Die leefwyse van ons vroeë mense: ’n onderhoud met Niel le Roux en Rachelle Greeff

  • 0

Niel le Roux, hoof uitvoerende beampte van die Stigting vir die bemagtiging deur Afrikaans (SBA), en Rachelle Greeff, skrywer van die boek, vertel vir Naomi Meyer van Die leefwyse van ons vroeë mense. (Laai die boek hier gratis in PDF-formaat af.)

Waarom is dit belangrik vir ons, as vandag se mense, om iets te weet van die vroeë mense?

Niel (N): Die SBA het die boek die lig laat sien om saam te val met ’n storiesprojek wat deur die SBA-voorsitter, Sandra Prinsloo, gedryf word. Hierdie videoreeks van 13 episodes het ten doel om stories van bejaardes in afgesonderde en vergete gemeenskappe uit die vergetelheid te ontruk sodat dit nooit vergeet kan word nie. Uiteraard is ons vroeë nasies, soos die Namas, Suid-Kalahari-San en die Griekwas, ’n integrale deel van hierdie projek, vandaar dan die klem op die Strandlopers ook. Terselfdertyd vorm Die leefwyse van die vroeë mense nou die SBA-trilogie oor eerste nasies saam met die ander twee publikasies, Kalahari-waarheid en Die Griekwa is nog.

Rachelle (R): Ek is nié ’n geskiedkundige nie. Ek is nié ’n Khoi-kenner nie. Die nooit volprese SBA het my gevra om iets oor die destydse Strandlopers van die Skiereiland te skryf. Ek vermoed ek sal eendag na dié opdrag en my gevolglike diepgaande naleeswerk terugkyk en sien hoe dit my eie skrywerswaters geskei het. Hiervoor is ek die SBA dankbaar.

Iewers tussen hoop en wanhoop wil ek glo kennis van, en begrip vir, jou oervoormense en hulle omstandighede kan meedoen dat jy die klipperige wêreld met sy dikwels onverstaanbare mense en meermale oënskynlik volkome gebrek aan sin asook onreg tog reguit in die oë kyk: Dít is wie ek is, en dít is uit wie en wat ek spruit. Terwyl ek oor baie maande teruggekyk het in die geskiedenis van plaaslike bruin mense, het lig al meer opgegaan oor hoekom die Kaap, en spesifiek die Kaapse Vlakte, een van die gewelddadigste plekke in die land is. Stap jy terug, kan jy die aandeel van wit heerskappy in die oorsaak hiervan nie miskyk nie. Wit ideologie het massiewe sinkgate vir die nasate van ons Vroeë Mense gelaat.

........

Wit ideologie het massiewe sinkgate vir die nasate van ons Vroeë Mense gelaat.

........

En waarom is hierdie boek juis op 9 Augustus aanlyn bekendgestel?

R: Dis Internasionale Wêrelddag vir Inheemse Mense. In Suid-Afrika is dit ook Vrouedag.

Vroeë mense kon nie skryf nie, en ons maak staat op oorvertellings. Op ’n boek staan ’n outeur se naam, so die navorsingsadres is afgebaken. Toe jy met jou navorsing begin het, hoe het jy geweet by wie se oorvertelling om te begin?

R: Ek het klein begin – in my eie boekrakke. Die buiteposte van Dan Sleigh; Digging through darkness van die argeoloog Carmel Schrire; Anna Böeseken se Jan van Riebeeck en sy gesin; en Hermann Giliomee en Bernard Mbenga se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. (Jy kan laasgenoemde gratis aanlyn lees.) Die meeste publikasies meld hul bronne en dié lei jou weer na volgende publikasies. En so kry jy al meer legkaartstukke. Sonder die museums in Simonstad en Vishoek, net soos die diens van die Suid-Afrikaanse Biblioteek, sou ek nie hond haaraf gemaak het nie. My bybel was die seminale Kraal and Castle – Khoikhoi and the founding of White South Africa van Richard Elphick. Hy word internasionaal as dié kenner van ons eerste mense gereken – nie sonder ironie nie. Hy is ’n Amerikaanse akademikus wat Nederlands geleer het sodat hy in Nederlandse argiewe kon rondkrap, maar het ewe veel aan linguistieke en argeologiese nalatenskappe aandag gegee.

Die beskeie klein privaatmuseum in Vishoek het ’n magdom inligting oor die geskiedenis van die plaaslike Peers Cave. Die argeologiese vondste uit dié grot bo Vishoek is deur ’n amateurargeoloog, Victor Peers, ontgin (hy het selfs plofstof gebruik) en baie van die artefakte het agterna voete gekry. Tog, soos jy in die boek sal sien (en dit is ook gratis te lees aanlyn), het die dodeakker in die grot baie verklap van die vroeë mense en hul leefstyl. Dit is skandalig en treurig dat niemand nog ooit verantwoordelikheid vir dié grot wou aanvaar nie, al het internasionale argeoloë ná Peers se belangrike vondste in die 1920’s hierheen gestroom en dit as een van die vernaamste argeologiese ontdekkings van die tyd genoem.

Daar word maklik oor en weer, wederkerig, van die Khoi en die San gepraat, as wisselvorme of as een groep mense. Dis egter nie al nie. Ons wat so graag mense saamvoeg in een groot, homogene groep, het nog meer om te leer.

R: Dié drie Khoi en die San se tale, leefwyses, leefruimtes en tradisies het in verskillende mate oorvleuel. Maar hulle is aparte groepe. Die Khoi het vee gehad en die San was jagter-versamelaars. Dit is verwarrend, want die Khoi, soos jy in die boek lees, het ook plante vir kos en medisyne uit die veld versamel. En, ja, baie mense dink dis vinkel en koljander, die een is soos die ander.

Daar word ook van die Goringhaikona en die Goringhaikwas en die Gorachoukwas gepraat ...

R: Die drie genoemde Khoi-stamme het in en om die Kaapse Skiereiland gewoon toe die eerste Europeërs hier op pad na die Ooste en terug aangedoen het vir vars water en met die hoop om vars vleis te bekom. Hulle het Khoekhoegowab gepraat.

........

Die drie genoemde Khoi-stamme het in en om die Kaapse Skiereiland gewoon toe die eerste Europeërs hier op pad na die Ooste en terug aangedoen het vir vars water en met die hoop om vars vleis te bekom. Hulle het Khoekhoegowab gepraat.

.........

Wil jy op die verskille tussen hierdie onderskeie groepe mense uitbrei?

R: Die Strandlopers was ’n klein minderheidsgroep, afkomstig van die Goringhaikona. Of hulle self weggebreek het en of hulle uitgeskop is, is onseker, volgens my naslaanwerke. Hulle het nie vee gehad nie, anders as die drie plaaslike stamme. Dit is hoekom hulle op en naby die see beweeg het. En vandaar hulle naam. In Engels word van hulle as Beachcombers gepraat. Hulle het vernaamlik (maar nie uitsluitlik nie) van seekos geleef. Die bewyse hiervoor lê in skulphope (Engels “middens”) en die enkele oorblywende visvywers.

In aansluiting hierby: Ek het kleintyd gereeld in ’n visvywer in ’n tussengetysone aan die Weskus gespeel, min wetend dat dié klein plekkie ’n groot en ou storie vertel. Ek het gehoor my oupa Albertus de Villiers het die vywer gepak toe hy in die vroeë 1900’s ’n witgekalkte huisie hier gekoop het. Die huis staan steeds en is ’n klipgooi van die Poshuis in Postberg, nou binne-in die Weskus Nasionale Park. Hier het ons met laagwater baljaar op ’n halfsirkel klippe wat voor die huis in ’n natuurlike rotsagtige inham gepak was. Nou het ek min twyfel dat dit die oorblyfsels van ’n visvywer was wat die eerste wit mense daar aangetref het. My ma, wat volgende week 93 sou geword het, onthou hoe hulle self seekos uit die vywer, wat deur haar pa in stand gehou is, gehaal het.

Die bron wat my in 1995 oornag anders na daardie gepakte klippe laat het, was Carmel Schrire se Digging through darkness. Sy het onder meer in Postberg opgrawings gedoen. (’n Jong JM Coetzee staan in dié boek by een van die opgrawings.). Duidelik het mense hier gelewe eeue voor die VOC, en sy buiteposte, en natuurlik my baie latere vrugteboeroupa van Simondium.

.......

Duidelik het mense hier gelewe eeue voor die VOC, en sy buiteposte, en natuurlik my baie latere vrugteboeroupa van Simondium.

.........

Die geheue is ’n bedrieglike ding, weet ons almal. In elke familie is daar verhale wat vertel word deur die dominante patriarg of matriarg. Ek sien jy skryf oor die dryfsand waarin jy beland het. Almal se waarhede stem nie ooreen nie. So hoe gemaak? Wat het jy gedoen?

R: Ek het vir die SBA gesê ek het meer tyd nodig. Ek moet noukeuriger en verder navra en nalees om uit die dryfsand te kom. Die mense wat aanvanklik aan my toegewys is, bedoel dit goed en het my alles vertel wat hulle weet, maar hul kennis van hulle eie geskiedenis is nie volledig nie. Die berugte redes hiervoor is bekend.

Wat meer is, omdat die bruin mense nie wit genoeg was nie en nou steeds nie swart genoeg is nie, hang hulle en hul geskiedenis in ’n hoë mate steeds, en weer, in niemandsland. Geen wonder elke tweede sogenaamde nasaat van die suidelike Skiereiland beweer hy is ’n Khoi-hoofman. Dit maak sin. As jy niks of min het, moet jy maar opmaak soos jy aangaan. En dit lei tot spanning en struweling tussen verskillende groepe wat in ’n ideale wêreld uit een mond behoort te praat. Die Ocean View-nasate het my byvoorbeeld vertel hulle het weggebreek van die Philippi-nasate, want dié wil grond gryp. Hulle self, die Ocean Viewers, wil net toegang tot die berg, die strand en die veld hê om hul rituele te beoefen en medisyneplante uit te haal. (En tog maak hulle nie met Sanparke kontak vir oespermitte nie.) Ek het my vasgeloop in wantroue en waninligting. Maar wat duideliker as enigiets anders was, was dié mense se strewe na ’n trotse identiteit wat deur hul medeburgers erken en gerespekteer word. Dít het my hart seerder gemaak as wat ek kon voorsien het.

........

Maar wat duideliker as enigiets anders was, was dié mense se strewe na ’n trotse identiteit wat deur hul medeburgers erken en gerespekteer word. Dít het my hart seerder gemaak as wat ek kon voorsien het.

........

Die Khoi en die Portugese – hier begin die wrywing reeds. Die inkommers voel hulle was eerste daar.

R: Wel, hulle wás eerste hier. Hieroor is geen twyfel nie. Want die land was “vir honderde jare onsigbaar”, het die Portugese gesê. Nie al die Portugese nie, net Bartholomeus Dias (en dis opgeteken) toe hy die anker laat sak het van sy karaveel, São Cristóvão, in wat nou Valsbaai is. Sonder om aan wal te gaan.

In die vroeë 1500’s het die Khoi kwaai gebots met die Portugese seevaarder Antonio de Saldanha. Soos, sewe jaar later, met Francisco dꞌAlmeida. Vir ’n eeu nadat dꞌAlmeida deur die Khoi gedood is, het die Portugese die Kaap vermy. Volgens die Portugese historikus João de Baros is meer Europeërs in dié skermutseling op die strand dood as in enige ander veldslag met die vroeë mense. En dit het gebeur nie omdat die Portugese met biddende hande en afgeslane oë aan wal gestap het nie. Inteendeel. Die Khoi-mans was genoop om hul vroue, kinders en vee teen die inkommers te beskerm. Met dié insidente in gedagte is ’n verdere ironie die berugte k-skeldnaam vir ons Portugese landgenote tydens apartheid. Toe het baie witmense op hulle neergekyk soos wat hul koloniale voorvaders op ons vroeë mense neergesien het.

Hoe verklaar mens dit, vanuit vandag se perspektief?

R: Ek is nie ’n historikus of sosioloog nie, soos ek reeds gesê het. Ek probeer dit nie eens “verklaar” nie. Maar ek begryp, en aanvaar, dat ons wat mens is, voortdurend na benede afneuk in ons selfgemaakte longdrop van self- en magsug.

Dalk kan jy een van die Khoi-folklore-verhale vertel wat vir jou interessant was.

R: Die een oor die Khoi-“prinses”, Prinsesvlei en die Olifantsooggrot in die Constantiaberg ... Ek het van my sesde jaar aan die voet van dié berg gewoon. Die grot, soos die nederige klein Prinseskasteelrivier deur die Tokaibos, was ons speelplek. Dit was in die sestigs en vroeë sewentigs. Ons as wit kinders het dus volkome niks van dié geskiedenis geweet nie. Die riviertjie is nie veel meer as ’n stroom nie, en vloei meermale glad nie buite die reënseisoen nie. Dit het toe ook nog nie ’n naam gehad nie. Net die grot het. En ons het nie geweet nie, omdat niks hiervan aan ons vertel is nie. Indien daardie grot se naam na Prinseskasteel verander word, het die legende ’n groter kans op oorlewing. Nou betrek die grot se naam glad nie die vroeë mense nie. Vir dié wat nie weet nie, daardie deel van Constantiaberg lyk met min verbeelding op ’n afstand soos ’n olifant. Die grot is waar die olifant se “oog” is.

Die Strandlopers se nalatenskap was veel meer as "loop". Hulle ruimte van kos soek, dit was nou vir my interessant. Vir watter geregte kan moderne mense by hulle aanklop?

R: Ek weet nie of Renata Coetzee en Miros Volker se kosboek Koekemakranka, wat in 2009 by LAPA verskyn het, nog in druk is nie. Want dit sou ’n goeie begin wees. Veldkool, weet ek, want my ma het dit soms in Postberg gepluk, maak heerlike skaapvleisbredie. Waterblommetjies ken ons almal, en natuurlik Leipoldt se veldresepte. Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde, want om jou kosbestanddele in die veld te pluk (“foraging” in Engels) is al geruime tyd hoë cuisine-mode. Kyk maar wat doen die kostowenaar Kobus van der Merwe by sy restaurant Wolfgat in Paternoster. Gaan google wat aangaan in die kombuis van sy (sedert 2019) Beste Restaurant in die Wêreld. Hy en die Strandlopers sou lekker om ’n vuur gesels het.

Jy skryf ook oor vroeë mense se godsdiens en ooreenkomste met vroeë mense in Engeland, waar byvoorbeeld geleenthede soos sonkeerpunt (solstice) ’n groot rol speel. Mens kan jou net verlaat op wat nagelaat is, maar wat kon jy uitvind oor verskillende klipformasies, en in watter wêrelddele?

R: Danksy Dean Leprini van Glencairn naby Simonstad en sy boek Pathways of the sun is daar onbetwisbare ooreenkomste tussen Tonnelgrot (ook genoem Kristalgrot) in Vishoek naby Peers Cave en sekere rotsformasies in Cornwall, Engeland. Beide is plekke wat vroeë mense vir genesende doeleindes besoek en gebruik het.

Taal is ’n nalatenskap, nie net klipformasies nie. 

.......

Die leefwyse van ons Vroeë Mense het helaas nie genoeg plek gehad om stil te staan by al die Khoekhoegowab-woorde wat Afrikaans onveranderd, of net gering aangepas, oorgeneem het nie. Ek het vooraf van ’n paar kennis geneem, maar die verdere ontdekkings het my uitsonderlik vrolik gestem.

.........

R: Die leefwyse van ons Vroeë Mense het helaas nie genoeg plek gehad om stil te staan by al die Khoekhoegowab-woorde wat Afrikaans onveranderd, of net gering aangepas, oorgeneem het nie. Ek het vooraf van ’n paar kennis geneem, maar die verdere ontdekkings het my uitsonderlik vrolik gestem. En dan is daar die feitelike storie, nie fiksie nie, van die Nederlandse Nieuwe Haerlem wat in 1647 naby Milnertonstrand na haar seegraf is. Die bemanning was verplig om vir byna ’n jaar op die strand hier te bly totdat verbygaande skepe plek gehad het vir hulle en hul Oosterse handelsware. Plaaslike Khoi het net vir gou ’n markgaping vir handel hier gesien en voortdurend met die oorlewendes kontak gehad. Verskeie geskiedskrywers sê die pidgin wat noodgedwonge hier tussen die twee groepe ontstaan het, was die eerste Khoi-Afrikaans.

En dis sekerlik waarom die Stigting vir Bemagtiging vir Afrikaans betrokke was by hierdie publikasie, of hoe? 

N: Ja want die SBA dokumenteer Afrikaanse taalerfenis met gemelde video-opnames en publikasies, soos ook bewys is in ’n vorige LitNet-artikel oor die SBA se Die Afrikaans van die Kaapse Moslem. Want die vroeë Afrikaans het heelwat van sy geboorte aan vroeë mense te danke. 

En nou? Wat maak ons, vandag se mense, met hierdie kennis?

R: Ek wil nie vir ander mense sê wat om hiermee te doen nie – ek is geen pedagoog of politikus nie. Buiten al die tragiese aspekte is die groter kennis vir my hartverwarmend. Ek, wat in die Skiereiland gebore en getoë is, is nou nog effens “hoog” op ’n seer sekerlik romantiese wolkie van “my-mense-my-wêreld”!

Niel, hoe maak ons, verskillende mense in ’n diverse land, met baie geskiedenisse? 

N: Die SBA poog met hierdie tipe taalerfenisprojekte om daardeur by te dra tot nasiebou, respek vir en begrip vir en van ons diverse kultuurlandskap. Is die vroeë mense se storie ons almal s’n? Beslis, volgens die SBA.

Lees ook:

Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap

Die Afri-Kwé-taalprojek beklemtoon historiese en toekomstige verbintenisse

Invitation: Book launch of Kora: A lost Khoisan Language of the early Cape and the Gariep by Menán du Plessis

Ont-taling

’n Eersteklas byeenkoms vir Suid-Afrika se Eerste nasie

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (Achmat Davids): Bekendstellingstoespraak

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top