Doen ons genoeg om Afrikaanse woordkunstenaars te erken as hulle (ook) musiek maak?
Afrikaanse musiek het soveel fasette: Jy kan jou boude lam dans op Afrikaanse techno, ons hip-hop is dikwels uitvoergehalte, met lirieke wat veel slimmer is as wat hulle op die oor af klink; dan het Afrikaans ook denkende, aktuele kunstenaars wat ons uitdaag met hul musiek en woorde.
Daar is al van narratiewe niefiksie gepraat as die vierde genre (lees Myburg se akademiese artikel hier). Maar wat van musiektekste? Is dít nie ’n waardige letterkundige genre om te erken nie?
Toe Bob Dylan die Nobelprys vir Letterkunde gewen het, is daar op verskillende forums gesels oor die musiekteks as letterkundige instrument, maar doen ons werklik genoeg om ons liedjieskrywers se bydrae tot ons letterkunde te verreken? David Kramer se 2007-album Hemel & Aarde lees soos ’n eenheidsbundel van tekste wat smeek om literêr gelees te word; daar is meer sulke gevalle. Elke nou en dan herinner ons musikante my weer aan hoe knap hulle as woordkunstenaars is.
Op 5 Desember het Andries (Roof) Bezuidenhout en Toast Coetzer my nog eens daar by die Breytenbach Sentrum op Wellington oorrompel met hul lirieke – gekoppel aan baie goeie musiek. Wat meer is, die plaaslike groep, Orwellington, wat die aand geopen het, se lirieke en musiek is ook slim en uitdagend.
Louis Duvenage is Orwellington se voorsanger en hoofkitaarspeler.
In sy studentejare het Louis voorgevat met Raaskopleef, ’n “three-cord punk-rock band” wat selfs by Oppikoppi gespeel het. “Elektrisiteit” is op YouTube. Luister na die lirieke. Dit is een van hulle stiller, meer liriese items.
Een van Raaskopleef se gevierde frases is “’n bra is ’n bra en ’n doos is ’n doos” – gegewe die konteks waarin dit gesing is, beteken dit natuurlik iets totaal anders as wat hier op die skerm staan. Sommige lirieke sou Koos Kombuis kon laat bloos, maar hulle het intelligent en baie musikaal lawaai gemaak.
Duvenage se huidige groep, Orwellington, beskryf hy as ’n “three-cord punk rock band toned down vir die plaaslike gehoor”. Die lirieke is ... meer volwasse? Dit klink so outyds. Hoe ook al: Orwellington se aanbieding bly opsetlik ongemaklik, hulle vra steeds vrae. Die gehoor word beslis nie aan die slaap gesing nie. “Dolk in die hart”, op hulle tweede album, word byvoorbeeld as ’n liefdeslied gesing.
Die titelsnit van hulle eerste album, Nael sussie nael, is ’n ode aan Bernoldus Niemand en praat oor die leë fabrieke – werkloosheid dus. Hulle techno remix van “Die kampioen” meng protes teen die regering se vergrype met verwysings na videospeletjies, dit is op SoundCloud. Orwell is nie om dowe neute deel van hul naam nie. Luister die titelsnit op SoundCloud.
Willem de Vries beskryf hulle tweede album, Die angstige avonturier, as “gestroop en ondermynend in harde Bolandse rock”. Die eerste strofe van die titelsnit lui:
die wind waai weer doodstil
oor brûe op snelweë staan motors botstil
op soek na geen avontuur
oorlewing verpak as ’n nuwe gier
Die album is op Apple Musiek te koop.
Een van die gaste het ná hul optrede vir my gesê: “Ek verstaan nie al die woorde nie, maar ek like die musiek.”
Christy Botha is op perkussie en stem.
Tanja Erasmus speel die akoestiese ritmekitaar, en sy sing ook.
Ian Smith hou die hartklop lewendig met sy baskitaar.
Orwellington het een lied saam met Andries Bezuidenhout gedoen, daarna het Bezuidenhout alleen op die verhoog geklim en die gehoor vermaak met net sy stem en ’n akoestiese kitaar.
Bezuidenhout was deel van die Brixton Moord en Roof Orkes, maar, soos hy daar in Wellington genoem het, die res van daardie groep se lede is dood of landuit. In 2003 het hy sy eerste solo-album, Insomniak se droomalmanak, vrygestel. In 2009 volg Bleek Berus. Vroeër vanjaar, midde-in die greep van COVID-19, is Onplaats bekendgestel. Als is deesdae aanlyn, vandaar die titel. Daar is nie meer ’n plaat nie. Die musiek is te koop op platforms soos Apple Music, Spotify en ander. (Lees ook Henry Cloete se onderhoud met Andries om meer oor Onplaats te wete te kom.)
Roof is ’n digter, en sy woorde toon dit. Om hom gestroop te hoor, net hy en die kitaar, is ’n belewenis. Sy albums is slim gemeng, met soms ’n ironiese country-twang of selfs ’n skuiftrompet wat kommentaar lewer, maar daar op ’n kaal verhoog met net ’n akoestiese kitaar saam met hom, is ’n mens nog meer bewus van die woorde; ook van sy musikale vermoëns, soos toe hy ’n ou bekende, “Spoed”, met net ’n kitaar uitgevoer het.
Ons aand van slim lirieke was nie verby nie, want toe klim Toast Coetzer en The Buckfever Underground op die verhoog.
Van hulle albums is op Apple Music. Dis mal, dis lekker, dit byt! Dit is immers The Buckfever Underground.
Hulle het enkele dae ná die optrede daar op die Bôrdienghuis se verhoog die nuwe album Satelliet vrygestel, ’n produksie met ’n interessante agtergrond. Gedurende die inperkingstyd het kitaarspeler, Michael Currin, gereeld vir die ander twee lede snitte gestuur wat hy opgeneem het. Toast het toe begin woorde skryf daarvoor. Heel Orwelliaans handel dié album ook oor die virus en die manier waarop die internet jou data bymekaarmaak om presies te weet wat om aan jou te adverteer. Die derde snit, “The News”, is veral aktueel. Stephen Timm het met sy perkussie die punte en kommas verskaf.
Satelliet is tans op Bandcamp te kry.
Toast het nooit sy masker afgehaal nie – wat natuurlik ’n stelling gemaak het en by sy lirieke gepas het.
Satelliet is ’n stil, akoestiese album. Op die verhoog het Currin egter die elektriese kitaar laat huil en gesels.
Timm was ook op die verhoog meer hoorbaar agter die tromme as op die album. Lekker. Hy is goed.
Die vertonings op die gronde van die Breytenbach Sentrum word in die buitelug aangebied en hulle tafels is ver genoeg van mekaar om die virus se verspreiding teen te werk. Ander COVID-19-protokolle word ook gevolg.
Ek het daar onder Wellington se sterre en verspiedende satelliete ’n pizza geëet, ’n bier gedrink en my verlustig in die musiek.
Ons aktuele woordkunstenaars is meesterlik; hulle musiek ook.
My kiekies is vir dié wat nie daar kon wees nie, en ek hoop ek het ander nuuskierig gemaak om dié kunstenaars se musiek te gaan opsoek. Verlustig jouself in hierdie literêre genre sonder ’n naam.
Lees ook:
Orwellington se nuwe album ’n trefseker uitnodiging na hul optredes