Die Laaste Ding wat ons nou Nodig het is Nog ’n Voëlvry-Toer!

  • 1

Irene Fischer stel die volgende voor in haar SêNet-brief, #bringingbackubuntu:

“Iemand moet the powers that be (die ANC) wys wie het eintlik die power. Die mag om dinge te verander, lê in ons hande. … So nou is my vraag: Waar is die protesliedjies dan? … Ek ruik die potensiaal van ’n revamped Voëlvrytoer ’23. … Wat van ’n musiekfees reminiscent aan Oppikoppi of die Voëlvrytoer? Met protesmusiek galore! … Ek soek naarstigtelik ’n call to guitars.”

Koos Kombuis reageer op haar voorstel:

Die Laaste Ding wat ons nou Nodig het is Nog ’n Voëlvry-Toer!

My grootste vrees het sopas waar geword.

Vir jare lank al vrees ek dit. Dis ’n vrees wat ek wegsteek vir almal. Dis ’n vrees wat ek die meeste van die tyd vir myself wegsteek, al fladder dit maar altyd iewers in my agterkop soos ’n voël wat nesskop.

Gepraat van voëls. Ja. Dis juis die ding.

Dit, in ’n neutedop, is my grootste nagmerrie; om gevra te word deur die jeug van Suid-Afrika:

“Dink Oom nie die tyd is reg vir nog ’n Voëlvry-Toer nie?”

Daar. Ek het dit gesê. Dis uit in die oopte. Ek het weer die V-woord gesê. En dis nie “Vryheidsfront Plus” nie.

Gelukkig het ek my antwoord gereed. Die antwoord wat ek jare lank met my ronddra, en probeer formuleer in my kop om gereed te hê juis op die aaklige dag wanneer iemand my so ’n vraag vra.

My antwoord begin toevallig ook met ’n V.

VOLSTREK NEE.

OOR MY FOKKEN DOOIE LIGGAAM.

Die Heel Fokken Laaste Ding Wat Ons Nodig Het Vandag in Suid-Afrika Is ’n Klomp Gerookte Afrikaanse Kids Met Snaakse Name.

Ek gee toe, dit was ’n goeie idee in 1989.

In 1989 was Voëlvry ons paspoort uit die Laer uit. Dit was ons manier om Toffie te sê vir die Bothas en die Vloks en die Du Plessiese en die Malans.

As protesbeweging, as ’n musikale enterprise, het dit nie veel vermag nie. Dit was meesal drie-akkoorde-rhythm-en-blues met baie rymende vloekwoorde. Die ANC het ons hoegenaamd nie opgelet nie. Ons was ’n mislukking by die bruin en swart kampusse en shebeens.

Ons was disfunksioneel, stoned, seksisties en barbaars. Bernoldus was omtrent die enigste ou in ons hele groepie wat kon note lees. 

Ons was ’n regte klomp skobbejakke. Ons het Trompie en die Boksombende soos die NG Kerk se Jeug-tot-Jeug-Aksie laat lyk.

Ons was fokken dapper, ja. Dirk Ace verdien ’n standbeeld op Kerkplein.  

En hel, ek mis vir Ralph.

Voëlvry was die antwoord in 1989. Nie soseer vir die landspolitiek nie. Maar veral vir die wit Afrikaanse jeug.

Daar is duisende ouens wat vandag rondloop wat khaki sou gedra het en in die hel geglo het as dit nie vir die Alternatiewe Afrikaanse Beweging was nie. Riaan van Wie Wil ’n Miljoenêr Wees? sou nooit uit die kas geklim het nie.

En ons volksfeeste, sou daar volksfeeste gewees het?

Ja. Miskien een keer per jaar by die Voortrekkermonument. Omies met swart hoedens, tannies met groot hare en baie borsspelde.

Fokofpolisiekar sou geheet het “Die Bellville-Boytjies” en hulle sou covers van die “Oukraalliedjie” gedoen het by ouetehuise.

So: Goddank vir Voëlvry.

Maar: Fok Voëlvry.

Nie weer dit nie. Net nie dit nie.

In ’n sin is Irene Fischer dalk reg. Ja, ons kort musiek. Ons kort nuwe musiek, selfs protesmusiek. Ons kort kuns. Selfs weird kuns.

Ons kort al hierdie goed, want ons is net so in die kak as wat ons was in 1989, indien nie dieper in die kak nie.

Maar dis ’n ander soort kak.

Hierdie kak het ’n tekstuur en ’n reuk en ’n chemiese samestelling wat radikaal verskil van die kak van 1989.

Toe was ons verswelg deur Bles se horribale ballades, versmoor deur die dominees wat ons teen draadtrek gewaarsku het, gefolter deur kadette en die army, bosbefok van die bosoorlog.

Ons het toe dagga nodig gehad. Fokken baie dagga.

Vandag is dagga wettig. Dis nie meer snaaks nie.

“Fok” is nie meer ’n vloekwoord nie. Mense dra dit op T-hemde as hulle kerkbasaar toe gaan. Ek het ’n “Fokkol”-bandana gedra tydens my laaste Groot Ontbyt-onderhoud.

Wat ons vandag nodig het, en wat ek seker is die jeug van Suid-Afrika sal vir ons kan en wil gee, is nie nog ’n oordosis dekadensie en vervreemding en horries nie.

Ons kort raakvat-jongmense. Jongmense wat potholes kan fix, grade kan kry, hulle matrieks deurkom, vir ’n slag skoon onderbroeke dra en hul beddens self opmaak.

Die land is oorstroom en deurdrenk van te veel wanorde, te veel werkloosheid, te veel flaters en verval en fokkops.

Ons het jongmense nodig met durf en daad, met ’n werksetiek, met oop oë en oop hande en oop harte en ’n verstand wat werk.    

Vandag kort ons energie, nie anargie nie.

Die pendulum het geswaai.

Soos Kerkorrel tereg gesing het in een van sy laaste liedjies: “Dis die ander kant.”  

In 1989 het ons afgebreek.

Nou moet ons bou.

Aanbevole leesstof: “Afrikaners kan krisis as ‘Sputnik-oomblik’ gebruik” deur Flip Buys (Maroela Media)

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/afrikaners-kan-krisis-as-sputnik-oomblik-gebruik/

Lees ook:

LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf

From Voëlvry to De La Rey: Popular music, Afrikaner Nationalism and lost irony

LitNet Akademies-resensie-essay: Biografie van 'n bende: Die storie van Fokofpolisiekar

Fokofpolisiekar-lede: 'Tien jaar het my geleer ...'

Om oor Hendrik Witbooi en rap te praat

Afrikaanse rock ’n roll: Brixton Moord en Roof en Raaskopleef raas steeds

Sexy korrek. Romantiese rapper. CY ‘till I die.

Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se "Cooler as ekke"

Vervreemding in die ekstreem: ’n Oorsig oor normloosheid en sosiale isolasie in Afrikaanse ekstreme metal

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

Hip-hop, onreg en agentskap: Isaac Mutant van Dookoom as Bolandse badman-figuur

Rosey die Rapper: “Dié is ek en ek wil rap”

Holland word Kaaps!

  • 1

Kommentaar

  • Albert de Vos

    Ek het nou onlangs eers besef wat my opgewondenheid oor die Voëlvry-toer destyds gedryf het: dit was omdat ek teen iets was en nie omdat ek vir iets was nie. Ek was teen PW, teen die sadistiese onderwysers wat my geboelie het en sommer teen konserwatisme in die algemeen. Nooit het ek verder gedink oor wat die eintlike probleme van die land was nie, of wat daaraan gedoen kan word nie. Solank die ANC van PW et al ontslae kon raak, was ek aan hulle kant. En nou?
    Ek stem saam met Koos Kombuis en ek hoop die nuwe geslag gaan met oplossings kom, want anargie het 'n klank wat my onrustig maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top