............
“Die album is verlede jaar uitgereik, maar vanjaar – en spesifiek nou – kom dit eintlik tot sy reg. Dit wat vir een jaar bedoel was, het eers in die volgende, onvoorstelbare jaar werklik aangeland.”
............
Dit wat aan The Buckfever Underground se album Last days of beautiful mooi en wesentlik is, verander gedurig van gedaante.
Dit verskuif tussen die kitaargedrewe klankbeelde deur wat Michael Currin skep en die nomadiese belewenisse in Toast Coetzer se gesproke lirieke.
Hierdie album, amptelik die groep se sesde (daar was heelparty informeles deur die jare – ongeveer vier) – is ’n besonder sterk uitreiking van ’n groep wat reeds meer as 20 jaar bestaan. Hulde aan oorspronge en herinneringe aan vriende val ’n mens op. ’n Ander groep sou dalk net volstaan het met die nasing van treffers, maar hier hoef jy nie te wonder wat die musiek en lirieke van die Voëlvry-groepe vir hulle beteken nie. Ook op hul “Sit dit af”-weergawe word die sanger, soos op die Gereformeerde Blues Band-nommer, ontstig. Kerkorrel en kie se wekroep is hier egter ’n kreet teen die verdommende opwipwense en die algoritmiese borrelsiekte van slimfone wat betekenisvolle interaksies laat wegraak.
Die groep bring op “Ek skryf hierdie vir jou” treffend hulde aan Drikus (Brixton) Barnard van Brixton Moord en Roof Orkes-faam.
In Coetzer se Afrikaanse en Engelse lirieke wissel nuuspoësie en luisterfoto’s mekaar af. Dit is sowel reispraat as wat dit verkenrock is; daar is volop leibeurte vir stemminge. Hierdie fasette van The Buckfever Underground vloei moeiteloos ineen soos wat stories en improvisasie gesnoer word, gedagtespieëlings en allerlei weergawes van dagboekhou op verre paaie aan jou van vertel word.
Die ritmiek van Stephen Timm se trommespel en onderspeelde sintetiseerder help bind Coetzer se inkanterende, merendeels kitaargedrewe voordragte.
Hy het lank reeds die gedagte aan Jim Morrison tot ’n Jan Môreson omskep.
............
“Jy maak kennis met idees gebore uit lang kuiers in ’n land met te veel nuus. Dit behoort ’n album te wees wat op jou groei, al hoe dieper jou veertigs en vyftigs in, hierdie dwars droom van medemenslikheid en breuklynblues teen die geraas en dynserighede van politiekery, magsug en korrupsie in.”
............
Op die album is die klankverwaaide koppe van ’n kitaarwêreld daar vir Coetzer se stem om teen uit te klim terwyl hy verslag lewer aan ’n breë front met volop kommentaar. Hy stel ’n inventaris op van dinge wat vir hom persoonlik rym of nie rym nie. Die psigedeliese tolbos van sy verbeelding praat deurentyd saam.
In die breë roep die groep op die album die soniese sfeer van ’n spesifieke soort filmiese omgewing en houding op: daardie verdroomde, sosiale distansiëring in ’n werk van Edward Hopper gekombineer met ’n Wim Wenders-rolprentklankbaan, of die groep Sqürl waarin die rolprentmaker Jim Jarmusch sy eie idee van rock en drone vir rolprentmusiek skep.
Op Last days of beautiful kom soorte hedendaagse rotskunsdrome by, tuimelende persepsies, hoop, ideale en ’n wye blik op hier- en menswees. Die snitte sing en alles is moontlik daarop.
Op die spoor van die Suid-Afrika van die Buckfever Underground klim jy saam by drome in en by denkbeelde uit. Jy maak kennis met idees gebore uit lang kuiers in ’n land met te veel nuus. Dit behoort ’n album te wees wat op jou groei, al hoe dieper jou veertigs en vyftigs in, hierdie dwars droom van medemenslikheid en breuklynblues teen die geraas en dynserighede van politiekery, magsug en korrupsie in.
Die album is verlede jaar uitgereik, maar vanjaar – en spesifiek nou – kom dit eintlik tot sy reg. Dit wat vir een jaar bedoel was, het eers in die volgende, onvoorstelbare jaar werklik aangeland.
In die interessante marges van Suid-Afrikaanse musiek is The Buckfever Underground op verfrissend wyse nié tot elke prys aan die vernuwe nie; hulle gee erkenning aan waar hulle musikaal en geografies vandaan kom sonder om aangeplak daaroor te wees.
The Buckfever Underground sê op hierdie album ervarings van verskillende Suid-Afrikaanse werklikhede uit aan die hand van drome, herinneringe en vertellings. Onder die heel beste momente tussen die talle goeies op die album word jy daarvan bewus dat die Suid-Afrikaanse hede waarin die album vandag laat anker sak, die een is waarna ons verlang.
- Saam met die album is die lirieke in boekvorm beskikbaar. Besoek thebuckfeverunderground.co.za en buckfeverunderground.bandcamp.com vir besonderhede.
Kommentaar
Dankie vir die mooi luister en skrywe. Ons waardeer dit.