My hart breek. Vir almal wat werk verloor het – letterlik in ’n japtrap – die laaste paar dae.
Ek is deeglik daarvan bewus dat dit nie net die kunste is wat geaffekteer word nie, maar ander sektore en besighede ook. My verwysingswêreld is egter dié van die toneelwêreld, dus kan ek alleenlik daarop reageer.
En my hart breek nog steeds. Al is ons nie alleen in hierdie situasie nie.
Ek hoor reeds vanaf Vrydag van televisiereekse en films (plaaslike en internasionaal) wat gekanselleer of uitgestel is. En tog was die nuus oor die KKNK ’n hengse skok. Die kersie op die koek, as’t ware.
Soos die meeste weet, is oorlewing as vryskutkunstenaar (wat die meeste kunstenaars is) reeds nie maklik nie. En dis wat hierdie situasie so moeilik en hartverskeurend maak. En die realiteit is, huur moet betaal word. Wat doen jy as jy nie kan nie? As optredes jou brood en botter is?
En tog.
Tog tree die menslike vernuf in. Ook dít gebeur binne in ’n japtrap.
Nes destyds toe die streeksrade afgestel is, begin mense planne beraam en anders na dinge kyk. Word mense forseer om vernuwend te begin dink om te oorleef. Lizz Meiring stel byvoorbeeld voor dat mense hul huise oopstel vir optredes. Hennie van Greunen en Pedro Kruger het op sosiale media laat weet dat hulle hul repetisielokaal by hulle huis beskikbaar stel (vir klein en intieme gehore, natuurlik) vir dieselfde doel. Die Grahamstadse Nasionale Kunstefees het aangekondig dat hulle ’n virtuele kunstefees gaan hou.
Tyd vir vernuwing is hier. Ongelukkig word dit nie teweeg gebring deur aangename omstandighede nie. Inteendeel. Maar vernuwing word gebore uit noodsaak. En vernuwing is noodsaaklik.
Dit was nog altyd.
En nog altyd het die kunste oorleef.