Fanie Herman bespreek die teenwoordigheid en bedrywighede van die Russiese paramilitêre groep Wagner in Afrika. Herman is die skrywer van China in Afrika: Die era van sekuriteit – hier beskikbaar as e-boek vir Kindle by Amazon.

Foto’s: verskaf
1. ’n Oorsig van private militêre maatskappye in Rusland
In die periode na die Koue Oorlog was daar ’n herlewing van private sekuriteitsmaatskappye en private militêre maatskappye in Rusland. Die Russiese regering en private rolspelers maak gereeld van die maatskappye se dienste gebruik, omrede hulle goedkoop, sonder voorbehoude en aanpasbaar by die omstandighede van die kliënt is. Private militêre maatskappye was veral betrokke by konflikte in Afganistan en Irak. In die vroeë jare van die groepe se ontplooiing het hulle logistieke ondersteuning en opleiding verskaf en selde deelgeneem aan direkte gevegsituasies. Met die private militêre groep Wagner se toetrede tot die terrein het die situasie egter verander. Daar is van dié soldate verwag om saam met regeringsoldate teen rebellegroepe en Moslem-insurgente te veg. Dit was hoofsaaklik om hulle stempel as ’n professionele mag af te druk en die guns van die gasheerland te wen.
Wagner het tot stand gekom kort na die ontbinding van die Slawiese korps. Die Slawiese korps was ’n private militêre maatskappy wat op die been gebring is deur twee werknemers van Moran Security Group, ’n konvensionele Russiese private sekuriteitsmaatskappy. Dié korps is in 2014 deur Bashar al-Assad, die Siriese president, gekontrakteer om teen vegters van die Islamitiese Staat (IS) te baklei. Soldate van die Slawiese korps was ook getaak om olie-aanlegte wat deur vegters van IS oorgeneem is, terug te neem. Daar het egter vinnig logistieke en koördineringsprobleme met Siriese soldate ontstaan. Die hoofprobleem was dat soldate van die Slawiese korps staatgemaak het op die Siriese regering vir logistiek en wapens, maar dit nooit ontvang het nie. Die korps se eerste kontaksituasie in Sirië het in ’n neerlaag ontaard. Soldate wat die geveg oorleef het, is teruggestuur na Rusland en kort daarna is die korps ontbind.

Die afbeelding van die Wagner-groep se vlag, ook in die fokusprent by hierdie artikel, is op Wikimedia verkry, gesny en aangepas, en word ingevolge die Creative Commons Attribution-ShareAlike 4.0-lisensieooreenkoms gebruik.
2. Die Wagner paramilitêre groep
Die Russiese paramilitêre groep Wagner is die laaste aantal jare in ’n hele paar Afrikalande ontplooi. Dit maak Afrika ’n aktiewe area vir die bedrywighede van die groep. Afrika word gekenmerk deur swak regerings, oorvloedige natuurlike hulpbronne, ’n nalatenskap van kolonialisme, nabyheid aan Europa en 54 stemme in die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering. Rusland trek voordeel uit die politieke en geostrategiese situasie in Afrika deur magte te ontplooi wat nie deur wetgewing beperk word nie en wat die land ’n groter vastrapplek in Afrika gee. Die finansiële koste om die magte te ontplooi en die politieke koste daaraan verbonde is ook laag. Die ontplooiing van Wagner-soldate het dikwels ten doel om wettige regerings in Afrika te ondermyn, disinformasieveldtogte te gebruik om polarisasie tussen verskillende bevolkingsgroepe aan te wakker, en aansprake te maak op politieke mag wat geen grondwetlike basis het nie.
Die Wagner-groep bestaan merendeels uit voormalige lede van die Russiese intelligensiedienste wat in samewerking met die weermag die land se buitelandse beleidsdoelwitte bevorder. Daar bestaan verskeie intelligensiedienste in Rusland wat getaak is om inligting te versamel, die sekuriteit van die staat te handhaaf en die president en ander hoëvlak-amptenare te beskerm. Van dié intelligensiedienste is dit egter die Hoofintelligensiedirektoraat (Main Intelligence Directorate), wat in Russies as die GU bekend staan, waaruit die meerderheid van Wagner lede afkomstig is. Die GU is die hoofintelligensiediens van die Russiese weermag en ook Rusland se grootste buitelandse intelligensiediens. Verder beheer die GU militêre intelligensie en het hy sy eie spesiale magte.
Daar word beweer dat Wagner in klandestiene militêre operasies optree, eerstens om die lede se identiteit te beskerm en tweedens om hulle as ’n groep apart van die weermag te onderskei. Dié operasies word uitgevoer onder die kodenaam van spesiale militêre optredes in lande waar Rusland se belange bedreig word, soos tans in die oorlog in die Oekraïne.
Die Wagner-groep is nie ’n wettig geregistreerde entiteit nie, maar die naam is ’n kodewoord vir die samesmelting van militêre, besigheids-, politieke en propagandaveldtogte wat deur die Russiese oligarg Yevgeny Prigozhin beheer word. Prigozhin is ’n noue handlanger van die Russiese president, Wladimir Poetin, en speel ’n sleutelrol om die Kremlin se belange in Afrika te bevorder. Ten einde ’n positiewe beeld van Wagner aan Afrikaleiers uit te straal, word lokprente van die groep se werksaamhede vervaardig en aan regerings- en weermagamptenare vertoon.
’n Opsomming van Rusland se strategiese doelwitte werp meer lig op die werksaamhede van Wagner in Afrika.
3. Rusland se strategiese doelwitte in Afrika
’n Sentrale doelwit is om invloed oor die strategiese grondgebied rondom die Middellandse en die Rooi See te verkry. Dit sluit in die bou van hawens en lughawens. Dié infrastruktuur kan Rusland help om soldate, materiaal, en militêre, intelligensie- en ander goedere en dienste aan Afrikaregerings te verskaf. Dit het ook ’n groot impak op die bereidwilligheid van die gasheerland om op verskeie ander terreine met Rusland saam te werk. Verder sal dit tot voordeel vir Rusland wees om seevervoer in die Suezkanaal en Bab-al-Mandab-seestraat tussen Jemen en Djiboeti te monitor en te ontwrig. Meer as 30% van internasionale seevervoer gaan deur die roetes. Rusland mag dalk nie tans oor die militêre slaankrag beskik om die seestrate in die gebied te beheer nie, maar kan die doelwit verwesenlik indien ’n vlootbasis in die streek gebou word. ’n Vlootbasis sal ’n groter militêre teenwoordigheid bring, soldate op ’n permanente basis huisves en seevervoer tussen die streek en Rusland vergemaklik.
’n Tweede strategiese doelwit is om Westerse invloed in Afrika te verminder. Dit kan help om Rusland se belange in Afrika te bevorder. Rusland poog om invloed in verskeie streke van die wêreld uit te oefen en nie internasionaal geïsoleerd te raak nie. Die doelwit het groter omvang aangeneem met die inval in Oekraïne. Daardeur wil Rusland wys dat die land nog steeds ’n rol het om in die internasionale arena te speel.
’n Derde strategiese doelwit is om die reëlsgebaseerde internasionale orde wat in die Handves van die VN vasgelê is, te verander. Die ondermyning van beginsels soos respek vir politieke onafhanklikheid, soewereiniteit en territoriale integriteit omsluit die kern van Rusland se aggressie teenoor Oekraïne. Uit die Russiese perspektief kan ’n beter wêreld verkry word slegs indien die beginsels vervang word met onderhandeling en ’n beskermheer-kliënt-verhouding (“patron-client relationship”), wat verwys na ’n ooreenkoms tussen ’n persoon (beskermheer) wat ’n posisie van mag, hetsy sosiaal, finansieel of materieel, oor ander persone het en dié persone (kliënte) dan voordeel en ondersteuning daaruit trek. Ten einde onderhandelinge en die beskermheer-kliënt-verhouding met Afrikalande te bevorder is ambassades en paramilitêre groepe soos Wagner aktief besig met disinformasieveldtogte. Die veldtogte het veral ten doel om Westerse demokrasie as ’n ontstabiele regeringsmodel af te kraak en die Russiese model van oop en “gesonde” dialoog as alternatief voor te hou.

Simplice Sarandji, president van die Sentraal-Afrikaanse Republiek se Nasionale Vergadering, in Oktober 2021 saam met Alexander Ivanov, ’n verteenwoordiger van die Wagner-groep. (Foto: Gesny en aangepas, verkry vanaf Wikipedia via die Corbeau News Centrafrique-webwerf, wat toestemming vir die hergebruik van die afbeelding as volg verskaf: “We authorize anyone to use the media published on the page: corbeaunews-centrafrique.org and corbeaunews-centrafrique.com under license Creative Commons Attribution-ShareAlike 4.0.”)
4. Die Wagner-groep se veelsydige rol
Rusland gebruik Wagner as middel om elkeen van die doelwitte te bevorder. In Sirië het Wagner ingegryp om politieke leiers wat mag verloor en geïsoleerd van die politieke stelsel geraak het, militêr te steun. Die gevolg was dat die leiers natuurlike en ander materiële bronne aan Rusland moes afstaan en so in die spiraal van beskermheer-kliënt vasgeval het.
Die toegangs- of toetreepunt vir die ontplooiing van Wagner-soldate geskied dikwels deur onderhandelinge met outokratiese leiers wat mag verloor en die paramilitêre groep nodig het om weer mag te verkry. Die onderhandelinge kom met geen voorskrifte nie, en al wat die leier wil sien is die herstel van verlore aansien en magsopbou. Dié leiers is ’n maklike teiken vir Rusland om invloed goedkoop en vinnig te versprei.
Die verhouding tussen ’n nieverantwoordelike (ontoerekeningsvatbare) regering en ’n onwettige paramilitêre groep is ’n resep vir rampspoed. Wagner se ontplooiing regoor Afrika toon die gevare wat die groep se sogenaamde strewe na stabiliteit vir die gasheerland kan bring. Burgers in die lande waar Wagner werksaam is, ervaar groot onstabiliteit en die opkoms van meer outokratiese leiers met hulle eie persoonlike agendas en doelwitte.
5. Die voordeel wat samewerking met Wagner aan outokratiese regerings bied
Outokratiese leiers trek voordeel uit onderhandelinge met Wagner omrede die sekuriteit van die regerings versterk word, die regerings toegang tot wapens verkry, inkomste uit die verkoop van natuurlike hulpbronne versnel word, en Rusland die lande ’n vetostem in die VN se Veiligheidsraad verskaf. In die geheel beskou, trek Rusland voordeel uit die verhouding, omrede Rusland se invloedsfeer in Afrika uitgebrei word, Afrikalande se lojaliteit na Rusland verplaas word, Rusland se geostrategiese postuur in Afrika verhef word en groter geleenthede vir die verkryging van natuurlike hulpbronne gebied word.
Terwyl Wagner wel oor die nodige militêre kennis beskik om soldate van Afrikalande op te lei, is die groep nie opgewasse om geskille tussen strydende groepe te besleg, as vredemaker op te tree en die algemene verdedigingsvermoë van die outokratiese leier te versterk nie. Die klein getalle soldate wat ontplooi word, gewoonlik slegs ’n paar honderd en selde in die duisende, is onvoldoende om ’n merkbare verskil aan die sekuriteitsituasie van die gasheerland te maak. Waarop Wagner staatmaak, is die toegang wat verkry word tot die natuurlike hulpbronne van die land en die groot kontantbetalings.
Die hoofdoelwit van Wagner is om die outokratiese leier en sy elite te beskerm, wat ’n belangrike middel vir Rusland is om sy geostrategiese belange te bevorder. Die ontplooiing van Wagner-soldate geskied dus nie in isolasie nie, maar is deel van ’n pakket van inisiatiewe om Rusland se bondgenote aan bewind te hou. Van die inisiatiewe sluit in disinformasieveldtogte, die ruil van wapens vir natuurlike hulpbronne, die opskorting van sanksies teenoor die gasheerland in die VN, en inmenging in plaaslike verkiesings. Wagner se ontplooiing word daarom as ’n politieke eerder as ’n sekuriteitsmiddel beskou.
6. Voorbeelde van Wagner se metodes in Afrikalande

November 2021: ’n Soldaat van die Sentraal-Afrikaanse Republiek se weermag met ’n kenteken van die Wagner-groep (Foto: Aangepas, verkry vanaf Wikipedia via die Corbeau News Centrafrique-webwerf, wat toestemming vir die hergebruik van die afbeelding as volg verskaf: “We authorize anyone to use the media published on the page: corbeaunews-centrafrique.org and corbeaunews-centrafrique.com under license Creative Commons Attribution-ShareAlike 4.0.”)
Rusland werk hard daaraan om die VN se pogings vir vrede in Libië in die wiele te ry. ’n Samevoeging van verskeie afdelings van Wagner is in 2019 in Libië ontplooi om die regerende party uit die kussings te lig. Die doelwit was om Khalifa Haftar, ’n bondgenoot van Rusland, aan bewind te kry. Terwyl Rusland tyd en energie spandeer om die regering in Tripoli omver te werp, word min sukses behaal. Die pogings gaan egter voort en indien Rusland in sy doelwit slaag, sal dit die land ’n langtermyn- militêre teenwoordigheid in Noord-Afrika gee. Dit is op die suidelike grens van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en kan Rusland toegang tot Libië se groot aardgasreserves (koolwaterstof) gee. Teen die einde van 2021 het Rusland geen ag geslaan op versoeke van die VN om te onttrek nie. ’n Groot groep Wagner-soldate is wel uit Libië onttrek om aan die oorlog in Oekraïne deel te neem, veral Tsjetsjniërs en soldate uit die Krim-skiereiland.
In die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) het president Faustin-Archange Touadéra in 2018 400 Wagner-instrukteurs ontvang om ’n aanval van rebellegroepe af te weer. Wagner het egter ’n ooreenkoms met rebelle in die noorde van die land gesluit om diamante te ontgin. Dit toon die voorliefde wat die groep het om toegang tot Afrika se natuurlike hulpbronne te bekom. Die smokkel van diamante is deel van die groep se onwettige handeldryf in minerale in streke wat die westelike Soedan, die SAR en die ooskus van Afrika insluit.
As deel van die ooreenkoms met Wagner het president Touadéra ’n offisier van die Russiese weermag as sy nasionale sekuriteitsadviseur aangestel en lede van Wagner as sy presidensiële wag. Lede van die SAR-weermag wat gekant was teen die Russiese invloed in die land, is met lojale ondersteuners vervang. As ’n gebaar van vriendskap is Touadéra se herverkiesing in 2020 kragtig deur Rusland ondersteun. Wagner-soldate in die SAR word deur die VN van menseregtevergrype beskuldig, wat verkragting, buiteregtelike (extrajudicial) moorde en marteling insluit. Ten spyte van die sekuriteit wat Wagner aan die president en sy elite verskaf, is die situasie in die land onstabiel. Dit kom daarop neer dat Touadéra se vriendskap met Wagner groter onrus veroorsaak en die soewereiniteit van die land onder verdenking plaas.
In Mali het Wagner in 2019 ’n disinformasieveldtog geloods om die burgers in opstand teen die verkiesing van president Ibrahim Boubacar Keïta te bring. Die president se sterk bande met die regering van Frankryk het nie die goedkeuring van ’n groot deel van die bevolking weggedra nie. Wagner het die situasie uitgebuit deur pro-Russiese sentimente te verkondig en demokrasie as ’n bose instelling van die Weste af te maak. ’n Verdagte ooreenkoms tussen Mali se militêre junta en Wagner het tot die ontplooiing van meer as 1 000 soldate gelei. Die ondersteuning van die militêre junta is die hooffokus van Wagner se ontplooiing in Mali. Teen die middel van 2022 was Wagner steeds besig om Frankryk vir die onrus in die land te blameer. Dit het gelei tot die onttrekking van meer as 5 000 Franse en Europese Unie-soldate uit die land. ’n Ander gevolg is dat Wagner se disinformasieveldtogte die VN se vredesending in Mali (Minusma) in gevaar stel.
Soos gesien in ander lande in Afrika, is Wagner ook betrokke by menseregtevergrype in Mali. Sedert Maart 2022 word Wagner en juntasoldate van honderde moorde op burgerlikes beskuldig. In die dorpie Moura alleen is 300 mense vermoor wat lojaliteit aan die president en Franse troepe in die land getoon het. Die aanvalle op burgerlikes veroorsaak dat duisende mense uit die streek na buurlande vlug, wat ’n vlugtelingskrisis veroorsaak.
Rusland het ’n verhouding met Soedan wat oor baie jare strek. Die verhouding het sy oorsprong in ondersteuning van die militêre junta wat gekant is teen Westerse invloed in die land, veral die ontginning van die land se ryk oliereserwes. In 2019 het grootskaalse protesoptredes in die land uitgebreek teen die bewind van president Omar al-Bashir. Die president is uit sy pos gelig, waarna Wagner gevra is om opleiding aan die Soedannese weermag te verskaf. Wapens vir die opleiding word onwettig deur een van Prigozhin se frontfirmas na Soedan gestuur. Teen die middel van 2022 was Wagner nog aktief besig om die militêre junta van hulp te voorsien om protesoptredes in die land hok te slaan. ’n Ander rede vir Rusland se betrokkenheid in Soedan is om seevervoer in die Rooi See deur die hawe van Port Sudan te fasiliteer.
Wagner-soldate het in September 2019 in Mosambiek arriveer om die Islam-insurgensie in die noordelike Cabo Delgado-provinsie teen te staan. ’n Disinformasieveldtog is uit die staanspoor geloods om die bevolking te verdeel en toegang tot die land se natuurlike hulpbronne te bekom. Wagner was veral geïnteresseerd in die verkryging van diamante. Die groep het min ondervinding gehad om teeninsurgensieoperasies in die digte bosse van Mosambiek uit te voer. Daar was ook probleme om met plaaslike regeringsoldate te kommunikeer en gesamentlike operasies te koördineer. Hewigte gevegte het gevolg, met aansienlike lewensverlies aan Wagner se kant. In November 2019 het Wagner uit Mosambiek onttrek en is dit vervang deur die Suid-Afrikaanse paramilitêre groep Dyck Advisories.
7. Die gevolge vir regerings en stabiliteit in Afrika
Die situasies in Libië, die SAR, Mali en Soedan toon dat Wagner geen steen onaangeroerd laat om invloed te verkry nie. Sodra Wagner vastrapplek in ’n land kry, word alle middele tot die groep se beskikking aangewend om opposisiegroepe te intimideer en Westerse rolspelers te marginaliseer. ’n Groot uitdaging vir politieke rolspelers in dié lande is om die juk wat Rusland op hulle plaas af te gooi.
Wagner se ontplooiing van soldate gaan gepaard met die ondermyning van wettige regerings, die aanhitsing van sosiale polarisasie deur middel van disinformasieveldtogte en ongrondwetlike aansprake op mag. Al die faktore lei tot die destabilisering van regerings in die lande waar Wagner betrokke is. Meer as 70% van Afrika se konflikte en 85% van die kontinent se 36 miljoen ontwortelde inwoners kom voor in lande met outokratiese regerings. Afrikane verkies demokratiese regerings bo enige ander politieke sisteem. Dit is in teenstelling met die doelwit van Wagner om outokratiese leiers aan bewind te hou en burgers sodoende te ontneem van hulle reg om leiers demokraties te verkies. Die slotsom is dat die optredes van Wagner nie vrede en stabiliteit bring nie, maar toestande vir die verhoging van konflik en onstabiliteit skep.
Bibliografie
Doxee, Catrina. 2022. Putin’s Proxies: Examining Russia’s use of private military companies. https://csis-website-prod.s3.amazonaws.com/s3fs-public/congressional_testimony/ts220921_Doxsee.pdf?GhvJrQDszydKNKeZlhQK.3O1Ot0ZxgF2 (15 November 2022 geraadpleeg).
Fabricius, Peter. 2022. Wagner is being used in Africa as a proxy to target civilians. https://issafrica.org/iss-today/wagner-is-being-used-in-africa-as-a-proxy-to-target-civilians (17 November 2022 geraadpleeg).
Fasanotti, Federica Saini. 2022. Russia’s Wagner Group in Africa: Influence, commercial concessions, rights violations, and counterinsurgency failure. https://www.brookings.edu/blog/order-from-chaos/2022/02/08/russias-wagner-group-in-africa-influence-commercial-concessions-rights-violations-and-counterinsurgency-failure/ (18 November 2022 geraadpleeg).
Jones, Seth G, C Doxee, B Katz, E McQueen en Joe Moye. 2021. Russia’s corporate soldiers: the global expansion of Russia’s private military companies. Washington: Center for Strategic & International Studies.
Lees ook:
Die belangrikheid van kritieke infrastruktuur in China se Afrikastrategie
China in Afrika: Die era van sekuriteit deur Fanie Herman: ’n onderhoud met die skrywer
Die posisionering van Afrika in China se internasionale strategiese raamwerk
Kommentaar
Klink of hulle by die Weste geleer het.