In ’n reeks e-posse het Andries Bezuidenhout, lid van die Brixton Moord en Roof Orkes, en Louis Duvenage van die Boland punk band Raaskopleef uit die 1990’s, met mekaar vanaf Alice in die Oos-Kaap en Wellington in die Boland oor albei bands se jongste albums gesels. Almuir Botha het ingeluister en neem ook deel.
Andries Bezuidenhout (AB): Louis, ek is bly ons kry uiteindelik ’n kans om oor ons nuutste projekte te gesels. Voor ek jou oor Raaskopleef se nuwe album uitvra, dalk iets oor die tye toe ons albei se bands – dis nou Raaskopleef en die Brixton Moord & Roof Orkes – begin gig het. Ek dink ons was in twee parallelle heelalle in die laat-1990’s – julle in die Kaap en ons in Johannesburg.
Sjaka Septembir het julle optredes in hierdie tyd beskryf as “[s]uiwer woede en nihilisme wat die kuierplek vul voor ’n opgewonde klein skare”. As ek aan Raaskopleef in daardie tyd dink, dink ek ook aan bands soos White Trash, Dorp, Honeymoon Suite, ensovoorts. Ek wil graag meer van jul vroeë geskiedenis weet. Dalk iets meer hieroor?

Raaskopleef in 1998 by Wingerdstok.
Louis Duvenage (LD): Andries, dis inderdaad lekker om weer met jou te gesels. Ek moet sê woede en nihilisme is groot woorde daar uit die Sjaka se pen – dalk eerder jonk, energiek en jags. Ek, Alwyn Jordaan en Sol Rosseau, ons drummer en baskitaarspeler, het destyds pas ons nasionale diensplig voltooi. Dit het die ontredderde gevoel aangevuur. Ons styl was ook om teen supervolume te speel. Dan gil ʼn mens mos om gehoor te word. Gooi boonop bands soos 508 en die Dennis Brothers (deesdae Akkedis) in die kookpot, en die gigs het goed lewendig geraak destyds.
AB: Interessant. Ek dink ons het daardie ontredderde gevoel en nasionale diensplig wat jy noem, gemeen. Ek is bly jy noem ander lede van Raaskopleef. Ek wou nog daaroor uitvra.
LD: Het julle altyd met ’n drummer en baskitaarspeler gegig destyds of het jul ook akoestiese gigs gedoen? En dan is daar die legendariese Abelarde Sanction waar julle jul tande geslyp het. Waar was dit geleë en watter bands het destyds saam met julle daar gespeel?

Die band in Brixton, waarskynlik rondom 2001 of 2002. Van links na regs: Brixton Barnard, Moord Greeff, Roof Bezuidenhout, Kapelaan Pat Plank. (Foto: Magriet Theron)
AB: Louis, die band het akoesties begin, maar het vinnig in ’n ongeskikte rock band verander. Die Brixton Moord en Roof Orkes was eers net ’n idee. Ek het aanvanklik by open mic sessies in die einste Abelarde Sanction in Brixton begin optree, kruipafstand van my en Irma se huis. Ek het so gebewe van stage fright dat ek ’n denkbeeldige band opgemaak het. Hulle was telkens kwansuis te lui om kroeg toe te kom vir die gig – my flou grappie om moed mee te skep. Toe kom meld Ockert Greeff aan as die eerste addisionele lid, as drummer. Ons eerste optrede by Oppikoppi was as duo – net die twee van ons – ek op akoestiese kitaar en Ockert op djembe. Toe kom Steve Savage by op baskitaar en Ockert skuif agter ’n Tama drum kit in. Steve was lid van ’n ander Brixton band genaamd Sharkbrother. Hy het egter Zambië toe verhuis (hy was ’n mynbou-ingenieur) en is deur Drikus Barnard vervang. Drikus se broer, Gerhard, het toe as lead guitarist bygekom. Die twee van hulle was lede van Plank, een van die Abelarde Sanction se mees ongeskikte acts – ware Afrikaanse punk. Toe’s ons ewe skielik ’n rock band met vier lede wat almal komponeer en/of liriek skryf. Ander mense wat in die Abelarde Sanction begin optree het, was mense soos Riku Lätti en Karen Zoid. Paul Riekert se Breinskade-projek is ook toegelaat om daar op te tree, omdat fisiese skade aan die perseel nie ’n probleem was nie – dit was reeds nogal run down.
Maar wag, ek praat nou te veel. Julle het ook by legendariese plekke opgetree. Ek onthou ook vaagweg iets van Bitterkomix en Koos Kombuis se digbundel Die tweede reën. Het julle nie by die launch gespeel nie?
LD: Ja, ons het in 1998 by The Shack in Kaapstad by die launch gespeel. En aan die einde van ’n Joe Dog-storie in Bitterkomix II gil ’n karakter radeloos “RAASKOPLEEF”. Dit was ’n aangename samewerking tussen kunstenaars wat almal steeds werskaf, en dit in Afrikaans. Koos Kombuis (toe André Letoit) en Valiant Swart het reeds in die vroeë-negentigs in die Black Sun in Hillbrow opgetree.
Op ’n Oppikoppi-foto uit ’94/’95 sit daar ’n jong stryder wat op ’n haar soos jy lyk. Ken jy daardie foto en is dit jy, Andries? Het Valiant en Koos se Afrikaanse lirieke jou laat besef ’n mens kan rock ’n roll in Afrikaans?
AB: Ek en Irma was by die heel eerste Oppikoppi, toe dit nog net ’n band naweek was. Liela Groenewald, ons woonstelmaat, was ’n sentrale figuur met die organisering daarvan, omdat sy vriende met Dirk Uys en Koos was. Die einste Valiant Swart en Koos Kombuis het opgetree by hierdie eerste band naweek op daardie pragtige Bosveldplaas naby Northam. Valiant Swart en sy band het by my en Irma se troue in 1994 opgetree. Ons was ook by die heel eerste Oppikoppi-rockfees in 1995, so die kans is goed dat ek op ’n foto beland het. Daar’s een foto waar ek op Adriaan Pelser se Volla se neus sit en kitaar speel, met klomp mense rondom ’n kampvuur. Dit was maar ons crowd daai.
Jy’s heeltemal reg oor Valiant en Koos se invloed. Ek het op Ver van die ou Kalahari leer kitaar speel. Ek moet Eet kreef! ook noem – spesifiek daai plaat.
LD: Julle neem in 2002 vir Spergebied op en in 2004 vir Terug in skubbe. Stem jy saam met Valiant se stelling dat die bands uit die Noorde ’n harder ondertoon het? ’n Skerper snykant? Is dit omdat die lug op die Witwatersrand so “Pierneef-blou” is?
AB: Ek stem heeltemal met Valiant saam. Paul Riekert het daardie eerste albums van ons opgeneem en gemeng, maar ek dink dit gaan oor meer as net sy rol. Wat Afrikaanse musiek betref, is Johannesburg punk, metal en industrial, in daardie volgorde. Dis te verwagte – dis ’n myndorp wat te groot vir sy skoene geword het, met ’n kriminele onderbou. Pretoria is meer folk en country. Kaapstad en die stad se flipside is elektroniese dansmusiek, hip-hop en jazz. Stellenbosch is blues, omdat dit ons ekwivalent van die Amerikaanse Suide se slawegeskiedenis is. Durban is Kaliforniese surfer rock, alhoewel daar min Afrikaans is. Ek weet ek vereenvoudig nou, maar ’n plek se geografie en geskiedenis vind tog neerslag in die klanke wat dit voortbring.
Nietemin, ons het jare lank opgetree voor ons daai twee albums kon opneem. Dit het julle ook lank geneem om in die studio uit te kom om iets op te neem. Ek onthou julle was op Dirk Uys se Wingerd rock-album en in 2004 het julle ’n CD genaamd Demo vrygestel. Ek is nuuskierig om te hoor wat jy nou hieroor sal sê.
LD: Ja, dis anders as vandag waar ’n mens aanvaarbare gehalte opnames in tuisstudio’s kan doen. Trippy Grape Records van Dirk Uys, met die hulp van Liny Kruger, het toegesien dat die opnames plaasvind by Sunset Recording Studios onder die bekwame hande van Jürgen von Wechmar. Demo was een van ons kitaarspeler Almuir Botha se eerste produkte uit sy tuisstudio. Ek sien dit nou as tydsdokumente en is bly ons kon dit vaslê.
AB: ’n Paar jaar later – ek dink in 2009 – was daar ’n EP. ’n Live opname. Ek verneem die Afrikaans vir “live” is “regstreeks”. So hierdie een is regstreeks in Worcester opgeneem. Vertel asseblief meer hieroor.
LD: Die Live-album is waarlik regstreeks opgeneem met geen latere overlays nie. Karel Mars en Heine du Toit het ’n groot mixing desk en rekenaar in ’n piepklein kroegie ingedra en ons het ons “vuil ou harte” die aand uitgespeel. Afrikaanse punk. Ons moes natuurlik daai aand inbetaal by die kroeg nadat ons vergoeding vir die aand afgetrek is!
AB: Ons moes ook gereeld by die kroeg inbetaal.
LD: Jy maak in 2003 Insomniak se Droomalmanak en in 2009 Bleek Berus. Twee albums wat ek as poetry rock ’n roll sal beskryf, maar ek soek nog na die korrekte Afrikaanse beskrywing daarvoor. (Iemand het “Poëzol” gesê...)
AB: Dankie Louis, ek sou “poetry rock ’n roll” as ’n kompliment beskryf, alhoewel ek self nie heeltemal weet hoe om daai solo-albums te beskryf nie. Met die band wat meer rock en punk geword het, het ek ’n tipe uitlaatklep vir meer introspektiewe musiek nodig gehad – die tipe goed wat ek onder die invloed van Leonard Cohen, Tom Waits en Koos du Plessis geskryf het.
LD: Die Brixton Moord en Roof Orkes stel in 2015 vir Slaaptyd in die suburbs vry. Dis ’n eerlike album met pragtig-ironiese songs soos “Tankwa-Karoo” en “Word wakker Mariaan”. Daar is ook ’n ongedurigheid aan te hore. Kon die band aanvoel dat julle (weer) in verskillende rigtings sou spat?

Die laaste keer toe die band saam in een plek was, by Harry Kalmer en Sanpat Hattingh se huis in Observatory, Johannesburg, in Maart 2015. Van links na regs: Kapelaan Pat Plank, Roof Bezuidenhout, Moord Greeff, Brixton Barnard. Gert Vlok Nel en Brixton Barnard het die aand opgetree.
AB: Dis moeilik om hieroor te praat, Louis. Baie het in die tien jaar tussen Terug in skubbe en Slaaptyd in die suburbs gebeur. Met Terug in skubbe het ons begin sukses behaal. Ons het op RSG se speellys beland, ons musiek is in TV-programme gebruik, ons musiekvideo’s is uitgesaai, meer mense het na ons gigs toe gekom en ons moes minder by die kroeg inbetaal. In ’n besonderse laagtepunt het ons selfs in ’n episode van Egoli verskyn, maar ons het ingestem omdat Drikus ’n bewonderaar van Brümilda van Rensburg was. Dinge het egter ook begin skeefloop. Die band het in vuisgevegte met ander bands betrokke geraak. Bottels is op koppe gebreek. Ons het oor politiek baklei en vir elke brug wat ek gebou het, het veral Drikus twee verbrand. Drikus was die “underground personality” waaroor Dostoyevsky geskryf het – briljantheid het nie plek vir diplomasie nie. Ons platemaatskappy wou niks meer van ons weet nie. Ockert het Kanada toe geëmigreer en in Montreal gaan woon, waar hy darem liefde gevind het. Ek het opgegee op die idee van bemarking en besluit om net op die musiek te fokus. Mettertyd het ons ’n nuwe drummer gevind, ’n gesoute kunstenaar genaamd Louis Graham. Ons het Slaaptyd in die suburbs saam met hom opgeneem. Ons het aanvanklik net 100 kopieë van die CD gedruk, saam met ’n liriekbundel met skilderye deur die kunstenaar Marguerite Visser. Ons het dadelik aan ’n volgende album begin werk, maar Drikus is met breinkanker gediagnoseer. Ons het geld ingesamel vir ’n operasie, maar die operasie was nie ’n sukses nie. Drikus is in 2015 dood. Toe kom die pes en sommer vroeg in die pandemie is Louis Graham aan Covid dood. Slaaptyd in die suburbs as titel het sedertdien vir my ’n wrang tweede laag van betekenis.
LD: Jul album Bazaar punk het op 28 Januarie 2022 op al wat ’n platform is, gedrop. Vooraf het twee singles “Getrou aan die wit baksteengebou” en “Duiwelsbrood” verskyn, asook ’n insiggewende video op YouTube waar jy bietjie vertel oor die agtergrond van die album. Het dit belangstelling in die album gestimuleer? Die album cover is ’n foto van ’n paar hadidas op ’n tennisbaan se draadheining. Is dit kitsch, dalk avant garde? Waarom die naam van die album en die beeld?
AB: Daar’s soveel om oor hierdie plaat te sê. Kort voor hy dood is, het Drikus agt tracks opgeneem vir ’n volgende album. Ek moes daarna luister en antwoorde daarop komponeer. Ek en Gerhard het kopieë van die opnames gehad, met die idee dat ons eendag daarheen sou terugkeer. Die pandemie en Louis se dood het daai “eendag” laat aanbreek. Laat ek nou maar effe melodramaties wees en dit ’n doodsbesef noem – kreatiwiteit se brandstof. Ek moes die agt tracks eers restoureer, omdat dit erg gesuis het en die kitaarspel daarop nie bedoel was vir professionele opnames nie. Toe het ons dit heen en weer gestuur tussen Montreal, waar Ockert woon, Pretoria, waar Gerhard toe gewoon het, en Alice, waar ek woon. Drikus se tema was iemand wat terugkeer na sy tuisdorp en bloot waarneem wat aangaan. Winkels wat sluit en nuwes wat oopmaak, die afslagveiling, die kerkbasaar, die hotel wat leeg staan omdat almal nou by die Waterfront is. Tussen als deur was daar transaksies tussen mense – besigheid, liefde, teleurstelling, haat. Dis waar die “Bazaar punk” vandaan kom – daardie transaksies wat so swaar aan plekke en tradisies dra en ons verset daarteen. Die hadidas op die omslag praat met hadidas wat op van die tracks self verskyn. Dis eerder realisme as kitsch of avant garde, dink ek. Hadidas se geskree sê meer van Suid-Afrika as ons saamgeflanste nasionale lied. Bloukraanvoël se moer, die hadida is ons nasionale voël.
LD: In jul eerste snit “Die sesde dag se eerste beweging” word daar verwys na “my Liena”. Dan’s daar die absoluut-klassieke “Liena Mondegreen se filosofie”. Dis wyle Brixton Barnard aan die woord. Het hy ook die lirieke geskryf en weet jy wie is Liena?
AB: Wie Liena is of was, is saam met Drikus graf toe. Sy verskyn al in Plank se songs van die laat-1990’s. Benewens Drikus se agt tracks, is die res deur my, Gerhard en Ockert geskryf. Ockert het “Liena Mondegreen se filosofie” se woorde geskryf, as reaksie op Drikus se liriek waarin hy Hank Williams verkeerd aanhaal – waarskynlik intensioneel, soos ek Drikus ken.
Maar Louis, nou wil ek eerder oor Raaskopleef praat. Julle het pas ’n nuwe album vrygestel, genaamd Wens ek was. Almuir Botha het dit opgeneem en dit het so teen die einde van verlede jaar begin uitlek en is toe ook op Spotify, Apple Music, YouTube, ensovoorts vrygestel. Voor ek by vrae oor produksie uitkom, wil ek eers hoor hoe jy die album lees in die konteks van julle vroeëre opnames. Sjaka Septembir beskryf die album as “storie-vertel met musiek” en dan wonder hy of “die album nie eintlik bedoel is om ’n Raaskopleef-teaterstuk te wees nie; hulle eie Piekniek by Dingaan?”
LD: Moenie dink ek hunker nie daagliks terug na die vroeë Raaskop-dae nie. Om harde punk-musiek te speel, is verslawend. Daarom die: “Ek wens ek was Jimmy Hendrix, sou dan heeldag kitaar speel”. Maar Jimmy is een van die lede van die sogenaamde 27-klub. Ons het vir Alwyn Jordaan, Brixton Barnard en Louis Graham verloor. Ons speel nie meer deesdae daardie skreeuende kitare nie. Almuir speel inderdaad bekfluitjie en banjo. Ek speel my akoestiese kitaar by die vuurtjie. Ons mag verander, vernuwe. Soos Sol Rosseau sê as hy ’n cool nuwe song hoor: “Daai’s eerlik.” Oor Sjaka se stelling of dit dalk Raaskopleef se eie teaterstuk kan word: Sjoe, nou praat jy…
AB: Daar’s ’n paar tracks op die plaat waaroor ek meer wil weet. Ek het gelag toe ek Sjaka Septembir se stuk oor die album lees. Hy noem “Die slag van Andringastraat” en skryf dan daaroor: “Die lied val weg met ’n bluesy, rustige, skoon guitar-klank. Die woorde is duidelik hoorbaar. Ek is verras, dit klink meer soos Valiant Swart of Andries Bezuidenhout. Waar is die vuil-skreeuende geraas van die eerste Raaskop-album?” Geen wonder dan dat ek daarvan sal hou nie! So my vraag het twee dele. Die eerste gaan oor die melankoliese verwerking daarvan – dis vir my pragtig. Die tweede gaan oor die liriek. Daar’s soveel verwysings daarin, histories en na ander lirieke (soos Valiant Swart se “Sweet Stellenganga”). Ek sou graag wou hoor of jy meer oor die konteks en betekenis wou sê.
LD: Dis Pierre Tredoux, ons oorspronklike ritmekitaarspeler se tune, en dis hy wat daar sing. Terloops, Pierre het in die eerste Valiant Swart Band gespeel en later ook vir K.O.B.U.S. uitgedraf. Die lirieke het ek al in 1998 vir hom gegee om te verwerk. Met die nuwe projek het ons dit afgestof en hy het dit saam met Almuir verwerk. “Die Slag van Andringastraat” het ongelukkig werklik gebeur in die vroeë-veertigs in Stellenbosch. Louis Duvenage, my oom, het deel gehad daaraan. Die slag was ’n tipe “turf war” in die middedorp. Heelwat bruin inwoners het die Queen tydens die Tweede Wêreldoorlog ondersteun. Dit het tot botsings met sommige Afrikaner-studente gelei. Dit het oorgekook tot bloedige vuisgevegte en klipgooiery. Die beeld van ’n student wat ’n draadloos, ’n vorm van kontak met die buitewêreld, binne-in iemand se huis stukkend skop, het my bygebly. Daardie tipe gebeure is nog lank nie uitgepraat nie, daarom: “Die seun lê en wag.”
AB: “Onverwacht”, die album se eerste track, begin met ’n tipiese Raaskopleef-kitaar riff. Maar dan skop daar ’n synthesizer uit die 80’s in en die track kry ook ’n amperse country twang. Ek wil weer meer weet oor die verwerking, sowel as die liriek.
LD: Hier het ek met Bruce Springsteen, James Phillips/Bernoldus Niemand en Akkedis in die agterkop na Almuir se studio gestap. Met sy getroue American Telecaster het ek die vocals in ’n take of drie gedoen. Denkend gewone en getroue country song, is ek daar weg. Groot was my verbasing toe ek die stukkie retro met die 80’s synthesizer in die middel van die song hoor met die herluister daarvan. Net te mooi om uit te laat. En hoe’s daai djagse riff aan die begin van die song?
Jy weet mos elke streek het ’n plaas genaamd Onverwacht. Ek het as kind baie soetpatat geëet by die ou koolstoof op ’n Onverwacht. Akkerbome. Reën. Eintlik wou ek oor daardie geborge gevoel skryf. Toe vat Ta’ San en Oom Johnnie se storie onverwags sy eie rigting. As liriekskrywer wonder ek gedurig waaroor kan ’n mens liedjies maak. Ek probeer intuïtief bly en laat begaan maar die verbeelding wanneer ’n openingslyn of drie my beetpak. As ek voorbarig mag wees, probeer ek soos jy ook dikwels doen, die ironie inwerk. Dis dan die spel tussen die naam van die snit en die inhoud.
AB: Dan is daar die title track, “Wens ek was”. Hier’s min van Raaskopleef se woede, dis meer ironies, soms kan ’n mens selfs troos en berusting opmerk. Ek sou graag wou hoor hoe jy hierop reageer.
LD: Miskien is dit ’n sameloop van beter gehalte kitare, amplifiers en mikrofone aan die een kant; dan aan die ander kant, die ondervinding van studio-ure waar ’n mens leer luister voordat jy skree. Almuir en ek het vir jare vir die Wellington Wanderers krieket in die skadu van die Hawekwaberge gespeel. Daai krieket games is saam met die breë Wellingtonse gemeenskap. So die song is ons almal s’n. Dan vind troos en tevredenheid so ’n bietjie meer aanklank as woede. Die lirieke het egter een oggend in die Kreef Hotel by Oppikoppi ontstaan. Schalk Joubert en ek het ná ontbyt in die sy-tentjie gesit-lê en Jimmy Hendrix-video’s gekyk. Ek onthou dit was verskriklik warm en met die uitstap uit die kokende tent sê Schalk toe: “Ek wens ek was Jimmy Hendrix.” Ek het die riff by Jimmy Hendrix ontleen en Almuir het dit verder ontwikkel. In die herfs val die skaduwees so dat dit lyk asof ’n man die Hawekwaberge rondom Wellington instap. Ná dekades hier op die dorp sien ek dit toe eintlik onlangs eers een middag vir die eerste keer raak. Daarna kon ek die lirieke voltooi.

Raaskopleef tydens hul laaste regstreekse optrede in 2015 in die Bôrdienghuis, Wellington tydens die opname van “Elektrisiteit”. (Foto: Engela Duvenage)
AB: Wonderlike storie. Alle paaie lei na Oppikoppi, ook van Wellington af. Of dalk juis van Wellington af – met Valiant as Oppikoppi-pionier.
LD: Van dorpe gepraat. Die snitte “Stofdorp” en “Main Reef Road” handel oor ’n oom wat ry. “Stofdorp” vertel van hoe hy berusting vind waar hy nou is (hoewel die tannie effe vies klink). Is dit in die Karoo, dalk Northam of Alice?
AB: Ockert het “Stofdorp” se woorde geskryf en ek die melodie. Gerhard se kitaar op die track is vir my besonders mooi. Ek dink die dorp waarna Ockert verwys is enige dorp in Suid-Afrika. Drikus skryf meestal oor die ou wat terugkeer na sy geboortedorp toe, maar Ockert se bydrae hier is die oogpunt van die ou wat agtergebly het. Ockert self het in Upington grootgeword, so ek kan nie help om ook aan Upington te dink as ek dit hoor nie.
LD: “Main Reef Road” skilder beeldryk die rit deur Beaufort-Wes, Bloemfontein, Grassmere en Soweto om “terug op die Witwatersrand” te kom. Dan die vraag: “Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?” Hunker ’n mens maar na waar jy vandaan kom? Hunker jy na die Witwatersrand waar jy vandaan kom, Andries, of is Suid-Afrika ’n veel groter plek as wat stedelinge gewoonlik dink?
AB: Louis, ek weet nie van ander mense nie, maar ek haat die idee dat ’n mens aan een plek moet behoort. Baie plekke het vir my betekenis, ook my oupa se grafsteen in Braamfontein se begraafplaas. Hy was ’n mynwerker wat deur sy stiefpa van die plaas in die Suid-Vrystaat weggejaag is en só in Johannesburg beland het. So daardie verwysing in die liriek is diep persoonlik, alhoewel ek nie juis daai grafsteen as ’n anker beskou nie. Persoonlike detail is inspirasie, nie feit nie, en die spreker in die liriek is nie noodwendig ek nie. Dalk soek hy na sy Liena?
LD: In die snit “Pierneef-blou” is daar ’n pragtige metafoor: “Dis die meeste wat sy beursie vir ’n landlord kan gee.” Dis wyle Brixton Barnard wat hier sing. Wie het die lirieke geskryf?
AB: Hierdie een is vintage Drikus – dis sy liriek en melodie.
LD: In my tuisdorp ken ek vele karakters wat lustig met hierdie snit sal saamsing; ons sal dit net “Boland-blou” herdoop. Hoekom “Pierneef-blou”? Is dit empatie, deernis vir die gemiddelde Suid-Afrikaner se oorlewingstryd wat ek hoor?
AB: Ek kan maar net bespiegel; Drikus sou miskien van my verskil. Hy het ’n aktiewe belangstelling in kuns gehad. Ons het gereeld gesprekke oor byvoorbeeld Walter Meyer se landskappe gehad, asook ’n ouer generasie waarmee mense soos Meyer in gesprek was, insluitend Pierneef. ’n Belangrike deel van ’n landskapskildery is die lug. Dink maar aan die Walter Meyer op James Phillips se album en die Lurchers se Sunny Skies-album. Drikus het Suid-Afrikaanse lig gehaat. Dis dalk selfs te sag gestel. Hy het ’n wrewel daaraan gehad. Hy het een keer aan my genoem hoe hy die kwaliteit van lig in Suid-Afrikaanse TV-programme in die 1970’s en 1980’s verpes het. Volgens hom kon ’n mens sommer sien as iets plaaslik vervaardig is. Was dit ’n tipe SAUK-filter, of was dit die kwaliteit van Suid-Afrikaanse lig? Miskien was dit spesifiek die Hoëveldse lig – yl en bleek en dof en skerp, als in een aaklige tipe blou vermeng. Dis hoe ek dink Drikus dit gesien het. Vir my is daardie lig regtig mooi. So as daar empatie by Drikus is, is dit vir mense, nie die landskap nie.
LD: Vertel meer van hoe jy die snit ontvang het? Hoe werk jou “skoonmaakproses”? Het jy die lirieke en kitare kon skei en bewerk en toe neergelê op die trekklavier en tromme? (My nerd vraag, soos jy dit noem.)
AB: Ek het ’n program genaamd SpectraLayers gebruik om die stem van die kitaar te isoleer – dit werk met towerkuns, oftewel kunsmatige intelligensie. Omdat Drikus nie met ’n click track opgeneem het nie was die ritme nogal oneweredig. Dus het Ockert eers drum tracks in sy kelder in Montreal opgeneem om struktuur te gee en ’n atmosfeer te skep. Daarna was Gerhard aan die beurt, met akoestiese kitaar in hierdie geval. Ek het die trekklavier met ’n midi-keyboard geprogrammeer en addisionele kitaar, baskitaar en bykomende stemme opgeneem. Willem Möller het kommentaar op ons mixes gelewer voor ons dit gefinaliseer het en ook uitstekende voorstelle oor verwerkings gemaak. “Pierneef-blou” is baie lank, soos Drikus aan die einde opmerk, so ons moes dinamika inbou om dit interessant te hou – ’n heerlike uitdaging. Gepraat van uitdagings, en ek hoop nie ek klink nou te veel soos ’n fan nie. Ek is absoluut gek oor wat julle met “Spoed” gedoen het. Dis soveel meer as ’n cover – julle het iets nuuts daarvan gemaak, selfs die liriek uitgebrei en verbeter. Hoe het dit gekom dat julle “Spoed” aangepak het?
LD: Dis my gunsteling-Brixton song. Julle band klink op daai recording nes Raaskop. Ek onthou dit van way back af. Ons het oorweeg om hom te metal, maar om ’n song te vat wat reeds hard is en dit nog harder te maak, sou meer geraas en hartseer veroorsaak het. Ons het toe ’n ou Raaskop-standaard naamlik “Somtyds” daar ingewerk en dit komplementeer mekaar wonderlik.
AB: Op daai noot, ’n vraag oor verwerkings op die plaat. Die aanslag is nogal akoesties en melodieus. Benewens die band se punk-benadering van ouds, is daar sterk country invloede, ook blues. Daar’s soms synthesizers, selfs ’n banjo op tracks soos “Maanwater” en “Die helenag”, die mondfluitjie op “Verdwyn en verskyn” en “Solastalgia”. Op laasgenoemde is daar iets wat vir my soos ’n outydse tonewheel orrel klink. Ook op “Bobby”, daardie uitklophou van ’n laaste track. Perkussie is nogal subtiel, soms kwasse eerder as drum sticks. Ek is nuuskierig oor hoe julle die verwerkings benader het, asook die algemene musikale gevoel van die album.
Almuir Botha: Ek oefen die afgelope paar jaar net bluegrass acoustic kitaar en banjo. Ek probeer min percussion gebruik saam met acoustic. Die meeste percussion op die album is midi. Al die synth en orrel-goed speel ek op Midi Controller met Logic se instruments. Daar is ook live percussion, shakers, rasper, maracas, snare hits.
AB: As iemand wat self musiek opneem en meng, waardeer ek werklik die kwaliteit van Wens ek was se produksie. Dis afgerond, die tracks is elkeen in ’n mooi ruimte geplaas, maar sonder om aanstellerig of te verfynd te klink – dit behou Raaskopleef se punk edge. Ek hou van die delay aan die einde van “Verbeelt”. Op “Diamante” is die stem droog en op die voorgrond, die drums is effe verder weg geplaas, die kitare draai verder aan weerskante van die verhoog. Later kom neem die bekfluitjie by die sanger oor. Vertel asseblief meer van hoe julle die produksie aangepak het. Waar en hoe het julle opgeneem, wie het dit gedoen? Die tipe goed wat nerds soos ek op die plaat se omslag wil lees.
Almuir Botha: Ek record alles in my bedroom studio met ’n paar Rode NT5’s vir al die acoustic kitare. Gebruik XY mic setup. Terwyl daai mics aan die gang is, record ek Backvox en enigiets anders daarmee. Vox op Shure SM7B met Cloudlifter vir gain. Vir elektriese kitaar en baskitaar gebruik ek SansAmp PSA 1.1 en Logic se stock sounds. Liedjies word aangepak met “Careless Whisper”, “I can be your hero, baby”, “Hemel op Tafelberg” en “Blow me away” (Kurt Darren) in die agterkop. Vir die fyn luisteraars span ek LCR panning in. Ons probeer ook om in die meeste songs ’n one take track te gebruik tussen al die ander edited goed deur. Baie van die main vocal tracks op die album is in een take opgeneem. Van hulle is ook first takes. Digital recording is mos maar baie smoke en mirrors, daarom klink dit vir die luisteraar soos ’n live setup met die effense room noise.
AB: Dankie Almuir. Ek hou die pryse van Shure SM7B’s dop – as ek ’n bargain kry... Ek probeer ook om so min as moontlik aan vocal takes te peuter (met comping). Dit voel meer natuurlik so.
LD: Andries, jy geniet ook die werk van The National en The War on Drugs. Waarna luister jy nog baie? Het die klank van hierdie moderne bands, almal aktiewe bands wat deurlopend nuwe werk uitbring, ’n invloed op jou produksiewerk? Dit het my byvoorbeeld geleer om teen sagte volume te raas. Vertel ons van die plug-ins (programme waarmee ’n mens klank meng en manipuleer) wat gebruik is in die opnames en hoe dit deesdae werk?
AB: Ek hou van hoe jy dit verwoord: “Om teen sagte volume te raas.” Ek dink op “Val”, die voorlaaste track op Bazaar punk, skree ek die hardste – op daardie manier. Ek luister deesdae na musiek na gelang van die klankingenieurs wie se werk ek bewonder en baie van hulle werk oor verskillende genres. Ek het ook ’n obsessie met klezmer ontwikkel, veral as klezmer met jazz cross-over. Ek vind elektroniese musiek meer en meer interessant. Ek luister graag na Philip Glass. Bach is altyd daar – veral as daar ’n kontra-tenoor betrokke is. Van kerkmusiek se invloed gepraat, hou ek ook baie van wat Mandisi Dyantyis doen. Oor die opneem van Bazaar punk – ek is ’n groot aanhanger van ’n Nederlandse plug-in maatskappy FabFilter. Ek hou ook baie van Soundtoys, sulke vreemde kreatiewe plug-ins met aweregse name. Ek werk in Cubase en het baie werk aan die kamer gedoen waar ek opneem – om dit te laat werk as akoestiese ruimte. Ek het in beter kitare belê, asook mikrofone. Ek is egter nog nie op die punt waar ek ’n mix sal finaliseer sonder om met Willem Möller te praat nie. Miskien so vyf plate verder...
Kan ek dieselfde vraag aan jou vra, oor die musiek waarna jy op die oomblik luister?
LD: Tans luister ek steeds Sonic Youth en dan met my nuwe band Orwellington, geniet ek ook Yo La Tengo. Weereens daardie geraas teen lae volume. My Kaapse jazz plate met Basil Manenburg Coetzee en Abdullah Ibrahim en die ghoema van Mr Mac and The Genuines vergader nie sommer stof nie.
Dankie, Andries, vir ’n lekker gesprek. Mag ek meld dat jy ’n multimedia-kunstenaar is wat onder meer ook dig en skilder. Ter afsluiting, hoe sal jy die Oos-Kaap waar jy nou woon, beskryf?
AB: Dankie, Louis, vir die gesprek en ook hierdie laaste vraag. Ek voel bevoorreg om in die Oos-Kaap te kan woon. Soms voel die plek soos ’n olieverfskildery – ’n groot gemors, ’n work in progress – dit het die potensiaal om ’n pragtige landskapskildery te word, maar anders as met kuns kan jy dit nie net toeverf en heeltemal van voor af begin nie.
Lees ook:
Die Stones van Suid-Afrika het die naweek in Tulbach gespeel
Orwellington se nuwe album ’n trefseker uitnodiging na hul optredes
Kommentaar
Raaskopleef en Roxton Brood en Roof. Dankie ouens, daai was alles baie mooi.