China se militêre diplomasie in Afrika: Wat is aan die gebeur?

  • 0

Fanie Herman, navorsingsgenoot in Politieke Studies en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, werp lig op China se uitgebreide militêre diplomatieke bedrywighede in Afrika om dié moondheid se sekuriteitsdoelwitte op die kontinent te laat realiseer.

Foto: Zibik; Unsplash.

 

1. Inleiding

Fanie Herman (Foto: verskaf)

Militêre diplomasie is ’n hoofelement van China se buitelandse beleid en word gebruik om nasionale verdediging- en sekuriteitsdoelwitte te bereik. In die laaste dekade speel militêre diplomasie ook ’n groter rol om China se sekuriteitsdoelwitte in Afrika na te jaag.

Afrika is strategies belangrik vir China in minstens drie opsigte. Eerstens is Afrika ’n strategiese spilpunt van China se internasionale diplomasie, wat belangrike ekonomiese, politieke en militêre gevolge inhou. Tweedens is Afrika ’n belangrike vennoot om ekonomiese en ontwikkelingsdoelwitte te bereik. Derdens is Afrika ’n gebied waar China invloed uitoefen en ’n internasionale beeld bou. Militêre diplomasie help om solidariteit met Afrikaregerings te bou en is deel van China se buitelandse beleid van ekonomiese ontwikkeling.

Die huidige president van China, Xi Jinping, plaas egter meer klem op sekuriteit en strategiese buitelandse beleid as sy voorgangers. Dit is wat militêre diplomasie prominent in China se huidige buitelandse beleid maak en ook in die Afrikaterrein belangrik is. Xi projekteer ’n meer nasionalistiese en selfgeldende China op die wêreldverhoog, ’n China wat saamstaan en vertroue het in sy eie waardesisteem en politieke struktuur.

Die hooftaak van die weermag is om die nasionale soewereiniteit en territoriale integriteit van China te beskerm. Die rol van die weermag het egter opmerklik verander nadat die buitelandse beleid van vrede en ekonomiese ontwikkeling geformuleer is. Die weermag is nou nie slegs die beskermer van die land se grense nie, maar help om veiligheidsamewerking tussen lande te koördineer. Die weermag vervul dus ’n noodsaaklike, ondersteunende rol om die buitelandse beleid van die regering te implementeer. Deelname aan antiseerowery-operasies, vredesendings, die bekamping van terrorisme en insurgensie, natuurrampbeheer en gesamentlike militêre oefeninge met ander lande is alles deel van die weermag se rol om vrede en stabiliteit in die wêreld te bring.

2. Patrone van China se militêre diplomasie in Afrika

China se militêre diplomasie in Afrika fokus hoofsaaklik op die volgende areas:

– Militêre uitruilbesoeke. Honderde lede van Chinese en Afrika-weermagte het mekaar in die laaste dekades besoek. Uitruilbesoeke is die algemeenste vorm van militêre diplomasie. China se Afrikabeleid van 2006, en die hersiene weergawe van 2015, beskou uitruilbesoeke as uiters belangrik om vertroue te bou en diplomasie te bevorder. Bilaterale militêre besoeke tussen China en Afrika vir die laaste dekade staan op ongeveer 26 per jaar.

– Militêre attachés: Teen 2019 het China militêre attachés in 109 lande gehad en 101 lande het militêre kantore in China oopgemaak. In Afrika is die nuutste syfer nie bekend nie, maar daar word beweer dat minstens 20 militêre attachés in Afrika bestaan. Daarteenoor het 18 Afrikalande teen 2016 militêre attachés in Beijing geopen.

– Verdedigingsforums en dialoog: Daar bestaan verskeie bilaterale gespreksforums tussen China en Afrikalande. Van waarde vir militêre diplomasie is die eerste multilaterale verdediging- en sekuriteitsforum wat in Junie 2018 in Beijing gehou is. Die forum het vredesendingsoperasies en die oprigting van vrede in na-konflik situasies as die vernaamste sekuriteitskwessies geïdentifiseer.

– Besoeke deur oorlogskepe: In Julie 2000 het ’n Chinese fregat Suid-Afrika en Tanzanië besoek. Dit was die Chinese vloot se eerste besoek aan Afrika. In Oktober 2008 het ’n fregat van Suid-Afrika China besoek – die eerste besoek van ’n Suid-Afrikaanse oorlogskip aan China. In April 2011 het skepe van China by die Durbanse hawe aangedoen en in 2012 het Chinese vlootvaartuie Alexandria in Egipte besoek.

– Funksionele uitruilbesoeke: Hoëvlakbesoeke tussen lede van die Chinese en Afrika-weermagte het sedert die begin van die 21ste eeu toegeneem. Die doel van die besoeke is om tegnologiese kennis te deel, opleiding te ontvang en kanale vir kommunikasie te skep. Sedert 2010 het die Chinese hospitaalskip Peace Ark (die Chinese naam is Daishan Dao), verskeie hawens in Afrika besoek. Dit sluit in Djiboeti, Kenia, Liberië, die Seychelle en Tanzanië. Werkswinkels vir die hoofde van militêre kolleges word nou in Engels, Frans en Portugees aangebied.

– Militêre hulpverlening. China se militêre hulpverlening aan Afrikalande was histories beperk tot ondersteuning vir bevrydingsbewegings en lande wat die ideologie van sosialisme ondersteun. In die moderne era (die periode ná die Koue Oorlog en die begin van China se uitwaartse buitelandsebeleidbenadering, 1995 tot nou) bied China hulp aan in die vorm van lenings of skenkings van materiale en toerusting. Die hoofontvangers van dié militêre hulp is Angola, Ghana, Mosambiek, Soedan, Suid-Soedan, Tanzanië en Zimbabwe. Die lenings word gebruik om fasiliteite van ontvangerlande te verbeter, byvoorbeeld die bou en herstel van hoofkantore, woonkwartiere en opleidingsentrums, die opgradering van militêre kommunikasiekanale, en die bou van hospitale. Die materiale en toerusting is meestal in die vorm van uniforms, ambulanse, pantservoertuie, militêre vragmotors en ander logistieke materiale. In ander gevalle word humanitêre hulp verleen, soos die opsporing en vernietiging van landmyne in Angola, Burundi, Egipte, Mosambiek, Tsjad en Soedan.

– Militêre opleiding: Opleiding is ’n integrale deel van China se militêre diplomasie. ’n Belangrike aspek van die opleiding is om nuwe kennis met Afrikaweermagte te deel. Dit sluit ’n wye verskeidenheid kursusse in, van ideologiese solidariteit met die Chinese Kommunistiese Party (CKP) se militêre doktrines (gevegstegnieke en oorlogstrategieë) tot logistieke ondersteuning, menslikehulpbronnebestuur, mobiliteit en paraatheid, en kuspatrollering (littorale lande). Teen die einde van 2020 was daar meer as 30 militêre opleidingskolleges in Afrika. Tussen 4 000 en 6 000 weermaglede van 140 lande het China in die laaste 10 jaar vir opleiding besoek. ’n Groot aantal van die personeel het van Afrika gekom. Die mediese korps van die Chinese weermag stuur ook dokters en verpleegsters na Afrikalande om met mediese dienste te help. In Gaboen en Liberië is daar permanente klinieke wat deur Chinese mediese personeel beman word.

– Vredesendingsoperasies. China voel dit is sy internasionale verantwoordelikheid om aan vredesendingsoperasies deel te neem. Deelname sal help om vrede en stabiliteit in die wêreld te bring. Chinese troepe is hoofsaaklik getaak met die monitering van skietstilstande, die instandhouding van paaie, brûe en kampfasiliteite (ook van ander lande), die voorsiening van vervoer en mediese ondersteuning, die sosiale heropbouing van die gemeenskap, en humanitêre hulpverlening. Teen die einde van 2019 was die weermag in gesamentlike operasies met 25 ander lande betrokke. Meer as 40 000 Chinese soldate is sedert die middel-1990’s na missie-areas in die wêreld ontplooi. Van die permanente lede van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad is China die grootste bydraer van soldate en polisielede. Van die 115 deelnemende lande stuur China ook die meeste ingenieurs en logistieke en mediese personeel. In ’n verdere stap is die finansiële bydrae wat China lewer, die grootste tussen al die ontwikkelende lande. Die meerderheid van China se vredesendingspersoneel is nou in Afrika gestasioneer.

Die Chinese vloot staan ook gereed om skepe na veiligheid te begelei in ooreenstemming met VN-resolusies. Tydens aanvalle deur seerowers in die Golf van Aden en Somalië in 2008 is die vloot ingespan. Die operasies was primêr daarop gemik om die veiligheid van Chinese skepe en personeel te verseker, en sekondêr om ander skepe wat humanitêre voorrade aflewer, te vergesel. Die begeleiding van skepe in dié problematiese kusgebiede is nou ’n gereelde taak van die Chinese vloot.

 

3. Bydrae en eienskappe

China se militêre diplomasie in Afrika het die volgende kenmerke:

– Die kern van China se militêre diplomasie is om vrede en harmonie te bevorder. Die idee vir militêre diplomasie het sy oorsprong in die nuwe sekuriteitskonsep wat in die periode na die Koue Oorlog geformuleer is. Vrede, harmonie en ontwikkeling is sentrale beginsels van die sekuriteitskonsep. In ooreenstemming met China se buitelandse beleid van vrede en ontwikkeling is vrede ’n natuurlike doelwit en eienskap van militêre diplomasie. Afrikaregerings sien ontwikkeling ook as ’n doelwit om vrede en stabiliteit te verkry.

– Militêre diplomasie is ’n waardevolle instrument om samewerking te bevorder. Teen die einde van 2019 het China militêre verhoudinge met bykans al sy diplomatieke vennote in Afrika gehad. Militêre diplomasie word ook in die Afrika Unie (AU) en ander streeksorganisasies bevorder. Verder is dit nie doel van China om die invloed van ander Westerse moondhede deur middel van militêre diplomasie te neutraliseer nie. Die VSA, Brittanje, Japan en Frankryk gebruik ook militêre instrumente om verhoudinge te bevorder – wat hulle diplomatieke reg is.

– Gelykheid is ’n kernbeginsel van China se Afrika-diplomasie. Militêre diplomasie het oor die jare ontwikkel om bilaterale verhoudinge te versterk en gelykheid is ’n grondbeginsel van die strewe om solidariteit met Afrikalande te bou. China beskou Afrikalande as gelyke vennote in bilaterale en multilaterale onderhandelinge. Dit beïnvloed die sluit van militêre ooreenkomste, wapentransaksies, die deel van tegnologie en ander kontrakte.

China se militêre diplomasie, spesifiek vredesendingsoperasies, lewer ’n belangrike bydrae om vrede, stabiliteit en ontwikkeling teweeg te bring. Amptenare van die VN en AU glo dat Chinese troepe ’n positiewe beeld uitstraal en hartlik ontvang word in die missie-areas waar hulle werk.

Verder is dit ’n doelwit van militêre diplomasie om kommunikasie met die AU en streeksorganisasies te verbeter. In die lig hiervan is dit belangrik om kanale vir dialoog en meganismes te skep vir die implementering en uitvoering van militêre doelwitte. Die Nasionale Universiteit van Verdediging in Beijing het in die laaste dekade meer as 4 000 senior weermagoffisiere en regeringsamptenare van oor die hele wêreld opgelei. Van dié opgeleide beamptes is 300 in leierskapsposisies aangestel: ministers van verdediging, hoofde van die staf en eenheidsbevelvoerders. ’n Groot groep van die opgeleide beamptes is afkomstig uit Afrika.

In die konteks van China se huidige verhoudinge met Afrikalande is militêre diplomasie ’n integrale deel van China se algehele Afrikabeleid. Afgesien van die doelwitte om vrede en stabiliteit te bring, help militêre diplomasie met die verbetering van bilaterale verhoudinge, die beskerming van nasionale soewereiniteit, die vestiging van sekuriteit- en ontwikkelingsbelange, die bevordering van die weermag se moderniseringsveldtog en die handhawing van wêreldvrede.

 

4. Uitdagings

In die lig van die huidige situasie staar China verskeie uitdagings in die gesig. Die grootste uitdaging is die agterdog van Westerse lande oor China se militêre betrokkenheid in Afrika. Dit sluit nie deelname aan vredesendingsoperasies in nie, maar fokus op die aard van die opleiding wat aangebied word, die verkoop van wapens, die strategiese invloed van die Chinese vloot aan die Oos- en Weskus van Afrika en die oprigting van militêre basisse. Die agterdog is grootliks die resultaat van verskille in Westerse en Chinese interpretasies van wêreldvrede, ekonomiese ontwikkeling en sekuriteit.

Twee beginsels is hier belangrik. Die eerste is nie-inmenging en respek vir soewereiniteit en die tweede is ekonomiese ontwikkeling, wat in die Chinese konteks ’n voorvereiste vir vrede en sekuriteit is. Sedert die totstandkoming van die African Military Command Center (AFRICOM) het die Amerikaanse weermag verskillende vorme van militêre diplomasie in Afrika uitgevoer. Dit sluit in gesamentlike oefeninge met Afrikaweermagte, teeninsurgensie-opleiding, spesiale-wapens-en-ammunisie-opleiding, grensbeheer en taktiese-aanval-operasies. Dan word opleiding ook in logistieke en bevelsentrumbestuur verskaf. Die Amerikaanse weermag het ’n strategiese invloedsfeer ontwikkel wat Djiboeti, Suid-Soedan, Uganda en die DRK insluit. Basisse vir die lansering van hommels is in Djiboeti, Burkina Faso, Ethiopië, Kenia, Uganda, die Seychelle en Niger gebou. Die uitdaging vir China is om sy tegnologiese kennis aan te wend vir die ontwikkeling van strategieë om operasionele ervaring op te doen.

Dan moet ook op deursigtigheid in opleidingsprogramme gefokus word. Die insette van die plaaslike sekuriteitspersoneel moet byvoorbeeld in ag geneem word met die aanbied van programme. Wat is die onmiddellike sekuriteitsbehoeftes van die gemeenskap en watter rol kan die weermag speel om dit aan te spreek? In hierdie stadium is dit eensydig van die Chinese kant. Voldoende opleiding in die gebruik van wapens sal ook help om vertroue te wen en militêre diplomasie te bevorder.

 

5. Huidige verwikkelinge

5.1 Die Afrika Vrede-en-sekuriteit-argitektuur

Die Afrika Vrede-en-sekuriteit-argitektuur (African Peace and Security Architecture – APSA) is ’n protokol wat in Julie 2002 deur die Veiligheidsraad van die AU aanvaar en in 2003 in werking gestel is. Die protokol het ten doel om Afrika se konflikte en krisisse te voorkom, te bestuur en op te los. Dit is eers in die laaste paar jaar, met China se aktiewe deelname, dat die sekuriteitsargitektuur ‘n werklikheid word. Bydraes soos deelname in vredesendingsoperasies, programme vir sosio-ekonomiese ontwikkeling, militêre opleiding en die gebruik van sekuriteitskontrakteurs versterk die protokol en bied ’n oorkoepelende raamwerk vir sekuriteitsamewerking. Die kennis en ervaring van die Chinese weermag word ook gebruik om die AU se militêre kapasiteit te verhoog.

5.2 Die China-Afrika Verdediging-en-veiligheidsforum

Die forum het in 2018 tot stand gekom en is by die Chinese weermag se Universiteit van Verdediging in Beijing aangebied. Die eerste forum is deur verteenwoordigers van 49 Afrikaregerings en die AU bygewoon. Afrikaleiers het saamgestem dat die forum ’n geskiedkundige tydperk van China-Afrika militêre verhoudinge inlui en op dieselfde trant as die gevestigde Sjanghai-Ontwikkelingskorporasie (SOK) kan ontwikkel.

5.3 Die Beijing Aksieplan (2018–2021)

Die aksieplan dien tans as raamwerk vir China se militêre hulpverlening aan Afrika. Dié plan maak voorsiening vir hulp deur die weermag en polisie in die handhawing van vrede en veiligheid. Bystand word ook verleen vir die ontwikkeling van die Afrika Staande Mag. Die Staande Mag is veronderstel om in te gryp in die grootskaalse miskenning van menseregte, byvoorbeeld volksmoord.

5.4 Covid Militêre Diplomasie

Die Chinese weermag se rol in nasionale diplomasie en sekuriteitstrategie bereik nuwe hoogtes in die konteks van die pandemie. Die weermag is nou aktief betrokke in die verlening van mediese bystand, veral in lande in Suidoos-Asië. Die doelwit is om China se internasionale reputasie te verbeter, na aanleiding van die gebrek aan onmiddellike optrede met die uitbreek van die pandemie in die begin van 2020. Die weermag het in Februarie 2021 met ’n internasionale veldtog begin om entstof te versprei.

Tussen Maart 2020 en April 2021 is mediese hulp en donasies aan 56 lande gemaak. Lande in Afrika is ook op die lys van 13 lande wat entstof ontvang. In die meeste gevalle word mediese hulp verleen aan lande op die Gordel-en-Pad- (GPI-) roetes. Dit word aanvaar dat die weermag ’n instrument is om China se COVID-19-diplomasie te bevorder. In Afrika byvoorbeeld word COVID-19-diplomasie met lande bevorder waarmee China gesonde militêre verhoudinge het, in plaas van lande wat strategies op die kantlyn staan. Die Chinese weermag se bedrywighede ten opsigte van die pandemie demonstreer dus dat die weermag ’n groter rol in China se buitelandse beleid speel.

 

Bronne geraadpleeg

Allen, K, PC Saunders en J Chen. 2017. Chinese Military Diplomacy, 2003–2016: Trends and Implications. Washington: National Defense University.

Benabdallah, L. 2018. https://www.washingtonpost.com/news/monkey-cage/wp/2018/07/06/china-africa-military-ties-have-deepened-here-are-4-things-to-know (15 Augustus 2021 geraadpleeg).

Devermont, J. 2020. China’s Strategic Aims in Africa. https://www.uscc.gov/sites/default/files/Devermont_Testimony.pdf (20 Augustus 2021 geraadpleeg).

fmprc.gov.cn.2006. China’s African Policy. https://www.fmprc.gov.cn/zflt/eng/zgdfzzc/t481748.htm (10 Augustus 2021 geraadpleeg).

Nantulya, P. 2020. China promotes its party-army model in Africa. https://africacenter.org/spotlight/china-promotes-its-party-army-model-in-africa (21 Augustus 2021 geraadpleeg).

Nouwens, M. 2021. The evolving nature of China’s military diplomacy: from visits to vaccines. https://www.iiss.org/blogs/research-paper/2021/05/china-military-diplomacy ( 27 Augustus 2021 geraadpleeg).

Panda, A. 2018. China dispatches new naval fleet for Gulf of Aden Escort Mission. Desember. https://thediplomat.com/2018/12/china-dispatches-new-naval-fleet-for-gulf-of-aden-escort-mission (25 Augustus 2021 geraadpleeg).

 

Lees ook:

Chinese sekuriteitskontrakteurs in Afrika: Oorsig, jongste gebeure en ontwikkelinge

Fanie Herman se navorsingsartikels in LitNet Akademies:

China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika

Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top