HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”

  • 8

God praat Afrikaans
HemelBesem

Uitgewer: LAPA
ISBN: 978079938276 1

HemelBesem (oftewel Simon Witbooi) – rymkletser, aktivis, “edutainer”, skrywer, televisieaanbieder, radio-omroeper – is ’n brugbouer vir Afrikaans.

Menán van Heerden het met hom gesels oor sy jongste projek, die boek God praat Afrikaans.

Vertel vir ons meer oor HemelBesem: Wat beteken die naam, waar het jy grootgeword, en hoe het jou vormingsjare bygedra tot jou werk vandag?

Die woord “hemelbesem” verwys mos eintlik na iemand wat verskriklik lank is. Ek is nie … maar ek is lank aan die binnekant. Oor die jare as ’n Afrikaanse kunstenaar en mens het ek geleer dat my soort nie altyd “raakgesien” was vir ons bydrae tot die taal nie, so ek moes geestelik lank raak sodat dit moeilik raak vir platformbeskermers om my en my visie nie raak te sien nie. Behalwe lengte is my wortels ook diep geslaan in die “hemel”- én “besem”-dele afsonderlik. “Hemel” beskryf die geestelike kant van my en “besem” die praktiese sy. Ek glo in “geloof” én “werke” … ’n Goeie dosis van albei maak van enige persoon ’n “reus”, oftewel ’n “hemelbesem”.

Ek het in my lewenstyd op so baie plekke gebly. Kom ek verkort my verlede geografies so: ek is ’n trotse “namatjend” wat gevorm was in die Kaap en die Boland, Afrikaans, en ook trots Suid-Afrikaans.

Vertel die lesers meer van jou werk en huidige projekte.

Ek is eerstens ’n liefhebber van kuns in sy geheel en is gelukkig om ook ’n kunstenaar te wees. Ek het al omtrent nege albums die lig laat sien en elkeen van hulle is my babatjie. Ek is steeds besig met musiek, en my nuutste werke sluit in

  1. “Die tyd is nou”, ft Anders
  2. “Dope”
  3. Die reggae tune “Oorweeg”, ft Rouve Constable.

Ek werk konstant aan nuwe musiek en skryf bykans elke dag. Buiten my eie musiek is ek ook die offisiële ambassadeur van ATKV se Crescendo-program. Ons het uit die geweldig suksesvolle Crescendo se mould uitgebreek en bietjie verander. Ons beweeg nou na die gemeenskappe toe wie eintlik Afrikaans is, maar nooit regtig hul talente in Afrikaans uitstal nie. Vir die laaste paar jaar het ons al sulke amazing stories uitgelig en platform gegee. Hier’s ’n voorbeeld van ’n tannie in Atlantis, antie Francis wie, as ’n huisvrou sulke mooi songs skryf en dan ook self sing.

Sy’s middel-60 en tans werk ons aan ’n volle album vir haar. Sy’s een van honderd stories! Die droom van my om reggae, jazz, funk, r&b, hip-hop, house en sulke soort genres in Afrikaans te hoor het mooi gesmelt met Crescendo se visie en nou probeer ons dit maak gebeur. Dis ook nie iets wat oornag sal gebeur nie. Ons besoek skole van oral oor en moedig duisende aan om konstant te “droom in Afrikaans”. Vir die laaste vier jaar gee ek ook sowat vier weke elke jaar aan die Universiteit Stellenbosch se Woorde Open Wêrelde- (WOW-) projek. Dis bietjie meer intensief as Crescendo se skoolbesoeke. Met hierdie besoeke spandeer ek om en by een uur met matrikulante om hulle bewus te maak van hulle Afrikaanse wortels deur voorgeskrewe werk op ’n unieke wyse oop te breek. Dis ’n hoogtepunt van my jaar. Hierdie jaar het ’n professor van Stanford-universiteit in die VSA my besoek en na ’n marathon-vraag-en-antwoord-sessie probeer hy my nou kry om Afrikaans te gaan promoveer by daai universiteit. Kom ons kyk of ons dit sal regkry! Ek skryf ook gereeld vir die Taalgenoot en het ook al vir Beeld en Die Burger ens geskryf. Al my rubrieke en geskrewe werke gaan maar oor “nuwe uitdrukkings” of “sêgoed”. Ek probeer so ver moontlik die uitdrukkings en woorde waarmee ek grootgeraak het, deel met die res van die Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika en seker maak dit word ook geboekstaaf soos ander.

Besig met Crescenco-skoolbesoek by Scottsdene Sekondêr

Dit bring my by my boek, God praat Afrikaans. Dis maar presies waaroor die boek ook gaan. Ek deel stories uit my lewe en waarnemings, in die taal waarin ek grootgeraak het en steeds mee omsingel is, met die hoop dat mense voort sal gaan om dit in hulle alledaagse lewe te gebruik en om sodoende seker te maak dat Afrikaans so organies groei. Selfs my teaterproduksies spreek ook boekdele wat hierdie visie aanbetref. Toe Die Afrikaansvatter verhoë tref, toe kry mense my boodskap. Die spesiale weergawe van die produksie saam met Coenie de Villiers het ’n Kanna gewen laasjaar en is ook vir ’n Fiësta benoem. Die ander een (AllBasters) het ek mee suksesvol in Nederland getoer. Dit onderstreep dat “we are all basters, and it’s a hard nut to crack.” Ek het intussen ook die Kruispunt-prys gekry by Kunste Onbeperk vir my werk wat die bogenoemde insluit, omdat my fokus wat kuns aanbetref maar meesal gaan om mense se vooroordele af te breek en brûe te bou. Wat radio en televisie betref is ek trots om aan te kondig dat Die Afrikaansvatter oorweeg word as ’n televisieprogram! Ek is steeds aan en af by Radio Sonder Grense en vervaardig ook die Afrikaanse Hip Hop Radioprogram wat deur baie gemeenskapsradio’s uitgesaai word. Op televisie gaan ek ook steeds voort as een van Pasella (SABC2) se aanbieders.

Oor jou jongste projek, God praat Afrikaans: Wat het die skryf van hierdie boek vir jou beteken, en watter boodskap wil jy aan lesers oordra?

Dit beteken die wêreld vir my asook vir so baie wat die taal so besig uit my demografie. Dit maak my so trots dat daar ’n paar mense buite my onmiddellike raamwerk is wat dit sal lees. Met geen vooroordeel nie dink ek dis ’n belangrike boek wat Afrikaans betref. Taal is tasbaar. Als wie jy is word onderstreep deur die taal wat jy praat. Gevoelens, en die gewone menswees-dinge worry nie oor taalreëls, sinskonstruksies en sulke goed nie. Dit deel net wat dit wil in hoe die persoon verstaan, ongeag of custodians dit kreools, colloquialism, variante of sulke goed noem. By daai individu registreer dit net as die taal wat hy ken. God praat Afrikaans is so vir my. Ek dink my boodskap aan mense is om hul vooroordele versigtig en oordeelkundig te gebruik deur eers verwelkomend te wees eerder as om mense by die deur van jou wese instinktief weg te wys.

Trots Afrikaans (Foto: Ronald Berwers)

Watter variant(e) van Afrikaans praat jy – hoe sou jy dit beskryf?

Ek beskou nie enigiets wat ek praat as ’n “variant” nie. My opinie is dat Afrikaans nog te jonk is om variante te hê. Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei en wat ek praat is deel van die kompos waarin dit groei. As dit nie deel is nie, is dit wat beskou word as standaard nie die naam werd nie.

Hoe definieer jy “Afrikaanse hip-hop”?

Daar’s ’n volledige hoofstuk in my boek oor Afrikaanse hip-hop en ’n verdere hoofstuk wat in dieper besonderhede gaan. In die boek beskryf ek dit as doef-doef-musiek, maar op straat ken ons dit as “rymklets”, wetende dat die regte vertaling vir “rap” eintlik “kletsrym” is. Ek dink ons sê “rymklets” want tussen ons moet jy eers kan rym selfs voor jy kan klets. Afrikaanse hip-hop is nie net ’n Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse ekwivalent nie; dit het reeds kultuurstatus bereik uit eie reg as jy noukeurig Suid-Afrika se musikale onderwêreld reg bestudeer. Ek was eenkeer by Oesfees ná ’n exhibition van rymklets op ’n televisieprogram gevra oor rymklets en of dit nie maar net ’n copy is van Amerika s’n nie. My antwoord was eenvoudig: “Dan is amper alles wat op stage was vandag seker maar net ’n copy van iets in die wêreld. Die meeste van dit wat ek gehoor het, was copy van Ierse folk of byvoorbeeld Amerikaanse country … net maar in Afrikaans. Maar nee, net soos daai genres wat goed doen in Afrikaans in Suid-Afrika: al kom die saadjie van elders, die boom lyk verskillend.

Jy het in die verlede, soos jy gesê het, ’n RSG-program oor hip-hop aangebied. Hoe is dit destyds ontvang?

Mense oor die algemeen is oop vir nuwerige klanke in Afrikaans. Hip-hop is een van hulle en sal nog lank wees. Op my program het ek seker een offisiële klagte gekry en dit was nie van ’n “normale” RSG-luisteraar nie. Wat die res betref: oral by skole of plekke waar ek optree, kom oud en jonk en vertel my hoe baie die program hulle gehelp het om hul ore oop te maak vir hip-hop-klanke. Dit was geslaagd, in my opinie. Tot op vandag vra mense my oor Die hooflig, of Hakkiesdraad Hartman of “daai girl” Yoma ens (almal Afrikaanse hip-hoppers).

Dis hoe mense reageer!

Rakende Afrikaanse hip-hop-aktivisme en “edutainment”: Kan leerders wat verskillende variante van Afrikaans praat hulle moedertaal deur kletsrym toe-eien?

Dit het gebeur, en gebeur steeds. Dis een van my observasies waaroor ek baie trots is. Die era van “Praat Afrikaans of hou jou bek” kom deur twee mediums. Fokofpolisiekar, Van Coke, Riana Nel (eerste album) en Karen Zoid het Afrikaanse rock gebruik om dit aan te wakker en waar ek vandaan kom het ouens soos Brasse vannie Kaap, Funny Carp en Rap’n’donkey dit deur Afrikaanse hip-hop gebring. Vandag vat ons dit verder. Ek glo dat “standaard”-taal slegs ’n fondasie is, maar aksente, uitsprake, en sogenaamde variante is alles bakstene wat uiteindelik ’n “huis” vorm … en daai is hoe “huis”-taal ontstaan. Uiteindelik soos daai “huistale”, soos in hip-hop, beoefen word, sal dit uiteindelik die kriteria van WAT byvoorbeeld volstaan en kan nie anders as om ingesluit te word as “standaard” nie.

Jy werk baie met jongmense. Sien jy ’n houdingsverandering teenoor Afrikaans en/of ’n voorkeur vir Engels?

Dit begin altyd met ’n voorkeur vir Engels en ek neem hulle nie kwalik nie. Kom ons wees eerlik. Kinders nodig ikone in hulle taal. Watter ikone is daar vir my demografie wat veral Afrikaanse musiek aanbetref? Nie eens ek nie. My goed is nie in high rotation op platforms soos radio en televisie nie. Die enigste ou daar is miskien Emo Adams, maar nie eens Emo is op belangrike platforms soos SAUK te sien nie. So wat moet die kinders en jongmense doen? Hulle hoor en sien die genres wat vir hulle “cool” is slegs in Engels. En nie net Engels nie, Amerikaanse Engels. Dis wat hulle gevoer word. En dus vind hulle hulle cool en idee van sukses daar en besig dit dan. Maar as ek klaar is by skole kry ek hordes inboxes, en daar tydens fotosessies waar hulle sê: “Van hier af doen ek my ding in Afrikaans!” Dis een van die groot redes hoekom ek doen wat ek doen.

Saam met 'n jong fan (Foto: Lindsay Apollis)

Afrikaans bestaan uit verskillende woordeskat, aksente, klanke, en uitsprake. Hoe dra kletsrym by om Afrikaanse “variante” (jammer – ek weet jy hou nie van die woord nie) se taalskatte te ontgin?

Rymklets help mense om ritmies sekere uitdrukkings, en byvoorbeeld woorde te aanvaar en te gebruik. Al gebeur dit soms dat mense dit eers komies deel maak van hulle woordeskat, los dit uiteindelik ’n merk in die onderbewussyn en dan gebruik mense dit soos normaal. Ek is excited vir die dag wanneer onderwysers, CEO’s en predikante byvoorbeeld mense gaan groet met “Aweh!” en dit nie snaaks sal wees nie. Taal word deur alles en almal beïnvloed en die regte woord op die regte tyd bepaal sy lewensduur. Met die groei van Afrikaanse hip-hop en die platforms wat dit tans geniet … wie weet?

Hoe kan kletsrym Afrikaans verruim en laat groei?

Kletsrym moet net die platforms gegun word wat ander genres kry. Kom ons wees eerlik: daar’s baie nonsens in Afrikaans wat genoegsame platform kry, so hoekom nie rymklets nie? Deur hierdie platforms leer ons frases en sêgoed wat soms permanente verblyf geniet in ons geheue. Dink maar aan van my vriende en kollegas se sêgoed, soos baby tjoklits, skarumba en loslappie. Selfs “Met eish ja” ens ... Gee net Afrikaanse hip-hop ’n kans en jy sal verbaas staan oor wat dit kan vermag.

Jy het al in onderhoude aangedui dat versoening en Afrikaans vir jou belangrik is?

O ja, ek is ’n brugbouer. Ravi Zacharias het eenkeer gesê: “When you throw mud at other people, two things happen: your hands get dirty and you lose ground.” Daar’s genoeg mense wat klippe gooi, grense skep en mure bou. Ek hou van die idee dat mense saam kan leef ongeag ons verskille.

Dit gaan oor jou (Foto: Ference Isaacs)

Kan kletsrym brûe bou binne die Afrikaanse taalgemeenskap?

Rymklets kan, ja, maar net soos enige genre en feitlik enigiets daar buite kry ’n mens die oorspronklike idee van iets en dan kry jy ook die “distortion’ daarvan. Afrikaanse hip-hop het ook sy distortions … Daar’s kunstenaars wat uit frustrasie niks anders het as vuur om te spuug nie, maar oorwegend is daar diegene wie brûe bou en wil bou. Ek het pastore wat op my musiek gym, tannies wat my boodskappe stuur oor hoe hulle my werk geniet, manne wat hulle kinders bring vir handtekeninge, en dan sê hulle kinders luister net na my musiek, ens. Dis brugbou as jy my vra.

Met kletsrym kan daar met Afrikaanse metafore, idiome en beeldspraak getoor word. Hoe verskil hierdie vloeibare gebruik van taal van die statiese opname van woordeskat in ’n woordeboek soos die WAT?

Willem Botha is een van my groot vrinne wat taal aanbetref en ek kwoteer baie van ons geselsies as ek by skole optree, maar ek het jare terug in my eerste Taalgenoot-rubriek juis verduidelik dat ek nie dink dat die trotsheid van Afrikaans wat tans heers, te danke is aan daardie tipe boeke nie, maar eerder aan musiek en ander kuns. Niemand het my nog verkeerd bewys nie. Daar’s ’n Engelse uitdrukking wat lui: “Let me write the songs of a nation, let other people write its laws.” Ek dink daardie stelling dra geweldig krag.

  • 8

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    En mag hy voortgaan om die spinnerakke uit te veel mense se bedompige denke te vee - sodat ons almal daardie hemel van medemens-eerbiedige en skeppende saambestaan in fokus kan kry! Dankie. (Die besem was nog altyd die simbool van monnik wat omgee vir die mensdom.)

  • Estelle Bester

    Ja, soos Breyten sê: daar is groot spinnerakke om uit te vee! Doen so voort - dis kosbaar. En brugbouers moet nooit ophou bou nie!

  • Aletta Beukes.

    Musiek is verslawend, as die jongmense daarvan hou, speel hulle dit oor en oor en sing saam op die manier leer hulle onbewustelik Afrikaans. Gaan van krag tot krag.

  • Jeremy Vearey

    A TALE OF TWO BOOK LAUNCHES

    Gwaan met julle! Het julle nou gedink met soe 'n haute-de-Dickensian ingelse titel ek moet visak op my Kaaps. Djy maak jou laat, jou so-called literary pundit. Dié storie is in my taal, soe kry vi jou vinnag 'n tolk.

    Vêrre korrit toe soe lat ek laaswiek by twie book launches innie Book Lounge innie Roeland straat land. Maa dié biesagheit was differen. Twie woore kopskieters vannie ghetto, Hemelbesem en Nathan Tarentaal was daa met hulle nuwe boeke - Hemelbesem se 'God Praat Afrikaans' en Nathan se 'Alles het niet kom wod'. Nou ek stap daa in mette vollene gedagte cause why ek het al kla die boeke galies en kan oepkop allie whieties vang.

    Ienagste problem is dat altwie brasse nie rêrag die interviews kon doen soes ôs praat'tie. Die bra wat vi Hemelbesem uitgevra het was net te haute-de-Stellenbosch, ennie ghoes wat met Nathan gepraat'it hettie heeltyd vissies gespoeg. Dié crowd was oek meeste van die Afrikaans-literêr en overseas type, maa hie en daa was daa daam 'n gesiggie vannie ghetto en ôse slim mense vannie UWC. But díe twie brasse hettie slange gehangie of t'rug gestaan vi fokollie.

    Hemelbesem stiek uit mette kaat dat hy hoep hy loep eendag in 'n kêk ennie doemanie maakie diens oep soes normal met - Aweh gemeente, ek groet julle vandag in die wonnelike naam van...". Die bra is mette vollene kôrêk hie, waavoo moet ôs aldag aansit asof ôs skaam is vi hoe ôs aldag innie Kaap praat. Daa is mossie soe 'n ding soes 'n hoër orde standard Afrikaans wat bietere as ôs way van praat issie. Ôs praat oek nie wat die Stellenbosch ivory towers 'n varieteit of diglossie call nie. Sy boek lies soes ôs praat, en soes ôs praat is 'n vollene taal op sy eie!

    Nathan het net so hard uitgestiek en hie en daa stukke gesny oo hoe hy grootgewôd'tit. Toe ka djy hoo hoe vannie whiter shade of pale 'n paa liberal knoppe sluk. Maa dat dié vrae alles in ingels was en Nathan geforce was om ingels te praat oo sy Kaapse poems was my ever ent. Maa at least was dit nie alles lost in translation nie, alhoewel vannie mee 'sensitive viewers' se gatte op tyte gedjiek het as hy 'n fuck, fuck-all, of what-the-fuck rondgooi. Soes ôs praat issit maa net 'n ingelse woord vir fok, fokol, en watte fok en glattie soe gatkrapperag soes dit in ingels klink nie. Maa innie future met sulke haute-de-book launch goetes, dink ek ôs moet bly by hoe ôs whietie. Kry maa virrie annes 'n tolk.

    Al wat ek jou gaan vi'tel vannie twie boeke is dat dit is dieper as J D Salinger se 'Catcher in the Rye' en mee relevant as William Sheakespeare se pulp fiction. Soe moetie slange hangie - gaan koep Nathan en Hemelbesem se nuwe boeke. En fokol comps nie, gwala daai ding, dié brasse moet 'n living maak!

  • Alta du plooy

    My kleinseun Cullen, net 3jr is versot op jou Musiek. Interessant hoe hy weet van rymklets.
    Hy luister aandagtig met koppie knik soos rêrig! 😂 Begin al net soos Hemelbesem lyk😉

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top