Die kunste in die tyd van COVID-19: Willem Mulder

  • 5

Willem Mulder (foto: verskaf)

"Life is what happens to you while you’re busy making other plans."

Soos wat John Lennon gesing het. Die quote behoort wel aan iemand anders, genaamd Allen Saunders.

Maar ja, dis nou wat ons almal mee deal. Hier sit ons nou vir 21 dae vasgevang in ons huisies. En hoe deal mens daarmee as kunstenaar? Die meeste kunstenaars werk mos maar anyway vanaf die huis, so dit word nie regtig as ’n straf vir hulle gesien nie. En ja, tot ’n groot mate is dit juis nou die tyd om daardie kreatiwiteit te laat vloei.

Maar dit help ook nie jy weet dat jou werk in ’n toe galery hang nie. Of dat jou toneelstuk nie opgevoer gaan word by die KKNK nie. Dat die vooruitsigte op die oomblik maar bleak lyk nie. Dit kan behoorlik aan mens knaag. En hoe deal mens daarmee? Hoe bly mens positief?

Expose yourself to Duchamp deur Willem Mulder (foto: verskaf)

Ek’t nie regtig die antwoord nie. Ek kan maar net uit my eie perspektief praat. My lewe het onherroeplik verander op 1 Augustus 2019. My vrou van 15 jaar is op daardie dag oorlede op die teatertafel. Daar was net mooi niks wat my kon voorberei het daarop nie. My hele lewe het in ’n ommesientjie net so om my begin intuimel en sou nooit ooit weer dieselfde kon wees nie. Ek was verpletterd en is sekerlik nou nog steeds tot ’n groot mate.

Absoluut niks rondom my het meer sin gehad of kon enigsins sin maak nie. Dit het gevoel of ek net deur hierdie eter sweef. Dat daar geen vashouplek of ’n fondasie meer was nie. Maar elke oggend het my oë weer oopgegaan. Of ek nou wou of nie, die donnerse oë het oopgegaan en moes ek die aaklige realiteit sonder haar in die oë staar. “Through the fisheye lens of tear-stained eyes.”

En sleep het ek my lyf moes sleep kombuis toe, want vir ’n lang tyd was net die proses van koffie maak al rede wat ek vir myself kon create om dit die moeite werd te maak. Aan kos wou ek nie vat nie. Net die idee van moes kos maak het my naar gemaak en laat uitbars van die huil. Ek was die kosmaker in ons verhouding. Dit was óf dit óf leef van rys en sardientjies. Haar favourite voordat ons mekaar ontmoet het.

Die dag na haar begrafnis het ek en drie jare lange vriende van my gaan ry deur die Boland. Dit was ’n triestige laatwintersdag. Ek’t voor aan die passasierskant gesit en net foto’s geneem. Dit wat ek doen. Die enigste wat ek op daardie tyd kon doen. Ek’t gevoel ek doen dit vir haar. Dat ek moet bly leef vir haar.

En fok weet, ek sal vir jou lieg as ek sê dis dan skielik makliker. Dat jy net so suddenly jouself daaruit reg kan ruk en aangaan, want enigiemand wat dit vir jou sê, het geen benul waarvan hulle praat nie. Dis ’n proses wat nooit ophou nie. Maar ons hou aan. Ons skep. Ons droom. Ons skep nog en droom nog en skep, want dis wat ons doen en dis wie ons is. Ons doen dit eerstens nie net vir onsself nie. Ons doen dit juis vir ander.

We shall overcome.

Lees ook:

Die kunste in die tyd van COVID-19: Antoinette Louw

Die kunste in die tyd van COVID-19: Riku Lätti se ope brief aan 2020

Die kunste in die tyd van COVID-19: Mercy Kannemeyer

Die kunste in die tyd van COVID-19: Herschelle Benjamin

  • 5

Kommentaar

  • Jou ou oom in die Oos Kaap

    Ja, Willempie, ek onthou nog hoe jy my help huil het toe ek van tannie Mari afgesny was in 2002 met haar sonder kontak in Saudie Arabië. Ek het so 'n effense gevoel van wat jy deurmaak, maar aan myne het daar 'n einde gekom met 'n heerlike weersiens en van daar af met die hulp van die tegnologie. Jy is nog altyd in ons gedagtes - onthou dit - al kan ons nie vir jou 'n oplossing bied nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top