Fanie Herman se China in Afrika: Die era van sekuriteit het pas as e-boek vir Kindle by Amazon verskyn. Dié publikasie fokus op China se strewe na groter ekonomiese en militêre mag, en die opskerping van plaaslike en internasionale sekuriteit as ’n strategie om uitvoering aan dié magsuitbreiding te gee. Die boek werp lig op die verhouding tussen die wêreldmoondheid en Afrika. Theo Neethling het met Fanie Herman gesels oor die boek wat hier by Amazon gekoop kan word.
Jy argumenteer dat China in die laaste dekade meer selfgeldende en aggressiewe internasionale gedrag begin openbaar het. Dit is toe te skryf aan Beijing se uitbreiding van politieke, ekonomiese en militêre mag op die internasionale politieke terrein en die strewe na grootmoondheidstatus. Hierdie stelling kan ook op Rusland onder Vladimir Poetin se leiding van toepassing gemaak word. Kan jy dalk hierop uitbrei?
Ten einde China en Rusland se verhoudinge in perspektief te plaas, is dit nodig om te noem dat die twee lande op vele terreine saamwerk en sterk diplomatieke verhoudinge het. Daar bestaan ook meganismes om politieke, ekonomiese en militêre verhoudinge te koördineer. As voorbeeld word daar verwys na die St Petersburg Internasionale Ekonomiese Forum (SPIEF), waar beide lande hulleself verbind tot ekonomiese samewerking, en die Shanghai Samewerkingsorganisasie (SCO), waar sekuriteitsbelange bevorder word. Die tema van die SPIEF-forum in 2022 was “nuwe geleenthede in ’n nuwe wêreld”. Rusland het aangekondig dat sy belange na die Ooste mag verskuif as gevolg van toenemende druk en sanksies van die Weste. ’n Ander fokusarea wat China en Rusland nader aanmekaar bring, is lidmaatskap van die ekonomiese groepering BRICS (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika). Die groepering plaas China en Rusland in ’n sterk posisie om Amerika se internasionale hegemoniese ambisies teen te werk en rigting te gee aan die totstandkoming van nuwe, internasionale ekonomiese wêreldorde. Verder streef beide lande na ’n multipolêre wêreld, ondersteun mekaar in die Verenigde Nasies en ander internasionale organisasies, en deel ideologiese beginsels en belange.
Dit bring ons by die vraag of Rusland wel oor die nodige hulpbronne en mag beskik om as groot moondheid geklassifiseer te word. Rusland was ’n groot moondheid tydens die Sowjet-tydperk, gesien in die lig van die bipolêre internasionale politieke sisteem wat op daardie stadium bestaan het. Amerika en die Sowjetunie was die enigste twee groot moondhede. Met die opbreek van die Sowjetunie het Rusland se grootmoondheidstatus tot ’n einde gekom. Daar is tans onder Poetin se bewind hernieude aansprake op die status. Daar is egter verskeie kriteria waaraan ’n land moet voldoen om dié status te verwerf. Die eerste kriterium is die besit van kernwapens. Rusland voldoen aan die kriterium omdat dié land oor die wêreld se grootste kerwapenarsenaal beskik. Die tweede kriterium het te make met die grootte van die weermag. Rusland het ’n enorme weermag met moderne en gespesialiseerde wapentuie wat verwoestend was in onlangse oorloë in die streek en tans in die Oekraïne aangewend word. Die derde kriterium is ekonomiese en tegnologiese mag. In hierdie opsig skiet Rusland tekort en is hulle ver agter tegnologies gevorderde lande soos Amerika, China, Japan en Europese lande. Dit is Rusland se onvermoë om aan die laaste kriterium te voldoen wat die land se strewe na grootmoondheidstatus in twyfel trek. Barack Obama, ’n voormalige president van Amerika, het beweer dat Rusland slegs ’n streeksmoondheid is en nie vinnig oor die vermoë gaan beskik om mag en invloed internasionaal te projekteer nie. Met China se ondersteuning kan Rusland egter van ’n streeksmoondheid na ’n globale moondheid groei.
Jy argumenteer ook dat die dryfveer agter die opkoms van China gesoek moet word in die herlewing van Chinese nasionalisme en die fokus op sosialisme met Chinese eienskappe. Hier kan ’n mens byvoeg dat die Russe oor die algemeen ook baie nasionalisties is. Meer nog: Poetin word soms as ’n regse nasionalis beskryf. Is daar parallelle tussen China en Rusland?
In die politieke konteks verwys die herlewing van Chinese nasionalisme na die bevordering van die Chinese waardesisteem en regeringstruktuur. Dit gebeur plaaslik en internasionaal. Xi Jinping se grootmoondheiddiplomasie is ’n ander manifestasie van nasionalisme en wys op pogings van China om die land se internasionale mag uit te bou en wedywering met die Weste uit te lok. Sosialisme met Chinese eienskappe verskaf konteks aan die herlewing van nasionalisme en is ’n belangrike middel om solidariteit en samewerking met vennote te bevorder.
Poetin se nasionalistiese ambisies het sy oorsprong in die historiese rol wat Rusland gespeel het om Russiese gemeenskappe in Eurasië te verenig. Daar word somtyds ook verwys na Poetin se verlange om die voormalige Sowjetunie te herstel. Volgens Poetin kan sprekers van die Russiese taal nie in ’n etniese kategorie geplaas word nie. Enige persoon wat in Rusland gebore is en die taal praat, is ’n Russiese burger. Dit sluit burgers van voormalige Russiese republieke in. Dié uitsprake van Poetin toon parallelle met die herlewing van die Chinese nasienarratief onder Xi Jinping. Die Chinese leier sien alle persone wat in China en die omliggende gebied gebore is as Chinese burgers. Dié burgers moet help om Chinese invloed in die wêreld uit te bou en China sy regmatige plek in die wêreld te gee. Ten opsigte van die oorlog in die Oekraïne ondersteun China ook Rusland se aansprake op die beskerming van sy territoriale integriteit en beskou Rusland se aksies om sy nasionale sekuriteit te beskerm as wettig. China en Rusland maak dikwels melding van die bedreiging wat “eksterne” magte vir die nasionale sekuriteit van die twee lande inhou. Dit word goed geïllustreer deur Xi Jinping se weiering om Rusland se inval in die Oekraïne te kritiseer, wat ook daarop kan dui dat die Chinese leier Rusland se nasionalistiese ideale ondersteun en dat die twee leiers se sekuriteitsdoelwitte by mekaar aansluit.
Hoe voel ander state in Asië oor die toenemende Chinese invloed? Is daar ’n soort angs onder van die state in Asië, of word daar eerder aanvaar dat China die onbetwiste leier daar is en selfs gevolg moet word? En waar pas Indië in hierdie prentjie? Die groot vraag is: Wat gaan van Taiwan word? Gaan Taiwan die pad van Hongkong loop? En wat is die algemene gevoel in Taiwan oor die toekoms in verband met China, of is daar verdeeldheid?
Onlangse peilings dui op ’n afname in die vertroue wat lande in Suidoos-Asië in China het. China se sukses in die hantering van die pandemie en die land se Covid-19-diplomasie het min of geen effek op burgers in die streek se houdings gehad nie. Die lande in die streek het wel waardering vir die leierskapsrol wat China speel, maar is bekommerd oor China se sterk ekonomiese invloed, die skending van die lande se territoriale soewereiniteit, byvoorbeeld in die Suid-Chinese See, en doelbewuste inmenging in die lande se buitelandse beleid. Negatiewe gevoelens teenoor China skep wantroue. Dit kom daarop neer dat China sy eie buitelandse beleid van vreedsame naasbestaan misken. Die beginsels van vreedsame naasbestaan is deur Deng Xiaoping geformuleer en vorm die basis van China se buitelandse beleid. Dit sluit in: respek vir die soewereiniteit en territoriale integriteit van ander lande; ’n benadering van nie-aggressie tot bilaterale verhoudinge; nie-inmenging in die huishoudelike sake van ander lande; gelyke behandeling van alle nasies en rasse; wedersydse voordeel in ekonomiese onderhandelinge; en die vreedsame naasbestaan van alle lande op aarde.
Indië se ekonomie het in die laaste paar jaar gegroei en die land is besig om ’n leier op tegnologiese gebied te word. Die Indiërs is veral innoverend in die ontwikkeling van rekenaarsagteware en -programmering. Vanuit ’n regeringsperspektief plaas die tegnologiese vindingrykheid Indië in ’n wedloop met China om die leier op die gebied te word. ’n Groot deel van die bevolking sien China egter as ’n belangrike handelsvennoot en streef na die handhawing van gesonde verhoudinge. Daar is natuurlik ook grensgeskille tussen China en Indië wat groot spanning tot gevolg het. Die regering wil egter toesien dat geskille vreedsaam opgelos word.
Die Republiek van China (ROC) is die de facto-regering van Taiwan, terwyl die Volksrepubliek van China (PRC) die de facto-regering van China is. China beskou Taiwan as deel van sy grondgebied en wil die eiland uiteindelik met die vaderland herenig. Metodes om die eiland oor te neem sluit die gebruik van geweld in. Die huidige president van die ROC, Tsai Ing-wen, is ten gunste van onafhanklikheid vir Taiwan en veroordeel China se miskenning van demokrasie en hul verhoogde militêre optrede. Daar is ook mense wat dink Taiwan gaan die pad van Hongkong loop. Ten opsigte van verdeeldheid is daar basies twee groepe. Die eerste groep is die “mainlanders” wat sterk verbintenisse met familie en vriende in China het. Hulle is meestal lede van die ouer generasie wat ná die kommunistiese oorname van China in 1949 na Taiwan uitgewyk het. Die ander groep is die lede van die jonger generasie en pro-onafhanklikheidsbewegings. Daar is ook burgerlike en nieregeringsorganisasies wat anti-Chinese sentimente verkondig en wat wil toesien dat Taiwan van China wegbreek.
Poetin se oorlogspoging in Oekraïne het nuwe lewe in NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) geblaas nadat Donald Trump die organisasie lamgelê het en Emmanuel Macron onlangs nog na die organisasie as "breindood" verwys het. Sal dit wys wees van NAVO of die VSA op sy eie om China militêr aan te vat oor Taiwan as dit daarop neerkom?
Tydens die onlangse NAVO-beraad in Spanje het Europese leiers hulle steun aan Taiwan toegesê in die geval van militêre optrede deur China. Taiwan is ’n baken vir demokrasie in Asië en het sterk handelsbande met Europa. Dis nodig om die sekuriteit van die eiland op te skerp. Die Amerikaanse beleid is dat Taiwan militêr gehelp sal word in die geval van ’n aanval deur China. Dit is egter onduidelik wat die strategie behels. ’n Verbintenis om Taiwan te verdedig beteken nie dat die Amerikaanse weermag dit wel sal kan doen nie. Gegewe die vinnige modernisering van die Chinese weermag in die laaste klompie jare en die afname in Amerika se militêre vermoëns in die streek bestaan daar twyfel of die Amerikaanse weermag China in ’n oorlog sal kan verslaan. Die hoofsekuriteitsdoelwit van die Chinese Kommunistiese Party is die integrering van Taiwan met die vaderland en die Chinese regerings sal nie rus totdat die doelwit bereik is nie.
Daar is algemene konsensus onder waarnemers en akademici wêreldwyd dat die internasionale swaartepunt op die politieke en ekonomiese terrein besig is om toenemend weg van die Weste na die Ooste te verskuif. Hoe moet SA na die toekoms kyk wat sy politieke en ekonomiese toekoms en vennote betref, en spesifiek wat China betref?
China se diplomatieke verhoudinge met Afrika dateer terug na die jare van Mao Zedong, maar het eers werklik momentum gekry met die aanvang van die 21ste eeu. Met die uitsondering van Eswatini is bilaterale verhoudinge met alle lande in Afrika gesluit. Die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC), wat elke drie jaar vergader, bevorder ekonomiese en politieke samewerking en is ’n belangrike platform om oor gemeenskaplike kwessies te beraadslaag. Tydens die laaste FOCAC-ontmoeting in 2021 het meer leiers van Afrika die forum bygewoon as tydens die Verenigde Nasies se algemene vergadering wat ’n paar maande vantevore gehou is. China het verskeie inisiatiewe en projekte geloods om verhoudinge met Afrika uit te bou. Dit sluit in die Gordel-en-pad-inisiatief (GPI), wat help met die oprigting van infrastruktuur, beleggings in die ontwikkeling van die gas-en-olie-bedryf, die aanbied van militêre hulp, en die installering van telekommunikasienetwerke. Die Weste dra ook by tot die ontwikkeling van Afrika, maar glad nie op dieselfde skaal as China nie. Daar word dikwels aangevoer dat China die nuwe koloniseerder van Afrika is en dat Afrikalande van China se hulp afhanklik is.
China het die ANC finansieel ondersteun tydens die apartheidsera en ook militêre hulp verleen. Ideologiese en politieke solidariteit bestaan ook reeds vir verskeie jare en die bande met Suid-Afrika is sterk. China poog ook om ’n spilpunt van nie-geallieerde state in Afrika te skep wat sal moet kies tussen Amerika se reëlgebaseerde internasionale orde of die finansiële en materiële hulp wat China verskaf. Op grond van die persoonlike kontakte tussen Xi Jinping en Cyril Ramaphosa en hulle persoonlike gesprekke tydens die laaste FOCAC-vergadering is die mening dat Suid-Afrika al hoe nader aan China beweeg. Chinese mense het reeds ’n groot teenwoordigheid in Suid-Afrika. Laastens word daar gesê dat die verval van die Weste en die opkoms van die Ooste tekenend is van die internasionale swaartepunt wat besig is om te verander.
Lees Fanie Herman se reeks LitNet-seminaarbydraes oor China hier.