Midi, of iets gewen en iets verloor

  • 4

More than ten Steinway Grand Pianos were auditioned before finding the one with the most desirable character: a crystal clear and open timbre with a perfectly balanced resonance.
- XLN Audio se bemarkingsmateriaal vir hul Studio Grand midi-weergawe

Hulle neem die Steinway toe gevange; in ’n Sweedse radioateljee
omsingel klankingenieurs dit, gewapen met ’n arsenaal veteraanmikrofone,
assistente martel klawers, hamer oor en oor, tagtigtal keer of meer
vir elke toon om góéd na geluister te word – kombinasies van pedale –
nóú domp, dán weergalm, piano en forte, van naby en van ver.

Só word golf na golf gekarteer, die heen en weer van frekwensiefluister,
buldervibrasie teen buis en lint, maar uiteindelik
is elke noot in eensame afsondering deur draad en prop gewurg,
word elke melodie ooit op hierdie klavier bespeel losgetorring
om bloot in kombinasies van 1 en 0 geliasseer te word.

Waar staan jy nou, Steinway? Waar staan ons met mekaar?
Jy wat vir jou karakter uit konsertleërskares gekies is,
sodat ek jou vir $89,95 op my hardeskyf kan laai
om digitaal mee te komponeer, so ewe asof ek jou ivoor
met my eie vingerlitte sou kon besteel.

Ek bieg dan dat ek dankbaar vir die voorreg is,
maar soos rekenaarskerm nooit papier kan wees nie
hang ek laag en droog aan my notebalk van ene en nulle –
met heimwee oor konsertsale en biblioteke
wat ek nooit self sal besoek nie.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Andries Bezuidenhout

    LitNet is die eerste plek wat my gedigte gepubliseer het, met Johann Lodewyk Marais as poësieredakteur. Ek sal hom en Etienne van Heerden ewig dankbaar bly vir die kans wat hulle my destyds gegee het. Ek was erg onseker oor my gedigte en het ʼn hele klomp as voorbeelde aan JLM gestuur, met die idee dat hy een of twee sou kies. Hy het toe almal van hulle gepubliseer. In daardie geval het ek veel meer gewen as verloor met die woord in digitale vorm. Veels geluk LitNet, met 21 jaar se insig oor digkuns, boeke en musiek, asook debatte oor als onder die son. Ek sê maar net.

  • Avatar
    Driekie Grobler

    Baie geluk Litnet met die 21ste verjaarsdag. Dankie vir hierdie platform wat julle beskikbaar stel vir digters. Ek ag julle waarde baie hoog. Mag julle van krag tot krag gaan.

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Ek wil 'n glasie saamklink 🥂 en my boonop verbeel LitNet verduur my al 21 jaar lank. Dankie, ook van my kant af. 👏🙌

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top