China se partyweermagmodel in Afrika

  • 0

Fanie Herman, navorsingsgenoot in die Universiteit van die Vrystaat se Departement vir Politieke Studies en Regeerkunde, verduidelik hoe die Chinese hul partyweermagmodel in Afrika toepas.

Fanie Herman (Foto: verskaf)

1. Inleiding

China se partyweermagmodel is een waar die weermag ondergeskik is aan die Chinese Kommunistiese Party (CKP). Die party beheer die weermag en die weermag mag nooit toegelaat word om die party te beheer nie – ’n reël wat deur die kommunistiese leier Mao Zedong bepaal is. Na die totstandkoming van die Volksrepubliek van China in 1949 is die reël opgeneem in die struktuur van die weermag om weermaglede se lojaliteit aan die CKP te verseker. Dié reël definieer die verhouding tussen die CKP en die Chinese weermag tot vandag toe nog.

Soos wat China se verhoudinge met Afrika-regerings groei, so word die partyweermagmodel bevorder. Twee van die belangrikste instrumente om die model bekend te stel, is opleiding en werksgeskoolde programme. Die Forum vir China-Afrika-samewerking het in 2018 ’n aksieplan geformuleer wat voorsiening maak vir die opleiding van 60 000 studente in verskeie beroepe. ’n Groot aantal van die studente kan hulleself bekwaam in beroepe wat op die weermag gerig is, byvoorbeeld as dienskameroperateurs, logistieke personeel en kommunikasiespesialiste.

China se partyweermagmodel poog om netwerke te verbeter en te help met die skepping van organisatoriese strukture. In dié opsig is persoonlike verhoudings tussen politici, regeringsamptenare en militêre offisiere van kardinale belang om partystrukture te bou. Die model is aanloklik vir politieke partye in Afrika wat afhanklik is van sterk militêre teenwoordigheid vir oorlewing, byvoorbeeld Ethiopië, Libië en Soedan.

Afbeelding ter illustrasie: Gigi, Unsplash.com

 2. China se partyweermagmodel

Tydens die 18de kongres van die CKP in 2013 is voorstelle gemaak oor die herstrukturering van die weermag. Die kongres het gefokus op die weermag se absolute gehoorsaamheid aan die CKP se Sentrale Komitee (SK). Die SK van die CKP is ’n politieke liggaam wat bestaan uit die top lede van die CKP. Die komitee het tans 205 permanente en 171 roterende lede.

Drie meganismes is voorgestel vir die herstrukturering van die weermag.

Eerstens oefen die Sentrale Militêre Komitee (SMK) direkte beheer oor die gewapende magte uit. Die SMK is die hoogste nasionale verdedigingsorganisasie in China. Binne die CKP staan dit bekend as die Sentrale Militêre Komitee van die CKP en binne die regering as die Sentrale Militêre Komitee van die Volksrepubliek van China.

Dié komitee rapporteer aan die Politburo, die CKP se hoogste besluitnemingsorgaan. Die SMK het meer gesag as die Departement van Verdediging, wat slegs advies aan militêre personeel verskaf.

Ten tweede is ’n netwerk van politieke kommissarisse in die Politieke Departement van die SMK verantwoordelik vir politieke en ideologiese opleiding aan die gewapende magte. Dié kommissarisse dra dieselfde rang en gesag as die bevelvoerders van weermageenhede. Die Politieke Departement het dieselfde gesag as die stafhoofde van militêre eenhede en voer gesamentlike besluite uit oor logistiek, strategiese beplanning en opleiding.

Derdens word die bevoegdheid aan senior militêre leiers oorgedra om op die CKP se hoogste besluitnemingsorgane te sit. Dié besluit is geneem om die voortbestaan van die CKP te verseker. Tydens die kongres van 2013 is ’n debat gevoer onder lede van die CKP of die party die weermag moet beheer en of die weermag ’n nasionale weermag sonder politieke invloed moet wees. Die meerderheid partylede het daarvoor gestem dat die CKP steeds in beheer van die weermag moet wees. Dit dui op die eerbiediging van Mao se oorspronklike reëling.

 

3. China se politieke-militêre model in die Afrika-konteks

Volgens die partyweermagmodel kan studente en beroepslui hulle loopbane op drie vlakke bevorder. Die eerste vlak is vir kadette en junior offisiere by die Nanjing Militêre Akademie, die Dalian Vlootakademie en die lugmag se vliegkunsskool in Jilin in die noordooste van die land. Die tweede vlak is die personeelkolleges in Nanjing en Shijiazhuang. Dié kolleges is verantwoordelik vir die opleiding van middelvlakoffisiere. Studente uit Afrika ondergaan meestal opleiding by dié kolleges. Die derde vlak bied opleiding aan vir senior offisiere by China se Nasionale Universiteit vir Verdediging en Nasionale Universiteit vir Tegnologie. Dit is twee verskillende universiteite. Meer as 300 senior offisiere van lande regoor die wêreld ondergaan jaarliks opleiding by dié universiteite. Senior offisiere uit Afrika maak omtrent 60% van die studente uit.

Offisiere van weermagte in Afrika ondergaan ook opleiding by die Chinese weermag se politieke skole. Die skole verskaf opleiding in die meganismes wat die CKP gebruik om beheer oor die weermag uit te oefen, insluitende die politieke kommissarisstelsel. Angola, Algerië, Cabo Verde, Ethiopië, Eritrea, Guinee-Bissau, Mauritanië, Mosambiek, Rwanda, Suid-Soedan, Tanzanië en Zimbabwe het almal verskeie vorme van Mao se model aangeneem om die regerende party met die weermag te verbind. Van die politieke skole sluit in die Kunming Nasionale Akademie, Die Pudong Kollege, en die Nanjing Politieke Kollege. Honderde lede van burgermagte in Afrika en lede van sekuriteitsmaatskappye het reeds opleiding by die kolleges ontvang

Verder kan persone wat die klasse bywoon, met die model eksperimenteer en kyk of dit prakties uitvoerbaar in hulle eie militêre omgewings is. Na aanleiding van die praktiese uitvoerbaarheid word aanpassings dan gemaak. Politieke partye in Afrika, soos die Ruling Council for the Defense of Democracy and Forces in Burundi, het van hulle lede vir opleiding na die kolleges gestuur. Dié lede verrig tans burgerlike beskermingsdienste in Burundi.

Verskeie weergawes van China se politieke-militêre skole bestaan in Afrika. Dié skole weerspieël China en Afrikalande se gedeelde historiese en ideologiese tradisies. China se ondersteuning van vryheidsbewegings in die strewe na onafhanklikheid en solidariteit met die ideologie van kommunisme, is deurslaggewend van die verhouding. Van die skole sluit in: Uganda se Oliver Tambo-leierskapsakademie, ’n polities-militêre skool wat op ’n voormalige militêre basis van die African National Congress (ANC) gebou is; ’n politieke skool in Tatek, Ethiopië; die South West Africa People’s Organization (SWAPO) se politieke skool in Namibië; en die ANC se politieke skool in Venterskroon, Suid-Afrika.

In 2018 het die CKP se interne skakelkantoor 45 miljoen Amerikaanse dollar befonds vir die bou van die Mwalimu Nyerere-leierskapsakademie in Tanzanië. Die akademie se leerplan fokus op die verbetering van leierskapsvaardighede, soortgelyk aan dié wat by die Pudong Kollege in Sjanghai onderrig word. Burgerlike en militêre kaders van voormalige bevrydingsbewegings in Afrika, soos Angola, Botswana, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe, ontvang opleiding by die leierskapsakademie vir ’n tydperk van drie jaar. Die meeste van die lande het strategiese vennootskappe met China gesluit. Strategiese vennootskappe word gedefinieer as ’n spesifieke vorm van kontak tussen twee of meer rolspelers in die internasionale sisteem waar al die rolspelers wedersydse voordeel uit die vennootskap trek. Opleiding by die akademie fokus op die bevordering van strategiese besluitneming, logistieke bestuur en die ontwikkeling van leierskapsvaardighede.

Daar is egter senior militêre leiers in Afrika wat nie bereid is om hulle weermagte te verpolitiseer nie. Kolonel Naison Ngoma van Zambië voer aan dat die weermag en regering apart moet funksioneer en dat verpolitisering maklik plaasvind indien die twee strukture te na aan mekaar beweeg. Kolonel Émile Ouédraogo van Burkina Faso beweer dat die weermag ondergeskik aan burgerlike gesag moet wees, gehoorsaam aan die staat en verbind tot politieke neutraliteit. Slegs indien hierdie drie beginsels gevolg word, kan die weermag werklik professioneel wees.

 

4. Gevolge van China se party-militêre model in Afrika

Die integrering van die weermag in die politieke strukture van ’n party het positiewe en negatiewe gevolge. Voorbeelde van positiewe gevolge is die lojaliteit van die weermag aan die regerende party, byvoorbeeld in Angola, Mosambiek en Tanzanië, en die bekendstelling van Mao se ideologie aan die gewapende magte en publiek, byvoorbeeld Mosambiek, Suid-Soedan en Uganda. Die kantoor van die Politieke Departement of Kommissariaat speel hier ’n belangrike rol. Voorbeelde van negatiewe gevolge is die ontseteling van ’n president deur middel van ’n militêre bewindsoorname, byvoorbeeld in Zimbabwe, en die leierskapsverskille tussen militêre en politieke leiers. Die verskille kan tot burgeroorlog lei, soos in Suid-Soedan.

Die positiewe gevolge word as volg uitgelig. Mao se partyweermagmodel word sedert Angola se onafhanklikheidswording in 1975 deur die Popular Movement for the Liberation of Angola (MPLA) gebruik om lede van die gewapende magte in die beginsels van Mao te onderrig. Die grootste rede vir dié ideologiese indoktrinering is om lojaliteit aan die party te verseker. Angola se president, João Lourenço, is ’n voormalige politieke kommissaris wat sy militêre opleiding in die Sowjetunie ontvang het. Dieselfde geld vir Mosambiek se voormalige presidente, Joaquim Chissano en Armando Guebeza, en Tanzanië se president Jakaya Kikwete. In Mosambiek dien senior leiers van die weermag op die Sentrale Komitee van die Liberation Front of Mozambique (Frelimo) en die Politieke Kommissariaat. Frelimo gebruik honderde ervare party- en militêre veterane om die gemeenskap op te voed in die beginsels van sosialisme. Net soos in Angola word dit gedoen om lojaliteit aan die party te verseker. In Suid-Soedan is die kantoor vir Politieke en Morele Oriëntasie daarvoor verantwoordelik om die SPLA se politieke ideologie onder die gewapende magte te verkondig. Dié kantoor volg dieselfde werkwyse as die Chinese weermag se Politieke Departement.

In Uganda is die ideologie van Mao sterk teenwoordig in die regerende National Resistance Movement (NRM) en die Uganda People's Defence Force (UPDF). Dit is om die party en weermag nader aan mekaar te bring. Net soos in Angola, Mosambiek en Suid-Soedan het Uganda ’n hoof- politieke kommissaris wat verantwoordelik is vir die opleiding van politieke kommissarisse regoor die land. Verskeie lede van die NRM is deur Frelimo in taktieke van Mao se guerrilla-oorlogvoering opgelei. Die NRM se lofprysing vir Mao word gevind in militêre doktrines, handleidings en die boek Mission to Freedom. Dié boek is geskryf deur president Yoweri Museveni en beskryf die vryheidstryd van die NRM in besonderhede. Museveni het tydens ’n besoek aan Mao se geboortedorp in Hunan in 2019 gesê dat revolusionêres na Hunan kom soos Katolieke na Rome gaan.

Die negatiewe gevolge word as volg uitgelig. In 2017 het die adjunkminister van die Zimbabwiese weermag, Contstantine Chiwenga, die regerende Zimbabwe African National Union–Patriotic Front (ZANU-PF) beskuldig van die onregmatige afdanking van hooggeplaaste regerings- en weermagamptenare. Die beskuldigings was direk gemik op Robert Mugabe. Mugabe het Emmerson Mnangagwa, die visepresident, afgedank, wat aanleiding gegee het tot onrus in die geledere van die party en weermag. Mnangagwa was ’n gewilde leier onder die top weermaggeneraals. Mugabe wou die party en weermag suiwer van lede wat teen sy leierskap gekant was. Dit was om mag te behou in die verkiesing van 2018. Chiwenga het verklaar dat die weermag ’n belang het om die wense van oudstryders te eerbiedig en dat dit nie as ’n politieke pion deur die regering gebruik moet word nie. Chiwenga het gewaarsku dat die gewapende magte mag ingryp om die suiwering te stop. ’n Dag later het die weermag beheer geneem van verskeie staatsdepartemente.

ZANU-PF se politieke kommissariaat, die setel van die party se mag, was altyd beman deur die land se top generaals. Mugabe se faksie binne ZANU-PF het die weermag daarvan beskuldig dat hulle die grondbeginsel van Maoïsme oortree deurdat hulle nie te alle tye die party se bevele gehoorsaam nie. Mugabe het besluit om sy vrou Grace se faksie te ondersteun soos wat die binnegevegte tussen ZANU-PF-lede en weermaggeneraals voortgeduur het. Grace was ’n lid van ZANU-PF se Politburo en het die G40-faksie aangevoer. Die faksie het hulle daarvoor beywer om ouer lede van die party met die jonger generasie te vervang. Dit het ook gegeld vir ouer lede van die weermag wat in die pad gestaan het van veranderinge in die organisatoriese struktuur van ZANU-PF. Chiwenga, aan die ander kant, het Emmerson Mnangagwa ondersteun om die presidentskap oor te neem. Verskeie top generaals het hulleself ook agter Mnangagwa geskaar. In ’n stemming van die kommissariaat is Mnangagwa eenparig tot nuwe president verkies.

In Suid-Soedan het die militêre tradisies van Mao gefaal om die party met die weermag te verbind. Die verskillende leierskapstyle van president Salva Kiir en visepresident Riek Machar het die party en weermag verdeel en tot groot onenigheid tussen ondersteuners van die twee leiers gelei. Kiir was ’n militaris met min formele opleiding en Machar was ’n politikus wat ’n doktorsgraad in Brittanje verwerf het. Kiir was ten gunste van sterk militêre teenwoordigheid in die regerende Sudan People’s Liberation Army (SPLA), terwyl Machar die verskillende etniese groepe wou verenig en ’n regering van nasionale eenheid wou uitroep. Beide leiers was egter deel van rebellemagte wat in die tweede burgeroorlog in Soedan geveg het en het dus albei ’n militêre agtergrond gehad. Kiir was egter nie gewild onder lede van die weermag nie, as gevolg van sy outokratiese bestuurstyl en min respek vir die etniese diversiteit binne die weermag. Daar is 64 etniese groepe of stamme in Suid-Soedan. Die twee leiers se uiteenlopende standpunte oor die manier van regering het aanleiding gegee tot maande lange gevegte in die Politburo van die SPLA en die uiteindelike uitbreek van die Suid-Soedannese burgeroorlog in 2013. Dit slegs twee jaar na Suid-Soedan onafhanklikheid van Soedan gekry het.

Met die onafhanklikheidwording van Suid-Soedan in 2011 is Kiir tot eerste president verkies. Uit die staanspoor was Kiir uitgesproke teenoor die ambisies en afbrekende kritiek van Machar. Machar is toe summier in Julie 2013 afgedank. Militêre faksies lojaal aan Kiir en Machar het slaags geraak en begin bewapen. Die vraag is gevra of politici of die weermag die land moet regeer. Dit is in verwysing na die partyweermagmodel van Mao. Meer as die helfte van die SPLA se Politburo het uit weermagoffisiere bestaan. In ’n vergadering op 13 Desember 2013 is die verskille tussen die party en weermag ontbloot, nadat die meerderheid van die weermagoffisiere hulle by Machar geskaar het. Machar is toe as tussentydse president verkies en die burgeroorlog het op 20 Desember uitgebreek.

 

5. Tekortkominge van die China-model

Die CKP se leierskapsgroep verantwoordelik vir militêre hervormings het ’n lys opgestel van die grootste faktore wat samehang en effektiwiteit in die weermag belemmer. Dit sluit in faksies, politieke bevooroordeling, en korrupsie. Dié faktore is diep gewortel in die partystrukture van die CKP en het oorgespoel na die weermag as gevolg van die noue verbinding tussen die party en weermag. Xi Jinping se oproep dat korrupsie in die weermag uitgeroei moet word, is ’n persoonlike inmenging in weermagbeleid en veroorsaak dat die weermag verpolitiseer word. Massiewe herstrukturering in die weermag het reeds daartoe gelei dat meer as 10 000 partylede en 120 senior offisiere die trekpas gekry het sedert 2013. Dit is die jaar waarin Xi Jinping president geword het. Verder verbied nuwe wetgewing afgedankte weermaglede om huidige lede teen die wil en beleid van die party op te sweep. Dit word gesien as verraad en volgens Chinese wet strafbaar met lewenslange tronkstraf. Ten spyte van dié tekortkominge is die skeiding van die party, weermag en staat nie moontlik nie. Fang Changlong, visevoorsitter van die SMK, het soldate gewaarsku om politieke standpunte wat die party en die weermag verdeel, te verwerp.

 

6. Gevolgtrekking

China se pogings om die party-militêre model in Afrika te gebruik is grootliks die gevolg van sterk ideologiese bande wat tydens die vryheidstryd opgebou is. Sekere Afrikaleiers argumenteer dat Chinese modelle en doktrines belangrik was om onafhanklikheid te wen en relevant om toekomstige verhoudinge tussen China en Afrika te bou. Aan die ander kant is daar militêre kenners in Afrika wat aanvoer dat die hooftaak van die weermag die beskerming van die land se territoriale soewereiniteit is en nie as ’n instrument van enige politieke party moet dien nie. Ten spyte van dié standpunt is die ideologiese grondslag vir die bevordering van die partyweermagmodel gelê.

 

 

Bibliografie

Bitzinger, Richard A en James Char. 2020. Reshaping the Chinese military: The PLA’s roles and missions in the Xi Jinping era. Londen: Routledge.

crisigroup.org. 2021. South Sudan: From independence to civil war. 9 Julie. https://www.crisisgroup.org/africa/horn-africa/south-sudan/south-sudan-independence-civil-war (21 Desember 2021 geraadpleeg).

Grossman, Derek en Michael S Chase. 2016. Why Xi is purging the Chinese military: China’s president pulls a page from Mao’s little red playbook. 15 April. https://nationalinterest.org/feature/why-xi-purging-the-chinese-military-15795 (9 Desember 2021 geraadpleeg).

Ma, Josephine. 2021. China’s Communist Party and the military: who the army reports to and what’s changed under Xi Jinping. 14 Mei. https://www.scmp.com/news/china/military/article/3133210/why-chinas-communist-party-maintains-tight-grip-military (15 Desember 2021 geraadpleeg).

Nantulya, Paul. 2020. China promotes its party-army model in Africa. 28 Julie. https://africacenter.org/spotlight/china-promotes-its-party-army-model-in-africa (19 Desember 2021 geraadpleeg).

news24.com.2017. Mugabe accuses military of plotting a coup, tells them “stop interfering in politics”. 29 Julie. https://www.news24.com/news24/Africa/Zimbabwe/mugabe-accuses-military-of-plotting-a-coup-tells-them-stop-interfing-in-politics-20170729.

 

Lees ook:

Die Forum vir China-Afrikasamewerking na 21 jaar: Die opkoms van Afrika-agentskap

Chinese sekuriteitskontrakteurs in Afrika: Oorsig, jongste gebeure en ontwikkelinge

China se militêre diplomasie in Afrika: Wat is aan die gebeur?

 

Fanie Herman se navorsingsartikels in LitNet Akademies:

China se Gordel-en-pad-inisiatief (Belt and Road Initiative, BRI): Die vroeë invloed op Afrika

Amerikaans-Chinese wedywering: ’n Sistemiese en teoretiese ontleding

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top