Die kunste in die tyd van COVID-19: Riku Lätti se ope brief aan 2020

  • 3

Jackie en Riku Lätti tydens die Gerefomreerde Blues Band se show by Evita se perron (foto: Stefan Hurter)

Almal wat gedink het 2019 was ’n kak jaar verlang, soos ons, seker ook nou terug na die meer eenvoudige, duister tye, toe load shedding ons grootste nasionale probleem was. Moet ook ’seblief nie vergeet dat ons verlede jaar die Rugbywêreldbeker gewen het nie. Ai, die goeie ou donker dae van 2019.

Die Geborduurde Gereformeerde Blues Band. Borduurwerk deur Ilze Breytenbach. (Foto: Gideon Breytenbach)

Die koronavirus, of soos dit onder van ons vriende bekendstaan, die koronafokkenvirus, het ons almal hier behoorlik agter die plasmaskermgordyn vasgepen en is besig om ons almal in selfgeskoolde viroloë te omskep. Ons leer ten minste iets, en die enigste ding wat vinniger as die virus versprei, is WhatsApp-memes en -video’s van ander vasgekeerdes wat met humor en frustrasie ook hul dilemmas en insigte met die wêreld wil deel. Die mooiste ene seker die video van mense wat in Turkye kospakke op straathoeke los vir diegene in nood.

Ook hier tuis laat ons buurvrou weet sy bring lasagne en ontsmettingsmiddele. Sonder dat ons daarvoor gevra het, kom die familie hier aan met pakke pasta, blikkies kos, koffie, vleis en ’n bottel gin. Hulle weet ons is musici en al ons vertonings (en daarmee saam ons inkomste) is voorlopig gekanselleer. Ons harte is warm en bly vir die meelewing om ons. Maar baie musikante wat nie ’n vaste voet in die finansiële wêreld het nie, sit vandag met hul hande in die hare. Daar word naarstiglik plannetjies gemaak om kos op die tafel te sit. Om die elektrisiteit en water aan die gang te hou. Om die huispaaiement te betaal. Om die internet aan die gang te hou. Mense met kinders wat nie geld het vir koorsmedisyne vir ingeval nie. Talentvolle mense wat hul geliefde instrumente verkoop of verpand omdat daar eenvoudig nie ’n ander uitweg is nie. Waar sal ons hulp vandaan kom? Hierdie keer nie van die berge nie, maar letterlik van oral om ons. Ons moet mekaar help, want dis hoe ons deur hierdie ding gaan kom: as ’n kragtige netwerk van mense wat aan mekaar verbind is. Toevallig en ironies genoeg is hierdie verbintenisse met mekaar presies dieselfde ding wat hierdie gevaarlike virus so vinnig laat versprei. Die koronavirus, gebore in die Ooste, gebruik ook ’n beginsel sterk ingelê in Oosterse vegkuns: Gebruik die vyand se kragte teen homself.

Ons het met Die Wasgoedlyn begin omdat ons opgelet het daar is ’n groot kloof tussen die musiek waarvan ons hou en die musiek wat groot sukses en sigbaarheid op omtrent elke denkbare platform in Suid-Afrika geniet. Ons ideaal was (en is nog steeds) om daai wonderlike liedere en gedigte van onbekende (meestal sukkelende) musikante en digters op te neem of te verfilm en dit te verewig, sodat dit darem ’n kans staan om iets anders vir iemand anders elders te beteken.

Maar Die Wasgoedlyn se nederige sukses is nie slegs van ons afhanklik nie. Ons het tóé al die menslike net van welwillendheid ervaar. Skrywer C Johan Bakkes en sy mede- (aan ons onbekende) trustees het befondsing beskikbaar gemaak om my gesteelde rekenaar, waarmee ek opnames gemaak het, te vervang. Sonder hulle het belangrike albums soos Die Wasgoedlyn Volume 1–3 net eenvoudig glad nie gebeur nie:

Wasgoedlyn 2: https://distrokid.com/hyperfollow/diewasgoedlyn/dDFf

Wasgoedlyn 3: https://distrokid.com/hyperfollow/diewasgoedlyn/die-wasgoedlyn-volume-3

’n Baie gawe organisasie het Die Wasgoedlyn gehelp met die verfilming van die eerste Die Wasgoedlyn-TV-reeks. Dié het eerste op kykNET se minder bekende kleiner kanaal kykNET NOU! uitgesaai vir ’n somtotaal R0 kontant, maar die publisiteit was baie meer waardevol as al die dollars wat nie ingekom het nie.

Dit alles genoem, bly die grootste faktor in Die Wasgoedlyn se sukses die mense, die kunstenaars en die musikante wat altyd so vrygewig en gretig is om hulle talente, kunswerke en beautiful songs en gedigte met ons te deel. Nou praat ek nie net van Piet Botha, Stef Bos, David Kramer, Anton Goosen en Koos Kombuis wat so lekker saam met ons ander plebs op die bierkratte onder die wasgoedlyn kom sit en lawaai nie, maar ook van mense soos Brain Cloete, Dawie de Jager, Benjamin Voete en vele ander wonderlike kreatiewe siele; die kunstenaars wat ongesiens waardevolle bydraes lewer tot ons kultuurskat en wat nié gevier word nie.

Dit is veral vir hiérdie mense wat ons en Kilroy Was Here! se Gideon Breytenbach op die oomblik kyk na moontlikhede om die Wasgoedlyn-reekse op die internet beskikbaar te maak. Daar sal ’n donasiestruktuur in plek wees, en ons wil die fondse aanwend om vir die sukkelende musikante van Die Wasgoedlyn, wat in hierdie tye geen inkomste geniet nie, darem elke nou en dan ietsie te stuur wat hulle hopelik uit ’n penarie sal help. Dit is die minste wat ons kan doen en dit is iets wat ons móét doen, want ons weet hoe dit voel om ’n onoorkombare probleem in die oë te staar en dan uitgehelp te word.

Dis snaaks genoeg in tye soos dié, wanneer die storm losbars en alles chaoties word, wat mens ewe skielik ’n helder prentjie ontwikkel van wat jou te doen staan. Jy het dan die keuse om daarop te reageer, of om te wag tot alles verbygaan. Maar van niksdoen kom malheid, so hier kom dit nou; wees opgesaal, want binnekort is daar baie meer Wasgoedlyn aanlyn.

Ek het ook op talle plekke gelees van kunstenaars wat beoog om hierdie tyd te gebruik om produktief te verkeer. Drie weke van nou af sien ons, ’skuus, hoor ons, dalk honderde nuwe liedjies en gedigte. Ek weet van ons kant af is daar alreeds ’n nuwe plaat op pad, wat ons so fokken gelukkig is om saam met Tonia en Willem Möller te kan maak, maar dis ’n verrassing wat niemand gaan verwag nie, so vergeet dat ek enigiets hieroor gesê het.

Hierdie COVID-19 ding is erg en ernstig en baie slegte goed kan gebeur. Maar ek weet voor my siel jy maak jouself siek as jy jou heeltyd bemoei met die ergste wat kan gebeur, so daarom fokus ons op die positiewe. Dit gesê is my hart veral seer oor Die Wasgoedlyn se optredes saam met Churchil Naude en die Gereformeerde Blues Band wat gekanselleer is. Want dis net, ai, wat kan mens sê, behalwe soos wat Stef Bos ook op Die Wasgoedlyn gesê het: “Dis die lewe.”

Die musikante wat ek bewonder is groot geeste met ruim harte, newwermaaind dat hulle nooit op Huisgenoot se voorblaaie gaan pryk nie. Hulle is nederig en vrygewig, en sal hul laaste sente met mekaar deel. Ons is almal één masjien. Een masjien met baie persoonlikhede aanmekaar gekoppel. Één masjien wat groot goed kan vermag wat lank kan wapper en resoneer met ’n klankbaan wat die wêreld ’n klein bietjie beter maak.

Lesers wat lus is vir 'n konsert of sommer net lus voel om musikante te ondersteun kan hierdie skakel besoek.
 

Lees ook:

Die kunste in die tyd van COVID-19: Mercy Kannemeyer

Die kunste in die tyd van COVID-19: Herschelle Benjamin

Die kunste in die tyd van COVID-19: Antoinette Louw

 

  • 3

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Skokkend om te sien hoe KykNet julle skaamteloos uitgebuit het deur julle nie te betaal vir die eerste Wasgoedlyn-reeks nie! Dis onaanvaarbaar en skrei ten hemele. Dan sê Karen Meiring en haar vriendinne hulle gee tog so om vir die kunste. Iemand behoort hulle aan te spreek hieroor in die media - maar o ek het vergeet, hulle is mos almal maatjies van mekaar, so dit sal nooit gebeur nie.

  • Robert van Staden

    Kyknet het altyd baie geld om paarties te hou. Ek wonder hoeveel kos al hulle paarties in een jaar. Voor en na elke fees en 'n ding is daar altyd 'n partytjie of 'n bal of 'n ding. So bourgeois. Dis 'n skande as hulle kunstenaars nie betaal nie, maar dat hulle al daai geld blaas op kos en drank en goedkoop glans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top