontskuldiging: “Ek, en veral my kinders, het geen aandeel in apartheid gehad nie.” Sommige sal die misdadigheid van apartheid selfs geheel ontken.

Ek twyfel sterk of ’n mens ’n betroubare steekproef van Afrikaners se gemeenskapsgevoel kan doen deur slegs mediawebtuistes se kommentaarblokke na te gaan, maar verskeie variasies van bogenoemde reaksies was op Netwerk24 en Rapport se weergawes van die simposium te sien. Waar kommentators die verantwoordelikheidsin van Afrikaners oor apartheid durf bespreek, raak mense ergerlik.

Azille Coetzee, ’n Matie-kollega (hoewel ek haar nie persoonlik ken nie), het al in die onlangse verlede oor die begrip “wit broosheid” geskryf as ’n sosiologies-filosofiese ontleding van wit mense se skrikreaksies wanneer wit rassisme aangeraak word. Oor Afrikaanse introspeksie is daar oor die algemeen ’n sekere wanbegrip of ’n totale afwesigheid, afhangende van met wie jy gesels. Karl Kemp vertel in sy uitstekende besinning oor die Spoegwolf-verskynsel in Vrye Weekblad van die skynbare maatskaplik-politieke afkeer daarvan dat Afrikaners enigsins introspeksie doen: 

Vandag word Afrikaners nie meer toegelaat om introspektief te wees nie. As ons is, moet ons kritiseer, of onsself verwyt, haat of verneder. Tree terug, bly stil, geniet die voorregte van apartheid en vrek of trek net so gou moontlik.

Dit is ’n sentiment wat ook deurskemer in die verhouding tussen die karakters Thuli Khumalo en Ian Brand in Etienne van Heerden se pasverskene Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019): Brand probeer gereeld die Afrikaners se plek as onderdrukte onderdrukkers uitpak, terwyl Thuli telkens (hoofsaaklik deur lyftaal) aandui dat sy, ’n bedrywige #Rhodes- en #FeesMustFall-aktivis, nie juis tyd het vir selfverklarende, veelpratende en selfkritiese wit Afrikanermans nie.

“Nou wat dan?” is die redelike vraag wat verskeie Afrikaners hulself afvra. Is ons vir ewig in hierdie Kafka-agtige, absurde nagmerrie vasgevang waarvolgens die verlede se misdadigheid soos ’n skaduwee van agter sinkhuise, oor oorbeweide tuislandvelde en deur die oë van radikale politici gaan deurslaan, selfs al staan ons eendag ’n aantal generasies en oulike Madiba-stories verwyder van ons verlede af?

Afrikanerdenkers en -kommentators vra gereeld vir introspeksie, maar verskil oor die aard daarvan. Party is voorstanders van ’n soort selfkastyding, ander van selfbejammering, en nog ander versoek ’n mengsel van die twee.

.......

“Is ons vir ewig in hierdie Kafka-agtige, absurde nagmerrie vasgevang waarvolgens die verlede se misdadigheid soos ’n skaduwee van agter sinkhuise, oor oorbeweide tuislandvelde en deur die oë van radikale politici gaan deurslaan, selfs al staan ons eendag ’n aantal generasies en oulike Madiba-stories verwyder van ons verlede af?”

.......

Ek is egter nie so seker of hierdie debatte oor introspeksie regtig nuttig is nie.

Afrikaners is al ten minste sedert die dae van Voëlvry, as ’n mens so ’n duidelike punt op ’n tydlyn kan aanstip, bevoorreg om interne debat, tweestryd en bevraagtekening van bestaande sosiopolitieke norme te kon deel. As ’n mens musiektendense alleen volg, kan jy die Voëlvry-, Fokofpolisiekar- en uiteindelik Spoegwolf-eras as aanduidende sosiokulturele oomblikke in Afrikaners se onlangse geskiedenis verstaan (ek sal weldra hieroor ’n gefokuste rubriek skryf) waartydens Afrikaners hulself in hul binnekamer gaan toetrek het om kwessies soos die kerk, kleur en kapitalisme kaalvuis te pak. Hierdie introspektiewe handelinge gaan steeds hul gang. Jy lees en hoor en neem waarskynlik daagliks daaraan deel.

Gevolglik is ek baie skepties oor die idee dat Afrikaners moet “begin” introspeksie voer. Ons het lankal reeds die voorreg om ons nie dood te bekommer oor ’n werk, ’n woning, kos en klere nie en het sodoende baie tyd gehad om te stry, te baklei en te beken oor onsself en ons verlede. Die sikliese gepraat oor onsself deur onsself draai al vir jare op die platespeler, om en om.

En ons genesis is een wat hoofsaaklik ’n Buysagtige, introspektiewe laertrekkery was wat ingepas het by die brutale oorlewinggedrewe menseverhoudings van die tyd. Afrikaners het dus ’n oeroue geskiedenis van introspeksie en oorgelatenheid aan hulself. In hierdie verband sou ek lesers aanbeveel om een van die oudste buite-Afrikaner-besinnings oor hul eie mense nader te trek, te wete die Fransman Yves Guyot se klassieke werk uit die jaar 1900, La Politique Boer (na Engels vertaal as “Boer politics”). Guyot skryf sy stuk polemiek tydens die Anglo-Boereoorlog as ’n manier om te probeer sin maak van die oorlog as ’n kritieke oomblik in die jare lange negatiewe verhoudinge tussen Afrikaners en die Britse Ryk. Guyot verwys na ’n aanhaling wat hierdie afgesonderde etniese groepering as ’n geharde, eiesinnige en wilde klomp beskryf:

Abstaining from all manual labour, they devote themselves to their properties, sometimes as much as 5000 to 6000 acres in extent, and to the breeding of cattle and horses. Beyond this, their object in life is hunting lion and big game. The Boer is essentially a man of war and politics.

Boere-guerrillas gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902)

Inderwaarheid word die Afrikaners nie as idilliese kleinboere in ’n ongerepte landskap beskou nie, maar eerder soos die perdevolke van die Asiatiese steppe, “always mounted, always armed ... The Boers represent that form of warlike and political civilisation in which production is indirect, and obtained by utilising the labour of others."

Guyot se prosaïese werk is dalk in die oordrewe, uitspattige en vetterige idioom van die Europese koloniale era, maar daar steek skerp waarneming in oor die Afrikaners se vorming tot ’n bevolkingsgroep in ’n hoogs hiërargiese en oorwinnaargedrewe samelewing. Die aanvanklike Afrikaanse sosiopolitieke kultuur is dus een wat staatgemaak het op ’n oorlewingstryd en ’n politieke realisme jeens die ander etnies-politiese entiteite van geografiese Suid-Afrika.

Hierdie wen-of-sterf-benadering het aan die een kant ’n kragtige organisatoriese standaard van deursettingsvermoë, gemeenskaplikheid, selfverryking en selfbemagtiging opgelewer wat vandag nog waardevol is, maar dit het een goue eienskap wat noodsaaklik is vir ’n suksesvolle saambestaan in ’n grondwetlike demokrasie nie gebied nie, en dit is die vermoë om met die Ander saam te werk om gedeelde sosiopolitieke doelwitte te bereik.

Die hedendaagse “Boerepolitiek” het dalk groter variasie, maar dit draai hoofsaaklik om die spil van introspeksie en eiebelang, eerder as ’n uitwaartse fokus op hoe ons met ander Suid-Afrikaners op grondvlak kan saamwerk en saam bou.

.......

“Op die Afrikaner- politieke spektrum het jy aan die een kant (rofweg gesproke) ’n groepering wat genuanseerd, selfondersoekend en krities omgaan met politieke kwessies, maar nie veel prakties uitrig nie ... Aan die ander kant het jy ’n verskynsel wat nie genuanseerd, krities of weldeurdag herbesin oor politieke vraagstukke nie, maar skouer aan die wiel sit...”

.......

Op die Afrikaner- politieke spektrum het jy aan die een kant (rofweg gesproke) ’n groepering wat genuanseerd, selfondersoekend en krities omgaan met politieke kwessies, maar nie veel prakties uitrig nie. Ek praat hier van “denkende niksdoen”. Aan die ander kant het jy ’n verskynsel wat nie genuanseerd, krities of weldeurdag herbesin oor politieke vraagstukke nie, maar skouer aan die wiel sit, of dan “doenende niksdink”.

’n Sameflansing van hierdie twee politieke posisies se sterkpunte kan juis ’n opbouende breuk met die verlede meebring.

Polities is dit eties en verantwoordelik om soos die Duitsers na afloop van die Nazi-Jodemoord eerlik te wees oor die gevaar van ongebreidelde eiewaan oor ons herkoms en oor die skade wat die ouer Afrikanerstrategie van oorwin-of-sterf aan ons medemense aangerig het. Een wat die apartheidsverlede as ’n duur fout erken wat ons medemense fisiek seergemaak, materieel verarm en sielkundig geknou het.

Dit help nie om jouself onbeskikbaar te stel om selfs jou beskeie deel te doen om die gevolge van ons voorouers se foute ten minste te probeer versag nie. Ons kan tog nie op groepsamehorigheid aandring vir kultuurfeeste en moedertaalonderrig terwyl ons skielik en skisofrenies in ongebonde, onskuldige individue verander wanneer afrekening met ’n apartheidsverlede ter sprake kom nie.

Maar aan die ander kant is denkende niksdoenery een van die grootste ondermyners van Afrikaners se grootse geleentheid om Suid-Afrika na ’n beter toekoms te help stuur. Afrikanermense is geneig om hul betrokkenheid by die gemeenskap tot briesende kommentaarplatforms, ope skelbriewe en kontroversiële besinnings te beperk. Wanneer besorgde Afrikaners (selfs al het sommige ’n reputasie as doenende niksdinkers) planne bekendstel vir ’n universiteit wat Afrikaans as akademiese voertaal gebruik, is mense dadelik selfkastydend negatief, en ander gee luide applous, maar moedig hul kinders aan om in Engels te studeer en oorsee heen te vlug. Nog ander skryf radikale, baldadige en kragtige skrywes oor die belangrikheid van inklusiwiteit, die erkenning van wit bevoorregting en hoe onprakties volgehoue Afrikaanse onderrig op openbare universiteite is, maar bied geen oplossings of antwoorde oor waar die nuwe generasie Afrikaanskundige joernaliste, onderwysers, skrywers, prosaïste, filosowe en geskiedkundiges vandaan gaan kom nie.

Ten slotte dink ek regtig dat daar al genoeg fokus op introspeksie geplaas is, en dat Afrikaners inderwaarheid boeke vol geskiedenis, besinnings en wyshede tot hul beskikking het om te weet dat ons moet aanbeweeg van ’n oorwinnaarskultuur na ’n samewerkingskultuur. ’n Kultuur wat nie “denkend niks doen” óf “doenend niks dink” nie, maar wat versigtig dink én hande vuilmaak in hierdie land en sy twisgrond. Sodoende word niemand se sterkpunte met die badwater uitgesmyt of geminag nie.

.......

“Ons kan tog nie op groepsamehorigheid aandring vir kultuurfeeste en moedertaalonderrig terwyl ons skielik en skisofrenies in ongebonde, onskuldige individue verander wanneer afrekening met ’n apartheidsverlede ter sprake kom nie.”

.......

Samewerkingskultuur behels beslis ook nie dat jy gedienstig, soos in oorwinnaarskulture verwag word, voor elke politikus en sy gatlakei wat jou onredelik slegsê oor jy ’n Afrikaner is, buig nie. Dit behels eerder ’n selfvoldane fermheid, maar met ’n liefde vir opbouende samewerking. ’n Weerstand op morele hoë grond.

Hierdie evolusie van identiteit is nie net moontlik nie, dit is noodsaaklik: Identiteit en gepaardgaande kultuur is iets wat in fluks is, wat dinamies aanpas en heeltyd in gesprek is met wat binne en buite aangaan; met wat was en wat is en wat kom. Hoe anders is daar iets soos geskiedenis?

Ons sien reeds belowende vorme daarvan in die optrede van samewerkers soos Betereinders, of diegene wat betrokke is by die daadwerklike opheffing van opkomende swart boere in hierdie tyd van onsekere grondhervormingspraatjies. Daar is waarskynlik soveel ander mense wat ek nie hier die eer gee nie, omdat hulle samewerkingspraktyke nie mediahooftrekke haal nie.

So, sit jou hoed op jou kop en gryp ’n graaf, wees bewus van wat om jou aangaan, wees krities oor jou omstandighede, en help jou landgenote om die plek vir ons almal billiker, regverdiger en gesonder te maak. Dan kan geen olierige politikus jou onderkry nie!

Lees meer oor wit bevoorregting en witwees in hierdie LitNet Akademies-artikel:

Assemblage-teorie, affek en witwees. ’n Alternatiewe blik op die werking van witwees

Lees ook:

Die mentaliteit van die verslaandes

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Apartheid word deesdae by voorkeur as misdadig voorgestel. Van diegene wat dit gepleeg het, word verwag dat hulle skuldig moet voel en oor en oor verskoning moet vra. Vir die "apartheidsregering" het dit om veel meer as apartheid gegaan. Die "apartheidsera" het baie voortreflike dinge ingesluit, soos Eskom wat betroubaar en ekonomies elektrisiteit verskaf het en die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat doeltreffend bedryf is. Wat 'n slaansak geword het, is die oordrewe negatiewe voorstelling van apartheid.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Yves Guyot se Boer politics (1900, 152p; Amazon Kindle 2012, $2,10) is inderdaad 'n buite-Afrikaner-besinning, maar een wat hoogs bevooroordeeld is. Guyot skaar hom in elke opsig aan die kant van die Britte. 'n Soortgelyke benadering is onlangs deur Chris Ash gevolg in sy boek, Kruger, kommandos & kak: Debunking the myths of the Boer War (2014, 560p; Amazon Kindle $20,12). Afrikaners en iedere ander etniese groep verdien om meer ewewigtig beoordeel te word.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Die Afrikaner het nog nooit opgehou introspeksie doen nie. Dis intrinsiek in sy psige omdat hy as minderheidsgroep voortdurend ’n stryd moet stry om sinvol te leef en dit wat vir hom belangrik is, in stand te kan hou. Sy handelinge het, en spruit steeds daaruit voort. Meeste van die tyd glo hy (die Afrikaner) vat hy raak, maar erken ook mistastings soos waar die menswaardigheid van individue aangetas is onder die stelsel van apartheid. Diegene wat dus steeds hoog opgee dat introspeksie ’n dringende prioriteit moet wees, is mostert na die maal... Die “Johnies come lately” wat die klok hoor lui het en nie weet waar die bell hang nie; diegene wat introspeksie met selfkastyding verwar.
    Deesdae (ook hier) is die refrein; “goed, maar reik uit en werk dan saam om dinge te laat slaag”. Goeie genugtig, die Afrikaner (en witmense in die algemeen) bied homself vir twee dekades aan om dinge te maak werk, maar dit word met ’n veeg van die hand gebaar in sy gesig teruggesmyt. Die resultaat is dat kosbare vaardighede en ondervinding verlore gaan en kyk hoe lyk Suid Afrika nou! Die regerende party en sy meeloper magsbasis is eerder doelbewus bereid dat die land ten gronde gaan as om goedbedoelde hulp te aanvaar wat tot voordeel van die land en al sy mense sal strek. Wat nog te sê om SELF van hulle (regeringskant) ’n hand van welwillendheid uit te steek! Samewerking kom van twee kante af. Soos hulle in die kolonialistiese taal sê: “It takes two to tango”.
    Natuurlik sal daar altyd diegene (bepleiters van introspeksie) wees wat hulle voordoen as die “gewete” van iets of iemand. Dis gewoonweg diegene wat sukkel om van ’n lastige soort skuldkompleks ontslae te raak. Dit was nog altyd so; die ekskuus-dat-ek-wit-is, ekskuus-dat-ek-lewe-mentaliteit. Die Afrikaner is kollektief (met uitsonderinge en soos die geval in enige ander groep) natuurlik in staat en bereid om te doen wat gedoen moet word. Daar is daagliks op TV, in nuusblaaie en tydskrifte voorbeelde van Afrikaners wat opheffings en hulpprogramme aanbied en ander groeperinge help om op hul voete te kom en ’n plek in die son te kry. Dis eintlik verstommend om al die projekte gade te slaan waarmee doodgewone Afrikaners doenig is. Dit kom voor in die landbou, onderwys (waar biblioteke opgerig of boeke geskenk word) tot by sosiaal-maatskaplike programme waar tehuise vir ongehude moeders, dwelmverslaafdes opgerig en bestuur word. Om nie eens te praat van die magdom programme in die vaardigheids-en-opleidings sektore nie. Dit, terwyl ons mense dit self ook nie aldag te breed het nie. Boonop word dit al hoe nodiger en dringender dat die Afrikaner hulp moet verleen aan sy eie mense omdat die regering en meerderheidsgroep(e) volstrek weier om Afrikaanses behulpsaam te wees. Natuurlik kan daar altyd meer gedoen word. Dis met enige-iets so. Tog dink ek dat wat die Afrikaner tans in vyandige omstandighede vermag en doen, buitengewoon en prysenswaardig is.
    En Frederik, wees in die toekoms dalk ’n bietjie meer versigtig met opmerkings soos: “Afrikanermense is geneig om hul betrokkenheid by die gemeenskap tot briesende kommentaarplatforms, ope skelbriewe en kontroversiële besinnings te beperk...” Hierdie soort gedrag van sommige Afrikaners waarna jy verwys is die gevolg van jarelange frustrasies en moedeloosheid. Verseker is die soort optredes nie goed te praat nie, maar weet ook dat dit dikwels gebruik word as ’n soort uitlaatklep vir ’n desperate, moedeloosheids-gevoel en dat dit uitsonderinge eerder as die reël is. Minstens word dinge nie afgebrand, verwoes en tot geweld oorgegaan nie. Of hoe? As Afrikaners leer ons elke dag maar ons ervaar dit as vernederend om te lees, of te hoor, dat ons nie “die nodige opvoeding gekry het toe daar van een era na ’n ander oorgeskakel is nie”. Ons het, en leiersfigure in Afrikanergeledere het voortdurend hieroor geskryf en gepraat of ons dit wou hoor, of nie. Oor tyd het die “pennie” wel “gedrop”. Ons mense ervaar dit dikwels net verskillend. Die wat ’n harder stryd stry om te oorleef is, soos dit maar oral die geval is, geneig om meer kru en kras te reageer.
    My gevoel is dat dit eerder ander groepe is wat onderrig (opvoeding soos dit gestel word), kortkom. Hulle het na 25 jaar nog steeds nie die sprong van protes-politiek tot party politiek binne ’n veelrassige demokrasie gemaak nie. Nog minder is daar ag geslaan dat die begrip mag gepaard gaan met sekere verpligtinge en verantwoordelikhede. Die gevolge om ons is duidelik sigbaar. Hoekom word nie meer aandag hieraan gegee nie? Is dit omdat ons nie betrokke wil raak nie of eerder omrede die etiket van “rassisme” dalk om ons nekke gehang sal word?
    In sy geheel het ek hierdie stuk interessant en insiggewend gevind en selfs ietsie by geleer. Ek vind die bydraes deur hierdie skrywer deurdag en goed gefundeerd en hoop om nog baie bydraes te lees. Ook die kritiek op onsself is nodig anders sal ons ophou groei. Solank die balans en perspektief waarbinne dinge geskied net reg is.

  • Ek kyk elke dag na teerpaaie wat vir 25 jaar nie onderhou is nie. Ek sukkel om ’n eenvoudige taak gedoen te kry deur ’n amptenaar van Telkom. Ek sit die telefoon neer omdat hy nooit beantwoord word nie. Ek wag by ’n verkeerslig wat al weer nie werk nie en daar is al weer geen amptenaar wat puntdiens doen nie. Ek luister oor die radio na nuus oor die Vaalrivier wat ’n rioolrivier geword het, na elke dag se nuus oor nog misdaad en afgryslike hantering van slagoffers, na nog ’n paar miljoen van belastinggeld wat bloot verdwyn het, na nog ’n herhaling van beloftes wat oor en oor gemaak word, na skrikwekkende wangedrag in die parlement deur mense wat veronderstel is om, onder andere, Afrikaners te lei na ’n “beter toekoms”. En ek het geen probleem met my eie identiteit of Afrikaneridentiteit of met my volk se geskiedenis nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top