China se visie vir ’n nuwe wêreldorde

  • 0

Fanie Herman, navorsingsgenoot in die Universiteit van die Vrystaat se Departement vir Politieke Studies en Regeerkunde, bespreek die Chinese se visie vir ’n nuwe wêreldorde.

Fanie Herman (Foto: verskaf)

 

1. Inleiding

In die laaste paar jaar het Xi Jinping, die president van China, ’n visie vir ’n nuwe, internasionale wêreldorde geartikuleer. Die visie behels twee areas van belang. Die eerste is die totstandkoming van ’n nie-Westerse, niedemokratiese wêreld en die tweede is die verandering of herformulering van die bestaande internasionale norme-en-waardes-stelsel.

Die idee vir die visie dateer in werklikheid van na China se toetrede tot die internasionale gemeenskap in die middel van die 1990’s en spesifiek die land se toelating tot die Wêreldhandelsorganisasie in 2001. Leierskapsposisies in verskeie internasionale organisasies is ook ’n faktor in die vestiging van ’n Chinees-gesentreerde wêreldorde. Teen die einde van 2020 het China bilaterale verhoudinge met 178 van die Verenigde Nasies (VN) se 192 lande gehad. Die aard en omvang van die verhoudinge het tot gevolg dat die Chinese manier van regering en wêreldvisie aan die lande oorgedra word.

Met die bewindsaanvaarding van Xi Jinping in 2013 is die herlewing van die Chinese nasie, die nastrewing van grootmoondheidstatus en die beskerming van nasionale belange as hoofprioriteite gestel. Volgens Xi kan die doelwitte bereik word slegs indien die wêreldorde verander word om Chinese norme en waardes te weerspieël.

China is tans die wêreld se grootste handelsmoondheid; dit is ’n bron van buitelandse beleggings; dit het die wêreld se grootste weermag in terme van personeel; en dit is ’n leier op die gebied van vernuwing en tegnologiese ontwikkeling. Kundiges voorspel dat China se bruto binnelandse produk (BBP) dié van Amerika gaan verbysteek teen 2030. China sal dan die wêreld se grootste ekonomie wees.

 

2. Agtergrond en oorsig

Alhoewel China se visie vir ’n nuwe wêreldorde hoofsaaklik uit vorige modelle van Chinese oorheersing voortspruit, is die internasionale orde wat die regering tans voorstaan, meer normatief van aard. Die visie is nie gewortel in tradisionele Chinese filosofie, denkrigtings, Konfusiaanse beginsels en revolusionêre ideale nie.

Verwysings na China se imperialistiese verlede is nie ’n aanduiding dat Beijing simboliese betekenis aan die visie heg nie. Die visie is gewortel in die Leninistiese konsepte van penetrasie, ondermyning van buitelandse invloed, en die nastrewing van spesifieke beleids- en strategiese doelwitte. Die doelwitte het ten doel om China meer mag en oorheersing in die wêreld te gee.

China se moderne diplomatieke praktyke dien verder as motivering vir die verandering van die internasionale sisteem. Dit sluit in die nastrewing van grootmoondheidstatus, die uitoefening van meer selfgeldende en aggressiewe gedrag in internasionale politiek, en ideologiese wedywering met die Weste.

Selfs met die ekonomiese opkoms van China en Xi Jinping se globale ambisies is daar tog vrae of China ’n nuwe internasionale orde wil vestig of slegs veranderinge aan die bestaande orde wil maak. Wil China sy nasionale belange en ambisies bevorder deur die internasionale sisteem te transformeer, of wil die leierskap ’n defensiewe houding inneem en die status quo handhaaf?

Hier word verwys na kritiek teenoor die land se politieke sisteem en China se reg om sy territoriale soewereiniteit en integriteit te beskerm. Dié beskouing is egter ’n wanopvatting van Xi Jinping se werklike ambisies. Xi se uitgangspunt is dat China alrééds grootmoondheidstatus bereik het en nou oor die mag beskik om die wêreldorde te verander.

Volgens Xi moet China meer selfgeldende gedrag in die internasionale terrein openbaar om op gelyke voet met Amerika mee te ding of om Amerika ekonomies en tegnologies verby te steek. China se oorheersende invloed in die Asies-Pasifiese streek en die land se maritieme beheer oor groot areas in die Oos- en Suid-China See dui op ’n toename in militêre mag. Amerika het nie meer die hulpbronne, soos vlootvaartuie en mannekrag, om die gebiede te betwis nie en het sy maritieme operasies in die gebiede afgeskaal. Die formidabele netwerk van vennootskappe wat Amerika oor 70 jaar opgebou het, is besig om te disintegreer ten gunste van ’n Chinees-gesentreerde raamwerk van dialoog, onderhandelinge en samewerking.

China se internasionale invloed strek ook uit na die bou van infrastruktuur, telekommunikasienetwerke, elektroniese betaalsisteme en satelliete. Soos Amerikaanse, Japannese en Europese maatskappye die tegnologiese leiers in die vorige eeu was, is Chinese maatskappye die leiers in die 21ste eeu.

Die internasionale orde wat tot stand gekom het na die Tweede Wêreldoorlog was hoofsaaklik die gevolg van liberale demokrasieë se fokus op menseregte, die oppergesag van die reg, ’n vryemarkhandelsisteem en beperkte inmenging van die staat in die politieke en sosiale lewens van burgers. Multilaterale instellings is geskep en internasionale reg is geformuleer om dié norme en waardes te beskerm. Tegnologie is dikwels gebruik om dit te versterk.

Xi wil die Westerse benadering omkeer deur die oppergesag van die staat te gebruik om norme en waardes te verander. In die Chinese regeringsraamwerk is dit die taak van instellings, wette en tegnologie om die staat meer beheer oor die lewens van burgers, politieke prosesse en ope markte te gee. Dit is ’n wêreld waar die vloei van inligting deur die staat beheer word, beide binne en buite die land se grense. Daar is geen beperking op die mag wat die staat kan gebruik om die inligting te beheer nie. Chinese amptenare en akademici is dit eens dat die frase “Die opkoms van die Ooste en die verval van die Weste”, die diskoers van internasionale politiek in die toekoms gaan bepaal.

Die seminaar word verder as volg aangebied: Eerstens word ’n raamwerk verskaf wat die hooftemas van navorsing oor die onderwerp aanspreek. Tweedens word die temas met Xi Jinping se persoonlike visie van ’n nuwe wêreldorde geïntegreer.

 

3. Raamwerk vir die internasionale visie

3.1 ’n Sisteem wat gedeeltelik globaal en gedeeltelik streeksgebonde is

China is nie daarop ingestel om die bestaande internasionale orde totaal omver te werp nie. Die doelwit op kort termyn is die vestiging van ’n nuwe internasionale sisteem wat gedeeltelik op die bestaande orde gebaseer is.

3.2 ’n Hiërargiese subsisteem

China gaan die boonste en middelste vlak van die sisteem uitmaak. Die sisteem gaan oneweredig wees, met China die grootste, kragtigste en tegnologies mees gevorderde staat. Kleiner en swakker state gaan die periferie van die sisteem uitmaak. Dié Chinees-gesentreerde orde gaan nie globaal en ook nie streeksgebonde wees nie. Dit is moontlik dat die orde op lang termyn kan uitbrei om die meeste van die ontwikkelende, nie-Westerse wêreld in te sluit. Dit is hier waar ’n oneweredige verspreiding van mag gaan plaasvind.

3.3 Losse beheer in die skaduwee van China se oorheersing

China gaan nie poog om volle beheer oor ander lande binne die grense van die subsisteem uit te oefen nie. Die fokus gaan wees om dieper interafhanklikheid te ontwikkel, alles binne die skaduwee van China se ekonomiese en militêre oorheersing. Dit gaan dan bitter moeilik vir ander lande wees om China se wêreldwye invloed vanuit ’n posisie van mag uit te daag. Die sisteem sal onderhou word deur politieke, ekonomiese en sekuriteitsverhoudinge wat die lande met China het.

Daar sal nie van ander lande verwag word om die Chinese lewenswyse na te volg nie. Westerse liberale waardes en beginsels moet egter onderdruk en vermy word, aangesien dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van die Chinese leefwyse inhou. Verder word lande wat binne die sisteem beweeg, aangemoedig om te eksperimenteer met die manier waarop China regeer, veral wat betref binnelandse en plaaslike regeringsbeleid. Hier word verwys na wette en prosesse, onderrig en opleiding, media, ontwikkeling, en hulpverlening en industriële standaarde en norme.

China verkies ’n sisteem wat los, gedeeltelik en skuifbaar is. Die sisteem is gedeeltelik want dit impliseer die bestaan van ’n sfeer van invloed in teenstelling met die ambisie om die wêreld te regeer. Dit is los want Beijing streef nie direkte of absolute beheer van buitelandse grondgebied of regerings na nie. Dit is skuifbaar want die lande binne die sisteem is nie verbind op grond van geografiese, kulturele en ideologiese raaklyne nie. Die lande moet net oor een aspek saamstem en dit is om China se sentrale oorheersing te aanvaar.

Westerse regerings het na die einde van die Koue Oorlog aangeneem dat China die bestaande internasionale orde sou aanvaar. Daar was geen rede om te vermoed dat China ’n revisionêre beleid sou volg om die sisteem te verander nie. Dit word gesien in die lig van China se toelating tot die Wêreldhandelsorganisasie in 2001 en lidmaatskap van verskeie internasionale organisasies. Die feit is egter dat Xi Jinping ’n ander pad as sy voorgangers inslaan. China wil nie net ’n sentrale plek op die wêreldverhoog inneem nie, maar die behoefte is daar om ’n Chinees-gesentreerde wêreldorde op die been te bring.

 

4. Xi Jinping se visie vir die internasionale wêreldorde

4.1 Die hereniging van die vaderland

Xi se pad na die vestiging van ’n nuwe internasionale orde begin met ’n hertekening van die kaart van China. In ’n toespraak in 2021 het Xi verklaar dat al China se grondgebiede binne die vaderland integreer moet word en dat dit definitief gaan gebeur. Die soewereiniteit van lankbetwiste grondgebiede, naamlik Hongkong, die Suid-Chinese See en Taiwan, is ononderhandelbaar.

Hongkong is reeds binne China se politieke en sekuriteitsinvloedsfeer opgeneem. In 2020 is ’n wet aangeneem wat Hongkong van sy outonome, administratiewe status ontneem. Dit verwys na die “een land twee sisteme”-model wat in 1997 daargestel is toe Engeland Hongkong aan China oorhandig het. Binne ’n paar maande is begin om die demokratiese regte van Hongkongers te onderdruk en is Hongkong verander na ’n Chinese stad, net soos een van die vele in die vaderland.

China se aansprake op grondgebied in die Suid-Chinese See neem ook toe. In die laaste vyf jaar is sewe kunsmatige formasies in die see geskep en ’n groot aantal eilandjies en rotsformasies deur die weermag ingeneem. China se kragtige vloot word toenemend ingespan om die vyf ander lande wat ook aanspraak op die grondgebied maak, te intimideer. Die lande sluit Brunei, Maleisië, die Filippyne, Taiwan en Viëtnam in.

Xi het die paniek wat die globale pandemie by ander lande veroorsaak het, uitgebuit om op meer grondgebied aanspraak te maak. Chinese vaartuie het vir meer as 100 dae die gebiedswaters van Japan, Viëtnam en Maleisië binnegevaar en konflik met dié lande uitgelok. China en Indië het ook vir die eerste keer in vier dekades slaags geraak in ’n grenskonflik.

Geen kaart van China sal volledig wees indien dit nie beheer oor die eiland Taiwan insluit nie. Tydens die 19de Partykongres in Oktober 2017 het Xi verklaar dat een van die 14 doelwitte wat nodig is om die Chinese nasie te laat herleef, hereniging met Taiwan is. Xi het die belangrikheid van hereniging uitgelig deur te sinspeel op die twee lande se gemeenskaplike kultuur en familiebande.

In onlangse opnames in Taiwan het die meerderheid van die bevolking aangedui dat hulle in die eerste plek Taiwannese en tweedens van Chinese afkoms is. Die jonger generasie in Taiwan het hulle eie kultuur en identiteit ontwikkel en sien die Mandarynse taal as die enigste erfenis wat hulle met China deel.

4.2 Die einde van Amerikaanse oorheersing in die Asies-Pasifiese streek

China gaan ook doelgerig te werk om Amerikaanse invloed in die Asies-Pasifiese streek te beperk en die oorheersende moondheid in die streek te word. Xi beskou lande in Asië as deel van een familie. Dit is as gevolg van hulle etniese oorsprong en migrasie honderde jare gelede. Sonder die leierskap van China kan die streek nie ekonomies vooruitgaan en welvarend wees nie.

China dra die meeste by tot handel, tegnologie, die bou van infrastruktuur, die deel van kultuur en sosiale interaksie. ’n Chinees-gesentreerde netwerk van politieke, ekonomiese en sosiale interaksie is daarom nodig om die streek te integreer. China is die grootste handelsvennoot van bykans al die lande in die streek. Die Association of Southeast Asian Nations (Asean) beskou China as hulle hoofhandelsvennoot. Die lande van Asean sluit Brunei, die Filippyne, Kambodja, Lagos, Mianmar, Thailand, Maleisië en Viëtnam in.

4.3 Die Gordel-en-pad-inisiatief (GPI)

Nêrens word China se ambisie om ’n sentrale plek op die wêreldverhoog in te neem beter geïllustreer as deur die GPI nie. Dié inisiatief, wat in 2013 geloods is, bied ’n fisiese manifestasie van Chinese sentraliteit vanaf China tot in Europa. Die GPI in sy oorspronklike vorm het voorsiening gemaak vir die bou van infrastruktuur om ’n Chinees-gesentreerde handelsnetwerk regoor ses toegangsroetes op te rig. Maar dit is nie waar dit opgehou het nie. Daar is tans ook ander inisiatiewe wat uit die GPI voortvloei, wat skakel met digitalisering, gesondheid en die syroetes wat deur die Noordelike Yssee en Noordpoolsirkel loop. Die GPI het China op die voorpunt van ontwikkeling in die wêreld geplaas.

Xi sien die GPI ook as ’n middel om die land se kulturele, politieke en tegnologiese waardes na lande op die roetes bekend te stel. Lande in Afrika, soos Tanzanië en Uganda, is groot ontvangers van Chinese digitale tegnologie. Die tegnologie word in GPI-projekte gebruik, byvoorbeeld in geslotebaantelevisie en e-handel.

In Kenia het China nou die grootste aandeel van buitelandse verskaffers in die oprigting van 5G-netwerke en satellietverbindings. Die GPI sluit ook ’n politieke dimensie in waar partye opleiding in die ideologie van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) ondergaan. Dit word gedoen om plaaslike partystrukture en verbindings met die CKP te versterk. Suid-Afrika, Ethiopië en Soedan is van die lande wat die opleiding ontvang.

China het ook die voortou in buitelandse onderwysinstellings geneem in die aanbied van taal- en kulturele opleiding, byvoorbeeld in Liberië en Zambië.

4.4 Ekonomiese mag

China se sentraliteit op die wêreldverhoog is ’n direkte gevolg van die land se ekonomiese mag. Die land se posisie as ’n aandrywer van globale handel gee ander lande die geleentheid om die groot Chinese mark te betree.

Xi het ’n aantal beleidsvoorstelle gemaak om China groter ekonomiese slaankrag te gee, beide by die huis en internasionaal. Die “Made in China 2025”-inisiatief het ten doel om plaaslike vervaardiging aan te moedig en internasionale mededinging te verminder. In 2020 het Xi die dubbele-sirkulasie- (“dual circulation”) ekonomiese paradigma geartikuleer. Dit kom daarop neer dat China deur middel van vernuwing, vervaardiging en plaaslike besteding ekonomies selfonderhoudend moet raak, alles binne die land se ekonomie self.

Dit beteken egter nie dat China homself van die internasionale ekonomie gaan isoleer nie. Die land sal voortgaan om uit te voer en sodoende voorsieningskettings te handhaaf, maar sal minder afhanklik van buitelandse beleggings en kundigheid wees.

4.5 Die hervorming van internasionale organisasies

Xi poog ook om groter beheer in die argitektuur van internasionale organisasies uit te oefen. By verskeie geleenthede is die oproep gemaak dat China leiding moet neem in hervormings van die internasionale regeringsisteem. Die waardes en norme van dié organisasies moet verander word om China se visie te weerspieël.

Die uitgangspunt is dat die bestaande reëlsgebaseerde internasionale orde nie China en die ontwikkelende wêreld se norme en waardes in ag neem nie; dit is geskep om die waardes en norme van ’n klein aantal liberale demokrasieë te bevoordeel. Xi wil toesien dat dié organisasies hervorm word om voorsiening te maak vir Chinese voorkeure en belange, soos die reg van lande om ontwikkeling bo politieke en menseregte te stel, en die daarstelling van tegnologiese standaarde om die staat groter toegang tot die beheer van inligting te gee.

Xi is ook verbind tot ’n langtermynstrategie om globale norme op gebiede soos die internet, menseregte en tegniese standaarde te verander. Dit gaan die staat meer beheer oor individuele regte en vryheid van spraak gee.

China poog om op elkeen van dié gebiede leierskap uit te oefen en pomp groot bedrae geld in die agendas en uitkomste van beleidsvergaderings in. Chinese voorstelle dat inligtingsnetwerke deur die staat beheer word, is tans onder ontwikkeling en oorweging in die VN. Uiteindelik gaan dit beteken dat ’n Chinees-gesentreerde elektroniese netwerk in die vele subinstellings van die VN ingestel word.

 

5. Samevatting

Die verskillende komponente van die GPI vorm die ruggraat van die nuwe wêreldorde en is belangrik om Chinese invloed in ontwikkelende en opkomende lande van die wêreld te vestig. Die visie is nog nie finaal geartikuleer nie en waarnemers is nie seker wanneer dit permanent gaan wees nie. Waarnemers stem egter saam dat ’n gedeeltelike orde as ’n middel kan dien om totale oorheersing te verkry – dit wil sê, as daar geen ander moondheid is wat ook internasionale ambisies nastreef nie. Die steun op militêre mag, en die afdwing van diplomatieke instrumente kan as addisionele keuse aangewend word om die internasionale orde te vestig.

 

Bronne geraadpleeg

Economy, E. 2022. The World according to China. Washington: Council of Foreign Relations.

Li, HY. 2021. China’s New World Order: Changes in the Non-Intervention Policy. Cheltenham, VK: Edward Elgar Publishing.

Shambaugh, D. 2020. China and the world. Oxford: Oxford University Press.

 

Lees ook:

Die Forum vir China-Afrikasamewerking na 21 jaar: Die opkoms van Afrika-agentskap

Chinese sekuriteitskontrakteurs in Afrika: Oorsig, jongste gebeure en ontwikkelinge

China se militêre diplomasie in Afrika: Wat is aan die gebeur?

 

Fanie Herman se navorsingsartikels in LitNet Akademies:

China se partyweermagmodel in Afrika

China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika

Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top