Die kunste in die tyd van COVID-19: Mercy Kannemeyer

  • 0

Mercy Kannemeyer (foto: verskaf)

Dit is maklik om nou in sak en as te sit. Dit is maklik om te moan oor die moeilike tyd wat voorlê. Dit is maklik om terug te sit en niks te doen nie. Dit is tog so maklik om nou ook uit te freak. Dit is maklik om iemand of iets te soek om te blameer. Dit is maklik om klein duiweltjies, soos aantygings oor wie en wat se skuld dit is, toe te laat om nugter oordeel te beïnvloed. Dit is maklik om nie verantwoordelikheid te neem nie.

Nou is dit egter nie die tyd vir maklik nie. Nou is dit die tyd om skouer aan die wiel te draai. Nou is dit die tyd om kreatiewe oplossings te soek. Nou is dit die tyd om mekaar te omarm (nie letterlik nie, asseblief tog!) en die las vir mekaar ligter te maak. Nou is dit die tyd om hande vuil te maak (hou tog net die hand sanitiser naby!) en nie toe te laat dat die kiem ons bedryf versmoor nie.

Die kunste, en vele ander sektore in die land, word hierdeur geraak. Die meeste mense weet dit nou al. Ek en van my vriende het spottend daarop gewys dat hierdie virus nogals 'n ekstreme geval is om gelyk te maak dit wat nog hiperongelyk is. Die virus diskrimineer nie. Hy kom vir almal.

Kunstenaars is onlangs aan die diep kant ingegooi nadat kunstefeeste uitgestel of gekanselleer is. Dit het my laat wonder: Is die werk daarmee heen? Hoe afhanklik is ons van kunstefeeste? Watter maniere kan daar gevind word waarop teaterproduksies buite die raamwerk van kunstefeeste kan floreer? Ek het nie onmiddellik al die antwoorde nie. Hopelik kan ons as bedryf saam besin en met kreatiewe oplossings na vore tree. Natuurlik is dit nie ideaal dat die werk nou opdroog nie, maar hierdie tyd gee sommige van ons die geleentheid om verder te timmer en te skaaf. Ligpuntjie dalk?

Wat kan ek en jy doen?

  1. Skryf nog meer teaterstukke. Hou gebeure rondom jou fyn dop – daar broei dalk nog iets waarvan kuns gemaak kan word.
  2.  Doen uittreksels van jou werk en laai dit aanlyn as jy 'n gehoor soek. Ons gaan almal in elk geval nou heeltyd op ons fone en die internet wees.
  3. Moenie uitfreak nie. Gaan dokter toe as jy dit kan bekostig. En doen jou deel deur jouself te beskerm sodat weerlose mense rondom jou beskerm kan bly.
  4. Besef ons is saam in die ding.

Ek is vas oortuig dat ons sterker aan die ander kant gaan uitkom. Tot dan, bly in jou huis!

Die kunste in die tyd van COVID-19: Antoinette Louw

Die kunste in die tyd van COVID-19: Herschelle Benjamin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top