Hoe Ramaphosa se 2020-staatsrede in ’n "strafrede" ontaard het

  • 3

Heindrich Wyngaard

Terugskouend is dít dalk die beste slotsom waartoe ’n mens oor die 2020-staatsrede kan kom: dat wat ons gisteraand sien afspeel het, uiteindelik tóg ’n demonstrasie is van die stand van ons land en ons samelewing.

Ons kan die EFF met goeie rede vervloek – en ons moet – oor die ontwrigting van ’n anderhalfuur, maar die walglike wyse waarop hulle die kollig op twee kwessies geplaas het – die een uit ons verlede; die ander uit ons hede – negeer nie die noodsaaklikheid daarvan om die kwessies te bespreek nie.

Die aand se verrigtinge in die Nasionale Vergadering (NV) is voorafgegaan met die tradisie van seremoniële optogte in die strate van Kaapstad deur ons militêre magte – straks deesdae hul vernaamste rol wanneer hulle nie by noodverligting of vredesoperasies betrek word nie – en ook met die gebruiklike 21 skote waarmee die President op die trappe van die NV begroet word.

Maar die laaste note van die sing van “Nkosi sikelel’ iAfrika” was skaars uitgedoof, die oomblik van stilte vir gebed en meditasie beswaarlik afgehandel, en die speaker, Thandi Modise, se openingsin vir dié gesamentlike sitting van lede van die NV en Nasionale Raad van Provinsies nog nie eens voltooi nie, toe die klank uit ’n mikrofoon uit die ledebanke haar onderbreek.

“Agbare lede,” het Modise omstreeks 18:59 begin, “die President het hierdie gesamentlike sitting versoek ...” Toe is die EFF-leier Julius Malema op sy voete: “Madam Speaker ...”

Wat hierop gevolg het, was straks die groot verrassing van die aand, naamlik dat die voorafbeloofde EFF-ontwrigting nie die verwagte teiken gehad het nie: Malema het nie opgestaan om te eis dat Cyril Ramaphosa die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, moet afdank omdat hý vir die voortgesette Eskom-moeilikheid verantwoordelik sou wees nie. Malema se mondgeweer was gemik na die BBP-galery waar drie oudpresidente, FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Mothlanthe, statig saam met ander belangrike gaste, onder wie Suid-Afrika se Mej Heelal, Zozibini Tunzi, en Springbokkaptein Siya Kolisi, stelling ingeneem het. Dit is De Klerk wat uitgesonder is: “Ons het ’n moordenaar in die Huis,” het Malema aangevoer – en geëis dat De Klerk summier uitgejaag moet word.

Modise het verduidelik dat dit nog altyd so was dat voormalige presidente en adjunkpresidente as gaste na die parlementsopening genooi word. Dit beteken nie dat De Klerk se aandeel aan apartheid ontken word nie; dit is veel eerder ’n erkenning aan sy rol in die oorgang na demokrasie en dat hy ook as een van oudpres Nelson Mandela se twee ná-apartheidsadjunkte saam met Mbeki gedien het.

Die oorgang is die afgelope week in herinnering geroep toe Ramaphosa die hoofspreker by die herdenking by die Kaapstade stadsaal was waar Mandela sy eerste openbare toespraak gelewer het toe hy presies 30 jaar gelede deur De Klerk vrygelaat is.

Uit Etienne van Heerden se nuwe roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Tafelberg 2019), hierdie verwysing na Mandela se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis, nou Drakenstein genoem: “[O]ntuis het Mandela daardie dag die gesigsveld van die TV-kameras ingestap, die kerkpak te konvensioneel vir hom, die ikoon. Hy’t uitgeput gelyk. ’n Man wat opstaan uit die siekbed van gevangenskap.”

Ramaphosa het die mikrofoon vir Mandela vasgehou toe hy ná sy vrylating sy toespraak aan die skare op die Kaapse Parade gelewer het. En nou kan daar gevra word, indien ietwat sinies, of Ramaphosa nie dalk die weg vir die EFF-optrede voorberei het toe hy by die afgelope week se herdenking gesê het Mandela se vrylating was nie te danke aan De Klerk se “goedhartigheid” nie, maar wel weens die druk en protesaksies deur die vryheidsbewegings en internasionale gemeenskap.

Dit is darem ook waar dat die EFF vooraf reeds – en onafhanklik van Ramaphosa se standpunt – hul ontevredenheid met die viering van De Klerk se geskiedkundige 2 Februarie 1990-toespraak duidelik gemaak het; en gisteraand het hulle dit spesifiek gehad oor sy afwysende reaksie op die vraag in ’n SABC-onderhoud of hy saamstem met die Verenigde Nasies se verklaring van apartheid as ’n misdaad teen die mensdom. “Apartheid was nie ’n volkslagting nie,” het De Klerk gesê, en dit was wat die EFF onthou het – nie dat hy ook verlede week in ander onderhoude benadruk het dat apartheid “verkeerd” en “moreel onregverdigbaar” was nie.

Die een punt van orde ná die ander het nou vir ongeveer ’n uur in die NV geduur, terwyl die voorsittende beamptes, Modise en Amos Masondo, verbete probeer het om die orde te herstel; die geduld van Modise en Masondo het egter sowel LP’s van die ANC as dié in die opposisiebanke tot raserny gedryf.

Die keer of wat dat Ramaphosa deur Modise versoek is om met sy toespraak voort te gaan, kon hy omtrent net sy mond oopmaak om “Madam Speaker” te sê voordat hy nogmaals deur die EFF in die rede geval is. En nadat geen vergelyk tussen die party en Modise oor De Klerk se verwydering bereik kon word nie – selfs nie eens toe die vermaarde prins Mangosuthu Buthelezi van die IVP voorgestel het dat oor die kwessie gestem word nie – het die EFF se fokus na Ramaphosa self verskuif. Of meer akkuraat: na sy weiering om toe te gee aan hul eis dat Gordhan afgedank word oor sy “mislukte” politieke oorsig oor die kragvoorsiener Eskom en die SAL-lugdiens.

“Miljoene Suid-Afrikaners kyk vanaand in donkerte na ons oor dié minister [se onbeholpenheid],” het ’n EFF-LP vanuit ’n bank agter Malema met verwysing na Eskom se instelling van beurtkrag gesê, skynbaar onbewus van die teenstrydigheid in sy stelling. “En dis deur hom dat ons nie met SAL na Durban kan vlieg nie.”

Die slotsom waaraan hulle deur dreunsang uiting gegee het: “Gordhan must go!”

Nadat Ramaphosa nóg ’n keer verhoed is om met sy toespraak te begin, is die sitting vir sowat tien minute opgeskort. Dit het ’n mate van kalmte teweeg gebring. Hierna is elke party ’n kans gegee om ’n kort inset te lewer: Malema was eerste aan die beurt en sy party het ook net in hul eie inset belang gestel voordat hulle uiteindelik die sitting met voortgesette ontwrigting verlaat het. Ander partye het daarop aangedring dat die reëls strenger moet raak en dat teen die EFF-lede opgetree word, terwyl Buthelezi gemeen het Gordhan én De Klerk verdien ’n verskoning.

Modise en Masondo het kennis geneem van die regerende party en opposisiepartye se gedeelde “ongeduld met ons” (en wat seker ’n anti-EFF-eenheidsverklaring genoem kan word), maar hulle wou dit darem ook net in hul eie verdediging duidelik maak dat hulle nie bereid was om een vorm van wanordelike optrede met ’n ander te vervang nie.

*

Dit was nou omtrent 20:25.

Ramaphosa het sy toespraak (lees die volledige weergawe hier) begin met ’n verwysing na Mandela se vrylating – “a moment in our history that signalled perhaps more vividly than any other that freedom was at hand” – en Mandela se Parade-toespraak waar hy gesê het: “Our march to freedom is irreversible. We must not allow fear to stand in our way.”

Soos wat die vryheidsoptog vandag, drie dekades later, voortgesit word om die mense van die land se lewe te verbeter, groot uitdagings gepak word en moeilike tye verduur word, moet Suid-Afrikaners nie toelaat dat vrees in hul pad staan nie.

Dit is in dié gees dat die huidige, kommerwekkende stand van sake in die land benader moet word, was Ramaphosa se pleidooi aan die landsburgers.

Hier was egter vir hom ’n geleentheid om die toespraak van sy lewe te lewer. Maar in stede daarvan het hy die 7 413 woorde staan en aflees asof dit ’n klankopname vir ’n potgooi was.

Jy sou kon opgestaan en koffie gaan maak en terugkeer het sonder ’n gevoel dat jy iets gemis het. Die sake wat kommer wek (’n sukkelende ekonomie, beurtkrag, jeugwerkloosheid), was so voorspelbaar soos die beloftes (teenbende-eenhede gaan in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng en die Vrystaat versterk word; munisipale dienslewering word geprioritiseer); en dan ewe voorspelbare beloftes oor ’n staatsbank om toegang tot finansiering vir alle Suid-Afrikaners te verseker en grondhervorming wat bespoedig sal word.

Geen wonder nie dat Pieter Groenewald, VF Plus-leier, die President ná sy rede ’n “mak makou” genoem het nie.

Wat Ramaphosa moes gedoen het, was om dit met die aanvang van sy toespraak onomwonde te stel dat die soort ontwrigting, die politieke opportunisme, wat deur Malema en trawante nou as ’n reël eerder as ’n uitsondering uitgeoefen word, onaanvaarbaar is en onmiddellik in die kiem gesmoor moet word.

Wat hy ook moes gedoen het, was om hulle daaraan te herinner dat ander mense gesterf het sodat jonger generasies soos hulle die vryheid – én voorregte, selfs bevoorregting – kon geniet. Die Good-leier en kabinetslid Patricia de Lille het dit wel gedoen; en ook genoem dat Ramaphosa boonop in sy toespraak hulde gebring het aan die struggle-ikoon Madiba, wat vir drie dekades toegesluit was, en ook Basil February, die eerste bruin vryheidsvegter wat in die struggle gesterf het.

Wat hy nóg moes gedoen het, was om die Malema-brigade te herinner daaraan dat Suid-Afrika se veelpartyleiers op ’n onderhandelde, grondwetlike skikking besluit het – dus vir ’n benadering van versoening en nasiebou eerder as die Nuremberg-benadering van Duitsland – en dat De Klerk se teenwoordigheid by die staatsrede in dié opsig geregverdig is én gerespekteer moes word.

En dan sou ’n mens verwag het dat hy dit ferm moes stel dat dit die einste onderhandelde Grondwet is wat aan hom die magte gee om sy eie kabinet aan te stel; dit wil sê Gordhan se teenwoordigheid as ’n minister is deur sy eie toedoen en dat hy nie bereid is om hom af te dank gewoon omdat daar op ’n twyfelagtige wyse daarop aangedring word nie.

“Ek is ’n mandaat deur miljoene kiesers gegee in die Mei 2019-verkiesing en ek is van plan om dié mandaat ten volle en voluit uit te voer,” moes hy gesê het.

Maar dit, liewe leser, is skynbaar heeltemal te veel gevra vir die arme, o so vriendelike, altyd glimlaggende, sit-nie-sy-voet-neer-nie Matamela Cyril Ramaphosa. Dit ontgaan hom oënskynlik dat die plek in die geskiedenis wat De Klerk en Mandela vir hulself uitgekalwe het, ook te doen met die feit dat hulle op kritieke oomblikke sterk standpunt ingeneem het – selfs téén hul eie partygenote.

Wat daarom gisteraand ’n staatsrede moes wees, is deur Malema in ’n strafrede vir Ramaphosa omskep. Dit is moontlik deels daaraan te wyte dat Ramaphosa nog knaend optree asof hy steeds die mikrofoon vir Mandela vashou, terwyl hy nou die een is wat die toesprake moet lewer.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Meerkat van Geregtigheidsfontein

    Ek stem 1000% saam. Uitstekende insigte.

    President Ramaphosa moes as leier van die ANC ook die ANC se National Democratic Revolution onomwonde afgesweer het. Welke denkende mens wil in elk geval ‘n burger (skaap) wees van die ANC se “South African National Democratic Society Animal Farm” of Commander in Chief (EFF) se chaotiese animal farm?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top