Gedurende die lockdown het die Afrikaanse country-punk band Orwellington ’n nuwe song, “Willem Willim”, opgeneem. Dit handel oor verskeie Willems wat al oor die band se pad gekom het en besin ook oor die gebruik van sosiale media.
Die song spreek verskillende realiteite aan. Tydens die opnames het die musikante mekaar nooit gesien nie. Opnames is in elkeen se tuisstudio gedoen en dan aan Almuir Botha gestuur vir die vermeninging en finale produksie.
Luister hier na “Willem Willim”:
Agterna het Louis Duvenage van Orwellington aan verskeie Willems, waarna daar skrams in die song verwys word, ’n paar vrae gestel. Willim Welsyn, wat ook kitaar speel en sing op die song, bespiegel of dit die nuwe manier is hoe opnames voortaan gedoen gaan word. Willem Moller, kitaarspeler van die Gereformeerde Blues Band, wys die waarde uit van ’n ingeboude bullshit-meter, terwyl skilder Willem Pretorius meen die regte lewe is glansloser as die een wat daar iewers op die eter geskep word. Op sy beurt reken Nog-’n-Willem (wat verkies om anoniem te bly) dat om rondom ’n regte vuurtjie saam te lag altyd sal koning kraai, terwyl Willem van der Merwe (wie se bundel Nuwe vrese verlede jaar verskyn het) reken gebruikers van sosiale media is in ’n Catch 22-posisie.
Wat is jou dagtaak/stokperdjie/waarmee hou jy jouself gewoonlik besig?
Willim Welsyn: Bedags werk ek as ’n digitale bemarkingspesialis vir ’n mediese maatskappy. Snags bemark ek die oorspronklike, vlekvrye staal Blitzkriek Braaikaaster kitaarrooster, soms sing ek en soms doen ek onderhoude in my garage vir my WAT-podcast. (Luister hier na die WAT-podcast https://williamwelfare.com/wat-podcast-episode-guide/)
Willem van der Merwe: Ek is ’n videoredigeerder, fotograaf, skrywer/digter en musikant. Die laaste vier maande het die meeste van my werk wat geld inbring, verdwyn. So, ek het toe begin werk aan al die dinge wat ek normaalweg nooit genoeg tyd voor het nie, soos poësie en musiek.
Willem Pretorius: Behalwe om te paint en canvas te bou, hou ek myself meestal besig met DIY in en om die huis. Ons huis in Rosendal is meer as 100 jaar oud en daar is altyd verfwerk, houtwerk, sweiswerk of bouwerk. (Klik hier vir voorbeelde van sy werk).
Willem Mulder: Ek's meestal maar ’n professionele leegleêr wie se oë toevallig altyd uitkyk vir oomblikke om vas te vang. Baie van my tyd word dan spandeer voor die rekenaar om die prent te kry tot ek heeltemal tevrede is daarmee. Die res van die dag word daar baie gedink aan die rede agter alles en wat daar die aand vir ete gemaak gaan word. Gaan lees hier verder:
Willem Moller: Musiek, musiek en musiek, mainly - speel, arrange, produce, record, mix, master. My stokperdjie is om meer te leer oor musiek en hoe om beter te speel/record/mix ens … solank ek iets nuuts elke dag leer is ek happy. Ek is ook eternally nuuskierig oor alles in die universe – dis hoekom ek ’n joernalis ook geword het. As ek eers in iets belangstel wil ek alles daaroor weet – die geskiedenis, die konteks, die detail … Google is vir my gemaak. Ek het op varsity geleer dat jy nie varsity nodig het om te leer nie, jy moet net nuuskierig wees. My jare van filosofie studeer het wonderlike bullshit detectors soos logika en rational thought in my brein geïnstalleer wat my immuun maak teen goed soos fake news, religion, advertising en populism. Ek is ook van jongs af ’n political animal en, if anything, raak ek net meer radikaal soos ek ouer word … (Hier is sy diskografie, https://www.discogs.com/artist/2158396-Willem-Moller).
Nog-’n-Willem: Ek is ’n skrynwerker – aan die einde van my werkdag lê krulle en afgesplyte stukkies langs my werkbank wat van nader beskou steeds bruikbare leestekens is.
Daar is al heelwat geskryf oor die voor- en nadele van sosiale media. Die song verwys na stem- en gesigsherkenning wat deur algoritmes verwerk kan word tot nuwe produkte, selfs nuwe identiteite. Dit kan ’n skildery, ’n gedig of song skep sonder enige menslike inmenging, maar net danksy die data wat verkry word uit jou inligting wat vrylik beskikbaar is op sosiale media. Is jy gerieflik met jou identiteit op sosiale media, en is dit een en dieselfde persoon as die Willem wat ’n brood by die kafee gaan koop?
Willim Welsyn: Ek is gerieflik met my identiteit op sosiale media. As ek gaan brood koop by die kafee is ek dieselfde persoon, maar met minder memes.
Willem van der Merwe: Ek is baie bewus van die slaggate van sosiale media. Ek het Facebook nog altyd gesien as ’n gevaarlike speelding, maar ek het ’n moeilikheid-soek persoonlikheid. Daarom is ek al ’n paar keer deur die algoritme gebrand en geban. Ek dink sosiale media is ’n Catch-22 situasie – ons almal soek maatjies, en ons almal wil graag ons sê sê. Ons loop egter dan die risiko om te veel te sê en dit kan moontlik uitgebuit en teen ons gebruik word. Ek dink nie daar is werklik ’n groot verskil tussen my sosiale media en my face-to-face persoonlikheid nie. Ek was maar nog altyd ’n nar.
Willem Pretorius: Ek gebruik social media soos Instagram en Facebook hoofsaaklik om my werk te verkoop en te netwerk, maar ook om dit te dokumenteer. Die Willem wat mense daar sien is maar baie dieselfde as die ware Willem (my musieksmaak, my huis en kinders, ons vakansies, my werk en ander kunstenaars van wie se werk ek hou). Ek dink die enigste verskil is dat mens nie ook oor slegte goed post nie (soos die kar wat breek op vakansie, die kinders wat baklei, die pyp wat bars ens.) Mense kry dus net ’n "best of"-kykie na my storie. Dit lyk dan alles baie romanties en idillies, wat nie die volle waarheid is nie. Byvoorbeeld ook as jy ’n gesinsfoto probeer neem. Mens moet eintlik daardie 40 flops waar hulle mekaar knyp en huil en in hulle neuse grou ook post.
Willem Mulder: Ek’s nie ’n groot fan van die idee dat mens se data 24/7 gemyn word nie. Die meeste van ons almal se sosiale verbinding vind online plaas. Dis hoe ons besigheid doen. Dis hoe ons met mense connect wat ons weet ons nie elke dag gaan sien nie. Maar ja, dis basies voor die hand liggend dat skarminkels ’n manier sou kry om ons gewoontes en likes en dislikes te gebruik om uit te vind hoe om ons te manipuleer. Die persona wie jy online create is half en half ’n vingerafdruk van jou, maar kan nooit volkome jy wees nie. Dit behels ’n besluit oor hoeveel van jouself jy bereid is om sommer net so die wye wêreld in te stuur. Mens moet nie naïef wees nie.
Willem Moller: Ek het van dag een af Facebook mistrust. Hoekom wil FB almal se private inligting hê? Ons weet vandag presies vir watter nefarious doeleindes hierdie inligting (wat natuurlik te koop is) al gebruik is ... Ek het destyds besluit om nie ’n voet op social media te sit nie. ’n Paar jaar gelede het ek tog ’n Facebook-blad vir my studio geskep omdat ek besef het ek kan so baie van my musical connections en peers bereik. Ek gebruik FB suksevol vir daai doeleinde – om met musos te connect en my studio en wat ek daar doen bekend te stel. Dit hou my ook op hoogte van waarmee ander musos besig is, en ek het connections oor die hele wêreld, so dit bly interessant. Natuurlik kyk ek ook wat mense post en as my bullshit detector heeltemal wild begin vibreer gaan ek iets te sê hê, en dis nie altyd mooi nie. Andersins bly ek daaruit. Facebook se pateties deursigtige pogings om my te manipuleer deur my Google searches met sekere produkte te link is irriterend, but I just switch off.
Nog-’n-Willem: In die winkel waar ek my brood koop, is ’n kennisgewingbord waar jy kan notas opplak. Ek sit nie ’n foto van my ontbyt daar nie. Ander mense doen dit onophoudelik wél. Daar is later skaars plek vir ’n nota! Ek is net so min ’n nota as wat ek ’n kennisgewingbord is.
Waarvoor gebruik jy sosiale media? Gebruik jy dit nou meer as gewoonlik sedert die lockdown begin het? Is dit nou maar eenmaal die nuwe normaal of kan ons nog hoop op ’n braaitjie saam êrens in die toekoms?
Willim Welsyn: Ek gebruik sosiale media as ’n verspreidingskanaal om mense bewus te maak van my projekte. Soms vier ek ’n familielid of ’n vriend se verjaarsdag en soms spog ek met my mooi vrou en kind. Soms maak ek ook ’n meme of twee. In die begin van die grendeltyd het ek dit meer gebruik as gewoonlik; tans probeer ek dit vermy. Dit is seker die nuwe norm, maar ek sal veel eerder wil braai.
Willem van der Merwe: Ek pos meestal grappe en snaakse foto’s, en hier en daar nuus en politieke bekgevegte. Ek is nie iemand wat ’n foto van elke maaltyd of baie persoonlike ervaringe pos nie. Sedert die grendeltyd het ek dit meer begin gebruik as ’n musikale uitlaatklep in samewerking met verskeie musikante soos Craig Vee, Stefan Bouwer, Riku Lätti, Joe Ellis en Wouter Van de Venter. Ek dink dat die grendeltyd sekere deure oopgemaak het tussen kunstenaars wat andersins geslote sou gebly het. Dit het ’n nuwe normaal geskep. COVID-19 het ook ’n sosiale paranoia geskep wat nie maklik gaan genees nie, selfs lank na die virus nie meer met ons is nie.
Willem Pretorius: Omdat ons redelik geïsoleer is waar ons bly (Rosendal is ’n piepklein dorpie in die Oos-Vrystaat met net so 150 permanente inwoners, 2 teerstrate, ’n koöperasie en algemene handelaar en 40 km van die naaste dorp af), het daar vir ons nie veel tydens lockdown verander nie. Ons gaan steeds een maal per week winkel toe om groceries te koop, die kinders homeschool en ons doen al die afgelope 6 jaar al ons besigheid online: bemarking en verkope van skilderye, courier, online banking en shopping ens. Die enigste ding wat ons mis is om soms op ’n road trip te gaan, veral na al die ander provinsies. Dit sal weer verander.
Willem Mulder: Die eerste paar maande het definitief grotendeels uit tyd op social media bestaan. Ons is eerstens maar sosiale beings. Net so lekker as wat dit kan wees om met enigiemand reg oor die wêreld te kommunikeer, kan dit ook ’n vreeslike lonely plek wees. Dis nie gesond nie. Ons het fisiese kontak nodig. Ons het nodig om fisies in mekaar se teenwoordigheid te wees. Om saam met vriende en familie om ’n vuur te staan en kak te praat. Of diep dinge. Of ook net om saam te lag.
Willem Moller: Ek spandeer meer tyd op FB, omdat my muso vriende meer tyd daar spandeer en meer interessante goed post. Maar as dit ’n nuwe normaal is, is dit nie vir my nie - my braai staan goed geolie en reg.
Nog-’n-Willem: Dit hang af of ek ’n nota op die kennisgewingbord wil sit. Ek laat lei my dáárdeur. ’n Lekker vuurtjie is belangrik vir braaie, eintlik gewoon net daar sit en uitvlam is al goed. As ek voor die keuse gestel word, top ek eerder my glas op as ’n foon se data. Die nuwe normaal kom vir my nog voor as ’n ruwe weergawe van so iets. Dit voel of ons in ’n soort wenstyd is. Selfs net die hoekoms (elke dag ál meer) is nog in onsekerheid gehul.
Die song “Willem Willim” gaan oor ’n aantal ondernemende Willems. Ken jy nog Willems wie se werk jy geniet?
Willem Pretorius: Ander Willems wie se werk ek van hou is die kunstenaar Willem Boshoff en Willem Anker se Buys-boek.
Willem Mulder: Ek't net vanoggend na Neil Sandilands se “Die ballade van Frik en Dot” geluister. Dit eindig met die naam van hul kind. Wit Willem. Maar ja, die ander Willems van wie ek weet het dit almal as hul tweede naam, so dit tel nie regtig nie.
Willem Moller: Ondernemendheid loop dik onder die Willems - Fourie, Welsyn, Boshoff, Botha (’n ou vriend van my) en natuurlik Dafoe.
Nog-’n-Willem: Ek hou van die werke van verskeie Willems, Wilhelms, Willemiens, Williams en Guillermo’s. Orwellington verwys omtrént na ’n verwillemde weergawe van die werklikheid. En dít in hierdie tye!
Jy het kitaar gespeel en gesing op die song, maar jou opnames is tuis gemaak en dan na my en Almuir gestuur. Ons het die song dus nooit saam in persoon gespeel nie. Wat beteken dit vir musikante wat betref samewerking met ander musikante, asook oor nuwe maniere van hoe om inkomste te genereer?
Willim Welsyn: Dit is wonderlik om in afsondering met ander musikante en liedjieskrywers te kan saamwerk. Ek het voor grendeltyd al baie saam met musikante wat ek nog nooit eers ontmoet het nie, op soortgelyke projekte gewerk. Wanneer mens mekaar wel eendag ontmoet, het mens dadelik iets om oor te gesels. Gedurende grendeltyd het ek ’n hele paar private aanlyn konserte op Zoom gespeel en twee aanlyn live festivals saam met my vol band. Dit het ’n paar nuwe geleenthede geskep om ’n inkomste te genereer en om ’n nuwe gehoor te bereik.
Lees ook:
Orwellington se nuwe album ’n trefseker uitnodiging na hul optredes