Die taalverbod by die US verloor broodnodige aandag, maar ek moet iets daaroor sê ....

  • 3

Kristan Kraak (foto: verskaf)

Die gevalle van taalverbod op die Universiteit Stellenbosch verloor die aandag wat dit so broodnodig het. Baie studente is salig onbewus van die gebeure omdat die aandag gevestig bly op gevalle waar studente van alle ander taalgroepe gevra word om óók Engels te praat – let wel, dat hulle asseblief Engels moet praat, terwyl talle Afrikaanssprekende studente aangemaan word dat hulle nie Afrikaans moet praat nie.

............
StudentePlein het in Februariemaand alleen 15 klagtes ontvang. Ek is die ledeklagtebestuurder wat hierdie klagtes moes verwerk.
.............

StudentePlein het in Februariemaand alleen 15 klagtes ontvang. Ek is die ledeklagtebestuurder wat hierdie klagtes moes verwerk.

Dis nie ’n geval van desperaat onderdrukking najaag as daar 15 onderskeie gevalle oor 10 dae plaasgevind het nie, sou ek wou glo.

Ek sou wou glo dat mense die volgende verstaan – in sommige kontekste is die omgangstaal Engels, om almal te akkommodeer, en mense neig dikwels selfs in ’n taaldiverse ruimte na ’n algemene omgangstaal. Die veronderstelling is dat studente op universiteitsvlak basiese Engels onder die knie het vir die beperkte taak as lingua franca. Dit is egter uiters onaanvaarbaar om vir studente in intieme of persoonlike of selfs groepsgesprekke waar almal die taal verstaan aan te maan oor die taal van die gesprek – veral as alle betrokke partye in die taal verkeer. Terwyl ander in skryfstukke meen dat daar ’n magsverhouding tussen Afrikaans en ander tale op Stellenbosch is, vergeet hulle gou hoe Engels ook ’n oorheersende, ongesonde en onbeperkte rol kan speel. Hierdie skrywers vergeet verder hoe negatief enige ander taalgroep behalwe Engels-moedertaliges geraak word wanneer maghebbendes, soos studenteleiers, oor studente hang en hul taalkeuses polisieer – dit is natuurlik nie net van toepassing op Afrikaanssprekende studente nie.

.............
Dit is ongrondwetlik om studente te intimideer, te verneder en aan te maan oor hul keuse van taal in private gesprekke. Dis nou Verwelkoming 2023 aan die Universiteit Stellenbosch in ’n neutedop – en dit uit die oog van ’n studenteleier.
..............

Dit is ongrondwetlik om studente te intimideer, te verneder en aan te maan oor hul keuse van taal in private gesprekke. Dis nou Verwelkoming 2023 aan die Universiteit Stellenbosch in ’n neutedop – en dit uit die oog van ’n studenteleier.

Die universiteit loods nou ’n reeks werkswinkels om die MRK-verslag na te kom en studenteleiers word ad nauseam ingelig dat hulle nie vir ander studente mag sê dat hulle nie hul moedertaal mag praat nie. Tydens die verwelkomingstydperk het dit egter, tot my kennis ten minste, spesifiek met Afrikaanssprekende studente gebeur.

Studenteleiers op alle vlakke en uit talle gemeenskappe meen dat hulle nie die afwatering en mikroaggressie teen Afrikaanssprekende studente erken nie, omdat dit bloot ’n geval van “when you’re accustomed to privilege, equality feels like oppression” is. Hierdie stelling is nie van toepassing as die universiteit van die begin af onderrig in Afrikaans en Engels waarborg, en meen dat hulle die tale van Afrikaans, Engels en Xhosa akkommodeer nie. Dis nie van toepassing waar dosente van hul eie moduleraamwerke afwyk en weier om akademiese materiaal in beide tale aan te bied nie. Dit is nog minder van toepassing as ’n SR-lid geregtig voel tot die opinie dat hy graag wou sien, en ek haal hom aan, dat Afrikaans heeltemal geskrap word “in official communication, and as academic material in classrooms” gedurende November van 2022. Dit moet teen die tyd moeilik, selfs onmenslik wees om te glo dat onderrig in Afrikaans nie in gevaar is nie, en dat dit veel verder gaan as regstellende stappe om taalbillikheid te bevorder.

Ander meen weer dat Afrikaans nooit bedreig kan wees nie en dat die opstand oor die taalverbode ’n patetiese slagoffermentaliteit is. Hulle verwys na die relatiewe befondsingswelstand van Afrikaans. Wat help al daardie kapitaal wanneer openbare ruimtes en die grondwetlike “gelykheid van aansien” wat Afrikaans ook toekom, by openbare instellings geminag word? Wyle Professor Russel Botman het selfs genoem dat hy ’n sterk afname in spesifiek Afrikaanssprekende bruin gesinne sien. Dit beteken nie dat die res van die gemeenskap van hierdie reg ontneem moet word nie. Eerder as om bloot te aanvaar dat sprekersgetalle in ’n taal afneem, moet die oorsaak van die afname – wat die uitdwing van Afrikaans aan openbare instellings kan insluit – ondersoek en hanteer word. Vir ’n generasie wat die belangrikheid van agentskap verstaan, blyk dit ons verstaan nie dat mense daartoe geregtig is in alle aspekte van die lewe nie, ook wat taal betref.

Studente woon op 3 Mei ’n werkswinkel oor Vryheidsdag by en meen dat die universiteit meer behep is met eerstewêreldkwessies en nie onmiddellike probleme wil raaksien en in die kern probeer aanvat nie. Studente verwys hier na die taalbeleid onder andere, en meen dat die universiteit bloot reageer om die publiek gelukkig te hou – die kernprobleem, naamlik die feit dat dit ongrondwetlik is om vir studente in aangesig-tot-aangesig-gesprekke te sê watter taal hulle moet praat, word nie aangepak nie. Dit blyk slegs een van die honderde performatiewe taktieke by die US te wees – natuurlik word die oppervlakkige probleem hanteer, maar dit begin en eindig ook maar net daar.

Die Babelse verwarring blyk daarvoor nie die geval te wees wat mense dit wil uitmaak nie, bloot omdat daar weinig die platform vir moedertaalgesprekke, in beide sosiale en akademiese sfere, gebied word. Dit is ook nie ’n geval van wie eerste hier was nie. Om aansoek te doen en te studeer by ’n internasionale, bekende instelling soos Stellenbosch, is om te besef dat studente van alle agtergronde en alle tale geakkommodeer moet word. In ’n omgewing waar studenteleiers gereeld gesprekke oor ras, seksualiteit en gender aanmoedig, word taal, wat net so fundamenteel menslik is, afgelag as onbelangrik.

Die reg om jou moedertaal te praat, moet natuurlik nie ten koste van iemand anders se menswaardigheid kom nie, daaroor stem almal in hierdie taaldebat saam. Daarom kan Engels in sekere kontekste dien as lingua franca. Maar die neiging op kampus blyk eerder te wees dat sommige mense geen billike en sinvolle ruimte vir Afrikaanssprekendes wil gun nie, en selfs bereid is om private Afrikaanse gesprekke as “onderdrukking” af te maak.

Dit gaan my verstand te bowe om te hoor hoe dit verregs is om te wil sien hoe studente floreer in die taal waarin hulle hulself die beste uitdruk – akademies, kultureel en sosiaal. Die verdagmakery van motiewe deur die blindelingse uitdelery van smeerbegrippe soos “konserwatief” en “verregs” pak nie die argumenteerbare punt aan dat daar ’n volhoubare, lewenskragtige en billike plek vir akademiese en sosiale Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch moet wees nie. As iemand so begin skeltaal gooi, het hulle waarskynlik reeds die debat verloor en maak hulle die denkfout om skellend oor mense se politieke motiewe te spekuleer. Professor Thuli Madonsela se optrede in hierdie verband is uiters teleurstellend.

Dit baat ook nie om te meen dat amptenare in hoë posisies hul sakke volstop as jou kollega, vriend en eweknie desperaat uitreik na eksterne liggame vir ’n greintjie van die toevlug en gemak wat jy as mede-student en die universiteit as groter instelling moet bied nie. Dis ons morele plig om dinge vir dié om ons makliker te maak, maar dit lyk asof die Universiteit Stellenbosch ’n staat op sy eie is.

Die SR- en Huiskomitee-lede ontmoet laas Vrydag en kom tot die volgende slotsom – die omgangstaal is die meeste van die tyd Engels en akkommodeer almal. ’n Mens kan egter nie vir studente sê om nie hul moedertaal te praat nie. Ons kyk maar hoe lank ons saamstem daaroor.

  • Kristan Kraak is die ledeklagtebestuurder van StudentePlein.

Lees ook:

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

US-taaldebat 2021: Die wat en waarom van die Maties-Taalbeleid

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak

DAK Netwerk se reaksie op die ondersoek van die MRK na die taalkwessie van die US

  • 3

Kommentaar

  • Die heersende politici van die land interpreteer die Grondwet as dat dit 'n "nasionale demokratiese revolusie", een nasie met een taal, moet ontwikkel. En daardie taal is Engels. En die skole en universiteite moet na die politici se pype dans. Dit is hoe dit werk in 'n staat met 'n sentrale regering soos die van Suid-Afrika. Dit is waarvoor die land stem elke vyf jaar en waarmee almal tevrede is. Kinders wat swakker presteer in Engels is wat ons kies. Alles en almal moet nou Engels. Dit is "inklussief" om alles só Engels te maak en ander tale verboten te verklaar.

  • Chris Erasmus

    Ek weet te min van die taalstryd by die universiteit om 'n sinvolle bydrae te maak. Ek gaan 'n algemene opinie lug oor my ervaring wat Afrikaans betref. Ek het tot die slotsom gekom dat dit partykeer die Afrikaanssprekendes is wat die vlieg in die salf is. Dit is ook die "kampvegters" wat te gou aan die eise toegee. Die Afrikaanssprekendes is baie keer van die ondersteuners, aanhitsers of meelopers van die aanslae teen Afrikaans. Ons skiet onsself in albei voete. As ek dit reg verstaan, is die onderrig in jou moedertaal een van die basiese regte van die grondwet. Lyk my ons weet nie wie se grondwet nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top