Die kundige woordsmid HemelBesem het onlangs die grond onder ons kom skud met sy nuwe rap-lied "Witbooi", waarvan die treffende refrein lui:
wiet’ ie altyd watte' kant toe nie
en ’it voel dat ek is man-allien
ons is mos oek al lankal hie’
is ek han niks hie’ in my land in nie?
dis unbelievable! Xam was hie’ gekul, down tot even ’n nul
die country is stil, lat ons net hum terwyl ’ie Nama people ’it gil
skrie; "Witbooi! Witbooi! Witbooi!"
HemelBesem is die verhoognaam van Simon Witbooi, ’n direkte afstammeling van die legendariese Nama-leier Hendrik Witbooi. Wat dus veral treffend is van hierdie snit, is die manier waarop HemelBesem die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke konteks en geskiedenis met sy persoonlike ervaring en familie- en stamgeskiedenis so vernuftig verweef in die lirieke. Die produk is nie slegs ’n catchy hip-hop-lied nie, maar die veelvlakkige, digte lae van betekenis daarin noop die druk van die replay-knoppie. En met elke luister word nog betekenis onthul.
Na die soveelste luister stuur ek vir Besem ’n WhatsApp. En dit word die begin van ’n boeiende stemboodskapgesprek wat oor drie dae strek. Ek deel hier graag die hooftrekke.
Ek vra: "Jy het al voorheen in jou lirieke na jou Nama-herkoms verwys. Maar met ‘Witbooi’ spreek jy die Nama-geskiedenis spesifiek aan. Hoe sal jy self die tema van die lied beskryf?"
"Kyk," antwoord hy, "ek dink die lied spreek nie noodwendig Nama-geskiedenis aan nie, dit spreek ook nie noodwendig Witbooi-geskiedenis aan nie. Dis wel die Khoi ... die ondertoon is die Khoi-consciousness as ek dit so kan noem." Dis ’n bewussyn wat volgens hom heers onder die moderne afstammelinge van die Khoi, San, Griekwa en ander inheemse bruin stamme, want "die moderne ou se probleem is dit wat hy nou ervaar".
Hy brei uit: "Ons verstaan sekere goete nie; hoekom tel my sê dan nie so baie nie? Jy weet, daar’s die stereotipering van hierdie mense wat afstammelinge dan is. Dit is wat tans gevoel word, veral in die konteks van Afrika, as ek sê Suid-Afrika en Namibië ook. Jy kan even die omliggende ander Afrika-lande ook byvoeg. So, daar’s baie, baie vrae."
Volgens hom is dit iets uit die verlede wat tans herleef. "Dit wat ons tans voel en dan waarvanaf ons kom, is ’n groot issue. Dit wat was. Jy weet, daar’s ’n consciousness van daai tyd wat weer beginne opstaan, wat die vrae eintlik aanvuur en wakker maak, en die vuur kan ’n bietjie vir mense ongemaklike hitte verskaf in Suid-Afrika en Namibië, maar dit is belangrike vrae."
Waar hy hom tans bevind, sowel as bepeinsinge oor sy herkoms en bloedlyn het hom as kunstenaar en as mens dus ongemaklike vrae laat vra: "Dis amper ... ek kan nie sê dis onmoontlik om sukses te behaal nie, maar daar’s ’n oorkoepelende staalplafon wat ons mense hou in ’n spesifieke hoogte. Van skoolopleiding ... geestelik ... dis verskillende goed, man, daar’s net so ’n ysterplafon wat ons onder hou. En ek het beginne vrae vra oor Hendrik Witbooi."
Hy vertel my van sy fassinasie met revolusionêre karakters, en vandaar ook sy fassinasie met sy revolusionêre stamvader. "Ek meen, op my arm is [’n tatoeëermerk van] William Wallace, die vertolking soos Mel Gibson dit vertolk het; daai movie is so ’n kerndeel van wie ek is. Ernstig, ek het nie hierdie geskiedenis heeltemal verstaan nie – ek praat nou van ’95, ’96 – maar ek het daai tyd Braveheart en dié goed gekyk, en dit het my lewe geshape, dit is eintlik wie ek is." Maar terwyl die storie van Wallace hom in sy jeug diep getref het, het hy nie geweet dieselfde tipe storielyn lê ingebed in sy gene nie. "Ek het nie dit geweet nie. Daai selfde ding! En nou skielik raak daai ding ... hoekom ek so aanklank vind daarby ... is nie oor wié nie, wat dit is nie ... a, Skotland of whatever nie (terloops, ek het Skotse bloed ook) ... maar eintlik is dit omdat: dis embedded in my DNS, daai revolutionary ding."
Hy sê daar is beperkte literatuur oor Hendrik Witbooi geredelik in Suid-Afrika beskikbaar. "Dis so moeilik vir ons om literatuur te kon kry om ons bloedlyn en ander kwellinge en vrae te kon opsoek. Ek het byvoorbeeld ’n tatoeëermerk van Hendrik Witbooi op my linkervoorarm, en die rede hoekom hy daar is, is ek wil hê mense moet my vra: Wie is die ou? En dan gee dit my die geleentheid om te praat, en daai consciousness van wie ons is, om daai te share." Dis volgens hom nie ’n politieke ding nie, maar gaan eerder oor die "essence, die spirit van wie hierdie man was".
Volgens hom verteenwoordig die lied "almal van ons mense", insluitende Khoi- en San-stamme, "maak nie saak of dit gemeng is nie". En, meen hy, "ons het daai unanimous ding dat ons mis icons in ons histories in, wat gedeel moet word."
Hierdie lied poog met ander woorde om die storie van Hendrik Witbooi te vertel, maar ook om wat HemelBesem "die Witbooi-consciousness" noem, te deel. "Daai fokus, daai drome, daai visie ... daai raak dan ’n general thing [...] So ek dink die song moet dáái aanspreek." Hy vergelyk die uitroep van "Witbooi" in hierdie sin met die uitskree van "amandla!".
"‘Witbooi!’ raak dan met ander woorde ’n kreet wat ’n consciousness vergestalt?" sê-vra ek. En dan verder: "Hoe skakel dit vir jou as rapper met die hip-hop consciousness?"
"Ja, kyk, hip-hop op sigself is maar iets wat ’n baie conscious movement is," antwoord hy. "Obviously, die commercial idea is nie waarvan ek praat nie." Volgens hom het kommersiële, radiovriendelike hip-hop wel ’n plek, ofskoon dit "baie middeweg" is. "Maar daar’s ’n rede daarvoor: brugbou."
Hy trek hierdie "brugbou" in die hip-hop-beweging terug na sy herkoms: "Dit is die consciousness van Hendrik gewees, uiteraard, om netwerkte te bou onder ons mense, tribes bymekaar te bring."
Wanneer hy oor Hendrik Witbooi gesels, raak hy byna liries. Hy praat oor Witbooi se "geestelikheid" en hoe hy reken dit deel was van alles wat Witbooi gedoen en waarvoor hy gestaan het. "Hy was gegrond in sy idees, sy interpretasie van wat hy dink God vir hom gesê het. En daai’s ’n heavy consciousness en ’n fokus eintlik, en ’n roep wat ’n consciousness raak. Jy weet, dit raak deel van jou physical body, jou mentality, dit verblind jou tot jy net dit sien." Hiermee identifiseer HemelBesem, sê hy.
Maar dit was nie altyd so nie; hy het eers later in sy lewe meer van Hendrik Witbooi te lere gekom. Hy vertel hoe hy baie oor hierdie stamvader kon leer by die hedendaagse Nama-leier Kaptein John Cornelius, asook by Conny Braam, die skrywer van Ik ben Hendrik Witbooi. Ook het ‘n rasta in Observatory destyds vir hom The Hendrik Witbooi Papers gegee. Dít was vir hom ’n openbaring: "Daar was net raakpunte; dit was daai Braveheart-ding, op eie bodem. En nie net op eie bodem nie, dieselfde gene. En dit was vir my verstommend.
"So my kuns, die rede hoekom ek hip-hop doen, is juis gegrond in brugbouwerk, in daai netwerke, aan ’n boodskap deel. En al my ondertone is geweldig ... enigiets wat ek aanpak het ’n geweldige geestelikheid, en dit is nie iets wat ek eenkant toe net kan definieer nie; daai geestelikheid is beslis ’n realiteit vir my."
Vir hom is dit nie ’n geloof of oortuiging nie, maar ’n waarheid. "Dit is my kontaklens. En dit is deurdag; dis nie ’n bubble waarin mens leef nie, dis net ’n realiteit. Met sy eie wette en reëls en goed, en ek dink almal hét dit."
Wat Hendrik gedoen het, sê hy, "dit strook met my." En inherent daarin is ’n balans. Hy reken: "Rebelle het ’n geweldige balans, revolutionaries het ’n geweldige balans in hulle lewe: Aan die een kant het jy hierdie wrede bra wat hy kan wees, en aan die ander kant is hy ’n poet. En Hendrik Witbooi is hierdie sagte ou in terme van sy geestelikheid en approach en sy confidence, maar daai selfde lam raak net so ’n leeu wanneer hy brul."
Hy bring hierdie balans weer in verband met William Wallace, en verwys na die Braveheart-dialoog "waar die French ou sê weet jy wat, hierdie man is ’n savage, moenie na hom luister nie. En dan praat [Wallace se karakter] in Frans terug en dan sê hy: ‘I never lie,’ sê hy, ‘but I am a savage.’ En jy verstaan dit. Dis dignified, dis civil, dis poetry."
Soos Wallace, reken HemelBesem, was Hendrik Witbooi "always against the odds". Maar as grondslag het hy ’n sekere waarheid gehad en was hy "a seeker of truth". En op soek na hierdie waarheid was hy op ’n reis.
Dit word vir my duidelik dat HemelBesem hier praat oor selfverwesenliking. Veral wanneer hy sy identifikasie met Hendrik Witbooi weer terugvoer na die hip-hop-bewustheid: "Dit is seker hoe dit vir my strook met my hip-hop consciousness [...] die actual intention is daai self-ding. Dis basically waaroor die gaan, daai deep self, daai essence ... om daai goete te communicate."
Hy verwys dan na die sogenaamde vyfde element van hip-hop,* naamlik die kennis van die self: "Die fifth chapter in die culture van hip-hop het te doen met ’n consciousness; jy moet weet wie en wat jy is as ’n mens en ’n fokus. En dit is die belangrike ding wat hip-hop aanbetref, om daai te gaan search. En Hendrik het nét daarmee te doen. Sy hele lewe, hy’t so doodgegaan ..." Hy praat in hierdie verband ook van die "guidance van God" wat volgens hom Hendrik Witbooi se doen en late onderskraag het.
Wanneer dit kom by praat oor God, geloof en die Bybel, is HemelBesem versigtig, maar nie skaam nie. Hy vertel dat die twee boeke wat die grootste rol in sy lewe gespeel het, onderskeidelik The Hendrik Witbooi Papers en die Bybel is. En sy geboeidheid aan laasgenoemde is by hom ’n weldeurdagte ding. "Ek het ’n bietjie teologie geswot en ek was ’n pastor op ’n tyd, vir amper tien jaar. En al hierdie goed speel ’n rol." Maar, sê hy, vir hom gaan die bekoring en identifikasie daarmee eerder oor die Skrif se poësie, lewenskragtigheid en hoe lank dit al eggo. Hy besing die "technicalities" daarin, die "beauty" van die narratiewe. "Oe, ek like mos die David story," sê hy dan, "daai altyd-against-the-odds-bra." Hy wil hom ondersteun, en wees, want hy identifiseer met hom.
Ek sê: "Van daai Bybelse Dawidverhaal, tot William Wallace, tot Hendrik Witbooi. Die storie van die underdog resoneer dus by jou. En die storie van die underdog is die storie van hip-hop, dan nie? En so is dit ook in hierdie lied: ‘ons het plak, steam, mas, alles / no luck, ons sien ons butt in alles / op drugs, is siek, os vat van anders […] gestraf, ek siek en sat van alles / sat gestiek, en plat soes wallets.’"
En verder: "Behalwe die vyfde element van hip-hop – waaroor ons nou reeds gepraat het – wat dink jy maak rap so ’n funksionele wapen in die ‘rebellie’ en die ‘brugbou’ waarvan jy praat?"
"Hip-hop is in ’n mate die storie van die underdog," sê hy, "maar jou commercial hip-hop, dink ek, vertel van hoe ’n ou van die underdog af [tot by die] top kom." Hy noem hierdie kommersiële rappers die "distortionists" en voeg by dat bewuste hip-hop nie deel is van hierdie hoofstroom nie: "Die music in hip-hop wat gaan oor die underdog se struggles gaan jy nie noodwendig op die radio kry nie." In kommersiële hip-hop praat "daai underdogs wat dit gemaak het, die top dogs, praat eerder en aksentueer die top dog status die heeltyd. Van die karre, van geld, whatever, alles." En dit is iets wat HemelBesem probeer vermy, sê hy. "Ek probeer nie brag oor enigiets nie. Dis meer [...] funksioneel, en soos jy sê, rap is ’n funksionele wapen."
En brugbou en rebelleer?
"Almal rebel teen iets," reken hy. "So rebel is nie ’n nuwe ding nie, dis maar net binne die konteks van waar ons onsself bevind. Iets kan vir jou soos rebellie oorkom, vir ander mense is dit normaal."
Hip-hop was dus nie vir hom noodwendig ’n kwessie van rebellie nie, maar het gespreek tot sy realiteit. En dít het hierdie genre anders gemaak as enige ander musiek wat daar tot sy beskikking was.
HemelBesem is in 1981 gebore, en toe hy so 10 of 11 jaar oud was, is hy bekendgestel aan hip-hop en het hy dit "ingedrink". Hy vertel hy het ander uiteenlopende tipes musiek ook geluister. Maar geen ander musiek was vir hom "so direk" soos hip-hop nie.
In sy grootwordjare was sangers soos Bles Bridges, Rina Hugo en Annelie van Rooyen algemeen op die plaaslike televisie en radio. "En dit is nice music, tot vandag toe luister ek daarna. Jy kan my niks vertel van dit nie. Maar daai musiek is net esteties, dit is al wat dit was. Net mooi. Ek kan dit nie toepas in my lewe nie, want you can’t redeem what you can’t relate to. So ek kon nie relate met dit nie, en hulle kon my nie redeem uit my situasie uit nie."
En dié situasie was een van sosio-ekonomiese marginalisering. "Ek het grootgeraak in ’n sinkhok, in die ghetto’s. En waar ek grootgeraak het, die gangs, al daai goed is normaal," vertel hy. Van jongs af het hy saam met sy pa as ’n timmerman gewerk, en van vroeg af was hy "tussen die boys, een van die boys". En dan verduidelik hy verder hoe die populêre sangers van hierdie era wel gemaklik op die oor geval het, maar nie tot hom gespreek het nie: "Daai musiek van ’n vrou in ’n blommerok onder ’n boom [met] ’n kitaar, jou tipiese tagtigs-ding ... of ’n man in ’n suit, die minnesanger-tipe styl. Dit was mooi. Selfs die musiek waarna ons geluister het op 21sts, verjaarsdagpartytjies of Krismis en al dié goed, dis altyd die minnesangers. Engelbert Humperdinck, Percy Sledge, whatever, jy kan dit noem. Maar dis ouens met ’n suit, en dit is nice, dis daar, maar dit is nog nie ... dit is [net] aesthetic."
Self musiek wat belaai is met emosie en met ’n klank waarmee hy kon "connect", soos dié van Luther Vandross of Peabo Bryson, kon nie aan hom bied wat hip-hop het nie. "Toe ek die eerste keer hip-hop hoor, was dit wow, dit is eerlik. En ek sê altyd hip-hop het ’n manier om ... dis nie altyd reg nie, jy hoef nie altyd saam te stem met als wat ’n ou sê nie, maar dis altyd opreg, as jy na regte hip-hop luister."
Sover dit hom aanbetref, vertel hy, kon hy identifiseer met die boodskappe in hip-hop: "Ek het na alles geluister en die hip-hop-ouens was ... dit wat ’n man gedink het, het die ouens gesê. En ek praat nie noodwendig van die politiek nie, want dit was die groot klankgolf, die ding wat soos ’n tsunami deurgekom het eerste, en dit het nêrens radio airplay gekry nie, dis die weird ding." Hy sê hy weet nie hoe hulle as kinders die hip-hop-kassette onder mekaar gesmokkel het nie, want dis deurspek met vloekwoorde en is beskou as "duiwelsmusiek". Maar, sê hy dan, "ons almal weet ons ouers vloek of wat ons ouers dink of wat hulle doen in hulle slaapkamer, maar mens praat [net nie daaroor nie]." Hy praat van "daai denkbeeldige grense" van toelaatbaarheid, en reken "hip-hop het alles oopgevlek".
Teenoor hip-hop het rock en metal nie op dieselfde wyses tot hom gespreek nie, ofskoon hy ’n mate van waardering daarvoor gehad het: "Rock in daai tyd, hard metal en daai goed, het emotional goed aangeraak, maar dit was – om dit baie kras te stel – young white problems." Daarteenoor was die "problem van rap" volgens hom "anti-establishment straight from the gate".
En dit wat agter daardie anti-establishment-sentiment gelê het, is iets wat hy maar alte goed geken het. "So ouens praat van ‘arm yourself’, ouens praat van polisie wat vir jou kom skud [...], jou kom deursoek. En dit het ek eerstehands ervaar as ’n kind. Jy het geloop daarso in die strate en dan as ’n polisie-van verby ry, dan stop hulle almal, en boem!, teen die Vibacrete, almal word deurgeskud en gekyk wat het julle op julle; dit was ’n normal occurrence."
Sodanige gebeure het volgens hom die gevolg gehad dat ’n jongman soos hy kon dink: "Dit is seker maar wie ek is, dit is reg. Tot jy ouer raak en besef: Maar ek ís nie dit nie. Daai ding wat op my geplak word en embleem wat ek moet dra is nié wie ek is nie." Daardie selfde boodskap het hy in hip-hop gehoor, en wil hy ook in sy eie musiek oordra: "Ek noem daai goed in my songs, as honest as possible. En goed wat conflict in my mind, spiritual issues, dis embedded in wie ek is. So ek deel dit soos ek dit ontvang het."
Dis daardie eerlikheid en outentisiteit wat aan hom ’n sin van vergenoegdheid verskaf as ’n kunstenaar, iets wat hy glo kommersiële gewin nie sal kan bied nie.
Ons praat nog lank oor die lirieke van "Witbooi", en ek besef hoe elke liewe woord fyn gekies is, die dubbelsinnighede en woordspel doelbewus, die intertekste fyn deurweef. Want soos HemelBesem sê: "Elke happie moet vir jou iets beteken." Sy musiek het lae, sê hy. "I don’t waste lines. It might not generate millions of views, dis nooit daai intention nie, maar elke keer as jy dit gaan luister, gaan dit hit, en it will reveal something different."
En daardie vervlegting van lae van betekenis rus volgens hom ook op die Witbooi-van "en die consciousness wat dit teweeg gebring het". Die invloed daarvan strek ver, want meer as honderd jaar ná Hendrik Witbooi se afsterwe, het dit op hom, Simon Witbooi, ’n invloed. "Tot hier om te sê, nou: Ons het heroes, hulle is waardige manne en raise jou fist aan die binnekant, it’s not about being condescending towards other people, [...], dit gaan oor celebrating wie ons is, en dis daai wortel wat eers net gou, hier waar ons staan, gou net daai waters gaan opsoek, voor dit uitbranch om ander plekkies langsaan ook water te gaan haal. Net vir dié oomblik in dié song, maak jou oë toe, laat daai wortel skiet, in jou hart in dwarsdeur die space waar jy staan, en draw van jou eie space af. En dra vrug. En gee vir ander, cause that’s what we do."
Nota
* Daar word algemeen aanvaar dat hip-hop bestaan uit vier elemente, naamlik breakdancing, graffiti, DJ’ing / die gebruik van draaitafels, en MC’ing (ook gespel emceeing), oftewel rap. Vir sosiaal bewuste hip-hoppers geld ’n vyfde element, naamlik selfkennis, daarby.
Annie Klopper is ’n skrywer, digter en nadoktorale navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy tans besig is met ’n studie oor rap in Namakwaland en die Boland as voortsetting van plaaslike mondelinge praktyke.
Lees ook:
HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”
Kommentaar
Pragtig. Iemand wat gemaklik is in sy vel en 'n anker het in die historiese. Sy lewe maak sin omdat hy weet van waar hy kom. Dis sy basis en vertrekpunt vir die nou en die toekoms. Trots inspireer en hy skep deur musiek, taal en die kunste. Hy lewer 'n bydrae wat versoenend is; 'n soort én, én, ’n leef en laat leef houding. Die land het meer HemelBesems of te wel, Simon Witboois, nodig.