Andries Bezuidenhout gesels oor sy nuwe album Spoorlangs

  • 0

Andries, jou nuwe album, Spoorlangs, het baie onlangs verskyn. Die refrein van die titelsnit gaan so: “Ek vlug spoorlangs op die outydse manier, trein deur die woestyn ...” Spoorlangs is ’n outydse soort album – by tye baie sag en baie akoesties. Stoute vraag: Is dit jou manier om “op ’n outydse manier” afstand te kry van die persona wat eens Roof was?

Izak, dankie vir die stoute vraag. Ja, die Brixton Moord & Roof Orkes was natuurlik ’n rock band en hierdie album het ’n meer akoestiese klank. Ek wonder soms oor Roof as persona, want toe ek destyds as rocker op die verhoog geklim het, het ek ’n sekere rol gespeel. Die band het ook soms stil en donker oomblikke gehad en die uitbundige kant was ’n tipe teenpool daarvoor. So as ek as Roof vol bravade was, was dit deels ’n manier om iets ligter en meer speels in die konteks van baie donker musiek en onderwerpe te vind. Ek sou bitter graag met die band wou aangaan en ek mis die kameraderie. Dis ons nie beskore nie, omdat ons deur afstand, kanker en Covid gekelder is. So om doodeerlik te wees, as daar musikale afstand tussen hierdie nuwe album en Roof se gegrom is, is dit nie noodwendig my keuse nie.

Ek hou steeds van die Brixton Moord & Roof Orkes en vind dit goed om julle weer op digitale platforms te herbeleef. Maar hoewel ek soms wil skree “Jou evolusie is nie welkom nie!” (“Vis”), moet ek tog erken ek geniet jou sagter aanslag al hoe meer, soos ek (ook) ouer word. “Voete en wiele het hul eie pas, maar treine is seker die roete vas” (“Spoorlangs”).

Ek het baie hard gewerk om seker te maak dat al die Brixton Moord & Roof Orkes se musiek beskikbaar is op nuwer platforms. Baie mense het daaroor navraag gedoen en soms het ek sommer mp3’s vir hulle per e-pos aangestuur. Ek vind ook daar is ’n jonger generasie rockers wat waardering het vir die musiek. Hulle koop lankal nie meer CD’s nie, of het nog nooit nie. Die ondersteuners van my eie ouderdomsgroep en ouer het ook hul benadering tot musiek verander. Die CD’s word as memento’s gehou, maar in die kar en op die trapmeul stream hulle. Nou is als van die Brixton Moord & Roof orkes uiteindelik aanlyn beskikbaar. Spergebied en Slaaptyd in die suburbs, ons eerste en laaste albums, is vir die eerste keer op die meeste platforms beskikbaar sedert hulle as CD’s vrygestel is. Daar’s ook ’n paar nuwe akoestiese opnames van byvoorbeeld “Vis” en “Dagboek van ’n swerwer”. Ek het gesorg dat dit als gereed was voor die bekendstelling van Spoorlangs. Ek het besef dat ons die lede van die band wat dood is, dit skuld. So dis daar vir Drikus Barnard en Louis Graham en hul families. Cheers ouens! Ons luister nog na julle.

Jy speel waaragtig elke instrument op hierdie album. Hoe kry jy dit reg?

My vriendin Joey Kok help darem uit met sang. Sy sing ook op my vorige album Onplaats. Ek is mal oor haar stem en sy het in kore gesing, ’n natural as dit by harmonie kom. Wat die instrumente betref, het ’n mens deesdae hulp van klanktegnologie en programmatuur wat die gemiddelde musikant help om opnames professioneel te laat klink. Ek het baie tyd en geld spandeer om my klankateljee by die huis in Alice in te rig. Kanye West voel mos dat dit nie meer nodig is om instrumente te leer speel nie, omdat als deesdae geprogrammeer kan word. Ek’s darem nog nie daar nie, maar ek het van programmering ook gebruik gemaak as aanvullend tot die instrumente wat ek kan bespeel. Wat die opneem en meng van klank betref, het Willem Möller ure en ure aan my afgestaan om advies te gee, of om sommer oor die geskiedenis van musiekproduksie te gesels. Willem het ook die uiteindelike meester behartig – dis baie belangrik dat daar ’n vars en ervare paar ore na ’n musiekproduksie luister, veral as een mens vir als verantwoordelik is, soos in my geval. Dis ook nie altyd ’n goeie idee om opnames van jou eie stem te meng nie, omdat ’n mens jou eie stem anders as ander mense hoor. Ek vertrou nog nie heeltemal my eie oordeel nie, so Willem se raad was vir my baie belangrik. Onder sy invloed het ek ’n totale nerd geraak oor goed soos kompressors en reverb.

Ek het jou so ’n ruk gelede met net ’n kitaar sien optree in Wellington. Toe was ek beïndruk met hoe gemaklik jy die ouer, bekende werk sonder ’n volle orkes kon laat lewe. Met Spoorlangs was jy dalk alleen, maar dis ’n geskakeerde album met baie verskillende vlakke. Dis wel ’n stil album, maar as eenmensorkes trek jy selfs die baskitaar nader. Komponeer jy om die instrumente waarmee jy vaardig is?

Dankie Izak, ook vir die resensie van daardie Wellington-optrede. Ek komponeer nog meestal met die akoestiese kitaar as eerste instrument. Op Spoorlangs het ek begin eksperimenteer met klawerbord en elektriese kitaar as alternatiewe. Riku Lätti het een van sy elektriese kitare vir my geleen. Ek dink als behalwe “Spoorlangs” as titelsnit en “Die volgende oggend” is nog met die akoestiese kitaar as primêre instrument gekomponeer.

Een van die liedjies is "Klavierles by mev Kaplan". Dit gaan oor twee kinders wat oefen om ’n duet van Claude Debussy op ’n Steinway op te voer. Jy speel self ’n klein bietjie klavier hierop, maar uiteindelik is die hele stuk ’n verwerking vir die kitaar, met ’n sagte stel tromme. Dis weer een van daardie stukke wat bedrieglik eenvoudig klink, maar jinne, hier lê ’n paar lae musiek ingebed, nie waar nie?

Noudat jy dit noem, hierdie een het beslis nie met die kitaar begin nie. “Klavierles by mev Kaplan” is een van die mees ambisieuse musikale projekte wat ek nóg aangepak het. Die musikale tema in die lied kom nou wel nie uit ’n duet nie, maar uit “Clair de lune”, of dan die derde beweging van Debussy se Suite bergamasque. Ek wou dit in ’n tipe jazzverwerking verander. Laat ek dit só stel: Ek het dit stadig en geduldig opgeneem en geredigeer dat dit klap. Ek is nietemin tevrede met hoe dit uitgekom het. Dit gaan oor hoe musiek gedeelde ruimtes in verdeelde samelewings kan skep, in hierdie geval ’n Joodse klavierjuffrou met Christelike en Moslem-leerlinge op ’n Karoodorp. Natuurlik werk als nie lekker uit nie, soos dinge nou maar is. Ek hoop mense vind betekenis in die lied. Ek wens iemand soos Laurika Rauch kan dit opneem, sodat meer mense dit kan hoor.

Het jy as kind klavierlesse geneem, of hoe beland ’n sosioloog so in die musiek?

Ek het klavier by my ma geneem, maar wou komponeer voor ek toonlere bemeester het. My ma het altyd gesê ek gaan eendag spyt wees as ek met die lesse ophou. Sy was natuurlik reg. Dinge sou makliker gewees het as ek destyds besef het dat ’n mens eers moet leer kruip voor jy kan hardloop, om nou ’n bietjie van ’n cliché by te haal. Die kitaar is ’n minder gekompliseerde en meer draagbare instrument en ek het op André Letoit (Koos Kombuis) se eerste kasset Ver van die ou Kalahari leer speel. Hy sê mos daarop dat hy net vyf akkoorde ken. Ek het toe uitgewerk watter vyf en van daar af aangeploeter, tot waar ek nou is.

Jy is ’n produktiewe mens – jy het onlangs ook ’n akademiese werk saam met Karl von Holdt en Sonwabile Mnwana klaargemaak. Hoe kry jy dit reg om voltyds te werk, verskeie populêre stukke te skryf vir instansies soos Vrye Weekblad en dan nog ’n album soos dié te maak? Verlede jaar het Onplaats geland. Twee albums in twee jaar?

Ek werk twee skofte elke dag. In die dag werk ek aan my akademiese werk. Na aandete gaan ek studio toe en werk aan musiek of skilderye. Ek werk die meeste naweke ook. Ek noem dit nou “werk”, maar musiek en skilder voel vir my soos speel. In die aand, as ander mense TV kyk, speel ek. My akademiese en kreatiewe werk voed mekaar. Soms dra ek die esel woonkamer toe en dis lekker om dan musiek te luister en te skilder, terwyl Irma ’n boek lees of op haar rekenaar werk. Die grendeltydperk het op ’n perverse manier gemaak dat daar meer tyd as gewoonlik vir kreatiewe werk was.

Die struggle is steeds in jou omtes. Daar het baie onlangs ’n fantastiese video van “Die laaste brandwag” verskyn (uit Bleek berus). In die video is daar ’n visuele homage aan Kerkorrel se album Eet kreef!. In Spoorlangs inkorporeer jy Tiyo Soga se strugglemusiek. My Xhosa is ongelukkig swak, en wanneer ek na jou luister, besef ek dat selfs my geskiedenis gebrekkig is. “Umasizakhe” gaan oor ’n leiersfiguur, iemand wat ons gaan help. Ek vermoed dis Robert Sobukwe?

Izak, ek is bly jy’t die verwysing na Eet kreef! se omslag in die video van “Die laaste brandwag” opgemerk. Dit was destyds heerlik om aan daardie video te werk en dit het tot nuwe vriendskappe gelei. Ek is steeds trots daarop en dankbaar dat ek aan daardie projek kon deelneem – dit was deel van ’n kykNET-program oor tradisionele Afrikaanse musiek. Jy’s ook reg dat “Umasizakhe” oor Sobukwe handel. Irma het Benjamin Pogrund se biografie van Sobukwe gelees en ons het toe Sobukwe se geboortehuis in Umasizakhe in Graaff-Reinet gaan opsoek. Daar is nie aanwysings nie, so ons moes in die straat rondvra om die huis te identifiseer. Daar is ’n uitstekende uitstalling oor Sobukwe in die dorpsmuseum. Sy geskiedenis loop ook saam met dié van die Universiteit van Fort Hare, waar ek en Irma nou werk. Die inspirasie vir die lied kom uit hierdie verkenning van die landskap waar hy vandaan gekom het.

Die refrein van “Umasizakhe” gaan oor grond, immer die grond ...

Dis reg – die Xhosatalige deel van die liriek kom uit ’n ou strugglelied wat oor grond handel. Op die album gaan dit saam met die lied net daarna, oor die denkbeeldige karakter Andrew Rennie Pringle wat sy familieplaas verloor en in ’n tipiese Oos-Kaapse kushotel daaroor sit en nadink. Toe Thomas Pringle in 1820 in Suid-Afrika aankom, het hy die plaas gekry wat die Bezuidenhouts ná die Slagtersnek-rebellie moes afstaan. Soos jy sê, immer die grond.

In die eerste en in die laaste liedere op die album klap jy die Xhosaklanke pragtig. Wie het jou gehelp met jou Xhosa-uitspraak?

Dankie Izak. Ek is nie seker of my uitspraak altyd korrek is nie, maar ek voel musiek moet brûe bou. Ek hoop nie mense wat die taal goed magtig is, is ontsteld daaroor nie. My een kollega het darem gesê: “The pronunciation flows.” Ek neem aan dis ’n kompliment.

Dikeni, of dan, eDikeni, is natuurlik die plaaslike naam van Alice, waar jy tans woon. Jy maak Alice byna weerloos in hierdie lied, ’n persoon?

“Lied vir Dikeni” kom uit my murg uit. Dis steeds ’n onvoltooide liriek – ek dink nie dit sê als wat ek sou wou verwoord nie. Dis eerder ’n nawoord, as die laaste snit. Dis nie net ’n worsteling met die plek nie, maar ook met godsdiens en die sendelinge wat die dorp gestig het. Dit gaan oor die kras klanke wat Sondae uit die evangeliese predikers se tente kom en die geklingel van geld wat ons meestal arm studente in die kollektebord daar laat val. Dít in teenstelling met die besadigde harmonie van tradisionele gesange in die Metodistekerk by Healdtown. Die lied gaan dalk oor geloof en goedgelowigheid, dink ek. Om eerlik te wees, ek weet nie wie de hel verdwaal het nie. Ek is besig om Marguerite Poland se boek Shades te lees.

Die album gaan oor teenstrydighede, want ons gaan nooit oor alles saamstem nie, selfs nie op familiereünie nie, aldus die lied “Familiereünie”. Of lees ek nou te veel in?

Izak, ek voel bevoorreg, omdat jy na my album geluister het soos ’n mens ’n digbundel sou lees. Dankie daarvoor. Jy’s reg oor teenstrydighede. Sobukwe langs Pringle, twee kante van ’n saak wat nie noodwendig ’n oplossing het nie. Ek is egter ’n kunstenaar, nie ’n politikus nie. Die album gaan eerder oor vrae as antwoorde en oor die stories van gewone mense hier in die Oos-Kaap. Ek hoop mense vind aanklank daarby op een of ander manier. Die aanvanklike reaksie is darem oorwegend positief.

Jy is ook ’n digter, en jy speel met die woord en die stilte in “Duskant doodstil”. “Ompaaie ry ek, selde direk.” Dit is tog anders as om per trein deur die woestyn te vlug?

Presies. As daar nou een reël is wat dalk ’n tipe sentrale tema opsom, is dit dat verdwaal ook ’n manier is om jou rigting te vind.

Ek moet sê die een wat my binne geslaan het, is “Lied vir ’n kind wat nooit gebore sal word nie”. Goeie hemel, Andries. Ook hier is vlug, ontvlugting en ontwyking ’n tema. En “om in sand te bestuur” of deur Yeoville te navigeer is baie anders as om per trein op die spoor te vlug?

Ek het gewonder of ek hierdie een moet insluit in ’n reeds oorlaaide album. Daar was ruimte om een of twee van die opnames weg te laat. Dis vreemd dat baie mense juis by hierdie een aanklank vind, so ek is bly ek het dit nie uitgelaat nie. Dit gaan oor my besluit om kinderloos te bly, beslis nie ’n ligte tema nie! Ek probeer weer om nie antwoorde te bied nie, maar om ook te praat oor die kinders wat ek in hul afwesigheid mis. Die spreker in die liriek voel dat om nooit kinders te verwek nie, die beste manier is om vir hulle lief te wees. Dis seker ’n hopelose paradoks.

Die volgende lied, “Nie jou skuld nie”, begin: “Wie het nou tyd vir reguit ry?” Steeds die teenstrydigheid?

Ja, goeie aarde. Wie kan nou onteenstrydig van hul eie malligheid vlug? Daar’s seker iets van myself in daardie karakter.

“Linte vir ’n trourok” begin met ’n krapperige ou plaat. Hier gebruik jy weer ou Afrikaanse volkswysies as die interteks. Is hierdie versnit van klanke in ons mengelmoesland jou manier van sin maak? Is dit soos ’n goeie wynmaker dit doen uit verskillende variëteite – ’n stukkie wysheid waaroor jy ook sing?

Ek het dit baie geniet om aan hierdie een te werk. Dis ook een van die ligter oomblikke op die album, dalk selfs speels. Ja, die krapperige ou plaat. Dis deels gesprekke met Willem Möller wat vir my belangstelling in die geskiedenis van klankopnames verantwoordelik is. Ek het ook baie van ’n herinterpretasie van die ou Jiddisje lied “Bei mir bistu shein” gehou (deur Vibers), wat ’n reaksie om die oorspronklike opname deur die Andrews-susters is. So met hierdie een het ek probeer namaak hoe my plaat in die 1930’s sou geklink het – in mono en met ’n beperkte frekwensiespektrum. Ek wou ook hoor wat gebeur as die klank dan oorgaan in ’n meer kontemporêre tipe opname, in vol stereo. Mind you, stereo is ook nou al amper oudmodies, met die koms van driedimensionele klankontwerp.

Ek praat nou te veel. Jy is tans besig met ’n skrywersresidensie van PEN Afrikaans en die Jakes Gerwel Stigting. Waarna kan ons uitsien?

Dankie vir die gesprek, Izak, moenie ophou vrae vra nie! Ek het juis vandag saam met van die medeskrywers van Somerset-Oos af Graaff-Reinet toe gery, met Bruintjieshoogte se pas af tot waar die Karoo begin. Ons het aalwyne bewonder en Sobukwe se huis besoek. Ek is hier om aan ’n digbundel te werk. Losweg handel dit oor wat sou gebeur as mens die Afrikaanse taalgemeenskap vanuit die hoek van die Swahili-kus in oënskou sou neem. Soos Afrikaans, is Swahili ’n kreoolse taal wat uit die verhouding tussen heersers en slawe onstaan het. Ek probeer ooreenkomste en verskille ontgin. Altans, dis die idee. ’n Digbundel of musiekopname klink uiteindelik anders as die oorspronklike idee. Ek waardeer die tyd om gefokus daaraan te kan werk en geniet die gesprekke met die ander skrywers hier. Gesprekke oor aandete het my reeds gehelp om kreatiewe struikelblokke te oorkom. Dis ook ’n pragtige huis hier in Somerset-Oos, wat swaar aan twee eeue se geskiedenis en verbouings gedra het. Die Jakes Gerwel Stigting het die verbeelding gehad om dit te omskep in ’n tipe baken vir ’n ruimer beskouing van wat Afrikaanse letterkunde kan wees en kan word. Kuns bied selde klinkklare antwoorde, maar hopelik help dit ’n mens om jou verbeelding te gebruik en nuwe moontlikhede raak te sien. Dit maak my ’n bietjie minder sinies oor die kwessie van verdwaal en rigting vind. Ek dink hier’s dalk ’n rigtingwyser of twee in Somerset-Oos.

Lees ook:

Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2021: ’n onderhoud met Andries Bezuidenhout

Toast rig ’n gemaskerde satelliet op Roof en (Or)Wellington

Musiekonderhoud met Andries Bezuidenhout: “Elke Suid-Afrikaanse album behoort ’n hadeda iewers te hê”

Om oor Hendrik Witbooi en rap te praat

Midi, of iets gewen en iets verloor

Week van de Afrikaanse roman 2017: Andries Bezuidenhout

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top