’n Eersteklas byeenkoms vir Suid-Afrika se Eerste nasie

  • 2

Van 12 tot 17 November 2017 het die tweede First Nations Colloquium in Bloemfontein plaasgevind. Denver Breda gee sy indrukke.

Nooit in my lewe sou ek gedink het ek sou iemand aanraai om te swot by Kovsies, of Khoevsies, soos ek dit noem, of vir Bloemfontein te besoek nie, maar sowaar, my siening van die universiteit of die plek het sowaar verander. 

Ek was ’n paar maande gelede gesê dat iemand my aanbeveel het om deel te wees van die Program vir innovering en kunsvormontwikkeling (Piko) aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat en die Vrystaatse Kunstefees. 

Nou toe ons nou sit innie aeroplane dink ek nou aan wat ek nou al gehoor het van die Vrystaat – goed soos “Die wet van Transvaal” soos hulle dit noem, en dit was niks goed nie. 

Al wat ek aan dink toe die vliegtuig land by die lughawe is dat ons ontmoet gat word deur groot wit manne op perde wat ons gat snaaks aankyk en vra “Boesmanne wat soek julle hier?”

Die twee mans van Australië, Major (Uncle Moogy) Sumner en Fred Leone, en Corlea Kloppers (Foto: verskaf)

Want tog na 23 jaar is ons land steeds baie verdeeld op ekonomiese, sosiale en sielkundige wyse en ons dra nog so baie “baggage”, somtyds onbewus dat daai baggage ons eintlik weghou van mekaar. Dit was te laat om terug te draai – ek was hier in Bloem, om te kom leer. 

En as die plek of die program te veel word, hoop ek maar vir ’n klomp drank wat my kon deurdra tot die einde. 

Ja, ek weet dis seker nou nie die regte ding om te sê gegewe ons land se geskiedenis en probleem met alkoholmisbruik nie, veral onder ons Khoesan, wat nog steeds vasgevang is in massiewe drankverslaafdheid en die hoogste vlakke van fetale alkoholsindroom agv die jare lange dopsisteem nie. 

Die eerste aand is ons toe na Oliewenhuis, so genoem na die oorvloed van wilde olywe op die nabye heuwels, die amptelike woning van die goewerneur-generaal van die Suid- Afrikaanse Unie van 1942, vir ons verwelkoming, en hier ontmoet ek toe nou die ander deelnemers asook die organiseerders. 

Dit was ’n warm aand en dit begin toe met die verwelkomingsritueel soos niks wat ek nog ervaar het nie. Van die ander deelnemers sluit toe in Diana Ferrus, Bradley van Sitters wat die verwelkomingsritueel lei met ons Australiese inheemse mense en Edward Charles Human. En terwyl ons dans om die vuur, Khoe-goed inasem en buxu (boegoe) eet, weet ek êrens diep dat maybe gat alles alright wees.

Corlea Kloppers, Lee-Ann Tjunypa Buckskin, Major (Uncle Moogy), Fred Leone (Foto: verskaf)

Ek wonder ook wat die goewerneur-generaal dink aan die ander kant oor wat nou gebeur het op sy agterplaas. 

Die volgende dag is ons vroeg op pad na ons konferensie-venue. Dit verstom my toe hoe plat en groot Bloemfontein is, maar ook hoe pragtig dit is. Hulle vertel my ook dat daar cheetahs is en dat daar ’n dieretuin in die middel van die dorp is en al wat ek wou sien was die cheetahs. 

Vir die volgende drie dae word ek lief vir die mense by konferensie, lief vir wat hulle my leer, maar ook lief vir die plek. Die reuk van varse reëndruppels op droë grond. Iets wat ons innie Kaap nie baie meer ken nie weens die droogte. Maar ook in ||Hui !Gaeb, of Kaap wat mens somtyds voel asof jy loop met messe in jou lyf, asof jy die bloed van ons voorouers nog kan sien op die strate, waar ons Khoesan-voorouers nog skree, en besef ek hoe belangrik die colloquium is, die “escape” wat dit my gee, ’n sielkundige soort vryheid. 

Belangrik vir my vir dan bietjie asem te skep asook die kritiese gesprekke oor wat dit is om Khoesan te wees in 2017 in Suid-Afrika, waar ons tale steeds nie erken word nie, waar ons unieke uitdagings nie erken word nie, waar ons steeds loop met ’n rasklassifisering wat forseer was op ons voorouers. 

En tog hier in Bloemfontein, wat ek nooit sou verwag het, word plek en tyd geskep vir ons. 

Fred Leone, Lee-Ann Tjunypa Buckskin, Major (Uncle Moogy) Sumner (Foto: verskaf)

Dis goed om challenges te kan identify, maar ons moet ook kan dink aan oplossings en dis wat ons toe doen. 

Baie was eintlik geleer van ons Khoesan en die Australiërs: van die verskeie customs en rituele wat aboriginal Australians doen om iemand “na die ander kante toe te stuur”; die skaal van inheemse projekte met die een projek wat byna R100 miljoen befondsing het om alles van film, teater, kuns, dans, skryf te bevorder. Ons was ook geleer oor die belangrikheid van “acknowledgement of country” wat gedoen word voor enige groot byeenkoms in Australië. Wat dit eintlik sê, is dat ons acknowledge die tradisionele eienaars van die land, ons respekteer ons voorouers en oude van dae en dat ons voortaan baklei vir ons regte as inheemse mense met respek.

Asook dat dit as e-pos signature gebruik word tot op die hoogste vlakke.

Die Australiërs vertel ons dit is iets klein, maar tog so groot, want dit maak die gesprek oop, ’n gesprek wat dikwels stil gemaak word in Suid-Afrika. En hoe wonderlik dat die Vrystaatse Kunstefees alreeds in 2017 in hul promo video ’n “acknowledgement of country” gedoen het. 

Wat ’n groot voorreg ook om ons Khoesan-mense in Bloemfontein te ontmoet, die Griekwas en Korannas wat al vir duisende jare in Vrystaat woon. 

Angela De Jesus, Denver Breda, Chakwanda Mahongo, Sahar, Jefferson J Dirks-Korkee, Ricardo Peach, Vincent de Koker, Lee-Ann Tjunypa Buckskin, Shihaam Domingo, Fred Leone, Claire Rousell, Mc Roodt, Edward Charles Human, Sam-Maree Rooi, Bradley Van Sitters, Diana Ferrus (Foto: verskaf)

Dit was dan so mooi uitgebeeld in Nouroegas, ’n teaterstuk deur Willie Nel en Angelo Mockie wat praat van ’n geveg wat vir 90 jare deur ons Khoesan en slawe stil gehou was en nou eerste deur mondelinge geskiedenis ’n lewe kry. 

Ook ’n fliek, selfbefonds en wat gemaak was uit liefde, kreatiwiteit en veerkragtigheid (woord wat ek vir die eerste keer in Bloem gehoor het) deur Vincent de Koker en Edward Charles Human, Pik en Graaf. Hulle het my sowaar geïnspireer, want uit niks het hulle iets so wonderlik gemaak. 

Asook om vir Diana Ferrus te hoor toe sy praat van die aktivisme in kuns en hoe haar gedig oor Saartjie Baartman, “I have come to take you home”, grootliks gehelp het om Saartjie se oorskot terug te bring na Suid-Afrika. 

Die besoek aan die Oorlogmuseum in Bloemfontein, “must visit” as jy kan, besef ek weer hoe baie ons nog moet leer. 

En dan die jong Afrikanerdame wat ek sowaar my “familie” kan noem – ek vra ook vir haar hoekom “khoinnect” ons almal so met haar en sy vertel ons dat sy grootgemaak was deur ’n Khoi-vrou in Port Elizabeth, wie sy bitter voor lief was, en weer eens besef ons tog hoe “khoinnected” ons almal tog is as ons net labels en boksies weghaal. 

Foto: verskaf

Maar ook hoe min ons van mekaar se geskiedenis ken as Suid-Afrikaners, en hoe baie ons nog moet leer van mekaar en dat pyn tog mense kan bymekaar bring, mits ons bereid is om ons pyn oop te vlek en mekaar se rouheid te sien, weerloos te wees, agter daai groot hekke en alarms te kom, sonder die trimmings, en dan te vra hoe kan ek myself en my medemens help. 

Wat ek tog baie interessant gevind het, was die agterryers. Nou agterryers was dikwels Khoesan of slawe wat “gehelp” baklei het.

Om ook te leer van ’n invloedryke Afrikaner-filosoof, ’n man genaamd Siener. Nou ons ken mos nou nie wie Siener is nie. Nou Siener, hoor ek toe, het die “Nag van die groot lemme” voorspel en ek dink dis te doene met as ’n president doodgaan, sal die land inmekaar val, en ons hoor ook van die “opstockery” van kos ens.

Hoe interessant tog om te hoor wat die “ander” dink, en eintlik Vrydagaand praat die Afrikaans-dosent van Stellenbosch-universiteit by die Afrikaanse Taalraad se Kokervieringe oor die “hulle” in Afrikaans en hoe dit moet verander na “ons”, want terwyl dit by “hulle” bly, bou ons nie, “heal” ons nie. 

Hoe belangrik, besef ek, want in “hulle en ons” deel ons nie, en kennis van self en dit wat ons nie ken van ander, word dan kritiek van ander, tot uitsluiting en inhokking, en ons bly vas in ’n sirkel van hulle vs ons. En is hulle tog so verskillend van ons? 

Sam-Maree Rooi, Jefferson J Dirks-Korkee, Corlea Kloppers (Foto: verskaf)

Terwyl ek nou my sakke pak, besef ek dat ek eintlik ’n stukkie van my hart hier in die “Rosestad” gelos het, dat ek beslis terug wil kom. Beslis om cheetahs te kom kyk. 

Ja, Bloemfontein is nie perfek nie. Die gaping tussen die armes en die rykes is steeds hier, maar daar’s ook eerlikheid in die stad, ’n gevoel dat iets moet gedoen word, al weet ons nie altyd wat nie, maar solank ons doen. Want al fail ons, staan ons weer op en probeer weer. 

Nooit sou ek tog gedink het dat die Universiteit van die Vrystaat sulke “groundbreaking” werk sal doen vir ons Khoesan-mense, dat hulle spasie en tyd sal skep vir eerlike gesprekke oor die uitdagings van Suid-Afrika se eerste nasie en dat hulle ook die eerste organisasie sal wees om die “acknowledgement of country” te doen nie. 

Wat ek ook nie mag vergeet nie, is dat ’n Khoesan-student eintlik die universiteit gevra het toe hulle nuwe koshuise bou: “Hoekom is daar nie ’n koshuis wat ’n Khoesan-naam het nie?” Dit was toe dat ’n nuwe koshuis Outeniqua genoem word. Outeniqua is “plek van heuningdraers”, net soos Namaqua “plek van Nama-mense” is.

Daar was ’n paar klein dingetjies wat ek sou wou verander het, en tog was ruimte geskep vir gesprek oor wat ons wil sien volgende jaar. Sowaar, dié eersteklas colloquium was een van my hoogtepunte van die jaar en wat ’n eer om deel te wees. 

Jefferson J Dirks-Korkee, Fred Leone, Vincent de Koker, Major (Uncle Moogy) Sumner (Foto: verskaf)

En as jy ’n colloquium kan bywoon, gryp die geleentheid aan, Khoesan en nie-Khoesan. Julle sal nie spyt wees nie. 

Wat ek weet, is dat daar groot goed gat gebeur vir die herlewing van ons Khoesan-tale en -kulture in die Vrystaat, en al is ons Khoesan-tale nie vry in die res van Suid-Afrika nie, bring die Vrystaat ons al hoe nader aan ons !norasasib, ook bekend as vryheid in ons Khoekhoe-taal.

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Denver, my siening van daardie universiteit het ook verander, maar in die teenoorgestelde rigting as joue. Jy vra respek, maar dit kan gerus respek vir Afrikaans insluit. Jy praat van pyn. Geradbraakte Afrikaans is vir my 'n bron van pyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top