Die kunste in die tyd van COVID-19: Herschelle Benjamin

  • 0

Foto van Herschelle Benjamin: verskaf

Dis nie maklik om hierdie te skryf nie.

Ek het so pas die amptelike persverklaring van die Suidoosterfees gekry wat lui dat die fees ook weens die koronavirus nie sal voortgaan soos beplan vanaf 27 April tot 3 Mei nie. Die fees word wel uitgestel en die nodige kommunikasie sal met kunstenaars geskied oor wanneer dit later vanjaar sal plaasvind.

Nogge verklaring. Nogge fees.

As jong kunstenaar het ek grootgeword met die jaarlikse voorbereiding, opgewondenheid en belewenis van die kunstefeeste. Ongeag die huidige stand en opinies oor die kunstefeeste, was dit nog altyd ’n bevoorregte plek waarin ek soveel gestimuleer, geïnspireer en gemotiveer was, hetsy of ek self as werkende kunstenaar daar was, as net gewone feesganger of as ’n tydelike personeellid van die fees.

Daarom noem ek die volgende uit daardie verskillende lewenservarings.

Die kunstefeeste is vir kunstenaars ’n broodnodige platform vir ons kreatiewe loopbane en ons daaglikse lewensbestaan. Elke produksie, elke kaartjie en elke gehoorlid was nog altyd deel van hierdie eiesoortige organisme vir die kunste in ons land. En daarom tref dit my geweldig om vir die eerste keer te dink aan ’n Suid-Afrikaanse kunstelandskap sonder die kunstefeeste (asook ons teaters in stede wat ook hierdeur geraak word). Om te dink aan hoe kunstenaars nou sonder daardie geldjies ’n ander plan sal moet maak. En om te dink aan die ekonomiese, psigiese en geestelike verlies aan ons almal, en veral vir die verskillende gemeenskappe wat die kunstefeeste jaarliks huisves.

Tog hou ons hoop, want hierdie is nie onnodig nie. Dis met rede en verstaanbaar.

En daar is nou iets anders: Ons word gedryf tot vernuwing en omgee oor ons kunstenaarsomgewing en die kunste in die geheel. Nie net tussen kunstenaars self nie, maar ook vanaf organisasies – en dan my knalkreet: vanaf elke gehoorlid/feesganger wat vir jare so ondersteunend was. Mag hulle ook in hierdie tyd steeds volgehoue ondersteuning en ermbarming toon op die maniere wat hulle kan.

Al is dit om kaartjiegeld te skenk aan kunstenaars of om indien feeste later vanjaar tog gebeur, almal in massas sal uitkom en nog meer sal ondersteun as ooit te vore.

En daar is ander moontlikhede ook vir tyd en wyl. Ons moet ook tog onsself herverbeeld onder die uiterstes, soos nou, en daarom is daar vele gesprekke aanlyn en onderlangs wat my opgewonde maak oor hoe kunstenaars steeds die fakkel wil en sal laat brand. Wees op die uitkyk daarvoor en ondersteun.

Ten slotte, as daar ooit ’n tyd was om te dink aan die rol wat kunstenaars speel in die uitbreiding, herverbeelding, aftakeling en konstante ondersoek in ons menslike kondisie, is dit nou!

Mag ons saamstaan en help waar ons kan vir die instandhouding en toekoms van die kunste en kunstenaars in ons land.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top