Die mentaliteit van die verslaandes

  • 17

…..

“Kultuurskaamte en die mentaliteit van verslaandheid loop diep onder talle gemeenskappe in Suid-Afrika.”

…..

Die dialoog

Kort na Kersfees lê ek saam met Afrikaanssprekende familielede op die strand. Dis heerlik sonnig en ons strek soos geoliede klipakkedisse uit op die maat van daardie eeue oue ritueel om vitamien D-produksie aan te moedig. Koeitjies en kalfies en skinder en toe vermeld iemand al weer politiek: ’n Koerantafleweraar het ’n dagblad aan een van ons kom verkoop; dié bevat ’n berig wat vertel hoe die Vereniging vir Regslui in Afrikaans (VRA) suksesvol geagiteer het vir die behoud van die Afrikaanse eksamineringsopsie tydens die landswye Prokureursorde-eksamens.

“Het jy gesien, Frederik? Hulle het daai fait gewen. Dis wonderlik!”

Ek knik glimlaggend van onder my sondakkie (’n kopie van ’n Droë wit seisoen deur André Brink).

“Dis ook maar goed die VRA en daardie tipe organisasies doen iets vir Afrikaans, anders sal niemand nie ... selfs al skiet baie mense hulle af,” sug ’n ander en skuifel hulself gemakliker.

Toe mor een van my medesonsoekers, ook ’n toekomstige regsgeleerde, iets wat my so vervaard laat regop sit dat die seesand spat. Iets soos: “Ag, mense wat so aandring om in Afrikaans hulle prokureurseksamens te skryf kan ook maar sommer geskiet word.”

Het ek reg gehoor?

“Ekskuus?” vra ek met ’n ligte gluur. Ek kry nie ’n antwoord of ’n verduideliking nie.

…..

“Ons kan onsself verlos sonder om anti-Engels, antiwit of anti-Westers te wees.”

…..

So ek gaan voort: “Dis darem drasties om te sê? Ek meen, daar is tog niks minder werd aan Afrikaans dat dit nie as ’n eksamineringsmedium in ’n regseksamen gebruik kan word nie?”

Sy rol om. “Ag, die howe is buitendien Engels, wat help dit nou?”

Ek lig my wenkbroue.

“Dis nie die punt nie. Niks aan Afrikaans is inherent minderwaardig teenoor Engelstaligheid nie. Die Engelstalige oorheersing in die land is weens ’n geskiedenis van kolonialisme, en ons dekolonialiseringstaak in Suid-Afrika is om aan te beweeg en menswaardigheid binne ons eie inheemsheid te vind. Om nuut en anders te wees. Om te herstel van ’n verlede van koloniale oorheersing.”

Toe reageer ’n ander, ook Afrikaanssprekend maar jare reeds ’n Kanadese emigrant: “Nou maar, daardie history of conquest wys mos nou juis wie die sterkste is en wat moes oorleef, en daarom stick ons mos nou by ’n Engelse Weste.”

“Waarom baklei jy so aanhoudend?”

’n Paar weke tevore het ’n vriendin my gepols oor ek so bakleierig oor Afrikaanstaligheid, meertaligheid en die Matie-taaldebat is. Waarom aanhou skreeu teen die donderweer? Waarom so voortkerm as die meeste Afrikaanssprekendes doodeenvoudig stil is oor hierdie dinge? Hoekom hou jy nie maar jou protespraatjies vir die naweekbraai of die kombuiskuiers nie?

Om te verstaan waarom ek nie mag stilbly nie, moet ons die fynere onderdele van die bogenoemde dialoog op die strand verstaan.

…..

“My eie Afrikaanstaligheid verdien sodoende ’n kans op akademiese en openbare ontwikkeling wat verder as die kombuisdeur of die braaikamer strek, sodat die taalgemeenskap kan groei – in die letterkunde, in die kunste, geskiedskrywing, die wetenskap en die reg.”

…..

Na afloop van daardie gesprek het ek besef dat daar iets baie dieper aan my familielede se aanvaarde standpunte oor hul eie Afrikaanstaligheid lê as die koue logika van Engels se dominante status in ons samelewing. Selfs al staan jy as leser heel waarskynlik by dieselfde posisie – dat Engelstaligheid wêreldwyd oorheers en dus die enigste opsie vir openbare prestige asook finansiële en loopbaan sukses is – beantwoord jy nog nie die dieperliggende vraag oor wáárom Engelstaligheid en die gepaardgaande Europese en Amerikaanse kulturele opvattings blykbaar die septer swaai nie.

Kortom, net omdat iets is soos dit tans is, beteken dit nie dit móét so wees of dat dit in elk geval so sou wees nie.

Die geskiedkundige oomblik waarin ons ons bevind, is wel een waar Engelstaligheid ons samelewing oorheers. Maar dit het nie uit die bloute so ontstaan of skielik uit die hemele neergedaal nie. Inteendeel, ’n baie spesifieke imperialistiese agenda in die 19de eeu het tot Britse oorwinnings in Suider-Afrika gelei, dwarsdeur van Zambië deur Botswana tot aan die Kaap. Oral in hierdie streke het Engelstalige regeerders (’n groep mense wat ook rooi bloei) hul Britse norme en die Engelse taal as die hegemonie gevestig. ’n Spesifieke stel kulturele opvattings is dus in ’n spesifieke tydgleuf deur geweld op ander mense afgedwing.

Sukses in die koloniale samelewing is, volgens die dekolonialiseringsfilosoof Frantz Fanon, afhanklik van oorgawe aan en samewerking met die koloniale oorheerser. Die verskynsel van askari’s, joiners en sogenaamde garden boys kom voort uit ’n stelsel waar die koloniale oorheerser geleenthede aan lede van die gekoloniseerde groep bied om by die koloniale hiërargie in te koop deur hul arbeid en lojaliteit vir materiële vergoeding en sosiale status aan te bied. Die verskynsel is ook te siene in die geskiedenis van die Khoi-Khoin aan die Kaap en die Igbo-mense van Brits-koloniale Nigerië, soos roerend vertel deur Chinua Achebe in sy beroemde roman Things fall apart (1958).

Die koms van koloniale Engelstaligheid is ’n storie van oorlog, dienaarskap, bevoordeling, diskriminasie en selfs slawerny. Soos ek al voorheen geskryf het, het hierdie kulturele norme in ons samelewing bly voortbestaan selfs al waai die Union Jack nie meer oor die Uniegebou nie. Kolonialiteit bly leef in die taal en kulturele norme wat ons skaapagtig navolg as die verstekopsie om suksesvol te wees.

…..

“’n Paar weke tevore het ’n vriendin my gepols oor ek so bakleierig oor Afrikaanstaligheid, meertaligheid en die Matie-taaldebat is. Waarom aanhou skreeu teen die donderweer? Waarom so voortkerm as die meeste Afrikaanssprekendes doodeenvoudig stil is oor hierdie dinge? Hoekom hou jy nie maar jou protespraatjies vir die naweekbraai of die kombuiskuiers nie?”

…..

Niks aan hierdie geskiedkundige toevalligheid is noodwendig of inherent bepaal nie. Ons kan, soos Breyten Breytenbach gesê het, “mekaar saam anders maak”. ’n Sekere groep magtige mense het eeue gelede bloot hul politieke kaarte so gespeel dat hulle hul koloniale wense tot uitvoering kon bring, in ’n tydperk toe groepsmeerderwaardigheid en diskriminasie nie amptelik deur ’n Internasionale Verklaring van Menseregte teengewerk is nie.

Ons waardegedrewe grondwetlike bedeling vereis nie net dat ons die heersende vorme van (Engelstalige) baasskap bloot onderstebo keer nie. Dit vra eerder iets meer radikaal: Dat ons gelykheid en menswaardigheid moet koester deurdat oorheersing van enige groep deur ’n ander teengewerk word. My eie Afrikaanstaligheid verdien sodoende ’n kans op akademiese en openbare ontwikkeling wat verder as die kombuisdeur of die braaikamer strek, sodat die taalgemeenskap kan groei – in die letterkunde, in die kunste, geskiedskrywing, die wetenskap en die reg.

Daarom sal ek nie stilbly nie.

Kulturele skaamte en oorgawe

Hoe verklaar ons my Kanadese vriend se siening dat ons die “history of conquest” moet aanvaar as goed en reg?

Ek het sukses in die koloniale samelewing verduidelik, maar waarom kies mense in die postkolonie om steeds aan koloniale standaarde vas te klou?

Om hierdie houding van oorgawe en ondergeskiktheid te begryp, moet ons nie net verstaan waarom Engelstaligheid vir mense sinoniem met sukses en vooruitgang is nie, maar iets dieperliggend, wat ek die mentaliteit van verslaandheid noem.

Die eksentrieke 19de-eeuse denker Friedrich Nietzsche het in die ontwikkeling van sy filosofie geredeneer dat die Westers-Christelike beskawing geken word aan ’n slawementaliteit. Christenskap se kulturele wortels het ’n slaweherkoms; die teologiese belofte van verlossing ten spyte van armoede, vervolging en onderdrukking het deurgespoel en neerslag gevind in alombekende Westers-Christelike waardes van vredeliewendheid, deernis, vriendelikheid, mededeelsaamheid en vergewensgesindheid.

Daar is nie noodwendig iets verkeerd aan hierdie waardegedrewe onderdele van die Weste nie. Inteendeel, mense het oor die generasies heen hierdie waardes by hul eie kontekste aangepas en relevant gehou.

…..

“Al wat Afrikaanssprekendes, en ek glo ook ander Afrikataalsprekers vra, is taalbillikheid en proaktiewe erkenning van ons taal-kulturele menswees, nou en in die toekoms.”

…..

Die Achilles-hiel van die slawementaliteit is dat dit só op nadoodse verlossing toegespits is dat die neiging ontstaan om klakkeloos die ander wang te draai. Revolusionêre optrede teen onreg word ten sterkste afgesweer.

In die proses word die keiser te alle tye gegee wat hom toekom, selfs al ontstaan daar grootskaalse onderdrukking en vertrapping van politieke en burgerregte.

Die Katolieke Kerk van die Reformasietydperk was te bly oor die slawementaliteit van hul kudde, omdat dit misbruik deur priesters en die korrupte aflaatbriefskema moontlik gemaak het. Sy afkeuring van aardse revolusies verklaar ook die Kerk in Frankryk se weerstand teen Franse revolusionêre se burgerlike opstand ter wille van gelykheid, vryheid en broederskap.

Hierdie mentaliteit van verslaandheid herinner ook aan ’n juridiese verskynsel van die Europese Donker Eeue, die sogenaamde verhoor-deur-tweegeveg, op Engels “trial by combat”. Die tweegeveg staan op die uitgangspunt dat reg geskied het wanneer die wenner uit die stryd tree. Die uiteinde van die geveg bewys dus dat die wenner nog altyd reg was en dat die verloorder (dikwels teen dié tyd swaar gewond of afkop) skuldig aan of aanspreeklik vir ’n skuld is.

Die verloorder moet dus die knie buig, en in die konteks van tweegevegte in die plek van ’n volskaalse oorlog word daar van die verloorder se stamgroep verwag om onmiddellik aan die wenner en sy mense oor te gee. Hierdie kultuur van eerbaarheid kan so vroeg as Homeros se llias (die verhaal van die Trojaanse oorlog, omtrent 1300 VHJ) in die Europese geskiedenis gesien word.

Die verloorder aanvaar dat hul taal, kultuur en onafhanklikheid deur die oorwinningsdaad ondergeskik word aan die wenner s’n en die proses van afdwinging en oorheersing volg snel. Hieruit vloei dan ook wat sosioloë kultuurskaamte of cultural cringe noem – daardie intense ineenkrimping wat sommige mense in die openbaar kry wanneer daar ’n tentoonstelling van hul kulturele identiteit is.

…..

 “Jy sien kultuurskaamte in hoe baie Afrikaanse jongmense ineen trek en sê ‘Ek’s nie eintlik ’n fan van Afrikaanse musiek nie’ wanneer die radio ’n Afrikaanse poptreffer of ’n sessie deur ’n Boereorkes speel.”

…..

Kultuurskaamte en die mentaliteit van verslaandheid loop diep onder talle gemeenskappe in Suid-Afrika. Afrikaners sit al generasies lank met die skadu van Milner se verengelsing sedert die trauma van die Boereoorlog, aangevuur deur ’n onproduktiewe gevoel van vernedering en oorgawe sedert die muishondstaatjare. Geskiedkundige pyn weens onreg, ontneming, geweld en rassisme deur die wit minderheidsregering kleef nog om die harte van Suid-Afrika se swart gemeenskappe.

In Ierland het ek opgelet hoe Ierse mense soms geweldig verleë rondstaan as ek ’n paar woorde in hul inheemse Gaelies uiter. 800 jaar se Engelse boeliegedrag praat steeds hard in hulle postkolonie.

Jy sien kultuurskaamte in hoe baie Afrikaanse jongmense ineen trek en sê “Ek’s nie eintlik ’n fan van Afrikaanse musiek nie” wanneer die radio ’n Afrikaanse poptreffer of ’n sessie deur ’n Boereorkes speel.

Jy sien dit in jou familielede se apartheidskaamte wanneer hulle onmiddellik Afrikaanse regseksamens as ongewens afskiet, selfs al is daar grondwetlike regte ter sprake.

Jy sien dit in hoe mense wêreldwye, oorheersende Engelstaligheid as suksesmeter beskou en gedienstig hul knieë in verslaandheid buig.

Jy sien dit wanneer studenteleierskap en die rektoraat op Maties te bang en verslae is om volskaalse verengelsing van ’n meertalige toekoms teen te staan.

Hoe raak ons ontslae van die mentaliteit van verslaandheid?

Om langer hierdie meulsteen om ons nekke te dra is nie gesond vir enige gemeenskap se stryd met geskiedkundige trauma nie.

Dit help ook nie om ons transformatiewe grondwetlike ideale van menswaardigheid en gelykheid binne ’n multikulturele samelewing na te streef as ons geboei staan deur ’n minderwaardigheidsgevoel oor onsself en ’n meerderwaardigheidsagting teenoor globale Engelstaligheid nie. Die Westers-Engelse opvatting van ongebreidelde vryemarkte en afgedwingde, onsensitiewe globalisering het gemeenskappe net verarm en verskeur deur finansiële krisis en arbeidsuitbuiting. Dit het individuele belange totaal buite balans teenoor gemeenskapsbelange verhef.

Ons moet dus erken dat daar niks inherent meerderwaardig aan Westerse Engelstaligheid is nie. Ons kan wegbreek van die brutale eerbaarheidskultuur waar ons onsself as verslaande slagoffers ag wat die historiese pakslae verdien het.

…..

“As jy Afrikaans en wit is, gaan skaamte en verslaand-voel nooit ’n nuwe, dinamiese en nierassige toekoms help bou vir Afrikaans nie.”

…..

Ons kan onsself verlos sonder om anti-Engels, antiwit of anti-Westers te wees: Ons het tog op eie bodem verskeie gemeenskappe, veral wit, Indies en bruin, wat moedertaal-Engels is. Daar is niks minder aan hulle net omdat hul in ’n toestand van strukturele taalbevoorregting leef nie.

As jy Afrikaans en wit is, gaan skaamte en verslaand-voel nooit ’n nuwe, dinamiese en nierassige toekoms help bou vir Afrikaans nie. Ploeg eerder jou bevoorregting in jou gemeenskap in deur opbouende handevatinisiatiewe met jou medemens. Steun op jou grondwetlike taalregte en help diegene wat die stryd namens jou stry.

Al wat Afrikaanssprekendes, en ek glo ook ander Afrikataalsprekers vra, is taalbillikheid en proaktiewe erkenning van ons taal-kulturele menswees, nou en in die toekoms. ’n Beskermde, brawe en bemagtigende plekkie onder die Suid-Afrikaanse son.

  • 17

Kommentaar

  • Liewe Frederik

    'n Klein stukkie advies.
    Die ou mense het gese; "Lee pyp hou toe jou kraan, dalk sien ons jou vir 'n volle aan."

    As jy jou skryfwerk oornag sal laat afkoel voor jy die stuur-knoppie druk, sal jy die volgende more sien dat 'n kwart van wat jy die vorige aand geskryf het, nie twak is nie en maar die daglig kan aanskou.

    Ek belowe jou as jy die raad volg sal jy baie verder kom.

    Groetnis van huis tot huis.

    Boeretroos

  • Gustaf Claassens

    Met jongmense soos die skep mens moed. Weldeurdag, beredeneerd en gemotiveerd om nie goedsmoeds afstand te doen van die dinge wat jou maak wie en wat jy is nie. Sulke bydraes skep hoop. Hier is iemand om dop te hou en hopelik het hy stamina en 'n lang asem. Dit is en gaan nodig wees.

  • Waarom etnisiteit ontken en mekaar se verskille as taboe onderwerpe ag? Moedertaalonderrig behoort logies te wees. Alles tekens van skaamwees, dink ek.

  • Dis min dat ek volmondig met ‘n mening saam stem. Musieksmaak, die verskillende genres van Afrikaanse musiek en die meriete, al dan nie, van die “baby, baby” brigade is nie werklik hier ter sake nie. Ek wonder of daar iets in ons dna sit van die vernederende plakkaat en hoekstanery van ons voorouers, wanneer hulle Afrikaans by die skool gepraat het?

  • Henning Janse van Vuuren

    Penguin Random House het in 2016 ʼn oulike boek getiteld, The Literature Book, uitgegee. Die volgende opmerking word oor Boris Pasternak se Doctor Zhivago (1957) gemaak: “It deals with the regime’s misguided attempts to impose conformity and its misreadings of socialist ideals, as well as the characters’ struggles in their attempts to deal with and overcome the alienation, loneliness, and coldness of communist Russia.”

    Mentaliteit van die verslaande, ja, maar bowenal van die lui en argelose. Engels word uit Amerika bemark en die skaap koel-koel-cool agterna. “A chess world where you moved about like a knight trying to move like a rook trying to move like a bishop,” ‒ Hopscotch, Julio Cortázar.

    Afrikaans is moeite en verg kreatiwiteit, want die dominante denkwyse se sagteware is reeds oral installeer. Buiten enkele uitsondering wens ek Afrikaans wil van lug verdwyn, want ... hoe sê ʼn mens dit nou weer in Afrikaans? Eina, iets brand.

    Soos die Engelse sê.

    Elder staan geskrywe: “Nothing is lost if one has the courage to proclaim that all is lost and we must begin anew,” ‒ Hopscotch, Julio Cortázar

  • Byt vas my maat, jy gaan nog ver bo die res uitstyg. Het die hoogste respek en agting vir jou. Viva Afrikaans!

  • Sybrandus Adema

    Die vreemdste ding is daardie mense wat hoog opgee oor die belang van 'n diversiteit van spesies, idees, musiek, gender ens, skielik stil word as veeltaligheid genoem word. Om alewig te mik vir eentalig Engels wees, is werklik geen kopskuif vorentoe....inteendeel.

  • Hoe ironies dat na 'n lang stryd teen verengelsing word die jong geslag nou uit vrye wil Engels - hulle reken dit gee hulle 'n 'beter kans in die lewe'. Terloops, hoekom sou dit? Dink maar aan Japie van Zyl by die JPL; jy hoef nie Engels te wees nie; baie Afrikaanssprekendes met Engels as tweede taal korrigeer Engelssprekendes se Engels.
    Ons het beslis 'n houthakker- en waterdraermentaliteit - tree in die bresse vir Afrikaans en kyk hoe word jy verguis deur ander Afrikaanssprekendes. Kyk net hoe word Afrikaans se tweedevioolstatus gedurig beklemtoon deur RSG en KykNet.
    Ons is beslis ons eie grootste vyand.

  • Om Engels baas te raak, is noodsaaklik in vandag se wêreld. Maar om in ’n veeltalige land soos SA alles in Engels te wil doen, is ’n politieke besluit, waarmee jy jou by die Donald Trumps en Boris Johnsons van die wêreld skaar. Hierdie here plaas mense in ’n imperiale hiërargie: as hulle hoor jy praat Engels met ’n aksent is jy onmiddellik ’n aks laer en skuif daar ’n plafon toe bokant jou. Dis dus in jou eie belang, selfs as die mees selfgesentreerde individu, om jou ander vaardighede te laat ontwikkel, soos jou vaardigheid in Afrikaans. Soos ons in Engels sê: anders skiet jy jouself in die voet.

  • Ek stem met een van hierdie argumente nie saam nie: Vaktaal.

    Die Empire het ons gebring tot waar ons is, maar dit kan nie verander word nie.

    'Engels' en 'oorheers' word vier keer saam gebruik, maar Engels (en Frans, en seker Chinees) is die lingua franca. Net soos die Dollar vir wêreldhandel het dit niks met oorheersing te doen nie. Ons het ’n gemene taal nodig. As ons nie vir die Engelssprekendes die voordeel gun nie, dan moet dit maar Esperanto wees.

    Daar is plek vir Afrikaanse vaktaal. Ek het ’n paar dae gelede die mooi woord, 'massadata', vir 'big data' gehoor, by ’n seminaar oor die vierde nywerheidsrevolusie en taal. Dit was in Afrikaans, maar daar was geen beswaar wanneer andertaliges Engels praat nie. Om mekaar te verstaan, was belangriker as om Afrikaans te praat.

  • Ek tel meer totale onverskilligheid en apatie by jong mense op as verslaendheid of skuldbelastheid of anti-die-of-daai.... En dit gaan teen my grein in. As iemand anti-Afrikaans is, kan ek hom nog probeer oortuig dat dit 'n lekker kreatiewe verduidelikende fyn beskrywende, in-redeneerbare taal is. Maar die couldn' t care less oorgawe of pick-your-fight en Afrikaans is net nie die fight werd nie houding is my doodskoot

  • Spook Speurder

    Die regering is in die meerderheid teen ons. Van hul ministers het al in publiek gesê dat hul Afrikaans wil vernietig. Dat die VN hom nie hierteen uitspreek nie is 'n fout op verskeie maniere, maar dit laat dit in ons hande oor. Onse vra en verwagting alleen kan nie aan die regering verander nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top