Fanie Herman, navorsingsgenoot in die Universiteit van die Vrystaat se Departement vir Politieke Studies en Regeerkunde, bespreek die jongste verwikkelinge in die bedrywighede van Chinese sekuriteitskontrakteurs in Afrika.

Fanie Herman (Foto: verskaf)
Chinese sekuriteitskontrakteurs het in die laaste dekade hulle werksaamhede toenemend na Afrika geskuif en is veral bedrywig in projekte wat met die Gordel-en-pad-inisiatief (GPI) verband hou. In die meeste gevalle is die kontrakteurs werksaam vir Chinese staatsbeheerde maatskappye en beveilig hulle olie-en-gas-installasies, spoornetwerke, myne, boupersele en ambassades.
Sedert 2012 het groot getalle Chinese werkers tydelik na Afrika verhuis om aan ontwikkelingsprojekte te werk. Teen die einde van 2018 was die getal ongeveer een miljoen vanweë die bekendstelling van die GPI. Daar is meer as 10 000 Chinese maatskappye in Afrika, en ongeveer 2 000 staatsbeheerde maatskappye. Dié maatskappye genereer 40 miljard Amerikaanse dollar elke jaar in konstruksieprojekte. Die Chinese Akademie vir Sosiale Wetenskappe beweer dat 84% van GPI beleggings in medium- tot hoë-risiko-lande voorkom. Tussen 2015 en 2017 was daar 350 ernstige insidente wat die veiligheid van Chinese maatskappye in gevaar gestel het. Dit sluit in ontvoerings, terroristeaanvalle, en xenofobie. Besighede is toenemend bekommerd oor die veiligheid van personeel en die beskerming van fasiliteite. Wat veral sterker op die voorgrond tree, is versoeke van besighede vir ’n groter teenwoordigheid van sekuriteitskontrakteurs. Die Chinese weermag is nie gewillig om betrokke te raak by die beskerming van fasiliteite en die beveiliging van landsburgers in die buiteland nie. Dit is grootliks as gevolg van die beeld wat hulle wil uitstraal as ’n professionele weermag in die buiteland en versuim om logistieke ondersteuning te verskaf. Aan die ander kant het Chinese leiers nie vertroue in Afrika-regerings om hulle belange op die kontinent te beskerm nie en groei die vraag na sekuriteitskontrakteurs. China het 5 000 geregistreerde veiligheidsfirmas wat 4,3 miljoen voormalige weermag- en polisielede in diens het. Van dié firmas is 20 geregistreer om oorsee te werk, met ’n geraamde 3 200 individuele kontrakteurs. Dit is meer as die 2 500 lede van die Chinese weermag wat aktiewe oorsese diens verrig.
Chinese wetgewing ten opsigte van sekuriteitskontrakteurs
Die term private sekuriteitskontrakteur is misleidend en onakkuraat in die Chinese konteks. As ’n eenpartystaat vereis die Chinese Kommunistiese Party (CKP) dat alle ondernemings lojaal aan die party en partybeleid moet wees. Tydens die Chinese Revolusie is die gesegde “soos wat die staat vooruitgaan, so gaan die private sektor agteruit” verkondig en dit is nog van toepassing vandag. ’n Amptenaar van die CKP moet ook in die organisasiestruktuur van besighede met 3–5 werknemers dien. Die uitvoerende beamptes van maatskappye is nie net gewaardeerde partylede nie, maar ook die sekretarisse van hulle onderskeie interne partystrukture. Die staat het die reg op alleeneienaarskap van sekuriteitsfirmas of besit minste 51% van die kapitaalbelegging. Die rol van die CKP en die staatsburokrasie in die regulering van die sekuriteitsektor is belangrik omdat die sosialistiese markmodel die aanwyser is waarvolgens sekuriteitsdoelwitte opgestel word. Om dié rede is dit moeilik om tussen private en openbare sekuriteit te onderskei. China het in 1993 ’n wet aanvaar wat slegs voormalige lede van die militêre magte aanstel as kontrakteurs in die openbare sektor. In 2009 is die wet gewysig sodat kontrakteurs ook in die private sektor kan werk. Die Staatsekuriteitsraad is verantwoordelik vir die administrasie van sekuriteitsdienste, wat beteken dat kontrakteurs deur die staat beheer word.
Sekuriteitskontrakteurs in Afrika
Die vraag na sekuriteitsdienste het geweldig toegeneem in die laaste dekade. Die Overseas Security and Defense Research Center in Beijing bepaal dat kontrakteurs jaarliks ongeveer 10 miljard Amerikaanse dollar spandeer aan die beveiliging van oorsese besighede. Afrika bied ook goue geleenthede vir kontrakteurs. Tydens die Chinese vloot se antiseerowery-operasies in die Golf van Aden en die Somaliese kus in 2008 het Chinese kontrakteurs die eerste keer werklik tot die Afrika-mark toegetree. Huaxin Zhong An en die Overseas Security Guardians was die eerste kontrakteurs wat goedkeuring van die regering verkry het om gewapende sekuriteitswagte op skepe te plaas. Kontrakteurs het hulle internasionale portefeuljes dienooreenkomstig gewysig om groter internasionale publisiteit te kry. Beijing DeWe Security Service het byvoorbeeld ’n kontrak losgeslaan om China’s Poly-GCL Petroleum Group Holdings se reusegasaanleg van vier miljard Amerikaanse dollar in Ethiopië te beveilig. Shandong Haiwei Security Group beskerm staatsbeheerde myne in suidelike Afrika. China’s Overseas Security Group, ’n konglomeraat van vyf firmas, beskerm GPI projekte in konflikgebiede soos Somalië en Ethiopië. China Security and Technology Group beskerm land- en seevervoerroetes in die Golf van Guinee en Aden en die Lamu Port-South Sudan-Ethiopia Transport- (Lapsset-) korridor.
Die plaaslike politieke klimaat en besigheidslandskap word eers geëvalueer voordat sekuriteitsdienste aan besighede aangebied word. Hoe vriendeliker en veiliger die omgewing, hoe groter is die ruimte waarin kontrakteurs kan beweeg. In Suid-Afrika met sy onveilige en onstabiele politieke klimaat het kontrakteurs baie min beweegruimte. Hulle is dikwels in vennootskappe met plaaslike kontrakteurs om hulleself te beskerm en groter paraatheid en mobiliteit aan die dag te lê. Shandong Haiwei Security Group werk byvoorbeeld saam met Raid Private Securities van Durban om myne te beskerm.
In Kenia beveilig kontrakteurs nie slegs besighede nie, maar help ook met opleiding, die betaal van bonusse, tegniese vaardighede en die voorsiening van toerusting. Kontrakteurs het meer vryheid om werksgeskoolde take te verrig.
In Soedan en Suid-Soedan is die verhouding met plaaslike sekuriteitsbeamptes baie vertroulik. In 2012 het lede van die VSS Security Group gehelp om 29 ontvoerde Chinese oliewerkers in samewerking met die plaaslike burgermag te red. In ’n ander poging in 2016 het lede van DeWe Security Service gehelp om 300 oliewerkers na veiligheid te bring. Dit is nadat gevegte tussen vyandige faksies in die Suid-Soedannese burgeroorlog uitgebreek het. Hierdie aksies het die potensiaal om die veiligheid van Afrikane in gevaar stel. China National Petroleum Corporation het byvoorbeeld geld en pantservoertuie aan regeringstroepe beskikbaar gestel om slaggereed vir enige aanvalle te wees.
Sekere Chinese kontrakteurs werf voormalige lede van Westerse weermagte (veterane) wat dan getaak word om die maatskappy te bestuur. Die China Overseas Security Services Group byvoorbeeld is in Londen geregistreer met ’n Westerse profiel, maar sien om na die behoeftes van Chinese kliënte. Dié Westers-gebaseerde maatskappye word egter gekritiseer vir hulle aktiwiteite in konflikgebiede van die wêreld. Frontier Services Group het in die media deurgeloop vir hulle operasies in Somalië, Suid-Soedan en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK). Frontier Services Group is gestig deur Eric Prince, ’n voormalige Amerikaanse vlootsoldaat, en word besit deur Citic, China se grootste staatsbeheerde konglomeraat. Waarnemers van die VN het Prince in 2021 daarvan beskuldig dat Frontier Service Group wapens aan Khalifa Haftar, ’n militêre faksie in Libië, voorsien om die eenheidsregering te ondermyn. Die eenheidsregering het die ondersteuning van die VN. Dié voorbeeld wys dat Citic Frontier Services Group gebruik het om finansiële wins te maak.
Chinese sekuriteitskontrakteurs is ook betrokke by verdagte operasies wat dikwels met die onregmatige gebruik van wapens te doen het. In 2018 is twee Chinese burgers in Livingstone, Zambië gearresteer weens onwettige militêre opleiding wat hulle aan ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy verskaf het. Die opleidingsbeamptes het dieselfde uniforms gedra as dié van Zambië se Departement van Omgewingsbewaring. Hulle kon dus maklik inpas met ander beamptes in die gewilde toeristebestemming en het nie as verdag voorgekom nie. In aangrensende Zimbabwe is twee Chinese burgers gevangenisstraf opgelê vir die skietaanval op die seun van ’n lid van die parlement. Hulle was voorheen gedeporteer nadat hulle op mynwerkers geskiet het weens ’n loongeskil, maar het steeds onwettig in die land gebly. In Kenia en Uganda is kontrakteurs in 2019 en 2020 gearresteer vir die besit van onwettige wapens en afluisterapparate. Die persepsie bestaan dat dié kriminele gedrag nie in die howe vervolg word nie. In Zambië byvoorbeeld het twee Chinese mynbestuurders op mynwerkers gevuur weens ’n loongeskil, maar hulle is vrygelaat – daar is glo nie genoeg bewyse teen hulle ingebring nie. Dit het gelei tot hewige protes van Zambiese mynwerkers teen die onregverdige veroordeling.
Afrika-perspektiewe
In die laaste paar jaar is daar groter bewustheid onder Afrika-regerings om die aktiwiteite van Chinese kontrakteurs vir ongerymdhede te ondersoek. Deursigtigheid en verantwoordelikheid is twee aspekte wat uitstaan. Die oproep kom veral van plaaslike gemeenskappe wat die aktiwiteite van nywerhede soos olie-en-gas-aanlegte wil laat ondersoek. Dit is in dié nywerhede waar ’n groot teenwoordigheid van Chinese kontrakteurs werksaam is. Strategiese litigasie wen vinnig veld om die deursigtigheid van veiligheidskontrakte te ondersoek. Die regsgenootskap van Kenia het in 2020 die wettige basis van die kontrak tussen DeWe en die China Roads and Bridges Corporation (CRBC) voor die hof gebring. Dit hou verband met die beveiliging van die Standard Kenia Gauge Railway wat deur China gebou is. In Junie 2020 het die appèlhof in Nairobi beslis dat die kontrak tussen CRBC en DeWe onwettig is weens omseiling van reëls vir die aankoop van materiaal en ander goedere. ’n Chinese CRBC-bestuurder is skuldig bevind aan bedrog en uit sy pos ontslaan.
Die Zimbabwe Environmental Law Association (Zela) het in 2020 ’n hofbevel bekom wat Chinese kontrakteurs verbied om toesig te hou oor die ontginning van steenkool in die Hwange Nasionale Park. Die hofbevel het ook verklaar dat alle mynbouaktiwiteite in die park gestop moet word. Strategiese litigasie is nou ’n effektiewe instrument om bewuswording van onwettige Chinese aktiwiteite aan die lig te bring. Die Zimbabwiese regering word verder verplig om statusverslae van die Sengwa-kragstasie bekend te maak. Die kragstasie word deur China Gezhouba Group gebou vir ’n astronomiese bedrag van drie miljard Amerikaanse dollar. Die sekuriteit van die aanleg is toegeken aan China Security Technology wat onder verdagte omstandighede by ander kontrakte betrokke is. Die litigante verstaan nou dat indien die aktiwiteite van sekuriteitskontrakteurs in die openbaar bekend gemaak word, dit makliker vir hulle is om sake in die hof te wen.
’n Blik op die toekoms
Die verwagting is dat die vraag na Chinese sekuriteitskontrakteurs in Afrika gaan toeneem. Een van die groot redes daarvoor is dat hulle nie as huursoldate gesien word nie, maar werksgeskoolde dienste aanbied. Dit sluit in opleiding, beleggings, risikobestuur, en meer effektiewe kliëntediens. Aan die ander kant bly kontrakteurs in gebreke om verantwoording van hulle daaglikse aktiwiteite aan te bied. China is Afrika se grootste handelsvennoot en is sensitief vir sy beeld in Afrika. Sekuriteitskontrakteurs is nou ’n middel om die beeld verder uit te bou en daarom is dit in die regering se belang om meganismes in te stel vir beter regulering van die bedryf. Dit kan onder andere gedoen word deur kontrakteurs van staatsbeheerde maatskappye te ontkoppel en daarmee die finansiële beheer wat laasgenoemde oor kontrakteurs het, te verminder. Kontrakteurs moet toegelaat word om as professionele entiteite uit eie reg op te tree. Dit is verder belangrik dat Afrika-regerings en die Afrika Unie die rol en volhoubaarheid van kontrakteurs binne die Afrikaïese sekuriteitsargitektuur evalueer. In die lig van die groter teenwoordigheid van kontrakteurs in Afrika kan Afrika-regerings ’n toesighoudende in plaas van ’n toeskouerrol speel. Verder moet die kapasiteit van plaaslike operateurs in samewerking met Chinese kontrakteurs verhoog word. China kan die ervaring wat hulle het in die oplossing van sekuriteitskwessies tuis met Afrikalande deel tot beide groepe se voordeel. Na bykans drie dekades van hernude teenwoordigheid op die kontinent en lang deelname aan vredesendingsoperasies het China ’n goeie begrip van die sekuriteitsuitdagings waarmee Afrikalande te kampe het.
Chinese sekuriteitskontrakteurs werksaam in Afrika
Klik op die tabel om ’n groter weergawe te sien.
Bibliografie
Arduino, A. 2020. The footprint of Chinese private security companies in Africa. Maart. https://static1.squarespace.com/static/5652847de4b033f56d2bdc29/t/5e7a733475a31172316a05d5/1585083189926/WP+35+-+Arduino+-+Chinese+Private+Security+Companies.pdf (18 Junie 2021 geraadpleeg).
Goh, B, M Martina en C Shepherd. 2017. Local, global security firms in race along China's “Silk Road”. 24 April. https://www.reuters.com/article/us-china-silkroad-security-analysis-idUSKBN17P10Y (10 Julie 2021 geraadpleeg).
Nantulya, P. 2020. Chinese security contractors in Africa. 8 Oktober. https://carnegietsinghua.org/2020/10/08/chinese-security-contractors-in-africa-pub-82916 (4 Julie 2021 geraadpleeg).
Olander, EC. 2019. Q&A: Growing demand in Africa for China’s private security contractors. 3 Desember. https://chinaafricaproject.com/analysis/qa-growing-demand-in-africa-for-chinas-private-security-contractors (15 Julie 2021 geraadpleeg).
Lees Fanie Herman se navorsingsartikels in LitNet Akademies:
China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika
Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding


