Fanie Herman, navorsingsgenoot in die Universiteit van die Vrystaat se Departement vir Politieke Studies en Regeerkunde, verduidelik hoe Afrika inpas in China se strategiese benadering tot internasionale sake. Fanie se eboek, China in Afrika: Die era van sekuriteit, het pas by Amazon verskyn en is hier beskikbaar.

Fanie Herman (Foto: verskaf)
1. Inleiding
Afrika is ’n integrale deel van president Xi Jinping se ambisie om China se internasionale strategiese invloed uit te brei. Die strategiese waarde van Afrika is besef nadat die buitelandse beleid van vrede en ontwikkeling teen die einde van die vorige eeu afgekondig is. Afrika is beskou as ’n belangrike area vir die ontwikkeling van ’n besigheidslandskap wat China ekonomies en strategies in wedywering met die Weste kon plaas.
Die doelwit in die era van Xi Jinping is om Afrikalande saam te voeg in ’n subsisteem wat die meeste van die lande in die Globale Suide uitmaak. Globale Suide is ’n term wat gebruik word om lande wat in die laerinkomstegroep val, te identifiseer, terwyl lande wat in ’n hoërinkomstegroep val, deel van die Globale Noorde of ontwikkelde lande vorm. Verder poog China om Afrikalande te oorreed om aspekte van die land se politieke en ekonomiese sisteem aan te neem. Dit word uitgevoer onder andere deur ’n model wat as die Beijing-konsensus of China se ontwikkelingsmodel bekendstaan.
Terwyl kenners van Chinese politiek ’n debat voer of die model die regeersisteme van ander lande kan verander, bestaan daar bewyse dat die model wel deur lande in Afrika toegepas word. Kenia, Tanzanië en Angola is van die Afrikalande wat sekere elemente van die model reeds in hulle onderskeie regeringsisteme geïnkorporeer het. Daar is egter min bewyse of die model enige suksesvolle resultate toon. Lande wat besluit om die model te gebruik, word in effek kliëntestate van China. Dit laat die lande min ruimte vir hul eie ekonomiese besluitneming en ontwikkeling.

Foto ter illustrasie: Ferdinand-Feng, Pixabay
’n Vraag wat nog nie duidelik beantwoord is nie, is in watter mate ontledings van akademici China se strategiese besluitneming vir Afrika beïnvloed. Antwoorde op die vraag word meestal afgelei deur waarnemings van China se aktiwiteite op die kontinent self, beriggewing in die Westerse media en die vertaling van Chinese dokumente. Ontledings is selde gebaseer op amptelike beleidsdokumente van die regering en persone wat vir die opstel van die dokumente verantwoordelik is.
Die feit dat die China-Afrika-verhouding reeds oor ’n lang tydperk ontwikkel, beteken nie noodwendig dat China ’n Afrikastrategie het nie. Die term strategie word algemeen in Chinese beleidsdokumente en witskrifte gebruik, maar sonder ’n verduideliking wat daarmee bedoel word. Die Forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC) maak dikwels melding van strategiese aksieplanne, maar bied geen verduideliking hoe die planne in die praktyk gaan realiseer nie.
’n Strategie is ’n plan van aksie wat ontwerp is om die nasionale doelwitte van ’n nasiestaat te bereik. Dit gebeur gewoonlik deur verskeie instrumente van nasionale mag. Strategieë is gebaseer op die voorkeure wat regerings het om doelwitte te bereik en word gewoonlik omvattend, sistematies en met ’n lys van prioriteite opgestel. Dit is nie ’n beskrywing van wat tans gebeur nie, maar ’n poging om rigting aan die langtermyndoelwitte van die staat te gee.
Aangesien dit moeilik vir buitelandse waarnemers is om vas te stel wat in die besluitnemingsorgane van die Chinese Kommunistiese Party (CKP ) aangaan, is dit ook moeilik om te bepaal of ’n hoofstrategie vir Afrika reeds geformuleer is. Die rede daarvoor is dat amptelike inligting van die CKP slegs in Mandaryns gepubliseer word en buitelandse waarnemers van vertaalde weergawes gebruik maak. Die dieper betekenis van die dokumente en fyner nuanses gaan dan dikwels verlore. Aan die ander kant is inligting van Chinese akademici wat in die binnekringe van die CKP beweeg, waardevol om lig te werp op die strategiese doelwitte van die CKP. En alhoewel die akademici se perspektiewe en opinies nie dieselfde gesag as dié van hoëvlak-regeringsamptenare dra nie, is hulle kundige advies belangrik om die regte besluite te neem.
Die behoefte om ’n strategie te formuleer het in die laaste aantal jare toegeneem. Terwyl ekonomiese ontwikkeling en die oprigting van infrastruktuur steeds hoog op die agenda van China se hulp aan Afrika is, word geostrategiese faktore ook belangriker. Die hoofdoelwit is om die kontinent deel van ’n internasionale subsisteem te maak wat ’n groot deel van die Globale Suide insluit. Dit is dié lande wat China wil domineer. Een manier om dit reg te kry is deur die bemarking van die Chinese ontwikkelingsmodel aan Afrikalande.
Indien die lande oorreed kan word om sekere aspekte van China se politieke en ekonomiese stelsels aan te neem, is dit moontlik dat hulle in die toekoms gewillig sal wees om die Chinese internasionale orde te aanvaar. In teenstelling met kritiek uit die geledere van Chinese regeringsamptenare en Westerse waarnemers is die CKP in werklikheid besig om die model aan Afrikalande en ander lande in die ontwikkelende wêreld te verkoop.
2. Afrika in Xi Jinping se visie
Xi Jinping steun op die advies van ’n wye verskeidenheid raadgewers om nasionale strategieë te artikuleer. Dit sluit in die betroubare advies van CKP-lede, burokrate in regeringsdepartemente en akademici van gerespekteerde instellings en universiteite. Volgens Xi is dit belangrik dat die strategie saamval met China se opkoms as ’n groot moondheid, die herlewing van die Chinese nasie (die Chinese droom) en China se uitwaartse buitelandse beleid.
Tydens ’n konferensie wat in die vroeë jare van Xi se eerste ampstermyn gehou is, is saamgestem dat die uitwaartse benadering ’n belangrike stap is om China van ’n streeksmoondheid na ’n globale moondheid te transformeer. ’n Belangrike tema by die konferensie was of China se strategiese invloedsfeer na die Atlantiese Oseaan moet uitbrei en of dit in die Stille en Indiese Oseaan moet bly.
Daar is voorgestel dat die invloedsfeer nie in geografiese terme gedefinieer moet word nie, maar die hele ontwikkelende wêreld moet insluit. Die punt is ook gemaak dat Afrika binne China se groter raamwerk van diplomasie, sekuriteit en ontwikkeling geïntegreer moes word. Die konferensie het die riglyne neergelê vir die Gordel-en-pad-inisiatief (GPI) wat in 2013 bekendgestel is. Die ope geografiese omvang van die konferensie het Afrika binne China se strategiese raamwerk ingesluit.
In 2015 is ’n regeringsprojek geloods wat ondersoek ingestel het na die ontwikkeling van ’n amptelike strategie vir Afrika. Chinese kundiges en regeringsamptenare is deur Xi Jinping aangesê om ’n omvattende strategie vir Afrika te ontwikkel wat as riglyn kon dien vir China se diplomasie en betrokkenheid op die kontinent. Die projek is in 2019 voltooi met die bydraes van verskeie akademici en artikels wat in vaktydskrifte verskyn het. Van die belangrikste en mees betekenisvolle bydraes van dié akademici en kundiges word hier onder uitgelig. Dit vorm die kern van China se strategie vir Afrika.
3. Belange, potensiaal en geleenthede
Een van die beduidendste bydraes was die opdeel van China se Afrikabelange in drie kategorieë. Dit is kernbelangrik en algemeen. Kernbelange is ’n saak van lewe en dood vir die nasie en verwys na soewereiniteit, territoriale integriteit, nasionale eenheid en die stabiliteit van politieke, ekonomiese en sosiale sisteme. China se kernbelang is die handhawing van die een-China-beleid wat reeds vir langer as 60 jaar die basis van China se betrekkinge met Afrika vorm. So lank as wat China en Taiwan nog nie herenig is nie, so lank sal die soewereiniteitkwessie China se kernbelang in Afrika bly.
China se belangrike belange het te doen met die land se algemene ontwikkeling. Die belange word in twee subkategorieë opgedeel. Die eerste is China se eksplisiete materiële belange in Afrika, soos die beskerming van Chinese burgers se regte, die beskerming van Chinese eiendom en fasiliteite, die beskerming van energiebronne en die veilige vloei daarvan, en die uitbreiding van China se aandeel in Afrika se besigheidsmark.
Die tweede subkategorie is die latente, niemateriële belange, wat te doen het met die beskerming van China se nasionale waardigheid en internasionale reputasie. Laasgenoemde sluit byvoorbeeld die kwessie van menseregte in wat verskillend deur China en die Weste geïnterpreteer word. Menseregte in China fokus op die groep, terwyl menseregte in die Weste op die individu fokus. En alhoewel die kwessie van Chinese menseregte op sigself niks met Afrika te doen het nie, is Afrika ’n belangrike area vir die politieke spel tussen China en die Weste.
China se algemene belange in Afrika sluit alles in wat nie hier bo genoem is nie. Dit is onder andere die onderrig van die Chinese taal en kultuur op die vasteland deur middel van Konfusiaanse sentrums en kulturele vertonings. Daar is natuurlik ’n magdom van ander algemene belange wat China in Afrika bevorder en handhaaf. Dit sluit in media en telekommunikasie, tegnologie, wetenskap en onderwys.
Die bydrae wat inwoners van Afrika lewer en die aanwending van natuurlike hulpbronne word in die algemeen beskou as middele om voorspoed, mag en invloed te verkry. Dit hou ook voordele vir Afrika in, maar word nie as die hoofdoelwit beskou nie. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is die aanwending van menslike en natuurlike hulpbronne ’n belangrike doelwit vir ekonomiese vooruitgang vir albei partye.
Wanneer dit kom by ’n definiëring van China se Afrikastrategie is dit belangrik om Afrika binne die groter raamwerk van China se internasionale diplomasie, sekuriteit en ontwikkeling te beskou. Afrika se strategiese belangrikheid vir China moet beoordeel word teen die agtergrond van ’n ingewikkelde en komplekse internasionale omgewing. Die omgewing is gesentreer rondom mededinging, magsverskuiwinge en deglobalisering.
Om dié redes het Zhang Hongming, een van China se voorste kenners van Afrika, drie strategiese doelwitte vir Afrika geformuleer. Die drie doelwitte is om Afrika ’n strategiese verlengstuk van China te maak ten einde geopolitiese beheer oor Amerika uit te oefen, om strategiese ondersteuning vir China se ekonomiese groei te bied, en om Afrika ’n strategiese vennoot van China se visie vir ’n nuwe wêreldorde te maak.
Ten opsigte van die laaste doelwit wil China Afrika binne die land se internasionale regeringsmodel insluit. Die doelwit ondersteun China se pogings om die internasionale regeersisteem te verander volgens Beijing se voorkeure. Dit kan vermag word indien China konsensus met ontwikkelende lande bou om die land se internasionale posisie te versterk.
4. Steunpunte en buitelyne in China se strategiese magspel in Afrika
Volgens kundiges sentreer China se strategiese belangstelling in Afrika rondom twee konsepte: Afrika as ’n strategiese steunpunt en Afrika as ’n strategiese buitelyn. Die twee konsepte oorvleuel en deel ’n algemene onderliggende tema. Beide die konsepte het te doen met metodes om die bedreiging van ’n mededinger sonder groot uitgawes en skade teen te staan. China hoef die mededingers ook nie trompop te konfronteer nie. Die konsep van Afrika as ’n strategiese buitelyn verwys na die historiese rol wat Afrikalande gespeel het om China lid van die internasionale gemeenskap te maak.
China het histories op Afrikalande gesteun om antiimperialistiese en anti-Westerse strategieë te ontwikkel. Dit duur ook voort in die hedendaagse internasionale politiek. Terwyl die konsep van Afrikalande as ’n steunpunt vir China se diplomasie verwys na ’n strategie wat verdedigend van aard is (die beskerming van China se nasionale en internasionale belange met die ondersteuning van Afrikalande), verwys die konsep van Afrika as ’n buitelyn vir China se diplomasie na ’n strategie wat aanvallende en verdedigende elemente kombineer.
Die idee van ’n aanvallende-verdedigende strategie het sy oorsprong in Mao Zedong se guerrillaoorlogvoering tydens die Chinese Revolusie. In kort beteken dit dat indien ’n weermag deur ’n sterker weermag omring word, sou dit vir die swakker weermag onmoontlik wees om die sterker weermag te oorwin deur slegs binne ’n klein geografiese gebied te opereer. Mao het daarna as die binnelyne van die slagveld verwys. Ten einde groter sukses op die slagveld te behaal, is dit nodig vir die swakker weermag om vyand in verskeie kleiner operasies te konfronteer deur die buitelyne van die slagveld uit te brei. Op dié manier word die vyand se greep op die slagveld verswak.
Zhang Hongming beskou Afrika as ’n belangrike area van mededinging tussen China en Amerika. Hy beweer dat Afrika die swak skakel in Amerika se internasionale strategiese landskap is. China se gebruik van Afrika as ’n buitelyn verswak Amerikaanse invloed op die kontinent. Die sluiting van vennootskappe en bilaterale verhoudinge, die neem van die inisiatief in ekonomiese-ontwikkelingsprogramme, die oprigting van infrastruktuur, en ander vorme van mag dui alles op China se groter invloed in Afrika. Die voordeel vir China is verder dat die skep van ’n nuwe politieke en ekonomiese slagveld in Afrika Amerika se geopolitieke fokus tussen die Ooste en die Weste verdeel. Amerika se hulpbronne en mag word nou oor ’n groot geopolitieke area van die wêreld verdeel.
Afrikalande het China in die verlede ondersteun om ’n internasionale front teen Westerse imperialisme en kolonialisme te bou en onafhanklikheid met die hulp van China na te streef. In die moderne era het Afrikalande se doelwitte egter verskuif na ekonomiese ontwikkeling, modernisering en politieke en ekonomiese doelwitte, soortgelyk aan dié van China.
China pomp derhalwe groot bedrae geld in die ekonomiese ontwikkeling van Afrika, omdat die ontwikkelende wêreld as die werklike begunstigdes van China se internasionale invloed beskou word. Volgens Zhang Chun, ’n kenner op die gebied van Afrikasake, is dit belangrik vir China om Afrikalande nie slegs as ’n middel te gebruik om Chinese ambisies na te streef nie, maar as ’n middel om hulle vennote te maak in die daarstelling van ’n nuwe, internasionale geostrategiese landskap.
Indien Afrikalande binne China se geostrategiese invloedsfeer opgeneem word, is dit moontlik dat hulle die Weste in die toekoms op ’n strategiese vlak kan omsingel. Dit is met verwysing na Mao se guerrillaoorlogvoering waar die massas die stede vanaf die landelike gebiede omring en die vyand uit die stede gedryf het. Op dié manier kan die ekonomiese en politieke houvas wat die Weste reeds vir dekades op Afrika uitoefen, verbreek word. Zhang Chun noem verder dat die Weste deur Afrikalande geïsoleer kan word indien China totale beheer oor Afrika verkry.
5. Uitdagings in China se Afrikastrategie
Chinese kundiges beskou Afrika toenemend in strategiese terme en gebruik skaak as metafoor om wedywering met Amerika aan te dui. Afrikalande is pionne in die skaakspel en word gemanipuleer om die regte skuiwe te maak. Daar is egter verskeie hindernisse op die skaakbord en een daarvan is China se lank bestaande beginsel van nie-inmenging in ander lande se huishoudelike sake en hoe om dit met die land se oorsese bates en belange te balanseer.
Verder is dit moeilik om ’n balans te vind tussen China se bydraes tot finansiële instellings, die Verenigde Nasies, die Wêreldhandelsorganisasie, vredesendings en hoe om die bydraes te balanseer met die land se werklike vermoëns en middele. Aan die een kant beskou China homself as ’n wêreldmoondheid en aan die ander kant ondergaan die land self fases van ekonomiese en sosiale ontwikkeling. Die stelling het veral betrekking op die hantering van China se ekonomiese situasie by die huis en die aanwending van groot bedrae geld in die buiteland. Dit skep in effek ’n strikvraag vir die CKP: Hoe kan die CKP sulke groot bedrae geld aan die ontwikkeling van Afrikalande spandeer terwyl miljoene Chinese burgers in hulle eie land onder armoede gebuk gaan?
Verder is daar uitdagings van Afrika self wat probleme skep vir die uitvoering van China se strategie. Dit sluit in, armoede, ongelykheid, tradisionele en nietradisionele sekuriteitskwessies, oorafhanklikheid van natuurlike hulpbronne, swak regering, tradisionele gebruike en die skuldlas. Chinese kundiges van Afrikapolitiek identifiseer twee addisionele items wat probleme vir China se vordering in Afrika inhou. Die eerste is Afrika-agentskap. Afrikaregerings gee nou meer aandag aan hulle eie belange en beklemtoon onafhanklike ontwikkeling as die kern van vooruitgang. China en ander lande van die Weste word teen mekaar afgespeel om te kyk watter land die beste voordele vir Afrika aanbied. Die ruil of verkoop van natuurlike hulpbronne vir buitelandse nywerheidsprodukte word nie meer as vanselfsprekend aanvaar nie. Afrikaregerings stel nou hoër eise aan Chinese maatskappye om gehoor te gee aan omgewingsbewaring, arbeidsregte en die bevordering van plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
Die tweede probleem is Afrika se demokratisering. Veelpartydemokrasie het die ideologiese gaping tussen China en Afrikaregerings verbreed, wat ’n ernstige knou vir die bou van vertroue is. Hier word gekyk na kwessies soos menseregte en soewereiniteit. Afrika se nuwe generasie leiers het nie dieselfde politieke aantrekking tot China as leiers tydens die stryd vir onafhanklikheid nie. Met elke nuwe verkiesing in Afrika is daar partye wat anti-Chinese sentimente verkondig. Dit beïnvloed die samehang van China-Afrika-verhoudinge nadelig. Om dié rede is dit belangrik om alle vorme van uitsprake wat die verhouding skade kan berokken stop te sit deur middel van ekonomiese ontwikkeling en sosiale oplewing.
Die belangrikste middel waaroor China beskik om dié invloed te vermeerder is die Chinese ontwikkelingsmodel. Die model is in teenstelling met die liberale demokratiese model en is stadig besig om die guns van Afrikaregerings te wen. Die model word toegepas deur middel van ekonomiese diplomasie en politieke invloed.
Die sukses van die model sal afhang van die mate waarin China se mag vermeerder word en nie van hoeveel lande China se ideologie volg nie. In Afrika kan die mag vermeerder word deur ekonomiese hulp en ontwikkeling aan te bied en Afrika sodoende binne ’n groter subsisteem van Chinese invloed op te neem. Chinese strateë hoop dat die model suksesvol in Afrika toegepas kan word, wat dan met verloop van tyd as ’n ontwikkelingsmodel oor die hele wêreld versprei word.
Bronne geraadpleeg
Kipchumba, P. 2017. Africa in China’s 21st Century: In search of a strategy. Nairobi: Kipchumba Foundation.
Large, D. 2021. China and Africa: The new era. Londen: Wiley-Blackwell.
Li, A. 2022. China and Africa in global context: encounters, policy, cooperation and migration. London: Routledge.
Lees Fanie Herman se volledige reeks seminaarbydraes oor China hier.
- Die fokusprent deur Ferdinand-Feng by hierdie artikel is verkry van Pixabay.